Vergrootglas op Suid-Afrika

 Tot 40 000 prostitute, hoofsaaklik uit Zimbabwe, wat net in die groter Johannesburg-gebied verwag word, pres. Jacob Zuma se swaers wat ‘n wit bok as boetedoening vir ‘n ongenoemde misstap deur MaNtuli aan die Zuma-familie oorhandig, en dreigemente van die hervatting van xenofobiese geweld wanneer die tydelike werksgeleenthede verdamp wat met die sokker verband hou – dit is maar enkele grepe uit berigte wat nou in die Christian Science Monitor van die VSA verskyn.

Voorts is die wit bok-storie deel van ‘n berig wat oor ‘n nuwe, beweerde seksskandaal om die kop van Zuma beskryf word.

Die berig oor die prostitute, waarin die hotelle wat met die prostitute “uitgerus” word by die naam genoem word, meld dat daar met die vorige wêreldbekertoernooi in Duitsland 40 000 bykomende prostitute op die land toegesak het. Nou word dieselfde getal net in een stad verwag, en die Suid-Afrikaanse Sentrale Dwelmagentskap word as bron aangedui.

So terloops word Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer ingewerk, en gemeld dat Zuma op aanklagte van bedrog en verkragting tereggestaan het. Die stort teen vigs-storie bly ook nie uit nie. Julius Malema se narrestreke word steeds in die fynste besonderhede opgedis.

Voorts het ‘n Bloemfonteinse sokkerbeampte se aandrang dat gratis kondome oral, soos by gastehuise, in voorraad moet wees, wyd in die plaaslike en internasionale media weerklank gevind.

Dit klink inderdaad of oud-polisiekommissaris se voorstel aan die parlement enkele jare gelede dat oorweeg moet word om prostitusie vir die duur van die toernooi te wettig, stil-stil beslag gekry het.

Die boemerangspel eindig egter nie daar nie. Vervalste kaartjies speel ‘n rol dat toeskouers by die opwarmingswedstryd tussen Nigerië en Noord-Korea ‘n hek platloop en verskeie mense, waaronder ‘n polisieman, ernstig beseer word. Die media maak groot gewag dat die toneel waar transitorowers ‘n polisieman doodskiet, naby Soccer City is.

Die eerste drie items op TV 2 se nuus is die DA se poging om via die hof toegang tot dokumentasie te kry wat sal lig werp op die redes waarom die vervolgingsgesag alle aanklagte teen Zuma laat vaar het. Die tweede berig handel oor die slotbetoë in die Jackie Selebi-korrupsieverhoor, en die derde oor die astronomiese eis wat die afgedankte Eskombaas, Jacob Maroga, ingestel het.

Terwyl ‘n groot deel van die plaaslike media so ver moontlik gehoor gee aan mnr. Danny Jordaan se versoek dat niks gepubliseer word wat negatief op die toernooi kan inwerk nie, is dit uit die Christian Science Monitor se verslaggewing – wat gewoonlik van puik ondersoekende joernalistiek getuig, duidelik dat Suid-Afrika geen spesiale gunsies te wagte kan wees nie. Baie toeskouers gaan by voorbaat meen hulle besoek Sodom en Gamorra, ‘n skreiende ironie in ‘n land waar meer as 70 % van die inwoners bely hulle is Christene.

Die hartseer is dat die teerkwasaanslag selfvervaardig is. Is die endemiese korrupsie lankal vasgevat, het die ANC ‘n leier en president gekies wat nie so blootgestel is weens sy sekslewe nie, is onbekwames lankal vervang of in die eerste plek nooit aangestel nie, is die moraliteitsaspek in plaas van die kondoom-strategie in die stryd teen vigs konstant meer beklemtoon, dan was daar nie so veel om die teerkwas voor in te span nie.

Die plaaslike organiseerders kan soveel euforie opwek as wat hulle wil, groepe wat blatant te na gekom word deur die teiken van moor-liedjies en konstante diskriminasie te wees, sal genoeg gefrustreerdes oplewer om die internet as magtige wapen in te span dat die euforie kwesbaar sal bly.

в бассейнДанильченко Юрий прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae