Die herinwyding het geskied nadat AfriForum en die Standertonse gemeenskap gedurende 2008 geslaag het om ʼn hofbevel te bekom om dié gedenksteen te herstel en weer in te wy.
Die Groot Trek-gedenksteen, wat in 1988 by die Standertonse stadsaal opgerig is as deel van die 150-jarige herdenking van die Groot Trek, is op 12 April 2007 in opdrag van Radebe-Khumalo met ʼn slootgrawer opgegrawe, erg beskadig en op ʼn rommelhoop gegooi. Die munisipaliteit het volgens raadstukke beplan om dieselfde met die Konsentrasiekampgedenksteen te doen.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, stuur die herinwyding ʼn duidelike boodskap aan alle gemeenskappe in die land dat hulle nie magteloos staan teenoor diegene in magsposisies wat hulself aan magsmisbruik skuldig maak nie. “Lede van die Standertonse gemeenskap het nie in sak en as verval en net gekla oor die gedenksteen beskadig is nie, maar het tot aksie oorgegaan en ná volgehoue pogings daarin geslaag om die owerheid tot verantwoording te roep,” het Kriel bygevoeg.
Die herinwyding is volgens Kriel nie net ʼn oorwinning vir AfriForum, De Ville en die inwoners van Standerton nie, maar vir almal in die land wat wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe wil bevorder en glo dat erfenisse bewaar moet word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.