ANC nie eerlik oor moedertaalonderrig nie

Statistiek toon Engels is al hoe meer besig om moedertaalonderrig in Afrikaans en ander tale uit die onderwysstelsel te druk.

Uit antwoorde op parlementêre vrae oor die aangeleentheid deur ‘n opposisieparty blyk dit dat veral Afrikaans die grootste verloorder is. Net in Gauteng is sowat ʼn kwart van Afrikaanse skole sedert 2002 na Engels-medium verander.

Wat die Vrystaat aanbetref het 26 uit 113 skole van enkelmedium-Afrikaans na ander mediums verander, in Gauteng 103 uit 266 en in KwaZulu-Natal 27 uit 44.

In Gauteng is tans net 168 Afrikaanse skole teenoor 1 539 Engels en in die Vrystaat 75 teen 303. In KwaZulu-Natal is daar nog net 12 Afrikaanse skole teen 2 153 Engels. Net in die Wes-Kaap is Afrikaanse skole nog in die meerderheid met 648 teen 461 Engelse skole.

Die navorsingsinstelling Ipsos-Markinor het verlede maand die uitslag van ʼn meningspeiling bekend gemaak wat aantoon dat meer as twee derdes van Suid-Afrikaners van alle rasse van mening is dat kinders die reg het om in hul moedertaal onderrig te ontvang.

Volgens Ipsos-Markinor is daar ooreenstemmigheid hieroor van regoor die onderskeie taalgroepe in die land, maar veral onder Engels- en Afrikaanssprekendes, met ander Afrika-tale wat kort hierop volg.

Die minister se antwoord druis lynreg teen hierdie navorsing in aangesien sy sê Engels het nou die ‘voorkeur-taal van onderrig’ vir ouers geword.

Hieroor lui die minister se antwoord: “Weens die groeiende aanvraag van leerders wat Engels as onderrigtaal verkies, is skole besig om Engels as tweede medium vir onderrig in te stel. Die krimpende aantal Afrikaanssprekende leerders is ʼn verdere rede waarom skole wegbeweeg van Afrikaans-enkelmedium.

“Sommige ouers verkies ook Engels-onderrig aangesien hulle dit beskou as ʼn noodsaaklike taal om in die internasionale sakewêreld sukses te behaal,” lui die antwoord.

Die afname in Afrikaanse skole en die bevindings van die marknavorsing wys dat die ANC-regering nie eerlik is oor die aangeleentheid nie, en besig is om eensydig Engels op sprekers van ander tale af te dwing.

“Soos sake nou staan boer moedertaalonderrig agteruit en Engels gedy. Dis ‘n skande. Engels moet hoogstens ‘n brugtaal wees behalwe vir eerstetaal-Engelssprekendes. Die minister sal saam met die provinsies meer moet doen om skole vir moedertaalonderrig te skep.

“Wittes moet ook verplig word om ten minste een Afrikataal te leer anders as Afrikaans sodat kommunikasie-brûe gebou kan word sonder Engels as enigste platform daarvoor. Ons moet inheems, lokaal en globaal dink, praat en droom,” het adv. Alberts van die VF+ gesê.

‘Alle tale behalwe Engels moet uitgefaseer word’

Patrick Fitzgerald
Patrick Fitzgerald

Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad se uitvoerende hoof, Daniel Thokoane wil hê dat leerders tot op tersiêre vlak in hul moedertaal onderrig word.

Hy het tydens ‘n seminaar vir die bevordering van inheemse tale by die Universiteit van Venda gepraat. Hy het die Universiteit van Zoeloeland geloof omdat Zoeloe ‘n verpligtende vak vir alle eerstejaar-studente is.

Thokoane meen alle ander universiteite moet dié voorbeeld navolg.

Die voormalige administrateur van die Universiteit van Limpopo, Patrick Fitzgerald het in teenstelling hiermee gesê alle Afrika-tale by die universiteit moet uitgefaseer word omdat dit nie bemarkbaar is nie.

Fitzgerald was vir ‘n tydperk van aanhouding onder die voormalige regering, en in ballingskap as ‘n ondergrondse lid van die ANC. Hy beklee tans ‘n hoë posisie by die Universiteit van die Witwatersrand as vise-kanselier.

Hy het binne die ANC-strukture in Botswana, Zambië en elders die stryd teen Afrikaners gevoer. Gedurende hierdie tyd het die ANC hom na Liverpool Universiteit gestuur om sy meestersgraad te doen in Openbare Administrasie en Bestuur.

Fitzgerald is ‘n geswore Afrikanerhater en ‘n vertroueling van die Brits-gesinde Pallo Jordan asook Tokyo Sexwale. Hy spits homself toe op skakeling tussen die ANC en groot sakeondernemings.

‘Derde taal is inligting-oorlading’

Angie Motshekga
Angie Motshekga

Vakbonde en Engelstalige onderwyskundiges het hul kommer uitgespreek oor die aanleer van ‘n derde taal, en gesê dit kan nie in die oorvol kurrikulum ingepas word nie.

Die Departement van Onderwys het in Mei aangekondig dat ‘n derde taal aangeleer sal word vir Graad R en Graad 1 leerlinge volgende jaar, maar besonderhede oor die implementering is nog nie bekend nie.

Die idee was om “veeltaligheid en sosiale samehorigheid te bevorder” asook Afrika-tale in gebiede waar hulle is nie meer gepraat word nie, te verhoog, het die departement gesê.

Basil Manuel, president van die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie van Suid-Afrika, die tweede grootste onderwysersunie in die land, het gesê die gedetailleerde voorsteldokument is dringend nodig.

Manuel het sy kommer uitgespreek oor ‘n derde taal in die kurrikulum. “Daar is ‘n gevoel dat die CAPS kurrikulum propvol is, wat beteken dat onderwysers sal tyd steel van ander vakke, en dit is ‘n probleem.”

Dr Graham Dampier, ‘n dosent in die Universiteit van Johannesburg se departement van onderwys, het gesê die bekendstelling van ‘n derde taal is problematies.

“Eerstens, daar is inligtingoorlading. Ons het reeds onderrig in Engels en ‘n huistaal [in graad 1 tot 3].”

Kinders leer in hulle huistaal vir die eerste drie jaar en bemeester nie Engels goed genoeg om aan te gaan met die slegs-Engels kurrikulum wat begin in graad 4 nie, het hy gesê.

Die Suid Afrikaanse Onderwys-Unie het Basiese Onderwys Minister Angie Motshekga gevra om die gebrek aan tyd en ‘n tekort aan onderwysers om ‘n derde taal aan te leer, te bespreek.