Die polisie in Noordwes het Woensdagmiddag twee minderjarige swart seuns in verband met die moord op ‘n onderwyseres van Brits, Esbie Koster, in hegtenis geneem.
Polisiewoordvoerder, Mpeile Talane, het gisteraand aan OFM-nuus bevestig dat die seuns, onderskeidelik 16 en 17, in die Brits gebied deur die polisie opgespoor en vir ondervraging ingeneem is. Hy sê hulle is in hegtenis geneem.
Volgens Talane is die 55-jarige Koster, ‘n onderwyseres aan die Rabboni Christian-skool buite Brits, se vermiste wit Volkswagen Golf ook in die Brits-gebied gevind.
Koster se lyk is Dinsdagmiddag langs ‘n pad by Magalieskraal naby Brits gevind. Sy het ‘n skietwond aan die kop gehad en is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Haar motor en selfoon word vermis.
Die polisie het gister vermoed Koster, was die slagoffer van ‘n motorkaping. Sy is vermoedelik vermoor en toe langs die pad gelaat.
