Nederland verf sake oranje

Die samesprekings in Nederland oor regeringsvorming neem interessante wendings. Met die party van Geert Wilders, die man wat onlangs nog van kriminele haatspraak aangekla is, as een van die nuwe hoofrolspelers was dit te wagte dat sake anders as voorheen sou uitsien, maar dit is dalk vir baie ‘n verrassing dat die party wat as grootste party uit die verkiesing getree het, die liberale VVD, in die stadium skynbaar oor baie sake akkoord gaan, en selfs in ‘n paar opsigte Wilders se PVV na die kroon steek.

Die party wat tot die verkiesing die toon aangegee het, die Christen-Demokratiese Appèl (CDA) is nog verdeeld oor die pad vorentoe, en het met ‘n strategie vorendag gekom om vir tyd te speel, wat hom dalk duur te staan kan kom.

Die CDA het naamlik aangedui die PVV en VVD moet eers akkoord gaan oor ‘n beleid ten opsigte van belasting op kopdoeke en die etniese registrasie van almal, voor die CDA sou besluit of hy gaan probeer deel word van ‘n koalisie. Hiermee het die CDA gehoop dat sy vis-nog-vlees-beleid wat hom waarskynlik die verkiesing gekos het, die dilemma sou spaar om in hierdie sensitiewe saak ‘n hoë boom te wees.

Kennelik het die CDA hom weer misreken met hoe die wind waai. Dit lyk nie net of die VVD en PVV mekaar hieroor gaan vind nie, maar die hele kwessie van migrante word sommer tot ‘n punt gedryf, en die VVD bly nie agter nie, soos die VVD wat planne in werking wil stel dat Europa as geheel sy grense minder toeganklik vir laaggeskoolde immigrante moet maak.

Wanneer dit kom by Nederland self as tuiste kies, sal immigrante voortaan waarskynlik reeds vooraf Nederlands behoorlik onder die knie moet hê, en aandui dat hulle ‘n Nederlandse leefstyl ondersteun. Selfs bestaande immigrante wat na tien jaar nog nie Nederlands onder die knie het nie, kan dalk vind dat hul staatshulp opdroog.

Wilders se aandrang dat die Koran ‘n verbode boek moet wees, en dat die oprigting van Moskees gestaak moet word, sal na verwagting die eens onoorkomelike immigrasiekwessies na kinderspeletjies laat lyk. Wilders raak egter ‘n teer snaar aan en kry baie steun in sy sentimente om te keer dat sy land verder islamitiseer.

Op ‘n vreemde manier kom hierdie boodskap ook nou hard en duidelik in Suid-Afrika aan. Tradisioneel kyk die huidige Suid-Afrikaanse regering Nederland maar vlak, maar die krag van die Nederlandse sokkerspan wat nou aan die wêreldsokkerbeker deelneem, kan nie misgekyk word nie. Nou het Fifa se aandrang dat Suid-Afrika teen Nederlandse burgers wat oranje, Nederland se nasionale kleure, dra die argwaan van die Nederlandse regering getrek. In beginsel handel dit wel oor, wat gorillabemarking van ‘n biersoort genoem word wat nie ‘n amptelike borg van Fifa is nie, maar die hardhandigheid van optrede teen minstens sommige vroue wie se oranje rokkies geen logo’s bevat nie, lyk brutaal.

Hierteenoor trotseer Suid-Afrika en Fifa ‘n sterk wêreldmening oor die vuvuzelas. Met Suid-Afrika wie se wêreldbekerlewe aan ‘n dun draadjie hang en Oranje wat vol skop is, kan Suid-Afrika se diplomatieke en politieke hardkoppigheid veel vyande versamel.

магазины детских товаровФильчаков прокурор отзывы

Welkom in die werklike wêreld, Bafana

Welkom in die werklike wêreld, en sommer totsiens ook…

Met Uruguay se tweede doel, sowat tien minute voor die einde van die wedstryd teen die Bafana Bafana was dit omtrent of die vufuzelas opeens afgeskakel is. Honderde teleurgestelde toeskouers het Loftus Versvelfd begin verlaat…

Dit is nie werklik die telling van 3 – 0 wat die Bafana se wêreldbekerdrome geknou en dalk die kersie doodgeblaas het nie, maar die gemak waarmee die Suid-Amerikaners die wedstryd beklink het.

Dit het selde gelyk of die Bafana op dieselfde veld tuishoort. Dit het ook selde gelyk na dieselfde span wat teen ‘n poer-poerende Meksiko gelykop gespeel het.

Met nog ‘n groepwedstryd teen Frankryk oor lyk dit nie of een van die ander spanne in die groep gaan belangstel om met die Bafana om die houtlepel mee te ding nie.

Die toernooi was tot dusver ‘n sukkelveld vir die topspanne, met Spanje wat ook teen Switserland in die stof gebyt het. Die vernaamste kenmerk was egter dat die toernooi in ‘n lae rat weggespring het, met net 18 doele na 11 wedstryde – die minste nog in ‘n wêreldbekertoernooi.

Intussen het die Nederlandse regering self swaarde met Fifa gekruis oor die regsoptrede teen vroulike Nederlandse ondersteuners wat oranje rokke (Nederland se sokkerspan staan as Oranje bekend) gedra het. Fifa het ook kriminele klagtes gelê teen Baravia, die biergroep wat glo vir die oranje-petalje verantwoordelik is. Bavaria is nie ‘n amptelike borg nie. Twee vroue is op R10 000 borgtog elk vrygelaat en op hul reisdokumente beslag gelê.

Tensy hierdie saak gou bygelê gaan word, gaan dit die verhouding met die Nederlandse regering, wat in alle waarskynlikheid veel regser as die uitgaande regering gaan wees, erg in die gedrang kom.

fruit shopОлександр Фільчаков прокурор

Vis nog vlees

Terwyl ontleders in Nederland nog kopkrap oor waarom die Christen-demokrate – tot voor die onlangse verkiesing die grootste party, ongeveer die helfte van sy steun ingeboet het – kom ‘n soortgelyke boodskap uit België en in die besonder Vlaandere.

“Vlees noch vis” lui die naambord op die Christen-Demokratiese Appèl se stalletjie in ‘n Nederlandse spotprent se uitbeelding van hul verkiesing. By die stalletjies weerskante, een wat haring verkoop en die ander wat “kippen” verkwansel, staan die skares ywerig tou.

Hoewel ontleders diepsinnig en wyd na redes soek, is die leserskommentare van koerante minder kleitrapperig: Hulle het vir ‘n party gaan stem waar hulle geweet het hoe die wind waai.

Heelwat hiervan het aangedui dat die CDA se lamsakkigheid rondom die Israels – Islamitiese saak hulle nie aangestaan het nie. Geert Wilders, die man wat onlangs nog van ‘n tipe haatspraak aangekla is en byvoorbeeld Turkye belet is, en met moeite toegang tot Brittanje gekry het, is onomwonde pro-Israel, en onomwonde krities op die Islam. Sy party het oornag een van die groot kanonne geword.

Die gemiddelde Nederlander voel miskien nie sterk oor godsdiens nie, maar die vooruitsig dat daar binnekort meer Moslems in hul land as Protestante kan wees, is ook nie aptytlik nie. Die Protestants-Rooms-Katolieke kwessie is juis een van die hoofredes hoekom daar vandag nog ‘n internasionale grens tussen Nederland en Vlaandere loop, en verskeie provinsies middeldeur gesny is.

Dalk nie meer lank nie, as gekyk word na die pas-aangekondigde verkiesingsuitslae in België, waar die Vlaams-nasionalistiese party van Bart de Wever, die NVA, as grootste party uit die verkiesing getree het. Die Franstalige sosialisteparty het die tweede meeste stemme gekry.

Hoewel De Wever nie so goed gevaar het soos wat algemeen verwag is nie, is die 27 setels uit ‘n totaal van 150 ‘n merkwaardige aanpassing op die 4 persent steun wat Vlaamse nasionaliste nog in 1925 kon bymekaar hark. Boonop is die NVA nie die enigste party wat hom vir Vlaandere se afskeiding van België beywer nie. Ook hier het die Vlaamse Christen-Demokrate soos hul noordelike buurman steun ingeboet, en is ses van sy vorige 23 setels kwyt. Dié party beskryf die verlies as aardskuddend, wat in die konteks staan daarvan dat die vorige algemene verkiesing maar twee jaar gelede plaasgevind het, en die pas-afgelope verkiesing juis afgedwing is toe die bymekaarhou van België, en veral die netelige kwessie van Brussel, sake uitmekaar laat spat het.

Ook in België, so lyk dit, het die kiesers voet neergesit en word die regering as’t ware gedwing om te kies of hulle vis of vlees wil wees.

Dit hou ook lesse vir Suid-Afrika in. Sedert die begrip konsensus-politiek tydens die drie-kamerstelsel in Suid-Afrika posgevat het, het duidelike standpunt-inname oor kwessie bykans vreemd in die hoofstroom-partye geword. Voor ‘n verkiesing sal groot plakkate nog plattelandse dorpe se ingange versier met beloftes van eie skole. Na die verkiesing weet die betrokke party skielik niks hiervan nie, om maar een voorbeeld te noem.

Referendums is na die uitslae bekend gemaak is voorgehou as oorweldigende “ja”-stemme vir hervorming, terwyl dit vooraf verdedig as referendums om byvoorbeeld ‘n mandaat vir voortgesette onderhandeling te kry, en in soveel woorde ergerlik ontken is as sou dit handel oor hervorming of nie.

Een van die grootste blokke aan die been vir die ANC is volgens ontleders juis dat dit ‘n balanseertoertjie moet probeer uitoefen tussen nasionalistiese en sosialistiese, en selfs kommunistiese denke. Die DA laat keusevryheid aan kiesers oor kwessie soos aborsie, gay-huwelike en die doodstraf. Cope sukkel nou om sy uiteenlopende tentakels onder een kombersie teen die winterkoue toe te hou. Selfs die VF+ kom in eie geledere onder druk oor wat as liberale toegewings beskou word.

In Nederland en België het kiesers nou die voet neergesit en die “Nog vlees, nog vis”-stalletjie kry nie aftrek nie.

люстраtopcargo отзывы сотрудников

Fiel iet, iet is hea!

Uiteindelik is hierdie stukkie kruppel Engels wat irriterend in Afrikaanse en andertalige advertensies gebruik is, nou die realiteit.

Terwyl sokkereuforie oor die land spoel, voel ‘n groeiende aantal buitelandse besoekers, waaronder joernaliste, dit ongelukkig ook op ‘n ander manier aan hul basse.

Die stroom berigte oor besoekers wat beroof en besteel word – sommiges sommer reeds met die aankoms wanneer van hul bagasie en duur toerusting by die internasionale lughawens voete kry, tot by beveiligde oornagplekke en selfs op ‘n wynlandgoed skreeu luid teen generaal Bekhi Cele se grootbek-praatjies oor hoe veilig dit gaan wees.

Dat die vier aanvallers van ‘n groepe buitelandse joernaliste by Hekpoort blyk drie Zimbabwiërs en ‘n Nigeriër te wees, help ook nie om dreigemente van voortgesette xenofobiese aanvalle na die toernooi te besweer nie.

Boonop was daar nou al verskeie beserings aan mense wat aan geleenthede deelgeneem het wat met die sokker verband hou – en die eerste bal is nog nie amptelik geskop nie. Dit kan maar net gehoop word dat berigte oor vervalste kaartjies wat in omloop is, oordrewe is. ‘n Sokker-liefhebber wat peperduur vir ‘n kaartjie opgedok het, en dan by die hek moet vasstel dis vervals, is ‘n erg ongelukkige toeskouer.

Gister het die Nederlandse koerant, Trouw, berig dat Fifa fufuzelas van langer as ‘n meter by die lys items gevoeg het wat op stadions verbied word. Indien dit wel die geval is, is dié feit nie genoegsaam aan Suid-Afrikaners gekommunikeer nie, en kan probleme verwag word as die sekuriteitspersoneel vanaand by die openingswedstryd hierdie, soos Trouw dit noem, “berugte blaastoeters” konfiskeer.

Fifa het baie simpatie ingeboet deur te weier om ‘n ophemeling van Peter Mokaba, die man wat weens sy singery van Kill the Boer, kill the farmer, berug geword het, van sy webwerf af te haal. Die ANC se optrede rondom Julius Malema se singery van “Skiet die Boere,” het ook bygedra dat die land nie so verenig die toernooi ingaan soos die regering dit sou wou hê nie. Dit is egter ‘n lat wat hy vir sy eie bas gepluk het. Net te veel van die land se inwoners is naasbestaandes van mense wat in plaasaanvalle omgekom of wreed verrinneweer is. Net te veel was self die slagoffers van misdaad.

Die president se beeld is nie ‘n staatshoof waardig nie, en beswaarlik die ideale beelddraer vir die land. Daar word dus hard gewerk om oud-pres. Nelson Mandela as reddingsboei in te span – iets wat sy gesondheid nie toelaat nie.

Kommentators het by herhaling gewaarsku dat ‘n beeldboustrategie behels dat alle eendjie in gelid gekry moet word.

Dit is kennelik nie gedoen nie.

Ns. Te veel van hierdie kommentator se familie het onder plaasaanvalle deurgeloop, en die buurseun wat saam met hom grootgeword het, is saam met dié jong man se swaer met masjiengewere in ‘n plaasaanval afgemaai, om in die lig van die ophemeling van Mokaba en Malema die entoesiasme te deel. Hierdeur is ongelukkig van my leuse van politiek-wetenskaplike en staatsregtelike neutraliteit afgewyk. 

артезианской скважиныалександр лобановский класс

Toetsbord- en alternatiewe media

Enkele jare gelede het die destydse redakteur van Rapport, Tim du Plessis, in reaksie op kritiek dat sekere koerante selektiewe nuusdekking doen om ‘n besondere ideologie te dien, geskryf dat die moderne tegnologie so ‘n omvang aangeneem het dat ‘n koerant wat dit sou waag, eenvoudig sy geloofwaardigheid sou inboet. Hy het onder meer na die rol van, soos hy dit gestel het, die alewige blogs, verwys.

Tydens die aanbied van die Konfederasiebekertoernooi het dit soms gelyk of koerante onder instruksie was om ‘n sekere beeld van die werklikheid te skets. Dikwels is via die oorsese pers verneem van gru-misdade, soos die aanval op Midge Fergusson, ‘n ondersteuner van die Britse en Ierse Leeus, wie se toer met die sokkertoernooi ooreengeval het. So is ook verneem van die rugbyondersteuners wie se besittings uit hul hotelkamers in Durban gesteel is terwyl hulle by die toets teen die Springbokke was.

Die sokker-ondersteuners, so het dit gelyk, het bykans geen onheil te beurt geval nie.

Geleidelik, soos die blogs begin praat het, het ‘n ander prentjie ontvou.

Die internet en ander tegnologie het so ‘n kragtige instrument geword dat verskeie koerante oorsee, wat geldelik noustrop trek, aktiewe programme van gemeenskapsjoernalistiek inspan. Bykans elke individu het nou ‘n selfoon, en hierdie selfone is dikwels met digitale kameras en selfs videokameras toegerus. Dit beteken dat letterlik miljoene mense potensieel joernaliste is, en gouer op ‘n toneel gaan wees as joernaliste wat op nuuswenke moet reageer.

Gebruik ‘n koerant nie die materiaal nie, pryk dit gou op die internet. Baie Suid-Afrikaners het nou familie en gesinslede oorsee, en die internet word as bekostigbare kommunikasie-instrument ingespan. In ‘n japtrap versprei nuus wêreldwyd.

Regerings wat streng perssensuur toepas, word gereeld ont-Googled gelaat. Binne minute Twitter nuusgebeure wat in die doofpot probeer hou is oor die wêreld. Vanjaar het 114 internet-joernaliste hulle al agter tralies bevind of is steeds besig om klippe te kap. Dit is wel minder as die 172 joernaliste van die konvensionele media wat dieselfde lot te beurt geval het, maar die hoeveelheid lande wat allerlei internetsensuur probeer toepas, groei bykans by die dag. Hoewel dit dikwels teen pornografie, veral kinderpornografie gemik is soos wat veral Westerse lande soos Nederland en Duitsland doen, is daar ook talle, veral in die Midde-Ooste en die Ooste, wat politieke sensuur toepas.

In Suid-Afrika word die lugweë en wat daarlangs versprei word streng gereguleer, en is dit bykans net Radio Pretoria wat rug styfmaak en ‘n alternatiewe boodskap uitstuur.

Die rol van die alternatiewe media word vandag weer onderstreep. Afriforum Jeug het Fifa en die regering die stryd aangesê oor die verheerliking van Pater Mokaba, wat veral vir sy sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” en alternatiewe vigssentimente bekend geword het. Fifa het ‘n stuk waarin Mokaba as held opgehemel word, en wat by die regering bekom is, op sy webblad geplaas. Hierdeur is verseker dat ‘n belangrike deel van die gemeenskap van die toernooi vervreem word, maar Fifa het rug styfgemaak.

Fifa is duidelik nie gewoond daaraan om geopponeer te word nie, en eerder om regerings te hiet en gebied. Toe Afriforum-jeug aandring dat die inligting verwyder word, het Fifa die druk daaragter geringgeskat.

Eskaleer die aksie, sal Fifa waarskynlik ‘n bietjie eier in die gesig kry, en steeds met sy miljarde rande na Europa terugkeer. Die Suid-Afrikaanse regering gaan waarskynlik minder onaangeraak daarvan afkom.

Rowers het die fout gemaak om buitelandse sokkerjoernaliste te beroof, diefstal by OR Tambo haal reeds die nuus nog voor die eerste bal amptelik geskop is, sokkertoeriste wat die land besoek het is twee keer in vier dae beroof, ‘n joernalis wat tydens ‘n vorige besoek beroof is, bring dié keer minder kontant en reisigerstjeks saam maar bykans met aankoms word sy kredietkaart gekloon en R15 000 onttrek.

Idealiste soos Henry Jeffreys en Zelda Jongbloed word op die blogs van die koerante waarin hul rubrieke verskyn erg aangeval.

Of die media die lesse van die Konfederasiebeker ter harte geneem het, sal die tyd leer. ‘n Opskrif op Nasionale Pers se elektroniese media vanoggend lui: “Soet én suur van WB.” Die rooftogte op joernaliste van verskeie lande word onder meer genoem.

Die ironie is dat die oorsese pers omtrent net soveel maak van die swaar polisiebegeleiding van oorsese sokkerspanne in Suid-Afrika, veral wanneer hulle swart woongebiede besoek, maar ook by hul oefenvelde, as wat ander negatiewe nuus gedra word soos pres. Zuma se sekslewe, Malema se spraaksaamheid, die derduisende prostitute en misdaad.

love potionтопкарго

Fifa in die spervuur

Kort voor die aanbreek van die Fifa-toernooi in Suid-Afrika, en te midde van die euforie wat heers, speel ‘n heel ander wêreld hom ook af.

Al hoe meer berigte en briewe sien die lig waarin Fifa as ‘n soort hartelose skurk uitgebeeld word wat met wavragte vol geld uit Suid-Afrika gaan verkas terwyl die land met yslike rekenings gaan sit om te vereffen. Van die berigte het selfs gelui dat Griekeland se ekonomiese ineenstorting deels toegeskryf kan word aan die aanbieding van die Olimpiese Spele.

Van vandag af deel Afriforum Jeug honderde DVD’s by die OR Tambo-lughawe uit waarin ‘n heel ander sy van Peter Mokaba voorgehou word as die man wat deur die regering, en nou ook deur Fifa op sy webblad, as held vereer word. Hierin word hy as die voorsanger van Kill the Boer, Kill the farmer, en die werklikhede van plaasmoorde, uitgebeeld.

Afriforum het Fifa eers ordentlik versoek om dié heldeverering van sy webblad te verwyder, maar het geweier.

Afriforum het ook versoek om ‘n vreedsame optog in Potchefstroom te hou waar die vermeende moordenaars van ‘n boer weer in die hof gaan verskyn. Dié vermoorde boer is onder meer lewend agter sy bakkie aangesleep. Toestemming is geweier, so lui die brief, onder meer omdat Fifa ‘n moratorium op die hou van optogte geplaas het. Die grondwet gee egter so ‘n reg aan Suid-Afrikaners.

Op die vooraand van die toernooi word berig dat twee tradisioneel wit woongebiede in Peter Mokaba se tuisstad, Pietersburg wat na Polokwane verander is, nou ook gaan verander. Nie net word beoog om dit te verander nie, maar te vernoem na iemand wat deur baie van die einste inwoners as ‘n voormalige terroris beskou word. Heel moontlik het sommige inwoners kinders aan die dood afgestaan in aanvalle deur die einste persoon en sy mense.

Terwyl baie instansies na plaasmoorde as volksmoord verwys, en op erkende volkeregtelike definisies wys om dit te staaf, sien baie van die regeringstentakels skynbaar kans om ongehinderd met kulturele moord teen die Afrikaner voort te gaan. Die jeugdige pleknamekomitee van Limpopo word immers as ‘n verlengstuk van die ANC-Jeugliga beskou.

Nog ‘n gasheerstad, Durban, het in die hof die groen lig gekry oor straat- en gebouename wat ‘n erg verdelende invloed uitoefen. Dié hofuitspraak gaan op appèl geneem word.

Met die oë van die wêreld nou soos selde op Suid-Afrika gerig en ‘n bykans ongekende stroom negatiewe beriggewing oorsee, verweer een van die hoofbronne vir die negatiewe publisiteit, pres. Jacob Zuma hom dat hy nie weer op die aanklagte van onder meer bedrog tereg kan staan nie omdat dit sy aandag van sy regeerpligte gaan aflei. Dit stuur nie ‘n besonder positiewe beeld uit van ‘n ingesteldheid oor reg en verkeerd nie.

Fifa kon veel bygedra het om daar waar dit die toernooi aangaan, rug styf te maak in keuses tussen reg en verkeerd. Om Peter Mokaba as held voor te hou verseker dat baie van die land se inwoners nie die toernooi met dieselfde euforie beleef nie. Dit is nie net die naasbestaandes en simpatiseerders van plaasmoord-slagoffers nie, maar ook die slagoffers van die Vigspandemie, waar Mokaba self ‘n bedenklike ontkenningsrol gespeel het. Fifa skop net te veel mense in die tande – presies hoeveel sal eers na die toernooi blyk wanneer die kasregisters ophou klingel en die rekenings kom.

скважина на песок отзывыФильчаков прокурор

Vergrootglas op Suid-Afrika

 Tot 40 000 prostitute, hoofsaaklik uit Zimbabwe, wat net in die groter Johannesburg-gebied verwag word, pres. Jacob Zuma se swaers wat ‘n wit bok as boetedoening vir ‘n ongenoemde misstap deur MaNtuli aan die Zuma-familie oorhandig, en dreigemente van die hervatting van xenofobiese geweld wanneer die tydelike werksgeleenthede verdamp wat met die sokker verband hou – dit is maar enkele grepe uit berigte wat nou in die Christian Science Monitor van die VSA verskyn.

Voorts is die wit bok-storie deel van ‘n berig wat oor ‘n nuwe, beweerde seksskandaal om die kop van Zuma beskryf word.

Die berig oor die prostitute, waarin die hotelle wat met die prostitute “uitgerus” word by die naam genoem word, meld dat daar met die vorige wêreldbekertoernooi in Duitsland 40 000 bykomende prostitute op die land toegesak het. Nou word dieselfde getal net in een stad verwag, en die Suid-Afrikaanse Sentrale Dwelmagentskap word as bron aangedui.

So terloops word Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer ingewerk, en gemeld dat Zuma op aanklagte van bedrog en verkragting tereggestaan het. Die stort teen vigs-storie bly ook nie uit nie. Julius Malema se narrestreke word steeds in die fynste besonderhede opgedis.

Voorts het ‘n Bloemfonteinse sokkerbeampte se aandrang dat gratis kondome oral, soos by gastehuise, in voorraad moet wees, wyd in die plaaslike en internasionale media weerklank gevind.

Dit klink inderdaad of oud-polisiekommissaris se voorstel aan die parlement enkele jare gelede dat oorweeg moet word om prostitusie vir die duur van die toernooi te wettig, stil-stil beslag gekry het.

Die boemerangspel eindig egter nie daar nie. Vervalste kaartjies speel ‘n rol dat toeskouers by die opwarmingswedstryd tussen Nigerië en Noord-Korea ‘n hek platloop en verskeie mense, waaronder ‘n polisieman, ernstig beseer word. Die media maak groot gewag dat die toneel waar transitorowers ‘n polisieman doodskiet, naby Soccer City is.

Die eerste drie items op TV 2 se nuus is die DA se poging om via die hof toegang tot dokumentasie te kry wat sal lig werp op die redes waarom die vervolgingsgesag alle aanklagte teen Zuma laat vaar het. Die tweede berig handel oor die slotbetoë in die Jackie Selebi-korrupsieverhoor, en die derde oor die astronomiese eis wat die afgedankte Eskombaas, Jacob Maroga, ingestel het.

Terwyl ‘n groot deel van die plaaslike media so ver moontlik gehoor gee aan mnr. Danny Jordaan se versoek dat niks gepubliseer word wat negatief op die toernooi kan inwerk nie, is dit uit die Christian Science Monitor se verslaggewing – wat gewoonlik van puik ondersoekende joernalistiek getuig, duidelik dat Suid-Afrika geen spesiale gunsies te wagte kan wees nie. Baie toeskouers gaan by voorbaat meen hulle besoek Sodom en Gamorra, ‘n skreiende ironie in ‘n land waar meer as 70 % van die inwoners bely hulle is Christene.

Die hartseer is dat die teerkwasaanslag selfvervaardig is. Is die endemiese korrupsie lankal vasgevat, het die ANC ‘n leier en president gekies wat nie so blootgestel is weens sy sekslewe nie, is onbekwames lankal vervang of in die eerste plek nooit aangestel nie, is die moraliteitsaspek in plaas van die kondoom-strategie in die stryd teen vigs konstant meer beklemtoon, dan was daar nie so veel om die teerkwas voor in te span nie.

Die plaaslike organiseerders kan soveel euforie opwek as wat hulle wil, groepe wat blatant te na gekom word deur die teiken van moor-liedjies en konstante diskriminasie te wees, sal genoeg gefrustreerdes oplewer om die internet as magtige wapen in te span dat die euforie kwesbaar sal bly.

в бассейнДанильченко Юрий прокурор

Impak van Vavi se opmerkings

Die storm wat opmerkings van Cosatu se algemene sekretaris, Zwelinzima Vavi, oor beweerde korrupsie van twee ministers ontketen het, dui op meer as wat dit oppervlakkig lyk.

Vavi se opmerkings was gerig aan die adres van die minister van Kommunikasie, Sipiwe Nyanda en die minister van samewerkende regering, Sicelo Shiceka. Nyanda word geroskam oor ‘n besonder hoë hotelrekening, terwyl Sicika onder die loep kom oor ‘n aanspraak op sy CV dat hy oor ‘n meestersgraad beskik wat geblyk het vals was.

Dit is nie die eerste keer dat inligting in die openbare domein beland wat ongunstig op dié ministers reflekteer nie. Nyanda is onder meer geïmpliseer by besonder gunstige, maar verdagte veiligheidskontrakte met ‘n Transnet-filiaal, en daarna sy openbare ywer dat die hoof van hierdie filiaal Maria Ramos as Transnet-hoof moes opvolg. Die einste transaksies het egter Nyanda se witbroodjie se sy Transnet-loopbaan gekos.

Shiceka, die minister verantwoordelik vir die land se spartelende munisipaliteite, se eie munisipale rekening in Midrand was met ‘n astronomiese bedrag in die rooi.

Die twee ministers was ook nie die enigstes wat by skewe praktyke geïmpliseer is nie. Die minister in die Kantoor van die Presidensie verantwoordelik om ‘n ogie oor korrupsie te hou, het self geblyk sy amptelike kredietkaart vir eie gebruik in te gespan het. Minister Tina Joemat-Pettersson se naam word weer genoem in verband met verdagte wilds-invoere uit ‘n bek-en-klouseer-gebied. Sy het weliswaar gister hierop in dieselfde pers gereageer as waarin sy onlangs foutiewe grondhervormingsyfers gebruik het.

Die minister van Polisie en sy gevolg het self ‘n monster-hotelrekening in Durban opgedoen met amptelike anker dat hy in daardie tyd ‘n paar polisiestasies besoek het.

Trouens, daar is ‘n regsproses om te probeer verseker dat pres. Jacob Zuma self sy dag in die hof kry. Zuma se verklaarde troonopvolger, Julius Malema, is weer by tenderpreneurskap en onwaarhede betrek.

Hoekom dan die groot ontsteltenis oor Vavi se uitlatings? Pres. Zuma sê immers gereeld self dat daar verskerpte optrede teen korrupsie sal wees.

Die eerste implikasie is dat, sou daar wel erns met die stryd teen korrupsie wees, dit in werklikheid beteken dat sekere begunstigdes teen die optrede geïnsuleer moet wees.

Ten tweede dui dit op nog minder harmonie in die ANC as wat graag voorgegee word. ‘n Breukspul tussen ZANU-PF en sy vakbondarm het juis tot die totstandkoming van die MDC in Zimbabwe gelei. Verskeie politieke en ekonomiese kenners beskou die sg sosialistiese verteenwoordigers in die ANC, waaronder Vavi, as minder radikaal as die nasionalistiese arm wat Malema insluit, wat op nog ‘n ooreenkoms met Zimbabwe dui.

Of dit, eerder as Cope, op die finale skeuring van die ANC dui, is nog hopeloos te vroeg om te sê. Boonop was daar ook bewerings oor Vavi se vrou wat besonder mildelik sou oes deur polisse aan Cosatu-lede te fasiliteer.

Minstens is daar nou ‘n sprankie hoop dat die ANC nie – soos Zuma dit stel – tot die Wederkoms sal regeer nie, en dat Zuma daad by sy bekpraatjies oor korrupsie sal moet voeg om sy party se eenheid te bewaar.

Blykbaar het korrupsie nou so endemies geword dat iets meer as bekpraatjies ook nie meer eenheid sal bewaar nie.

Korrupsie is nie nuut nie. Uit die vorige bedeling is een minister tronk toe, en ‘n ander se aspirasies vir eersteministerskap is oor beweerde besproeiingstransaksies nek omgedraai.

Die ANC het nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.

game casino slotsлобановский александр дети

Kruitvat om name

Die uitspraak van die Hooggeregshof in Durban dat die ANC-beheerde raad wel regmatig opgetree het deur straat- en gebouname te verander, open die deur dat ander munisipaliteite ook onsensitief met die kwessie kan omgaan.

Dié kwessie het in die spervuur beland toe talle name uit veral die koloniale era en name wat met die IVP geassosieer is, na ‘n skynbaar gebrekkige konsultasieproses verander is.

Dit het tot optogte en ander protesaksies gelei, en die nuwe name word ongeveer voor die voet doodgeverf soos dit aangebring word.

Kortom, die proses is uit die handboek geneem van hoe om te polariseer.

Ongelukkig is dit ‘n proses wat hom al te veel in Suid-Afrika herhaal het, en nou dreig om onder andere in Limpopo, danksy die jeugdige provinsiale pleknamekomitee wat wyd as ‘n verlengstuk van die ANC-jeugliga beskou word, opnuut sterk polariserend in te werk.

Ook die Vrystaatse pleknamekomitee het onlangs met ‘n blykbaar erg onbekookte proses weggespring, maar van sy voorneme om binne drie maande die mat uit te ruk, het blykbaar dadels gekom. Dié komitee het ‘n lang geskiedenis van om in sy eie vermeende onbekwaamheid vasgesuig te word.

Tot dusver kon en is die pleknamekomitee se optredes dikwels in die howe getoets en ter syde gestel.

Volgens die Durbanse uitspraak wil dit voorkom asof die veranderings van straat- en gebouename min of meer ‘n gewone uitvoerende funksie van die raad, en dus die burgemeesterskomitee, is. ‘n Burgemeesterskomitee met ‘n gebrekkige insig oor die begrip dat demokrasie oor regeer in algemene belang handel, kan dus deur ‘n diktatuur van die meerderheid baie skade aanrig

Die DA, wat saam met die IVP die aansoek om tersydestelling gebring het, oorweeg appèl. Die laaste woord oor die prosedure is dus nie noodwendig gespreek nie.

Veel meer as net ‘n regstegniese uitleg is ter sprake. Sou die bevinding bly staan, is dit net nog ‘n ernstige klap in die gesig van diegene wat die grondwet as ‘n bykans volmaakte dokument beskou.

Versoening is ‘n veel komplekser saak as bloot die regulering daarvan deur wetgewing – grondwette ingesluit. Waarskynlik die raakste samevatting van hierdie waarheid is ‘n T-hemp-geskrif wat onlangs op TV verewig was: “Malema se mo*r, ek bly ‘n Boer.”

Net so sou wetgewing wat die Durbanse raad se dwaasheid sou kon voorkom, min gedoen het om die besluitnemers se gesindheid te verander.

Die bevolking kan hoogstens deur sulke wetgewing teen die neerslag van polariserendeoptredes beskerm word.

live cassinoФільчаков Олександр Васильович

Sokker steeds as hefboom

Opposisiepartye het reeds gewaarsku dit lyk of vakbonde en ander groepe die komende Fifa-toernooi probeer gebruik om ongehoorde toegewings af te dwing.

Die regering se reaksie het gewissel van dreigemente van sterk optrede, tot ‘n ontkenning dat daar ‘n beduidende bedreiging teen die sokker is.

Behalwe die beweerde regse bedreiging wat tegelyk as taamlik omvangryk en betreklik tandeloos voorgestel is.

Nou kom die nuus dat pres. Jacob Zuma en die Nasionale Intelligensie-agentskap self moes ingryp om beweerde sabotasieplanne by Bloemfontein se kragverspreider, Centlec, die hoof te bied. Meer polisielede is ontplooi, en die slotte van substasies is vervang. Die beweerde sabotasieplanne is blykbaar die gevolg van ‘n interdik teen ‘n staking en die arrestasie van belhamels.

Potensieel kon die stad tydens wedstryde in duister gehul gewees het.

Alle sabotasie wat die toernooi op ‘n manier negatief kan ontwrig, is nie so maklik definieerbaar nie. Die rits Vrystaatse tenders, waaronder paaietenders, wat in die hof tersyde gestel is en aan ander kontrakteurs toegeken is, dra ook die kenmerke van sabotasie. Dit is nie asof die Vrystaat se paaie in so ‘n goeie toestand is dat duurder tenders bekostig kan word nie.

Boonop het verskeie prosesse so verloop dat die herstel van skrikwekkende slegte paaie eers na die sokkertoernooi aan die beurt gaan kom. ‘n Week voor die toernooi begin, vermeerder die slaggate in Bloemfonteinse strate by die uur – ook in strate waar slaggate onlangs nog herseël is. Van hierdie slaggate is op baie gevaarlike plekke.

Skaars het ‘n span skoonmakers, wat skynbaar uitsluitlik vir die toernooi in diens geneem is, ‘n area skoongemaak of die rommel keer gewoon terug. Dié rommel se herkoms is dikwels passasiers van taksies wat feestelik versier is om die komende toernooi te vier. Van projekte soos die eertydse “Hou Suid-Afrika skoon” is daar min, indien enige teken. Trouens, die Mangaung-munisipaliteit het ‘n stokkie voor ‘n stedelike bewarea se planne vir ‘n herwinningsprojek gesteek. Herwinningsprojekte is aldus ‘n nuusbulletin van die SABC soos boompnatprojekte, deel van die gasheerstede se ooreenkomste met Fifa. Die doel is om die koolstof-voetspoor van die toernooi teen te werk.

Die skoen is nou aan die ander voet. Vroeër jare was diegene wat hul beste voet aan buitelanders voorgesit het en graag die beste moontlike beeld van die land wou uitdra, die lojale patriotte.

Hulle status as patriotte is nie aangetas as hulle ontsteld geraak het oor ‘n dwaasheid wat ‘n minister kwytgeraak en die land se beeld skade berokken het nie. Nou is diegene wat ongelukkig is dat die omstrede Peter Mokaba, wat veral vir sy singery “Kill the Boer, kill the farmer” met die vernoeming van ‘n sokkerstadion vereer, en op Fifa se webblad geloof word, nie lojaal nie.

Patriotisme is skynbaar nou gereduseer tot die oë toeknyp vir voorkombare skadelikhede en deelname aan ‘n ongekwalifiseerde euforie.

Planne binne die ANC om Cosatu se grootbaas dissiplinêr te verhoor omdat hy durf waag het om te sê daar is ‘n groot verskil oor mediaberigte oor ministers wat by korrupsie betrokke is en pres. Zuma se reaksie daarop, roep kliphard die boodskap van voortgesette toesmeerdery uit. Intussen bly Juilius Malema se singery van “Skiet die Boere” binne die ANC ongestraf gelaat.

Patriotisme, so lyk dit, is volledig geherdefinieer.

подъемникидвухстоечные лобановский класс

Hoe om ‘n olifant te eet

Op die vraag oor hoe om ‘n olifant te eet, is die antwoord: Happie vir happie.

Reg of verkeerd, is dit hoe die proses op die oomblik vorder om die land uit die ANC se greep te wikkel.

Toe die Wes-Kaap na 1994 nie soos die res van die land onder ANC-oorheersing beland het nie, het die regerende party na dié provinsie as ‘n nog onbevryde provinsie verwys. Danksy die NNP se drospolitiek het die Wes-Kaap en Kaapstad-uniestad sonder slag of stoot in die ANC se skoot beland.

Gou was dit vir die inwoners duidelik dat dié toedrag van sake vir hulle basies dieselfde lot inhou as vir die inwoners elders, soos dienslewering wat noustrop trek – kortom, soos Naspers dit gereeld gestel het, ‘n beheptheid met middelmatigheid.

Middelmatigheid, so het dit geblyk, was die politiek-korrekte eufemisme van die millennium.

Deur die harde werking van die demokrasie is die Wes-Kaap en verskeie munisipaliteite weer uit die ANC se hande gewring. Weer eens wend die ANC hom tot ondemokratiese optrede. Die huidige oproeraksie van die ANC-jeugliga, ironies met sink-gemakshuisies as sneller, is nie die eerste openlike poging om hierdie nie-ANC-provinsie van die land onregeerbaar te maak nie. Ten spyte van die skade wat dit die land ongeveer net ‘n week voor die Fifa-toernooi kan berokken, is die ANC se reaksie maar effentjies.

Dit is in skrille kontras met die Minister van Samewerkende Regering se dreigemente teen dienslewerings-oproermakers binne ANC-gebiede, naamlik dat die veiligheidsmagte “townships” sal afsper en die belhamels sal jag. Dit herinner aan taalgebruik uit ‘n ander era.

Of demokrasie veel te make het met die feit dat die Wes-Kaap, soos die ANC dit beskou, ‘n nie-bevryde gebied is, is egter ‘n heel ander vraag. Dié provinsie het ‘n baie eiesoortige bevolkingsamestelling. Presies hoe ‘n groot invloed dit het, blyk uit die DA se oorwinning tydens ‘n tussenverkiesing in Guguletu. Anders as wat dit op die oog af klink, is dit nie ‘n uitsluitlike swart wyk nie. Drie van die vyf stempunte val in tradisioneel bruin woongebiede, en hier het die DA amper 100 % van die stemme getrek. Oorkant die spoorlyn, in Guguletu, het die ANC in twee stempunte bykans 100 % van die stemme getrek.

Demografies het die res van die land, met moontlik die Noord-Kaap as uitsondering, skynbaar ‘n demografiese probleem om die ANC-juk af te werp.

Die eerste omvattende opruk na die stembusse is egter nie ‘n algemene verkiesing nie, maar ‘n plaaslike regeringsverkiesing aanstaande jaar. In die meeste gevalle waar berekeninge dui op die moontlike oorname van munisipaliteite, soos Port Elisabeth, hang dit baie af hoeveel stemme ander opposisiepartye soos Cope en die UDM gaan trek.

Dit skep ‘n titseltjie meer as blote ironie – selfs die partye wat die hardste streef na ‘n nie-etniese karakter hou die oog op partye wat in effek sterk etniese partye is. Cope se huidige geskarrel kan kaarte lelik deurmekaar krap, aangesien dit nou in alle waarskynlikheid afhang wie die pyp gaan rook, en natuurlik of die party volgende jaar nog ‘n faktor gaan wees. Is Lekota die wenner, kan die DA waarskynlik Cope-wyke in sy koalisiekraal toereken, maar as Shilowa die septer swaai is sake minder duidelik, veral gemeet teen die ferme rol Cope se radikale jeugliga in die Shilowakamp speel.

Die feit dat die grondwet ‘n tipiese grondwet vir ‘n homogene bevolking is, het partye geen ander keuse nie as om hierdie olifant happie vir happie te eet. Dit kan baie lank neem. Volgens pres. Zuma tot die Wederkoms, al moet hy nou ook die tokkelossie inspan om dit so te hou. Te lank vir baie, en objektief is dit geen verrassing nie dat die volkstaatidee volgens verskeie aanduidings ‘n sterker, hoewel erg versplinterde momentum kry.

лайт люстрылобановский александр дочь

Internasionale reg en die wêreldmening

Oud-adjunk-minister van Buitelandse Sake, Aziz Pahad, was skaars op Bagdad se lughawe met ‘n Amerikaansgeleide internasionale mag onderweg, of hy verklaar aan die wêreld hy het geen wapens van massavernietiging gesien nie.

Dat hy uiteindelik korrek was, is skaars die punt. Hy het ‘n internasionale persepsie help skets sonder dat die werklike feite nog op die tafel was.

Presies wat gebeur het toe Israelse oorlogskepe ‘n vloot hulpskepe van aktiviste onderskep het, sal eers deur ‘n ondersoek bepaal kan word. Tog is Israel reeds internasionaal veroordeel, ook deur Suid-Afrika.

Dat Israel in verskeie opsigte geblaps het, is duidelik daaruit dat daar selfs in die Israelse media kritiek is. Tog berig die media in Europa reeds oor beeldmateriaal wat toon hoe die aktiviste aan boord van die skepe die Israelse soldate wat met toue uit helikopters neergelaat is, met bofbalkolwe en messe bestorm, hul pistole afneem en ‘n skietery ontstaan. Die Israelse soldate, wat twee weke lank vir die operasie geoefen het, was met verfbalgewere en pistole gewapen, en hul intelligensieverslae het nie die aggressiewe optrede van veronderstelde passifistiese aktiviste voorsien nie.

Die aktiviste was ook bewus van ‘n blokkade – wettig of onwettig – wat deur Israel en Egipte teen die Hamas-beheerde Gaza ingestel is. Israel dra immers die letsels van vuurpylaanvalle wat gereeld vanuit Gaza lukraak op Israel geloods word, en nie skole of hospitale ontsien nie. Egipte het te make met ‘n oneindige stroom smokkelnetwerke wat onder meer wapens met tonnels na en van Gaza vervoer.

Die openbare wêreldmening laat hom min deur feite of die volkereg voorsê. Presies dieselfde wêreldmening wat apartheid tot ‘n misdaad teen die mensdom verklaar het, steun ‘n onafhanklike Palestynse tuisland.

Hoe lande en die wêreldmening op situasies reageer is gewoonlik baie komplekser as wat dit op die oog af lyk. Ongelukkig is die internasionale reg nie altyd die norm nie. Na Irak se besetting van Koeweit was die VSA en baie ander lande bereid om oorlog te maak. Voorheen het Marokko egter Wes-Sahara beset, en hoewel Marokko daaroor nie lid van die Afrika-Unie is nie, gaan sy betrekkinge met die VSA en die res van die wêreld min of meer ongestoord voort. Dié land het selfs as gasheer vir vanjaar se Fifa-toernooi ‘n bod ingedien, en sy besetting van ‘n buurland het skynbaar geen rol gespeel dat die bod nie toegestaan is nie.

Suid-Afrika het skynbaar wapentransaksies met bedenklike lande gesluit, daar is in weerwil van ‘n verbod deur sportkodes deurlopend staatsinmenginging in sport en boonop met ‘n rassegrondslag, en vele ander wat skynbaar op die internasionale terrein onder die mat gevee word. Daar is blykbaar nog vir die huidige regering kapitaal oor na die wêreldmening oor Suid-Afrika se vorige bedeling tot die vlak van koorsstuipe gelei het.

Twee werklikhede geld skynbaar onverbiddelik. In die internasionale arena is lande gelyk en ongelyk tegelyk, en lande het nie vriende nie, net belange.

Terwyl Suid-Afrika nog op die kapitaal teer, is daar skynbaar ‘n duidelike verskuiwing onder die publiek in oorsese lande. Dit manifesteer hom byvoorbeeld in die internet-kommentare deur lesers in oorsese koerante.

Malema se vrye teuels en ander optredes soos dié van Jimmy Manyi versnel die tempo waarteen die kapitaal verteer word. Die nuus dat pres. Zuma skynbaar weer pa word help ook nie in ‘n wêreld waar miljoene mense daagliks honger lei nie.

для компрессораданильченко юрій броніславович компромат

Het Israel die oorlog verloor?

Die Israelse aanval op die skepe van ‘n Turkse nie-regeringsorganisasie onderweg na Gasa, was ‘n ongelukkige insident wat die wêreldmening onomwonde teen Israel kan draai.

Ten spyte van Danny Ayalon, adjunk-minister van buitelandse sake, se versekering dat Israel uitgelok is om op te tree, gaan die hele voorval olie op die vuur vir Israel se vyande wees.

Die huidige regering van Benjamin Netanyahu het kennelik daarop gereken dat ‘n ystervuis die beste antwoord sal wees op die flottielje se weiering om eers in ‘n Israelse hawe aan te doen.

Maar die besluit kan ten nadele strek in Israel self waar die toenemende isolasie van die land spanning binnelands skep. Linkse politieke partye gaan Netanyahu waarskynlik swaar kasty vir dié kragdadige optrede.

Internasionaal gaan die Joodse staat se optrede teen die humanitêre vrag Israel se posisie teenoor die VSA verder belemmer. Amerika het Israel nie so nodig soos wat Israel die VSA se ondersteunig moet hê as ‘n eiland in ‘n Moslemsee nie. 

Israeli’s se bekommernis oor Iran se kernprogram behoef Amerikaanse hefboomkrag, wat na dese minder nog vanselfsprekend gaan wees. In Europa is die openbare mening teen Israel nog feller en gaan verder versuur.

Net soos Suid-Afrika 30 jaar gelede, gaan die Israeli’s ontdek dat die houding van die buitewêreld nie bepaal word deur logika of regverdigheid nie, maar deur ‘n linkse pers se morele hovaardigheid.

Feite en voornemens gaan beslis in die proses sneuwel, want negatiewe persepsies gaan van hier af aan die bo-toon voer.

Тепловойлобановский александр

Afrikanisme

Afrikadag is verlede week gevier. Die geleentheid het met minder fanfare gepaard gegaan as wat verwag sou word, en vir die eerste keer het gesaghebbende Afrikane, in die vorm van oud-Sekretaris-generaal van die VN, Kofi Anan en oud pres. Obassanjo van Nigerië selfkritiek uitgespreek.

Afrikanisme neig tradisioneel om alles wat op die kontinent verkeerd loop op die brood van iemand anders te smeer, met kolonialisme hoog op die lys, die Noord – Suid scenario en vele meer.

Veral in die bewindstyd van pres. Thabo Mbeki het Afrikanisme stewig inslag in Suid-Afrika gevind. Nepad is onder meer in die lewe geroep, iets wat ook al vir Suid-Afrika ‘n verleentheid of wat opgelewer het omdat Suid-Afrika begin noustrop trek het om op sommige aspekte op die portuur-oorsig by sommige lande suid van die Sahara by te hou.

Dié ingesteldheid is veral weerspieël in die kwalik bedekte verknogtheid aan pres. Robert Mugabe.

Minder in die openbare oog het tallose animistiese praktyke inslag gevind. Veelwywery is gewettig, en die voorvadergeeste van mense wat in die struggle-jare in die buiteland gesterf het, is amptelik en op staatskoste gaan haal en na onder meer die Vryheidspark gebring.

Talle amptelike geleenthede, soos die jaarlikse opening van sekere provinsiale wetgewers, gaan met tradisionele slagtings en reinigingseremonies gepaard. Ook die komende Fifa-toernooi is onlangs tydens ‘n seremonie met sangomas in Soccer City geseën.

Dit is kwalik vreemd dat hierdie aangeleentheid ook na die politiek sou deurwerk. Vir mense met ‘n westerse agtergrond is dit vreemd dat pres. Jacob Zuma lustig aan animistiese praktyke deelneem, en selfs ANC-kiesers met voorvadergeeste dreig sou hulle uit die ANC dros. Die ironie is dat hy dié opmerking gemaak het nadat hy opnuut die wenkbroue laat lig het deur die Here as’t ware as lid van die ANC, van die party se stigting af, voor te hou.

Kenners van swart kulture wys daarop dat dié kulture ‘n baie meer inklusiewe siening het van godsdiens as die westerse. Baie Christene meen weer daar is geen onduidelikheid dat God vereis dat Hy as enigste Here gedien word en ‘n jaloerse God is nie. Verder word tradisionele slagtings verwerp omdat Jesus aan die kruis reeds die volmaakte offer gebring het.

Selfs eerw. Kenneth Meshoe, wat onlangs nog voorvaderhuldiging verwerp het, het kiesers nou in reaksie op Zuma se voorvader-dreigemente daarop gewys dat geen verantwoordelike voorvadergees van mense sou verwag om aan te hou stem vir die ANC wat so min vir die mense omgee nie.

Dit is nog te vroeg om met stelligheid te verklaar, maar dit wil voorkom of Cope se skynbaar onafwendbare skeuring na ‘n foutlyn tussen Afrikaniste en mense met ‘n meer westerse beskouing van ‘n nie-rassige party teruggevoer kan word. Die verdelingslyn is uiteraard nie skerp omlyn nie, met Lekota, toe minister van Verdediging, wat self as deel van ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging voorvadergeeste in Lesotho gaan haal het.

‘n Ander deel van die bevolking assosieer animistiese praktyke met agterlikheid en, soos die media dit graag noem, ‘n beheptheid met middelmatigheid. Of paaie vol slaggate en hospitale sonder medisyne egter vir middelmatigheid kwalifiseer is ‘n ander vraag.

Die gevolg is dat middelpuntvliedende kragte sterker word. Of euforiese oomblikke soos die Soweto-rugby-eindstryd genoegsame drakrag het om fundamentele sake, aangeblaas deur Malema-agtige uitsprake, teen te werk moet nog beantwoord word.

бурение артезианской скважины на водуАлександр Фильчаков прокурор