Opod se administrasie knars tot stilstand onder McBride

Sedert Opod se uitvoerende direkteur, Robert McBride, se aanstelling, het die direktoraat se administrasie blykbaar tot stiltand gekom.

Die direktoraat ondersoek klagtes van wangedrag van die polisie en gee aanbevelings waaraan die SAPD moet voldoen binne 30 dae.

Wetgewing vereis dat die SAPD die minister die polisie in kennis moet stel en ‘n bewys moet indien dat die dissiplinêre kwessie afgehandel is.

Maar in minder as 5% van die gevalle waar aanbevelings verlede jaar gemaak is, is sulke bewyse ingedien. Dit beteken die indiening het met 10% vanaf 2012 verder afgeneem.

Die polisie se jaarverslag meld dat hulle 764 dissiplinêre aanbevelings van die direktoraat ontvang het , waarvan 645 binne 30 dae in werking gestel is. Volgens Opod het hulle 884 aanbevelings gedoen.

Maar die direktoraat se waarnemende hoofdirekteur vir ondersoeke, Matthews Sesoko, het gesê dokumentêre bewys van aanbevelings wat geïmplementeer is, bestaan feitlik nie. Hy het gesê Opod het slegs 38 volledige verslae van die polisie vir sy 2013/14 aanbevelings ontvang.

Die Adjunk-nasionale kommissaris vir Korporatiewe Dienste by die SAPD, luitenant-generaal Nobubele Mbekela, het gesê “dokumentêre bewyse was nog nooit ‘n vereiste nie”.

McBride se afwesigheid, blykbaar om ‘n strategiese beplanningsessie by te woon, het sy “minagting vir die proses” uitgelig, het opposisielede gesê.

Die aanstelling van McBride as hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoek Direktoraat (Opod), is voorheen met onthutsing begroet.

Opposisiepartye het gesê McBride is nie geskik vir die pos nie as gevolg van sy persoonlike regsprobleme in die verlede.

Maar, die minister van polisie, Nathi Mthethwa het lede vermaan en gesê dat McBride vrygespreek is van dronkbestuur aanklagte tydens sy termyn as Ekurhuleni Metro-polisiehoof.

Chaos in Gautengse wetgewer

Chaos het Dinsdag in die Gautengse wetgewer geheers, soortgelyk aan wat verlede week in die parlement afgespeel het, het The Star Woensdag berig.

Die dagblad berig dat lede van die ANC en EFF mekaar beledig en vulgêre uitlatings toegesnou het tydens ʼn amptelike sitting van die wetgewer.

Mandiso Mashego, EFF-lid, het na die ANC as die “African National Criminals” verwys en beskuldig die party daarvan dat hy daarvoor verantwoordelik is dat die publiek se beursie geplunder word.

Sy het ook Jacob Mamabolo, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, daarvan beskuldig dat hy slegs tenders aan sy ANC-bondgenote toeken.

Mashego het ook beweer dat kontrakte om huise te bou en rioolstelsels op te gradeer, slegs aan ANC-lede toegeken word.

ANC-lede was ontstoke oor dié en ander bewerings.

Volgens die koerant het Sizakele Nkosi-Malobane, LUR vir gemeenskapsveiligheid, aan EFF-lede gesê het hulle is te familiêr met die ANC.

Nkosi-Malobane het ook geweier om die wetgewer te verlaat nadat speaker Ntobi Mekgwe hom versoek het om dit te doen.

Mashego het later haar uitlatings oor die ANC en beweringe teen Mamabolo teruggetrek.

Ramaphosa berispe DA oor parlementêre wanorde

Adjunk-President Cyril Ramaphosa sê die DA se besluit om met die mosie teen president Jacob Zuma voort te gaan, het die veelparty-ooreenkoms wat bereik is, geknou.

Hy sê die DA-besluit druis in teen die ooreenkoms wat Dinsdag met partyleiers bereik is.

Ramaphosa sê al die partye het ingestem om ‘n politieke oplossing vir die onuithoudbare toestand in die parlement te probeer vind.

Volgens hom druis die DA se mosie in teen die gees van die ooreenkoms.

Die parlement het intussen die DA se mosie om Zuma te berispe, verwerp.

Die DA-leier Mmusi Maimane, het die mosie ingedien omdat Zuma vrae in die Nasionale Vergadering skriftelik wou beantwoord.

Die mosie is met 217 stemme teen 78 verslaan met vier LP’s wat buite stemming gebly het.

Die ANC het talle onnodige mosies ingedien en die debat oor die DA-mosie met bykans vier uur vertraag.

Maimane het gesê die geloofwaardigheid van die Nasionale Vergadering kan net herstel word as Zuma die reëls van die Vergadering aanvaar.

Hy het gevra dat ‘n spesiale sitting van die parlement oorweeg moet word as Zuma bereid is om vrae te beantwoord.

 

Middelvinger vervang parlementêre debat

Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering, moes parlementslede Woensdag weer waarsku om hul van handgebare te weerhou.

‘n Ongewilde mosie is Woensdag ingedien waarteen talle ANC-lede handgebare gemaak het.

Lindiwe Sisulu, minister van huisvesting, glo haar middelvinger gewys.

In September het Floyd Shivambu, EFF-LP, vir adjunkpresident Cyril Ramaphosa die middelvinger gewys het.

Sisulu is deur opposisielede versoek om dit terug te trek. Sy het erken dat sy die middelvinger gewys het. “Ek het gesien hulle gebruik die middelvinger. Ek volg hulle net na,” het Sisulu egter gesê.

Volgens Tsenoli het hy nie gesien dat Sisulu die middelvinger gebruik het nie. Hy het parlementslede gewaarsku om hulle van handgebare te weerhou.

De Kock weer hof toe oor parool

Eugene de Kock sal ‘n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria indien nadat die minister van justisie en korrektiewe dienste geweier het om aan hom parool toe te staan.

Michael Masutha het in Julie De Kock se paroolaansoek afgekeur omdat die families van sy slagoffers nie daaroor geraadpleeg is nie.

De Kock (65) het reeds 18 jaar tronkstraf uitgedien.

Masutha het gesê daar moet in die volgende 12 maande ‘n nuwe paroolverslag en profiel oor De Kock opgestel word.

De Kock, die voormalige Vlakplaas-polisiebevelvoerder, het hom in Mei tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om Masutha te dwing om ‘n besluit oor sy parool te neem.

Regter Thokozile Masipa het op 28 Mei beveel dat die minister 30 dae het – vakansiedae of naweke uitgesluit – om te besluit of De Kock op parool vrygelaat moet word.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het glo in November verlede jaar al ‘n besluit geneem oor De Kock se parool. Die aanbeveling is aan Sbu Ndebele, die vorige minister van korrektiewe dienste, gestuur vir oorweging.

Hy het egter nooit ‘n besluit geneem nie en De Kock moes gevolglik vroeër vanjaar die hof nader om hom te dwing om dit te doen.

Die saak is as afgehandel beskou nadat Ndebele se regsverteenwoordigers aangedui het dat hy teen 12 Mei ‘n besluit sou neem. Weer is geen besluit geneem nie en nadat Ndebele sy pos ná die verkiesing verloor het, het De Kock weer die hof genader.

 

SAKP skrikkerig vir verlinkse Numsa

Toe die verlinkse vakbond Numsa by sy konferensie in Desember verlede jaar ‘n sosialistiese werkersparty belowe met verlinkse ideale, het hulle ondersteuning vanuit talle sosialiste uit die buiteland ontvang, maar nie van die SAKP nie.

Numsa is pas uit Cosatu geskors.

Die vakbond se sekretaris-generaal Irvin Jim het die ANC voorheen daarvan beskuldig dat hulle die Nasionale Demokratiese Rewolusie versaak het, en die Vryheidsmanifes vervang het met die neoliberale Nasionale Ontwikkelingsplan in samewerking met “gulsige kapitaliste”.

“Ons het besluit om te breek met die alliansie en ons het besluit om ‘n verenigde front te vorm en die moontlikheid van sosialisme in Suid-Afrika te ondersoek,” het Jim by dié geleentheid gesê.

Daar was ‘n tyd toe die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) ‘n mark-ekonomie gevrees het, maar hulle is deesdae skrikkerig vir die verlinkses, volgens ‘n politieke kommentator, Steven Friedman.

Die ANC-alliansie is verdeel oor die vraag of Numsa in Cosatu moet bly. Die druk om ontslae te raak van sosialiste kom egter van die ANC se ander bondgenoot, die SAKP.

Waarom sou die SAKP ‘n uitgesproke linkse unie soos Numsa uit Cosatu wou gooi?

Volgens Friedman is dit omdat sommiges argumenteer, soos die res van die ANC-alliansie, dat hulle meer geïnteresseerd is in die deelname in sakeondernemings en eerder ‘n sakeklub wil vorm as ‘n ideologiese nes.

Numsa is die 100% aandeelhouer van Doves Begrafnisdienste.

 

 

 

Tweederdes van KZN-landbougrond lê braak

Opkomende boere benodig verdere hulp met landbou het ‘n LUR vir Landbou KwaZulu-Natal gesê.

Cyril Xaba het aangedui dat meer as tweederdes van die landbougrond wat sedert 1998 aan swart boere in KwaZulu-Natal oorhandig is, braak lê.

Xaba het by ‘n beraad op Ixopo in KwaZulu-Natal gepraat met swart boere.

Die byeenkoms is daarop gemik om die “gaping” tussen kommersiële en opkomende boere te oorbrug.

Xaba het gesê meer as R500 miljoen rand is reeds opsygesit om swart boere by te staan.

Xaba het gesê hulle sal plase wat nie tans benut word nie, na volle produksie moet bestuur.

Hy het ook gesê meer grond behoort onder besproeiing geplaas word sodat daar die hele jaar lank produksie in die provinsie kan wees.

Adjunkminister sê polisie in parlement wettig

Die adjunkminister van Justisie, John Jeffrey, het klagtes uit die opposisiegeledere oor die polisie se betreding van die parlement van die hand gewys.

Die Speaker het die polisie vroeër versoek om parlementslede van die EFF uit die Nasionale Vergadering te verwyder, nadat hulle die vergadering probeer ontwrig het.

Lede van die EFF sowel as die DA het daarna handgemeen geraak met die polisie.

Jeffrey sê die wet maak daarvoor voorsiening daarvoor dat voorsittende beamptes lede in sekere gevalle uit die Raadsaal mag verwyder.

Die meeste lede van die uitvoerende gesag het gesê hulle gaan uit respek vir die vredes-ooreenkoms tussen adjunkpresident Cyril Ramaphosa, en politieke partye oor die gedrag in die Raad, nie reageer nie.

Jeffrey sê klagtes oor die polisie se teenwoordigheid is onnodig.

Hy het gesê wetgewing bepaal dat die voorsittende beamptes geregsdienaars mag ontbied indien nodig.

SA plaas ebola op G20-beraad se agenda

Suid-Afrika het die bespreking oor die ebolakrisis in Wes-Afrika by die G20-leiersberaad in Brisbane, Australië versoek, het die minister van finansies, Nhlanhla Nene gesê.

“Ons is inderdaad bekommerd. Ons versoek het eintlik daartoe gelei dat sake wat verband hou met ebola op die G20-vlak bespreek is sowel as in alle ander multilaterale vergaderings waaraan ons deelgeneem het,” het Nene aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Ons verstaan dat dit nie net ‘n ekonomiese kwessie is nie, maar ‘n humanitêre saak. Hierdie [lande wat geraak word] is ons handelsvennote. Ons moet multilaterale instellings en verbintenisse hê. ”

Nene het die gesprekke as bemoedigend beskryf. Hy het gesê die Verenigde State van Amerika sowel as Spanje het ook met die siekte te kampe weens verbintenisse tussen alle dele van die wêreld.

“Ons het gesien dat filantrope, selfs van ons eie land, nie net praat daaroor nie, maar die finansiële hulpbronne gee om te verseker dat diegene in Wes-Afrikalande bygestaan word om ebola te bekamp.”

Nene het gesê die leiers van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (BRICS) het op die kantlyn van die G20-beraad beraadslaag.

President Jacob Zuma het die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die beraad gelei wat tussen 15 en 16 November plaasgevind het.

Zuma is vergesel deur Nene en die minister van Internasionale Betrekkinge, minister Maite Nkoana-Mashabane.

Nene het gesê die trae globale ekonomiese groei was ‘n groot bron van kommer vir almal by die G20-beraad.

Hy het gesê gesprekke in Brisbane het gesentreer op strategieë deur alle lande wat sal bydra tot die toevoeging van ‘n verdere twee persentasiepunte tot groeivooruitskattings oor die volgende vyf jaar.

Nene het gesê daar was “robuuste gesprek” met betrekking tot oproepe vir die hervorming van bestaande internasionale finansiële instellings, veral die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

“Daar is ooreengekom dat internasionale finansiële instellings sal moet hervorm word om die feit dat ontluikende markte en ontwikkelende ekonomieë nou verantwoordelik is vir die grootste deel van die globale groei, te weerspieël,” sê Nene.

Lede van die G20 is Argentinië, Australië, Brasilië, Kanada, China, Frankryk, Duitsland, Indië, Indonesië, Italië, Japan, Suid-Korea, Mexiko, Rusland, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika, Turkye, die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State van Amerika en die Europese Unie.

Die internasionale forum is ook bekend as die Groep van Twintig.

Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mpahisa-Nqakula, het intussen geweier besonderhede oor president Jacob Zuma se reis na ‘n BRICS-beraad in Brasilië te gee.

Sy het kommer oor inligting wat betref die bewegings van die staatshoof aangedui as rede waarom sy nie die vraag kan beantwoord nie.

Die minister het bygvoeg dat sy toestemming van die Parlement se Staande Komitee oor Verdediging sal vra om die inligting bekend te maak.

Algemene Balieraad wil drie staatsadvokate laat skors oor Mdluli-affêre

Drie van die advokate by die nasionale vervolgingsgesag (NV) wat verseg het om aanklagte teen Richard Mdluli te ondersoek en te vervolg, loop gevaar om van die advokaterol geskrap te word. Hulle is advv. Nomgcobo Jiba, Lawrence Mrwebi en Sibongile Mzinyathi.

Die voorsitter van die algemene balieraad, adv. Jeremy Muller SC, het teenoor die media verklaar dat hul uitvoerende komitee reeds die besluit geneem het om ‘n hofaansoek ter skorsing van die drie swart advokate in te dien. Hulle loop ook gevaar om heeltemal van die advokaterol geskrap te word, indien die aansoek sou slaag.

Klagte van onetiese gedrag is reeds teen Jiba, Mrwebi en Mzinyathi by die Pretoriase Balieraad ingedien. Hierna is die klagte na die Algemene Balieraad verwys wat ‘n subkomitee saamgestel het om die bewerings te ondersoek.

“Daar is besluit om ’n hofaansoek teen die drie in te dien by die hooggeregshof in Pretoria. Indien nodig, sal die aansoek ook in ander howe ingedien word,” het Muller aan die media verklaar.

Die drie staatsadvokate was na bewering betrokke by die terugtrek van aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery teen luitenant-genaarl Richard Mdluli, die geskorste hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

In Maart 2011 is ‘n lasbrief vir die inhegtenisname van Mdluli uitgereik, wat verband hou met die moord op Oupa Ramogibe wat op 17 Februarie 1999 doodgeskiet is. Op 21 Maart het Mdluli hom aan die Boksburgse Landdroshof oorhandig waar hy en drie ander aangekla is van intimidasie, drie klagte van ontvoering, twee klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en sameswering met die doel om moord te pleeg. Mdluli sou ook tereg staan op ‘n verdere klag van dwarsboming van die gereg.

Die NV het al drie voorheen aangekla en Mrwebi se besluit om die klagte teen Mdluli terug te trek is deur die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel. ‘n Appèl hierteen, wat deur die Appèlhof in Bloemfontein verhoor is, is van die hand gewys.

Met die tersydestelling van Mrwebi se nie-vervolging van Mdluli, het die nuwe NV-hoof, Mxolisi Nxasana, opnuut vier aanklaers aangesê om die klagstaat deur te werk om te bepaal of daar ‘n prima facie-saak teen Mdluli bestaan. Advokaat Pat Ellis SC is insgelyks versoek om ‘n regsmening oor Mrwebi, Jiba en Mzinyathi se optrede betreffende die saak te verskaf. Ellis se mening was dat hulle geskors moes word terwyl hul bevoegdheid ondersoek moes word en dat hulle eweneens strafregtelik vervolg moes word.

‘n Klag van meineed is ook teen die drie omstrede staatsadvokate by die polisie ingedien.

Die drie lede van die nasionale vervolgingsgesag beklee tans die volgende posisies:

  • Jiba – adjunkhoof
  • Mrwebi – nasionale hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid
  • Mzinyathi – direkteur van openbare vervoling in Pretoria

‘n Woordvoerder van die NV, adv. Nathi Mncube, het verklaar dat hulle “bewus is van die balieraad se beoogde aansoek en die finalisering daarvan sal afwag”.