Die uitspraak van die Hooggeregshof in Durban dat die ANC-beheerde raad wel regmatig opgetree het deur straat- en gebouname te verander, open die deur dat ander munisipaliteite ook onsensitief met die kwessie kan omgaan.
Dié kwessie het in die spervuur beland toe talle name uit veral die koloniale era en name wat met die IVP geassosieer is, na ‘n skynbaar gebrekkige konsultasieproses verander is.
Dit het tot optogte en ander protesaksies gelei, en die nuwe name word ongeveer voor die voet doodgeverf soos dit aangebring word.
Kortom, die proses is uit die handboek geneem van hoe om te polariseer.
Ongelukkig is dit ‘n proses wat hom al te veel in Suid-Afrika herhaal het, en nou dreig om onder andere in Limpopo, danksy die jeugdige provinsiale pleknamekomitee wat wyd as ‘n verlengstuk van die ANC-jeugliga beskou word, opnuut sterk polariserend in te werk.
Ook die Vrystaatse pleknamekomitee het onlangs met ‘n blykbaar erg onbekookte proses weggespring, maar van sy voorneme om binne drie maande die mat uit te ruk, het blykbaar dadels gekom. Dié komitee het ‘n lang geskiedenis van om in sy eie vermeende onbekwaamheid vasgesuig te word.
Tot dusver kon en is die pleknamekomitee se optredes dikwels in die howe getoets en ter syde gestel.
Volgens die Durbanse uitspraak wil dit voorkom asof die veranderings van straat- en gebouename min of meer ‘n gewone uitvoerende funksie van die raad, en dus die burgemeesterskomitee, is. ‘n Burgemeesterskomitee met ‘n gebrekkige insig oor die begrip dat demokrasie oor regeer in algemene belang handel, kan dus deur ‘n diktatuur van die meerderheid baie skade aanrig
Die DA, wat saam met die IVP die aansoek om tersydestelling gebring het, oorweeg appèl. Die laaste woord oor die prosedure is dus nie noodwendig gespreek nie.
Veel meer as net ‘n regstegniese uitleg is ter sprake. Sou die bevinding bly staan, is dit net nog ‘n ernstige klap in die gesig van diegene wat die grondwet as ‘n bykans volmaakte dokument beskou.
Versoening is ‘n veel komplekser saak as bloot die regulering daarvan deur wetgewing – grondwette ingesluit. Waarskynlik die raakste samevatting van hierdie waarheid is ‘n T-hemp-geskrif wat onlangs op TV verewig was: “Malema se mo*r, ek bly ‘n Boer.”
Net so sou wetgewing wat die Durbanse raad se dwaasheid sou kon voorkom, min gedoen het om die besluitnemers se gesindheid te verander.
Die bevolking kan hoogstens deur sulke wetgewing teen die neerslag van polariserendeoptredes beskerm word.
