Britte vereer anti-Afrikaanse US rektor

Die rektor van die Universiteit Stellenbosch, Wim de Villiers, is vereer vir sy anti-Afrikaanse houding.

Hy het ‘n eredoktersgraad in Wetenskap van die Universiteit van Coventry in Brittanje ontvang.

Die graad is aan hom toegeken uit erkenning vir sy akademiese “leierskap” en navorsing in die mediese wetenskap.

Die Universiteit van Coventry sê in ‘n verklaring De Villiers se visie vir Stellenbosch is soortgelyk as dié van Coventry wat sterk bande tussen die twee instellings tot gevolg gehad het.

Duitsland se ‘anti-Trump’ soek vierde termyn

Die Duitse kanselier Angela Merkel het Maandag aangekondig dat sy vir ‘n vierde termyn sal staan in 2017 om “waardes” te verdedig, by die hoofkwartier van haar Christen-Demokratiese Unie (CDU) party.

Merkel het “populisme” uitgesonder as haar grootste uitdaging. Die woord verwys na gewone kiesers wat geïnspireer is deur Brexit en Donald Trump. Sy verteenwoordig die ekonomiese mag in Europa wat sy regeer met die hulp van koalisies, ‘n kenmerk van die Duitse politieke landskap.

“Hierdie verkiesing sal moeiliker as enige vorige een wees, ten minste sedert die hereniging” in 1990,” het sy gesê en sonder ironie gekla oor die “polarisasie van ons samelewing”.

Die Duitse kanselier, langsdienende leier van die EU het aan AFP gesê “baie leiers” steun op haar om populisme teen te werk, wat daarop dui dat sy van voorneme is om voort te ywer in diens van die liberale Atlantiese agenda. Duitsland stel nie perke vir leiers op termyne nie, al sedert 2005.

Haar aangeplakte skaamheid oor die eretitel “leier van die vrye wêreld”, is verloën deur haar oop-grensbeleid en haar gekruip by Obama.

Die CDU se Saksiese premier Stanislaw Tillich het die kruiperige Merkel ten hemele geprys: “Sy is basies die anti-Trump,” het hy aan die koerantgroep Redaktionsnetzwerk verklaar. Obama het Merkel verlede week eweneens as ‘n “uitstaande vennoot” gevlei.

Haar party glo sy is hul beste kans om die Europese Unie te red. Op die Duitse televisiekanaal ARD, het Merkel beloof om ‘n “sterk Europa” te bou nadat Brittanje gestem het om die blok te verlaat. CDU-leiers het haar aankondiging met “dawerende applous” verwelkom, het bronne gesê.

“Ons staan ​​voor stryd in Europa en internasionaal vir ons waardes en ons belange en, eenvoudig gestel, vir ons manier van lewe,” het Merkel, 62, aan verslaggewers gesê, maar het nie bygevoeg dat sy eiehandig verantwoordelik is vir die krisis wat haar land nou in die gesig staar nie.

Merkel is die eerste voormalige Kommunis om die herenigde land te lei en om sowat twee miljoen asielsoekers oor die afgelope twee jaar te verwelkom, maar haar party vrees die regse Alternatiewe vir Duitsland party (AfD), wat wydverspreide kommer oor immigrante uitbuit.

‘n Opname het gister getoon dat 33 persent van Duitse kiesers Merkel se konserwatiewes steun, nege punte laer van die laaste nasionale verkiesing in 2013. Die AfD het opgekom van​​uit nêrens tot 13 persent, volgens ‘n onafhanklike meningnavorsingsinstituut Emnid.

Volgens Spiegel Online ly die CDU aan “Merkel-moegheid”. “Selfs al is daar geen Trump in sig in Duitsland nie, het die VSA het getoon dat die ondenkbare waar kan word,” het die aanlynwebblad gesê.

Die voormalige lid van die Kommunistiese Jeugbeweging, is berug vir haar ‘n gebrek aan patriotisme. Op ‘n verkiesingsoorwinningviering van haar eie party in 2015, het Merkel die enigste Duitse vlag teenwoordig op die verhoog gegryp, met ‘n vies gesigsuitdrukking haar kop geskud en dit weggesmyt.

In 2016, tydens ‘n besoek aan president Erdogan, het sy die Duitse vlag laat vervang deur ‘n Turkse een, sodat daar twee Turkse vlae op die agtergrond agter haar verskyn het.

Soos met die meeste ander Duitse politici, erken Merkel nie Duitsers as ‘n volk nie. In ‘n oordrewe poging om te verhoed dat sy “rassisties” genoem word en om te vergoed vir “die verlede se misdade van Duitsland”, benadeel baie van haar liberale ideologiese standpunte Duitsers.

Frankryk: Sarkozy uit en Fillon loop voor

Franse kiesers het verwagtinge oor die komende verkiesing deurmekaar gekrap Sondag om van oud-president Nicolas Sarkozy ontslae te raak. Die media het Sarko voorgehou as ‘n geloofwaardige kandidaat.

Die wedloop om ‘n genomineerde vir die regse sentriste aan te wys het gewese eerste minister, Francois Fillon se kanse om uiteindelik die eerste plek te behaal, ‘n hupstoot gegee.

Fillon, wat konserwatief is met ekonomiese liberale idees, sal Alain Juppé, ‘n ander oud-premier, op 27 November die stryd aansê vir die sentriste se nominasie.

Hy was eers agter sy teenstanders in meningspeilings, maar Fillon het ‘n sterk voorsprong.

Fillon sal waarskynlik volgende Sondag se ronde “met 56 persent van die stemme teenoor 44 persent vir Juppé wen” volgens die OpinionWay-peiling wat 3095 kiesers gevra het.

Die regerende Sosialiste en hul bondgenote hou hul eie eerste ronde in Januarie. Sosialistiese president François Hollande, wat erg ongewild is, moet nog aankondig of hyself weer sal staan.

Die hele presidensiële wedloop, van links sowel as regs, is gerig teen die groot gevaar, Marine Le Pen.

Fillon het intussen elke voorgstelde beleidsrigting van Le Pen probeer na-aap. Hy het ‘n beroep gedoen vir toenadering tot die Russiese president, Wladimir Poetin, teen die konflik in Sirië uitgekom ter beskerming van Christelike minderhede, en te kenne gegee dat Sirië se Bashar al-Assad nie probleem is nie, maar ISIS.

Oor die laaste paar weke van sy veldtog, na die publikasie van sy boek oor die stryd teen radikale Islam, het sy aansien by kiesers gestyg.

Fillon is lid van die Republikeinse Party in Frankryk.

Le Pen het droogweg opgemerk dat die hele politieke spektrum tans deur haar beïnvloed word. “Ek is nie besig om aan te pas by hulle [die sentriste] nie, want hulle pas aan by my.”

TUT se onlusmakers wil eksamen kelder

Swart studentegroepe op die Soshanguve-kampus van die Tshwane Universiteit van Tegnologie sê hulle is gekant daarteen om hul eksamens wat vandag begin af te lê, omdat hulle weens die onrus nie daarvoor kon voorberei nie.

Maar die die groepe self was verantwoordelik vir die onrus en onluste.

‘n Geskorste studenteleier, Thabo Boima, sê lede van Sasco, Pasma en die EFF sal keer dat studente met busse na die eksamenlokaal vervoer word, nadat die Studenteraad gevra het dat die eksamen voortgaan.

Die Studenteraad in Pretoria het ‘n beroep op studente gedoen om vandag te gaan eksamen skryf.

Die klasse is ontwrig deur oproer oor klasgeld, wat nou blykbaar ‘n verskoning is dat die oproeriges nie kan skryf nie.

Veiligheid is intussen verskerp ter voorbereiding van verdere openbare geweld.

‘n Woordvoerder van die universiteit, Willa de Ruyter, sê reëlings word getref vir studente van die Soshanguve-kampus om hul eksamen by die Tshwane Skougrond te skryf.

Geen politieke party het die EFF se sabotasie by TUT nog veroordeel vir wat dit is nie. In stede daarvan word die openbare diskoers al hoe meer Marxisties soos wat elke party linkser as die EFF probeer lyk.

Hani-moord weer opgerakel

‘n Boek deur politieke kommentator RW Johnson het destyds omstredenheid oor die sluipmoord op Chris Hani en die beweerde rol van Thabo Mbeki asook die voormalige minister van verdediging Joe Modise, veroorsaak.

Tydens die SAKP se 2007-kongres het die nuutverkose voorsitter Gwede Mantashe die liedjie “Thabo Mbeki, vertel ons wie het Chris Hani vermoor” gesing. Die Jong Kommunistiese Liga het herhaaldelik versoek dat die ondersoek na die dood van Hani heropen word.

Die boek is in 2009 vrygestel, waarin Johnson sê dat Modise, hoof van Umkhonto weSizwe in ballingskap, die meeste voordeel getrek het uit die uitskakeling van Hani en hy het waarskynlik die middele gehad om stilweg die regse aanslag teen Hani deur Janusz Walus en Clive Derby-Lewis in 1993 te steun.

Johnson sê dat Mbeki dalk nie regstreeks oor die Modise-plan ingelig is nie, maar dat hy Modise beskerm het met betrekking tot die wapentransaksie wat laasgenoemde verryk het. Modise was ‘n Mbeki-bondgenoot.

Johnson skryf dat in die 1950’s was Modise ‘n “township-boef”, ‘n leier van die gevreesde Spoilers-bende in Alexandralokasie. Hy het later Nelson Mandela se lyfwag geword en ‘n stigterslid van MK.

Voormalige MK-lid Sibusiso Madlala sê Modise was heeltemal genadeloos en dat hy oor massamarteling en teregstellings in MK se strafkampe soos Quatro toesig gehou het.

In 1968 het Hani ‘n bekende brief aan die ANC-leierskap gestuur om te kla dat, terwyl MK-soldate in die kampe ly, leiers soos Modise, wat hy by die naam genoem, steeds in weelde leef.

Modise was bekend vir sy uitspattige leefstyl in Zambië, deels deur gesteelde motors wat hy en die ANC se tesourier Tom Nkobi gefinansier het, skryf Johnson.

Modise wou Hani en sy mede-ondertekenaars glo gaan stilmaak na die brief. Hulle is net gered deur Oliver Tambo se ingryping.

Hani was Modise se direkte mededinger en aansienlik gewilder in MK. In Suid-Afrika is Hani beskou as Tambo se opvolger, eerder as Mbeki.

Johnson skryf dat Hani in 1993 vir Modise gekonfronteer het oor ‘n onderduimse wapentransaksie vir miljoene: “Twee weke later is Hani oodgeskiet.” Johnson sê hy is van mening dat die bewyse dat Modise ‘n dubbele agent was, is “oorweldigend”.

Johnson argumenteer dat die intelligensiedienste van die ANC en die Nasionale Party-regering, saamgewerk het om ‘n sluipmoordkomplot deur Walus en Derby-Lewis met onsigbare hulp aan te help.

Walus het “die skoot afgetrek in die teenwoordigheid van ‘n wit vrou, wat in staat was om ‘n beskrywing van hom, sy motor en sy registrasienommer te gee en nogtans het hy [Walus] self haar nie gesien nie.”

Die getuie het verdwyn en Walus is in hegtenis geneem 10 minute nadat hy van die toneel weggery het.

Die weduwee van die voormalige leier van die SAKP, Limpho Hani het gissings dat oudpresident Thabo Mbeki by haar man se moord betrokke kon wees, met minagting verwerp.

Hani het gepraat tydens ‘n geleentheid waar die Ekurhuleni Metroraad planne bekend gemaak het om die gesin se voormalige huis in Boksburg in ‘n museum te omskep.

Volgens berigte het wyle Clive Derby-Lewis toe hy deur senior ANC-leiers ondervra is, ontken dat Mbeki by die moordkomplot betrokke was.

Hani het gevra dat enigiemand met inligting die polisie of die Valke moet nader en nie ANC-leiers se name deur die modder probeer sleep nie.

UV wen appèl teen Afrikaans met koste

Die Universiteit van die Vrystaat is in hul noppies met die uitspraak in die Appèlhof wat die implementering van ‘n nuwe anti-Afrikaanse taalbeleid moontlik sal maak.

Die vorige bevel wat die UV verbied het om die taalbeleid wat Afrikaans afskaf teen 2017 in te stel, is dus tot niet.

Die Appèlhof het beslis dat die aansoek gebring deur AfriForum en Solidariteit te kort geskiet het op ‘n wettige sowel as feitelike vlak.

Die hof het dienooreenkomstig die appèl deur die UV teen die implementering, tersyde gestel en gelas dat AfriForum en Solidariteit die regskoste van die UV betaal ten opsigte van beide die Hooggeregshof- en Appèlhofsake.

Ná die uitspraak kan die UV voortgaan om die nuwe anti-Afrikaanse taalbeleid in sy loodsprogram te implementeer volgende jaar, hangende die appèl van die hersieningsaansoek wat aan die begin van 2017 gehoor sal word.

In Maart 2016, het die Senaat en Raad met ‘n oorweldigende meerderheid ‘n nuwe taalbeleid aanvaar wat behels dat Engels as primêre onderrigtaal gebruik word.

Die Afrikaans-Engels, oftewel parallelmediumbeleid sal in die res van die fakulteite in 2017 uitgefaseer word volgens ‘n implementeringsplan vanaf 2018.

Slegs huidige ingeskrewe studente sal in staat wees om hul studies te voltooi in die taal wat hulle by registrasie gekies het.

VK wil onwettige dierehandel in Ooste sluit

Vietnam en sy buurstate moet onwettige markte waar wildprodukte verkoop word, sluit en die stryd teen die onwettige handel in ivoor, renosterhoring en dele van tiere verskerp, het Britse omgewingsbewaarders Donderdag gesê.

Die beroep is tydens ‘n konferensie oor onwettige handel in wildprodukte wat deur die stad Hanoi aangebied word in samewerking met Brittanje, het Reuters berig.

Prins William, die president van “United for Wildlife” en afgevaardigdes van 50 lande woon die konferensie by.

Verlede Saterdag het Vietnam 2,2 ton ivoor van ongeveer 330 Afrika-olifante en 70 kilogram renosterhoring van 23 renosters vernietig in een van die grootste optredes om onwettige handel in die produkte te bekamp.

Tenkwa ontplof in Mosambiek toe diewe brandstof steel

Die Mosambiekse owerheid het ‘n ondersoekspan na die Tete-provinsie naby die Malawiese grens gestuur, waar minstens 73 mense dood is toe ‘n brandstoftenkwa ontplof het. Meer as 100 mense is beseer.

Talle verkoolde lyke het versprei gelê na die ontploffing in die dorp van Caphiridzange, en regeringsamptenare glo meer liggame kan in die omliggende woude wees, het Radio Mosambiek berig.

Sommige erg verbrande mense het probeer in ‘n nabygeleë rivier lafenis te soek, het die radiostasie gesê.

Volgens media in dié land het die tenkwa omgeslaan waarna mense brandstof daaruit probeer tap het.

Die vrag het toe aan die brand geslaan.

Volgens regeringsamptenare bestaan die moontlikheid dat daar brandstofverkope plaasgevind het toe die ontploffing gebeur het.

Die tenkwa was van die hawestad Beira na Malawi onderweg, maar het van die pad afgedraai, vermoedelik om van die brandstof te steel en op die swartmark te smous.

Mediese spanne het na die ongelukstoneel gehaas, en die beseerde in ambulanse en ander voertuie weggevoer.

Die oorsaak van die ontploffing was nie onmiddellik duidelik nie. Die Portugese nuusagentskap Lusa het gesê een teorie was dat ‘n brand naby die tenkwa die ontploffing veroorsaak het, terwyl ‘n ander teorie wys na ‘n weerligstraal wat die diewe geslaan het.

Rusland onttrek aan Internasionale Strafhof

Rusland het amptelik onttrek aan die Internasionale Strafhof se stigtingsverordening, het die Kremlin se webblad aangekondig.

Die besluit is geneem ‘n dag nadat ‘n verslag uitgereik is waarin Rusland se inlywing van die Krim as ‘n “besetting” geklassifiseer word, terwyl die skiereiland se toekoms deur ‘n referendum beslis is.

Die Russiese minister van buitelandse sake het die aankondiging in opdrag van pres. Wladimir Poetin gedoen en gesê die tribunaal het nie aan die internasionale ­gemeenskap se verwagtinge voldoen nie.

Rusland het die Verdrag van Rome in 2000 onderteken, maar nie bekragtig nie.

Die Verenigde Nasies sal in kennis gestel word van die Russiese besluit, in die nasleep van ‘n soortgelyke besluite deur Gambië, Suid-Afrika en Burundi.

Zeid Ra’ad al-Hussein, die VN se hoëkommissaris vir Menseregte, het ‘n beroep op alle lande gedoen Woensdag om te bly. Die hof se toekoms en aansien is ‘n swaar slag toegedien deurdat lande die bestaan van die instelling in twyfel trek.

Slegs verweerders uit Afrika is voor die hof gedaag en ‘n aantal sleutellande, waaronder die VSA, China, Indië, Pakistan, Indonesië en Turkye het nie die verdrag onderteken nie.

Soos Rusland, het Egipte, Iran en Israel die Verdrag onderteken, maar versuim om die ooreenkoms te bekragtig, wat beteken dat hul regerings in elk geval nooit vervolg kan word deur die hof nie.

Duitse diepsee-navorsingsboot ondersoek ‘opwelling’ aan Namibiese kus

Die Meteor, ‘n Duitse navorsingsboot wat onder meer in die diepsee langs die Namibies-Angolese kus watertoestande ondersoek, het Walvisbaai Maandag aangedoen.

Dr. Kerstin Jochumsen, hoofnavorser aan boord van die Meteor, het ‘n voorlegging gedoen oor die wetenskaplike sending waarmee die span tans besig is en besoekers die boot gewys by ‘n onthaal vir Namibiese regeringslui.

Die Duitse ambassade in Namibië sê in ‘n verklaring die Meteor is ‘n multidissiplinêre navorsingsboot wat hoofsaaklik in die diepsee werk.

Dit behoort aan die Duitse federale ministerie van onderwys en navorsing.

Die boot doen sedert 2013 baanbrekersnavorsing oor onder meer die verskynsel van “opwelling” langs die Namibies-Angolese kuslyn. Dit kom voor wanneer digter, kouer water deur die wind na die oppervlak van die oseaan gedruk word en dit die warmer oppervlakwater vervang. Die rol wat dit speel in die uitruiling van hitte tussen die water naby die kus en dié in die diepsee, word ook ondersoek. Luidens die verklaring word kapasiteit ook gebou onder Namibiese en Angolese wetenskaplikes, gegradueerdes en studente verbonde aan instellings wat navorsingsvennote in dié projek is.

Dit sluit in die Universiteit van Namibië, die Nasionale Mariene Inligting-en Navorsingsentrum en die ministerie van visserye en mariene hulpbronne.

Bron: Die Republikein