Die bekende prokureur, Cerneels Lourens, wat as gasspreker tydens die geleentheid opgetree het, het gesê dat ons as Handhawers van die Taal meer taalaktivisties moet optree deur vriendelik dog ferm aan te dring om in Afrikaans bedien te word. Verder moet ons meer van die Gelykheidshof gebruik maak deur instansies soos maatskappye wat nét in Engels adverteer, aan te vat.
Die GHA het tydens die Jaarvergadering onder meer besluit om:
1. Die Prof. Kobus Pienaar Wisseltrofee vir Taalaktivisme jaarliks toe te ken aan dié persoon wat volgens die Hoofbestuur van die GHA die meeste gedoen het om die Afrikaanse taal te bevorder. Taalaktiviste kan deur die publiek genomineer word waaruit die GHA Hoofbestuur ‘n finale keuse sal maak. Dié wisseltrofee sal tydens die GHA Jaarvergadering aan die wenner oorhandig word.
2. Die GHA Beurs vir Nagraadse Studie in Afrikaans Letterkunde ten bedrae van R10,000.00 word jaarliks beskikbaar gestel aan ‘n nagraadse Unisa student wat verder in Afrikaanse wil studeer. Belangstellende studente kan ‘n aansoekvorm van die GHA kantore bekom. Die GHA Hoofbestuur sal die beurs aan die suksesvolle aansoeker toeken. Aanbevelings vanaf die betrokke aansoeker se dosent(e), sal deur die Hoofbestuur in aanmerking geneem word.
3. ‘n Samewerkende ooreenkoms te sluit met INVISO (‘n sang- en musiek akademie met besturende direkteur Mej. Jofranie Venter) ter bevordering van gehalte Afrikaanse Sang en Musiek.
Die nuwe GHA-bestuur sien soos volg daaruit: Mnr. André Alkema (Voorsitter), Mev. Susan Grobler (Ondervoorsitter), Mnr. Pieter Oosthuizen (Sekretaris), Mev. Sanet Alkema (Penningmeester), en addisionele bestuurslede Mev. Natasha Ayers, Mej. Jofranie Venter en Mnr. Horst Graefe.
Wat merkwaardig is, is dat daar tans meer vroue op die bestuur dien as mans. Mev. Susan Grobler en Mnr Pieter Oosthuizen (22) maak ook geskiedenis deurdat sy die eerste vroulike Ondervoorsitter en hy die jongste Sekretaris van die GHA ooit is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.