Ten spyte van Danny Ayalon, adjunk-minister van buitelandse sake, se versekering dat Israel uitgelok is om op te tree, gaan die hele voorval olie op die vuur vir Israel se vyande wees.
Die huidige regering van Benjamin Netanyahu het kennelik daarop gereken dat ‘n ystervuis die beste antwoord sal wees op die flottielje se weiering om eers in ‘n Israelse hawe aan te doen.
Maar die besluit kan ten nadele strek in Israel self waar die toenemende isolasie van die land spanning binnelands skep. Linkse politieke partye gaan Netanyahu waarskynlik swaar kasty vir dié kragdadige optrede.
Internasionaal gaan die Joodse staat se optrede teen die humanitêre vrag Israel se posisie teenoor die VSA verder belemmer. Amerika het Israel nie so nodig soos wat Israel die VSA se ondersteunig moet hê as ‘n eiland in ‘n Moslemsee nie.
Israeli’s se bekommernis oor Iran se kernprogram behoef Amerikaanse hefboomkrag, wat na dese minder nog vanselfsprekend gaan wees. In Europa is die openbare mening teen Israel nog feller en gaan verder versuur.
Net soos Suid-Afrika 30 jaar gelede, gaan die Israeli’s ontdek dat die houding van die buitewêreld nie bepaal word deur logika of regverdigheid nie, maar deur ‘n linkse pers se morele hovaardigheid.
Feite en voornemens gaan beslis in die proses sneuwel, want negatiewe persepsies gaan van hier af aan die bo-toon voer.
