Daar is spesifiek gevra dat hulle hulself daarvan moet weerhou om wederregtelik by stadions en jolkolle te probeer inkom.
“Die afskop van die Wêreldbeker is skaars twee dae weg en die regering wil almal wat gaan deelneem aan die vieringe aanmoedig om hoflik en beleef op te tree,” het Themba Maseko, woordvoerder vir die regering, in ‘n verklaring gesê.
“Sokker-aanhangers word aangemoedig om gedrag te toon wat nié skade aan ander wat die toernooi bywoon, kan aandoen nie.”
Maseko het gesê die regering het besluit om dié verklaring uit te reik ná die voorval by die Tembisa-stadion vroeër vandeesweek.
Intussen het Praaglede wat Woensdag by ‘n winkelsentrum in die noorde van Johannesburg, Cresta, middagete geniet het, die webwerf geskakel om te berig oor ‘n skermutseling tussen swartes wat voor ‘n musiekwinkel uitgebreek het.
Omstanders moes die vegtende partye tot bedaring bring. Die sentrum word deur talle Brasiliane besoek wat in die omtrek ter ondersteuning van hulle span, tuisgaan. Van die besoekers het die geveg grootoog gadegeslaan.
Ondertussen het dit ook bekend geword dat nie alleen die Portugese media nie, maar ook Spaanse, Suid-Koreaanse en Chinese joernaliste deurgeloop het onder rooftogte.
