‘n Nuwe vlaag van geweld het op 16 plase uitgebreek in die afgelope week in Zimbabwe nadat aanhangers van president Robert Mugabe nóg grond probeer oorneem het.
‘n Vakbond, Commercial Farmers Union, wat sowat 300 wit boere verteenwoordig wat steeds op hul eiendom is, sê grond en toerusting word al hoe meer afgeneem.
In oostelike Zimbabwe het ‘n swart voorman van ‘n plaas bewussyn verloor nadat hy in die Manicaland-distrik geslaan is.
‘n Ander boer se vrou is vier ure gegee om haar plaas te verlaat.
Beide insidente het Dinsdag plaasgevind, het die vakbond se leier, Charles Taff, Woensdag gesê.
Volgens Taff het polisie nog nie op oproepe om hulle te kom help gereageer nie.
Die polisie was tot op hede nog nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Sedert 2000 is sowat 4 000 wit boere, in talle gevalle gewelddadig, van hul grond verwyder.
