Afrikanisme

Afrikadag is verlede week gevier. Die geleentheid het met minder fanfare gepaard gegaan as wat verwag sou word, en vir die eerste keer het gesaghebbende Afrikane, in die vorm van oud-Sekretaris-generaal van die VN, Kofi Anan en oud pres. Obassanjo van Nigerië selfkritiek uitgespreek.

Afrikanisme neig tradisioneel om alles wat op die kontinent verkeerd loop op die brood van iemand anders te smeer, met kolonialisme hoog op die lys, die Noord – Suid scenario en vele meer.

Veral in die bewindstyd van pres. Thabo Mbeki het Afrikanisme stewig inslag in Suid-Afrika gevind. Nepad is onder meer in die lewe geroep, iets wat ook al vir Suid-Afrika ‘n verleentheid of wat opgelewer het omdat Suid-Afrika begin noustrop trek het om op sommige aspekte op die portuur-oorsig by sommige lande suid van die Sahara by te hou.

Dié ingesteldheid is veral weerspieël in die kwalik bedekte verknogtheid aan pres. Robert Mugabe.

Minder in die openbare oog het tallose animistiese praktyke inslag gevind. Veelwywery is gewettig, en die voorvadergeeste van mense wat in die struggle-jare in die buiteland gesterf het, is amptelik en op staatskoste gaan haal en na onder meer die Vryheidspark gebring.

Talle amptelike geleenthede, soos die jaarlikse opening van sekere provinsiale wetgewers, gaan met tradisionele slagtings en reinigingseremonies gepaard. Ook die komende Fifa-toernooi is onlangs tydens ‘n seremonie met sangomas in Soccer City geseën.

Dit is kwalik vreemd dat hierdie aangeleentheid ook na die politiek sou deurwerk. Vir mense met ‘n westerse agtergrond is dit vreemd dat pres. Jacob Zuma lustig aan animistiese praktyke deelneem, en selfs ANC-kiesers met voorvadergeeste dreig sou hulle uit die ANC dros. Die ironie is dat hy dié opmerking gemaak het nadat hy opnuut die wenkbroue laat lig het deur die Here as’t ware as lid van die ANC, van die party se stigting af, voor te hou.

Kenners van swart kulture wys daarop dat dié kulture ‘n baie meer inklusiewe siening het van godsdiens as die westerse. Baie Christene meen weer daar is geen onduidelikheid dat God vereis dat Hy as enigste Here gedien word en ‘n jaloerse God is nie. Verder word tradisionele slagtings verwerp omdat Jesus aan die kruis reeds die volmaakte offer gebring het.

Selfs eerw. Kenneth Meshoe, wat onlangs nog voorvaderhuldiging verwerp het, het kiesers nou in reaksie op Zuma se voorvader-dreigemente daarop gewys dat geen verantwoordelike voorvadergees van mense sou verwag om aan te hou stem vir die ANC wat so min vir die mense omgee nie.

Dit is nog te vroeg om met stelligheid te verklaar, maar dit wil voorkom of Cope se skynbaar onafwendbare skeuring na ‘n foutlyn tussen Afrikaniste en mense met ‘n meer westerse beskouing van ‘n nie-rassige party teruggevoer kan word. Die verdelingslyn is uiteraard nie skerp omlyn nie, met Lekota, toe minister van Verdediging, wat self as deel van ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging voorvadergeeste in Lesotho gaan haal het.

‘n Ander deel van die bevolking assosieer animistiese praktyke met agterlikheid en, soos die media dit graag noem, ‘n beheptheid met middelmatigheid. Of paaie vol slaggate en hospitale sonder medisyne egter vir middelmatigheid kwalifiseer is ‘n ander vraag.

Die gevolg is dat middelpuntvliedende kragte sterker word. Of euforiese oomblikke soos die Soweto-rugby-eindstryd genoegsame drakrag het om fundamentele sake, aangeblaas deur Malema-agtige uitsprake, teen te werk moet nog beantwoord word.

бурение артезианской скважины на водуАлександр Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae