ʼn Student is geskiet en gewond buite die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Doornfontein-kampus.
Kategorie: Nuus
Vals kapingswaarskuwing in PE ondersoek
‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Tlali Tlali sê hulle stel ondersoek in na ‘n vals kapingskennisgewing wat gistermiddag paniek veroorsaak het op ‘n vlug wat in Port Elizabeth geland het.
Volgens Tlali is die vals kennisgewing geaktivieer vir die vlug SA 417 wat in Johannesburg opgestyg het.
Nooddienste en bykomende veiligheidspersoneel is na die lughawe in Port Elizabeth gestuur om die vlug in te wag.
Tlali sê die vliegtuig en al die passasiers is deursoek, en is veilig verklaar. Hy sê hulle wil graag uitvind waar die kapingskennisgewing vandaan gekom het.- RSG
Jeugliga ontken ontlasting-storting
Die ANC Jeugliga in die Wes-Kaap het hom gedistansieer van die jongste voorval waar menslike ontlasting gestort is.
Vier mans het Maandag menslike ontlasting op die trappe van die provinsiale wetgewer gegooi. Die jeugliga ontken berigte dat die mans lede van die jeugliga is.
Volgens die polisie is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Daar was die afgelope paar maande ‘n aantal soortgelyke voorvalle in Kaapstad, insluitend by die Kaapstadse internasionale lughawe.
Die betogers sê daar is ‘n tekort aan sanitasie in hulle woonbuurte, en hulle beweer dat die draagbare spoeltoilette wat die munisipaliteit verskaf niks beter is as die emmerstelsel nie.
‘Munisipale herafbakening benadeel plaaslike bestuur’: VF Plus

Die VF Plus dreig met aksie teen die munisipale afbakeningsraad oor die wyse waarop die instansie sy kennisgewings tot openbare verhore en prosesse hanteer met die oog op die herafbakening van onder meer die Sedibeng distriksmunisipaliteit in die Vaaldriehoek en die van die Wesrandse distriksmunisipaliteit in Gauteng en ander sentra in die land.
Die VF Plus het reeds op 17 April 2013 by die afbakeningsraad appèl aangeteken nadat openbare verhore tussen 7 en 11 April 2013 gehou is binne die twee munisipale gebiede en verskeie ander sentra in Suid-Afrika. Die voorsitter van die munisipale afbakeningsraad mnr LJ Malhango, het die kennisgewing tot openbare verhore eers op 3 April 2013 onderteken – minder as 6 dae voordat die openbare verhore sou plaasvind en die publieke kennisgewings in nuusblaaie is so laat as op Sondag 7 April 2013 gepubliseer.
Die appèl is geskoei op die gees van die Suid Afrikaanse grondwet soos vervat in artikel 33 wat in geen onduidelike terme die reg op billike administratiewe aksie reël in paragraaf 1, 2 en 3 en die Wet op die bevordering van Billike Administrasie “PAJA” , wet 3 van 2000.
Nadat die regsafdeling van die afbakeningsraad ontvangs van die appèl erken het en onderneem het om daarop te reageer, het hulle tot dusver enige verdere navrae daaroor geïgnoreer.
Inwoners en belastingbetalers het geen billike kans gehad om ‘n opinie te vorm oor die omvang en nagevolge van die beoogde samevoegings nie. Die ANC het wel busse vol van hul eie ondersteuners na die geleenthede aangery.
Die herafbakenings kom neer op ‘n herverdeling van belastinginkomste, sonder om effektiewe bestuur van die plaaslike owerhede aan te spreek. Die afbakeningsraad het verder geen terugvoer gegee aan rolspelers wat tydens die openbare verhore insette gelewer het en vrae gevra het nie.
Die werkswyse van die munisipale afbakeningsraad kom verdag voor en laat dit lyk soos ‘n frontorganisasie van die ANC.
‘Afrikaans is ongelukkig ‘n Afrikataal’: Motshekga

Oor sy beleid om die gebruik van Afrikatale in skole te stimuleer, het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gister gesê dat die departement ‘n loodsprojek ondersteun wat aanstaande jaar in 10 skole per distrik ingestel sal word.
“Afrikaans kwalifiseer, gelukkig of ongelukkig, daarvoor. Dis ‘n inheemse taal en daarom pas dit volmaak by die definisie. Selfs die Afrikaanse taal- en kultuurgroepe het gedink dat ons Afrikaans gaan uitlaat.
“Dit pas volmaak by die definisie. Ons het nie teen Afrikaans gediskrimineer nie. Dit sal as een van die tale beskou word waarin ons sê skole behoort as deel van die Afrikatale te onderrig,” het sy gesê.
Dié opmerkings is gemaak tydens ‘n inligtingsessie oor verwikkelinge in die opvoedingsektor, veral wat die kurrikulum betref.
Motshekga het gesê haar departement beskik oor ‘n strategie om die gebruik van Afrikatale in skole te verhoog, asook om onderrig in Engels as ‘n eerste addisionele taal te verskerp.
Twee studies en die matriekuitslae het die negatiewe invloed van swak Engelse taalvermoë op die prestasie van leerlinge beklemtoon, asook die behoefte om die gehalte van Engelse onderrig en leer te verbeter.
“Gevolglik is daar vanaf 2012 begin om alle kinders wat van plan is om deur medium van Engels te leer, reeds in dié taal van graad een af te onderrig.
“Die departement kyk daarna om die gehalte van Engelse onderrig te verbeter, in samewerking met die British Council,” het sy gesê.
Alle Suid-Afrikaanse leerlinge behoort ook van die nodige meubels in skole voorsien te word, het Motshekga voortgegaan.
By die raad van onderwysministers het ons gesê die provinsies behoort daarna te streef om ‘n stoel en ‘n tafel vir elke kind te hê,” het sy in Pretoria gesê.
Die provinsiale onderwysdepartemente is opdrag gegee om hul meubelbehoeftes aan die nasionale owerheid teen 16 Augustus voor te lê.
Sy het gesê die raad van onderwysministers het ‘n nuwe kurrikulum vir vroeëkinderontwikkeling aangeneem, wat aan die doelwitte van die nasionale ontwikkelingsplan voldoen.
Die raad van onderwysministers het ook skole se gereedheid bespreek. Ons beskou normaalweg skole se gereedheid (vir die volgende jaar) in die vierde kwartaal, maar dié keer het ons dit in die derde kwartaal gedoen,” het sy gesê.
“As departement het ons ons daartoe verbind om die aard van ondersteuning wat provinsiale onderwysdepartemente nodig het, nou te volg.” – Sapa en praag
Swart polisievrou wat maskara steel uit op borg
‘n Polisievrou wat daarvan beskuldig word dat sy twee buisies maskara in ‘n winkel gesteel het, is op borgtog van R500 deur die Potchefstroomse Landdroshof vrygelaat, het die Noordwes-polisie gister gesê.
Luit.kol. Kenaleone Aggy Motloung, van die misdaadintelligensie-eenheid, het Maandag in die hof verskyn, het Brigadier Thulani Ngubane gesê.
Volgens Ngubane is sy Vrydag by die Clicks in die Mooirivier Mall in hegtenis geneem.
Die polisiekommissaris van Noordwes, luit.genl. Zukiswa Mbombo het gesê Motloung staar ook ‘n interne tugverhoor in die gesig.
Ngubane het gesê Motloung sal weer op 22 Augustus in die hof verskyn.
Vroeër het sersant Kelebogile Moiloa gesê dat die polisievrou van diens af was op die tydstip toe sy in hegtenis geneem is. – Sapa
Nuwe wet oor grond deel van transformasie-projek
“Krotbuurte in rykmanswoongebiede. Met die gepaardgaande negatiewe impak op ontwikkeling en Suid-Afrika se ekonomie. Dit is die onafwendbare gevolge van die nuwe Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur wat gister deur pres. Jacob Zuma bekragtig is,” sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Adv. Alberts sê die vereistes van die wet is ‘totaal belaglik en onrealisties’ en het die totale integrasie van alle gemeenskappe in die land ten doel.
Dit kan eiendomsontwikkeling en die eiendomsmark eiendomsontwikkeling in Suid-Afrika ernstig benadeel aangesien dit onder meer die las op ontwikkelaars plaas om op eie koste goedkoop projekte in eksklusiewe areas te ontwikkel wat daartoe sal lei dat markpryse totaal onstabiel kan raak.
Die wet bepaal onder meer dat:
· Wanneer ‘n persoon grond vir behuisingsbehoeftes ontwikkel, moet daar ook voorsiening gemaak word die ontwikkeling van behuising vir mense vanoor die totale sosiaal-ekonomiese spektrum van Suid-Afrika. Dit kan gedoen word deur grond vir so ’n doel te soneer en opsy te sit, of om by te dra tot ‘n fonds wat vir grondloses aangewend sal word; en
· ‘n Persoon wie se grond minder werd gaan wees weens ‘n beoogde ontwikkeling, sal nie besluite in terme van die wet kan aanveg nie.
“Ontwikkelaars word hierdeur gedwing om in ‘n gesogte en eksklusiewe woongebied ook laekoste-projekte aan te pak. In ‘n gegoede woongebied sal daar dus ook goedkoop ontwikkelings kom wat mettertyd tot iets soos krotbuurte kan verval.
“Dit sal op die ontwikkelaar se eie koste gedoen moet word, wat sal beteken dat mense hul geld eerder in ander ondernemings sal belê, of oorsee sal neem, wat ‘n baie groot impak op die land se ekonomie kan hê.
“Nog ‘n logiese uitvloeisel is dat dit die totale eiendomsmark in Suid-Afrika ‘n ernstige knou kan kry aangesien pryse in ‘n sekere omgewing skerp kan daal indien ‘n laekoste-ontwikkeling daar sou ontstaan,” sê adv. Alberts.
Hy sê die wet is deel van die ANC se kwalik bedekte sosialistiese program van herverspreiding.
“Hierdie is deel van die groter transformasie-projek van die ANC en dit is die rede waarom die VF Plus oorlog verklaar het teen transformasie en sy veldtog in hierdie opsig in die afsienbare toekoms gaan verskerp,” sê adv. Alberts.
Stamselburger ‘nie so sappig nie’
Koskritici het hul uitspraak oor die stamselburger se smaak en tekstuur gegee.
Die wêreld se eerste laboratorium-gekweekte beesvleiskoekie is gaargemaak en beproef op ‘n nuuskonferensie in Londen.
Wetenskaplikes het selle van ‘n koei, by ‘n instituut in Nederland gekweek, en in repies wat hulle gekombineer het om ‘n vleiskoekie te maak, bekendgestel.
Een koskenner het gesê dit is “naby aan vleis, maar nie so sappig nie,” en ‘n ander het gesê dit het geproe soos ‘n ware burger.
Navorsers sê die tegnologie kan ‘n volhoubare manier wees om te voorsien in ‘n groeiende vraag na vleis.
Die sjef Richard McGeown, vanaf Cornwall, het die burger gaargemaak en dis geproe deur voedselkritici Hanni Ruetzler en Josh Schonwald.
Prof Tara Garnett, hoof van die Food Policy Research Network aan die Universiteit van Oxford, het gesê besluitnemers moet kyk na tegnologiese oplossings.
“Ons het ‘n situasie waar 1,4 miljard mense in die wêreld oorgewig en vetsugtig is, en terselftertyd ‘n miljard mense wêreldwyd wat honger gaan slaap,” het sy gesê.
Brandstofskok kom Woensdag
Motoriste steier nog weens verlede maand se enorme 84–sent-per-liter styging in brandstof, maar die volgende hou is op pad.
Dinsdagnag sal alle grade van brandstof verhoog word met 32 sent per liter, terwyl die prys van diesel met 32,96 sent per liter sal opgaan.
Die toename – die jongste in ‘n string van die verhogings – sal die prys van petrol tot ‘n rekord R13.55 per liter in Gauteng en R13.18 per liter in kusgebiede opstoot.
Die jongste stap kom nadat die verhoging van 84c per liter vir alle grade van petrol, 78c per liter vir diesel en 75c per liter vir paraffien aangekondig is.
Sommige van die redes vir die brandstofprysverhoging is die hoë oliepryse, die rand/dollar-wisselkoers en politieke onstabiliteit in die olie-produserende gebiede, volgens die departement van Minerale en Energie.
Die jongste verhoging beteken dat Suid-Afrikaners sal in net vyf weke R1.16 per liter meer te betaal om hul tenks te vul.
Dit is ‘n yslike R70 ekstra vir ‘n gemiddelde tenk wat swaarkry vir verbruikers voorspel wat opgesaal is met finansiële probleme.
Die jongste styging kan beteken dat verbruikers kan hulself maar kan voorberei vir ‘n styging in inflasie.
‘Derde taal is inligting-oorlading’

Vakbonde en Engelstalige onderwyskundiges het hul kommer uitgespreek oor die aanleer van ‘n derde taal, en gesê dit kan nie in die oorvol kurrikulum ingepas word nie.
Die Departement van Onderwys het in Mei aangekondig dat ‘n derde taal aangeleer sal word vir Graad R en Graad 1 leerlinge volgende jaar, maar besonderhede oor die implementering is nog nie bekend nie.
Die idee was om “veeltaligheid en sosiale samehorigheid te bevorder” asook Afrika-tale in gebiede waar hulle is nie meer gepraat word nie, te verhoog, het die departement gesê.
Basil Manuel, president van die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika, die tweede grootste onderwysersunie in die land, het gesê die gedetailleerde voorsteldokument is dringend nodig.
Manuel het sy kommer uitgespreek oor ‘n derde taal in die kurrikulum. “Daar is ‘n gevoel dat die CAPS kurrikulum propvol is, wat beteken dat onderwysers sal tyd steel van ander vakke, en dit is ‘n probleem.”
Dr Graham Dampier, ‘n dosent in die Universiteit van Johannesburg se departement van onderwys, het gesê die bekendstelling van ‘n derde taal is problematies.
“Eerstens, daar is inligtingoorlading. Ons het reeds onderrig in Engels en ‘n huistaal [in graad 1 tot 3].”
Kinders leer in hulle huistaal vir die eerste drie jaar en bemeester nie Engels goed genoeg om aan te gaan met die slegs-Engels kurrikulum wat begin in graad 4 nie, het hy gesê.
Die Suid Afrikaanse Onderwys-Unie het Basiese Onderwys Minister Angie Motshekga gevra om die gebrek aan tyd en ‘n tekort aan onderwysers om ‘n derde taal aan te leer, te bespreek.
