Tydens die aanbied van die Konfederasiebekertoernooi het dit soms gelyk of koerante onder instruksie was om ‘n sekere beeld van die werklikheid te skets. Dikwels is via die oorsese pers verneem van gru-misdade, soos die aanval op Midge Fergusson, ‘n ondersteuner van die Britse en Ierse Leeus, wie se toer met die sokkertoernooi ooreengeval het. So is ook verneem van die rugbyondersteuners wie se besittings uit hul hotelkamers in Durban gesteel is terwyl hulle by die toets teen die Springbokke was.
Die sokker-ondersteuners, so het dit gelyk, het bykans geen onheil te beurt geval nie.
Geleidelik, soos die blogs begin praat het, het ‘n ander prentjie ontvou.
Die internet en ander tegnologie het so ‘n kragtige instrument geword dat verskeie koerante oorsee, wat geldelik noustrop trek, aktiewe programme van gemeenskapsjoernalistiek inspan. Bykans elke individu het nou ‘n selfoon, en hierdie selfone is dikwels met digitale kameras en selfs videokameras toegerus. Dit beteken dat letterlik miljoene mense potensieel joernaliste is, en gouer op ‘n toneel gaan wees as joernaliste wat op nuuswenke moet reageer.
Gebruik ‘n koerant nie die materiaal nie, pryk dit gou op die internet. Baie Suid-Afrikaners het nou familie en gesinslede oorsee, en die internet word as bekostigbare kommunikasie-instrument ingespan. In ‘n japtrap versprei nuus wêreldwyd.
Regerings wat streng perssensuur toepas, word gereeld ont-Googled gelaat. Binne minute Twitter nuusgebeure wat in die doofpot probeer hou is oor die wêreld. Vanjaar het 114 internet-joernaliste hulle al agter tralies bevind of is steeds besig om klippe te kap. Dit is wel minder as die 172 joernaliste van die konvensionele media wat dieselfde lot te beurt geval het, maar die hoeveelheid lande wat allerlei internetsensuur probeer toepas, groei bykans by die dag. Hoewel dit dikwels teen pornografie, veral kinderpornografie gemik is soos wat veral Westerse lande soos Nederland en Duitsland doen, is daar ook talle, veral in die Midde-Ooste en die Ooste, wat politieke sensuur toepas.
In Suid-Afrika word die lugweë en wat daarlangs versprei word streng gereguleer, en is dit bykans net Radio Pretoria wat rug styfmaak en ‘n alternatiewe boodskap uitstuur.
Die rol van die alternatiewe media word vandag weer onderstreep. Afriforum Jeug het Fifa en die regering die stryd aangesê oor die verheerliking van Pater Mokaba, wat veral vir sy sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” en alternatiewe vigssentimente bekend geword het. Fifa het ‘n stuk waarin Mokaba as held opgehemel word, en wat by die regering bekom is, op sy webblad geplaas. Hierdeur is verseker dat ‘n belangrike deel van die gemeenskap van die toernooi vervreem word, maar Fifa het rug styfgemaak.
Fifa is duidelik nie gewoond daaraan om geopponeer te word nie, en eerder om regerings te hiet en gebied. Toe Afriforum-jeug aandring dat die inligting verwyder word, het Fifa die druk daaragter geringgeskat.
Eskaleer die aksie, sal Fifa waarskynlik ‘n bietjie eier in die gesig kry, en steeds met sy miljarde rande na Europa terugkeer. Die Suid-Afrikaanse regering gaan waarskynlik minder onaangeraak daarvan afkom.
Rowers het die fout gemaak om buitelandse sokkerjoernaliste te beroof, diefstal by OR Tambo haal reeds die nuus nog voor die eerste bal amptelik geskop is, sokkertoeriste wat die land besoek het is twee keer in vier dae beroof, ‘n joernalis wat tydens ‘n vorige besoek beroof is, bring dié keer minder kontant en reisigerstjeks saam maar bykans met aankoms word sy kredietkaart gekloon en R15 000 onttrek.
Idealiste soos Henry Jeffreys en Zelda Jongbloed word op die blogs van die koerante waarin hul rubrieke verskyn erg aangeval.
Of die media die lesse van die Konfederasiebeker ter harte geneem het, sal die tyd leer. ‘n Opskrif op Nasionale Pers se elektroniese media vanoggend lui: “Soet én suur van WB.” Die rooftogte op joernaliste van verskeie lande word onder meer genoem.
Die ironie is dat die oorsese pers omtrent net soveel maak van die swaar polisiebegeleiding van oorsese sokkerspanne in Suid-Afrika, veral wanneer hulle swart woongebiede besoek, maar ook by hul oefenvelde, as wat ander negatiewe nuus gedra word soos pres. Zuma se sekslewe, Malema se spraaksaamheid, die derduisende prostitute en misdaad.
