Hoe om ‘n olifant te eet

Op die vraag oor hoe om ‘n olifant te eet, is die antwoord: Happie vir happie.

Reg of verkeerd, is dit hoe die proses op die oomblik vorder om die land uit die ANC se greep te wikkel.

Toe die Wes-Kaap na 1994 nie soos die res van die land onder ANC-oorheersing beland het nie, het die regerende party na dié provinsie as ‘n nog onbevryde provinsie verwys. Danksy die NNP se drospolitiek het die Wes-Kaap en Kaapstad-uniestad sonder slag of stoot in die ANC se skoot beland.

Gou was dit vir die inwoners duidelik dat dié toedrag van sake vir hulle basies dieselfde lot inhou as vir die inwoners elders, soos dienslewering wat noustrop trek – kortom, soos Naspers dit gereeld gestel het, ‘n beheptheid met middelmatigheid.

Middelmatigheid, so het dit geblyk, was die politiek-korrekte eufemisme van die millennium.

Deur die harde werking van die demokrasie is die Wes-Kaap en verskeie munisipaliteite weer uit die ANC se hande gewring. Weer eens wend die ANC hom tot ondemokratiese optrede. Die huidige oproeraksie van die ANC-jeugliga, ironies met sink-gemakshuisies as sneller, is nie die eerste openlike poging om hierdie nie-ANC-provinsie van die land onregeerbaar te maak nie. Ten spyte van die skade wat dit die land ongeveer net ‘n week voor die Fifa-toernooi kan berokken, is die ANC se reaksie maar effentjies.

Dit is in skrille kontras met die Minister van Samewerkende Regering se dreigemente teen dienslewerings-oproermakers binne ANC-gebiede, naamlik dat die veiligheidsmagte “townships” sal afsper en die belhamels sal jag. Dit herinner aan taalgebruik uit ‘n ander era.

Of demokrasie veel te make het met die feit dat die Wes-Kaap, soos die ANC dit beskou, ‘n nie-bevryde gebied is, is egter ‘n heel ander vraag. Dié provinsie het ‘n baie eiesoortige bevolkingsamestelling. Presies hoe ‘n groot invloed dit het, blyk uit die DA se oorwinning tydens ‘n tussenverkiesing in Guguletu. Anders as wat dit op die oog af klink, is dit nie ‘n uitsluitlike swart wyk nie. Drie van die vyf stempunte val in tradisioneel bruin woongebiede, en hier het die DA amper 100 % van die stemme getrek. Oorkant die spoorlyn, in Guguletu, het die ANC in twee stempunte bykans 100 % van die stemme getrek.

Demografies het die res van die land, met moontlik die Noord-Kaap as uitsondering, skynbaar ‘n demografiese probleem om die ANC-juk af te werp.

Die eerste omvattende opruk na die stembusse is egter nie ‘n algemene verkiesing nie, maar ‘n plaaslike regeringsverkiesing aanstaande jaar. In die meeste gevalle waar berekeninge dui op die moontlike oorname van munisipaliteite, soos Port Elisabeth, hang dit baie af hoeveel stemme ander opposisiepartye soos Cope en die UDM gaan trek.

Dit skep ‘n titseltjie meer as blote ironie – selfs die partye wat die hardste streef na ‘n nie-etniese karakter hou die oog op partye wat in effek sterk etniese partye is. Cope se huidige geskarrel kan kaarte lelik deurmekaar krap, aangesien dit nou in alle waarskynlikheid afhang wie die pyp gaan rook, en natuurlik of die party volgende jaar nog ‘n faktor gaan wees. Is Lekota die wenner, kan die DA waarskynlik Cope-wyke in sy koalisiekraal toereken, maar as Shilowa die septer swaai is sake minder duidelik, veral gemeet teen die ferme rol Cope se radikale jeugliga in die Shilowakamp speel.

Die feit dat die grondwet ‘n tipiese grondwet vir ‘n homogene bevolking is, het partye geen ander keuse nie as om hierdie olifant happie vir happie te eet. Dit kan baie lank neem. Volgens pres. Zuma tot die Wederkoms, al moet hy nou ook die tokkelossie inspan om dit so te hou. Te lank vir baie, en objektief is dit geen verrassing nie dat die volkstaatidee volgens verskeie aanduidings ‘n sterker, hoewel erg versplinterde momentum kry.

лайт люстрылобановский александр дочь

Maak 'n opvolg-bydrae