Sokker steeds as hefboom

Opposisiepartye het reeds gewaarsku dit lyk of vakbonde en ander groepe die komende Fifa-toernooi probeer gebruik om ongehoorde toegewings af te dwing.

Die regering se reaksie het gewissel van dreigemente van sterk optrede, tot ‘n ontkenning dat daar ‘n beduidende bedreiging teen die sokker is.

Behalwe die beweerde regse bedreiging wat tegelyk as taamlik omvangryk en betreklik tandeloos voorgestel is.

Nou kom die nuus dat pres. Jacob Zuma en die Nasionale Intelligensie-agentskap self moes ingryp om beweerde sabotasieplanne by Bloemfontein se kragverspreider, Centlec, die hoof te bied. Meer polisielede is ontplooi, en die slotte van substasies is vervang. Die beweerde sabotasieplanne is blykbaar die gevolg van ‘n interdik teen ‘n staking en die arrestasie van belhamels.

Potensieel kon die stad tydens wedstryde in duister gehul gewees het.

Alle sabotasie wat die toernooi op ‘n manier negatief kan ontwrig, is nie so maklik definieerbaar nie. Die rits Vrystaatse tenders, waaronder paaietenders, wat in die hof tersyde gestel is en aan ander kontrakteurs toegeken is, dra ook die kenmerke van sabotasie. Dit is nie asof die Vrystaat se paaie in so ‘n goeie toestand is dat duurder tenders bekostig kan word nie.

Boonop het verskeie prosesse so verloop dat die herstel van skrikwekkende slegte paaie eers na die sokkertoernooi aan die beurt gaan kom. ‘n Week voor die toernooi begin, vermeerder die slaggate in Bloemfonteinse strate by die uur – ook in strate waar slaggate onlangs nog herseël is. Van hierdie slaggate is op baie gevaarlike plekke.

Skaars het ‘n span skoonmakers, wat skynbaar uitsluitlik vir die toernooi in diens geneem is, ‘n area skoongemaak of die rommel keer gewoon terug. Dié rommel se herkoms is dikwels passasiers van taksies wat feestelik versier is om die komende toernooi te vier. Van projekte soos die eertydse “Hou Suid-Afrika skoon” is daar min, indien enige teken. Trouens, die Mangaung-munisipaliteit het ‘n stokkie voor ‘n stedelike bewarea se planne vir ‘n herwinningsprojek gesteek. Herwinningsprojekte is aldus ‘n nuusbulletin van die SABC soos boompnatprojekte, deel van die gasheerstede se ooreenkomste met Fifa. Die doel is om die koolstof-voetspoor van die toernooi teen te werk.

Die skoen is nou aan die ander voet. Vroeër jare was diegene wat hul beste voet aan buitelanders voorgesit het en graag die beste moontlike beeld van die land wou uitdra, die lojale patriotte.

Hulle status as patriotte is nie aangetas as hulle ontsteld geraak het oor ‘n dwaasheid wat ‘n minister kwytgeraak en die land se beeld skade berokken het nie. Nou is diegene wat ongelukkig is dat die omstrede Peter Mokaba, wat veral vir sy singery “Kill the Boer, kill the farmer” met die vernoeming van ‘n sokkerstadion vereer, en op Fifa se webblad geloof word, nie lojaal nie.

Patriotisme is skynbaar nou gereduseer tot die oë toeknyp vir voorkombare skadelikhede en deelname aan ‘n ongekwalifiseerde euforie.

Planne binne die ANC om Cosatu se grootbaas dissiplinêr te verhoor omdat hy durf waag het om te sê daar is ‘n groot verskil oor mediaberigte oor ministers wat by korrupsie betrokke is en pres. Zuma se reaksie daarop, roep kliphard die boodskap van voortgesette toesmeerdery uit. Intussen bly Juilius Malema se singery van “Skiet die Boere” binne die ANC ongestraf gelaat.

Patriotisme, so lyk dit, is volledig geherdefinieer.

подъемникидвухстоечные лобановский класс

Maak 'n opvolg-bydrae