Liggaamsdele glo by Johannesburg-hospitaal verkoop

joburghospitalBewerings van liggame wat by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal in Johannesburg verkoop word, word ondersoek.

‘n Woordvoerder van die Gautengse Departement van Gesondheid, Hope Papo, sê hulle beskou die bewerings in ‘n ernstige lig.

Die ondersoek volg na bewerings dat minstens een liggaam vir 800 rand aan ‘n begrafnisondernemer verkoop is.

Die Departement het ook gehoor dat hospitaalamptenare onwettig in besit is van stempels van ondernemers, en dat nog ‘n liggaam sonder die familie se toestemming uit die hospitaal se lykshuis aan ‘n ondernemer verskaf is.

Papo sê drie mense wat by die saak betrek word, is van hulle pligte onthef. – RSG

SAOG wil M23 finaal uitroei

sadcAfrika-leiers oorweeg ‘n groot vredesending na die Demokratiese Republiek van die Kongo om rebelle op die agtervoet te dwing.

Afrikaleiers het die moontlikheid om die VN-mag in die DRK te versterk bespreek te midde van rebelle wat terugveg om beheer oor hul vestings te behou.

President Jacob Zuma het tydens die opening van die SAOG-beraad in Pretoria ‘n beroep op Afrikaleiers gedoen om alles moontlik te doen om vrede en stabiliteit in die DRK te herstel.

‘n VN-mag van 3.000 soldate van Malawi, Suid-Afrika en Tanzanië het vroeër aangesluit by 17.000 vredesmagsoldate wat reeds in die land ontplooi is.

Die brigade was Maandag vir die eerste keer in ‘n kontak met die M23 in ‘n poging om die rebelle uit hul vestings te verdryf.

President Zuma het tydens sy openingstoespraak beklemtoon dat hoewel die DRK en Grootmere-gebied ryk is aan minerale, kan die mense van die streek nie voordeel trek uit die minerale hulpbronne nie.

Ander streekleiers wat die beraad bywoon sluit in president Robert Mugabe van Zimbabwe, Yoweri Museveni van Oeganda en die Malawiese president, Joyce Banda wat ook tans voorsitter van die SAOG is.

President Jacob Zuma tree as gasheer vir die leiers van die 15 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Pretoria op.

Verskeie lande, insluitend Suid-Afrika, het bygedra tot die troepe vir ‘n spesiale VN-ingrypingsbrigade wat ‘n offensiewe mandaat het om saam met die Kongolese weermag die M23 -rebelle na die gesprekstafel te dwing.

“Die vergadering is ‘n finale koördineringsvergadering tussen die SAOG en die Groot Mere-lande,” sê Martin Rupiya, uitvoerende direkteur van die Afrika se Openbare Beleids- en Navorsingsinstituut .

“Hulle dink M23 is op die rotse,” sê Rupiya. “Die belangrikste agenda is om die ondersteuning vir M23 uit te roei.”

Maar, sê Trevor Maisiri, ‘n senior ontleder by die International Crisis Group, die M23-rebelle is net een van vele gewapende rebellegroepe in die streek.

“Ons gaan ander uitbarstings sien ‘n paar weke van nou af,” het Maisiri gesê.

Duitsland verloor hul swart ANC-vriende

Schrempp en sy vriend Mbeki
Schrempp en sy vriend Mbeki

Duitsland is uit die veld geslaan dat hulle moeite om Suid-Afrika te “bevry” nie waardeer word deur die ANC nie.

Jürgen Erich Schrempp, die HUB van Daimler-Benz, en een van Transnet se direkteure, was een van die ANC se grootste ondersteuners. Sy sakevernuf om die Duitse en Amerikaanse motormark saam te smelt het hom egter in die steek gelaat en dit het op ‘n totale mislukking uitgeloop.

Dit lyk asof Duitsland se verhouding met die ANC op dieselfde koers is.

Die nuwe Wet op die Bevordering en Beskerming van Beleggers sal die ANC-regering die mag gee om Duitse bates van eensydig te vervreem.

Die wet is verlede Vrydag in die staatskoerant gepubliseer ten spyte van hewige Europese kritiek. Beleggers is feitlik tans van alle beskerming ontneem vir sover dit bilaterale handelsverdrae aangaan.

Die wet bied gebrekkige beskerming aan huidige beleggers sowel as voornemende beleggers wat die land se ekonomie verder kan knou.

Verhoudinge met die Europese Unie wil nie vlot sedert Suid-Afrika onlangs sy handelsverdrae met België ongedaan gemaak het nie ten spyte van beleggings van miljarde rande.

Drie van die seerste knelpunte is dat indien buitelandse ondernemers van hul bates vervreem word of benadeel word, hulle hulself nie op internasionale bemiddeling en arbitrasie sal kan beroep nie.

Vergoeding met onteiening vereis nie dat markwaarde oorweeg word nie en geen billikheidsbeginsel met vergoeding – wat voorheen in handelsverdrae gewaarborg is – sal in toekomstige verdrae vasgelê word nie.

Kennelik het die wet nou die pad voorberei om beleggers se bates te kan opeis sonder vergoeding wat aan markwaarde gekoppel is.

Die Duitse ambassadeur in Suid-Afrika, dr. Horst Freitag, het gesê Duitsland en Duitse beleggers deel hul diepe pessimisme dat die ANC bilaterale handelsooreenkomste met ‘n sekere onverskillige argeloosheid bejeën.

Die geskiedenis: Douglas Gibson se moses

ossewabrandwagDouglas Gibson, voormalige DA-politikus en ambassadeur na Thailand het ‘n kwalik bedekte aanval op Afrikaners geloods deur lesers van The Citizen te vertel hoe “verregses” se versugting om Steve Hofmeyr as die nuwe Moses te sien, niks sal oplewer nie.

Volgens Gibson sal geen nuwe charismatiese leier Afrikaners kan lei na die nuwe beloofde land nie, aangesien selfbeskikking binne ‘n Konfederasie nie haalbaar is nie.

In sy pleidooi om Steve Hofmeyr af te kraak en die Vryheidsfront Plus se beeld as ‘n sterwende party wat bestaan ​​uit ‘n paar professionele politici, te red, sê Gibson Hofmeyr se Rooi Oktober-beweging sal niks oplewer nie, ten spyte van baie wye mediadekking.

Hofmeyr, sê Gibson, het ‘n interessante geskiedenis. Hy was op skool saam met sy pa, ook Steve, en saam met sy oom, Danny de Waal. Generaal Louis Botha, die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, was hul grootoupa, en Helen de Waal, Louis Botha se dogter, was hul ouma .

Sy was ‘n merkwaardige matriarg en die Verenigde Party se staatmaker. Die Suid-Afrikaanse Party van destyds onder Botha wou Afrikaners en Engelssprekende wit Suid- Afrikaners saamsnoer teen die Nasionale Party.

Gibson ken nie sy geskiedenis nie. Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat Hofmeyr se gelyknamige voorsaat ook die Ossewabrandwag se Stormjaers onder Britse invloed uitgelei het. Wat as ‘n “uitlaatklep” moes dien vir anti-Britse sentiment, het vinnig onder Hofmeyr se leierskap tot ‘n gedugte nasionalistiese voorhoede gelei.

Die Vaderland se eerste sportredakteur was sekerlik een van die merkwaardigste.

Nie net het hy die Universiteit van Oxford in 1930 in die Intervarsity teen Cambridge op die rugbyveld aangevoer nie, hy was ook die owerste van die Ossewa-Brandwag se paramilitêre elitekorps, die Stormjaers, wat sabotasie tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgevoer het.

Met sy Oxfordse agtergrond sou niemand dit kon dink nie. Hy het die perfekte dubbele lewe gelei deur vryelik in hoëre Engels-sprekende kringe te beweeg, terwyl hy terselfdertyd die bedrywighede van die Stormjaers gekoördineer het

Volgens Gibson slaag Hofmeyr nie soos Louis Botha daarin om dit te vermag nie, omdat hy “verhuis het na ‘n posisie aan die regterkant van ons politiek, tot so ‘n mate dat hy deur baie, regverdig of onregverdig, as ‘n rassis afgemaak word”.

Nietemin glo Gibson dat alhoewel jonger Afrikaners politiek verwerp as irrelevant, en belowe om weg te bly van die stembus, hulle waarskynlik vir die “rassis” Steve Hofmeyr sal stem, as hy staan.

Sal die VF + probeer om hom op hul verkiesingslys te sit en hom gebruik om hulself te red? Gibson dink nie Hofmeyr sal dit oorweeg nie aangesien Pieter Mulder se omhelsing van President Zuma noodlottig was.

Volgens Gibson is daar geen politieke voertuig meer vir die ondersteuners van Rooi Oktober nie.

‘n Konfederale staat is nie haalbaar nie, weens die tweederdemeerderheid wat ‘n wysiging van die Grondwet vereis in die parlement, en is wat Gibson betref onoorkombaar. Dit is des te meer onhaalbaar as regse kiesers die politieke proses boikot en wegbly van die stembus, sê hy.

Gibson troos homself dat die ondersteuning vir só ‘n siening klein is en die oorweldigende meerderheid van Afrikaanse kiesers sal voortgaan om vir die Demokratiese Alliansie te stem in plaas daarvan om “onbereikbare nonsens” na te jaag.

‘n President Steve Hofmeyr sal daar nie wees nie, belowe Gibson.

‘SA sal nie deur terreur gedestabiliseer word’

waronterror2Die minister van staatsveiligheid, Siyabonga Cwele het gesê hy wil Suid-Afrikaners verseker dat die land nie aan die risiko van destabilisering deur terroriste blootgestel sal word nie.

Suid-Afrikaanse owerhede ondersoek nog hoe ‘n plaaslike paspoort verkry is deur Samantha Lewthwaite, die Britse vrou wat deur Interpol gesoek word sedert die terreuraanval in Nairobi, het die minister gesê.

“Ons ondersoeke duur voort en sodra ons gereed is sal ons ‘n verklaring maak,” het die minister van binnelandse sake, Naledi Pandor gesê op ‘n nuuskonferensie wat deur die Kabinet se veiligheidsgroepering in Pretoria gehou is.

Sy het bygevoeg dat owerhede intussen die “veiligheid met betrekking tot ons paspoort verbeter het”.

Dit sluit in “kontrole biometriese skakels na die agtergrond van mense wat hulle by ons kantore aanmeld.”

Lewthwaite, ook genoem die Wit Weduwee deur buitelandse media, het op ‘n Suid-Afrikaanse paspoort wat nie vervals is nie, gereis.

Dit is aan haar uitgereik in die naam van Natalie Faye Webb deur die departement van binnelandse sake .

Dit is nog nie duidelik of daar enige verband tussen Lewthwaite en Webb is en of laasgenoemde bloot ‘n slagoffer van identiteitsdiefstal was nie.

Interpol het Lewthwaite laat in September ná die aanval op Nairobi se Westgate Mall deur vermeende al-Shabaab militante, op ‘n internasionale lys van verdgates geplaas.

Daar is 72 mense gedood, maar dit is nie die finale dodetal nie.

Lewthwaite is die weduwee van Germaine Lindsay, een van die selfmoordbomaanvallers wat die openbare vervoerstelsel in Londen in Julie 2005 geteiken het.

Sy het Suid-Afrika op ‘n Suid -Afrikaanse paspoort in 2008 binnegekom, en dit gebruik tot 2011.

Dit het vrese laat ontstaan oor ‘n diplomatieke dooiepunt tussen Pretoria en Londen oor streng visumvereistes vir Suid-Afrikaners. – Sapa

UJ: Kleurlinglektor rand student met knuppel aan

ujkampus‘n Kleurlinglektor aan die Universiteit van Johannesburg het ‘n finale geskrewe waarskuwing ontvang nadat hy ‘n student met ‘n knuppel aangerand het.

Eyewitness News het beeldmateriaal van die voorval, wat in April by een van die ingange by die universiteit plaasgevind het, bekom.

Chris Fortuin, ‘n lektor aan die universiteit se departement sportwetenskap, beweer die student het by sy huis ingebreek, waarna hy, sy twee seuns en ‘n broerskind die man aangeval het.

Die student het ‘n kopwond opgedoen, maar wou nie ‘n saak by die polisie aanhangig maak nie.

Fortuin het nie ontken dat hy die student aangerand het nie, maar wou nie kommentaar lewer nie.

Die bestuur van die universiteit het gesê Fortuin is afgedank, maar het teen sy afdanking geappelleer.

Hy het toe ‘n finale geskrewe waarskuwing ontvang. Fortuin moet ook 100 uur gemeenskapdiens doen en die huis op die universiteit se perseel, waar hy en sy gesin woon, ontruim.

Polisie op hoë gereedheidsgrondslag ontplooi in Khutsong

brandmens
Boendoegereg

‘n Sesde persoon het in Khutsong naby Carletonville aan die Wes-Rand gesterf, het die polisie in Gauteng Maandag gesê.

“‘n Man se lyk is Sondagaand gevind, hy is aan die brand gesteek,” het brig. Neville Malila, polisiewoordvoerder, gesê.

Malila het gesê die polisie is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag en monitor die situasie.

“Die polisie is sigbaar in die gebied en niemand is nog in hegtenis geneem vir die moorde nie.”

Vyf mense, insluitend ‘n tradisionele geneser, het Sondag aan die hande van inwoners gesterf. Dít nadat sowat 400 mans, vermoedelik inwoners van Khutsong, ‘n vergadering gehou het om bende-aktiwiteite in die gebied te bespreek.

Malila het gesê een van die groepe het na ‘n huis gegaan, waar hulle ‘n 61-jarige tradisionele geneser aangeval en hom en sy huis aan die brand gesteek het. Die man het op die toneel gesterf.

Ander groepe wat die vergadering bygewoon het, het na ander gebiede gegaan, waar twee jong mans, wat glo bendelede is, aangerand en aan die brand gesteek is. Hulle het ook op die toneel gesterf.

Malila het gesê in Extension Five, Carlentonville, het die groepe verskeie mense, wat hulle gedink het bendelede is, aangerand.

“Twee vermeende bendelede is gestenig. Een van hulle het op die toneel gesterf en die ander een in die hospitaal.

“Polisievoertuie wat op oproepe gereageer het, is met klippe bestook en beskadig.” – Sapa

Dodetal in Khutsong styg na boendoehowe

Klipgooiers
Klipgooiers

Die polisie is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas nadat oproer in Khutsong uitgebreek het. Inwoners steek polisievoertuie onder klippe en van die voertuie is beskadig.

Die situasie in die gebied is gespanne nadat lede van die gemeenskap lewendig verbrand is na boendoehofuitsprake. Die dodetal het intussen gestyg na ses.

Die waarnemende Gautengse provinsiale polisiekommissaris het die gemeenskap van Khutsong aan die verre Wes-Rand gevra om enige inligting aan die polisie te verskaf oor bendebedrywighede in die gebied.

Kommissaris Lesetja Mothiba het inwoners gevra om nie die reg in eie hande te neem nie nadat geweldadige botsings oor bendebedrywighede tot die aanvanklike dood van vyf mense gelei en verskeie beseer is.

Die geweld het uitgebreek na ‘n vergadering oor bendebedrywighede.

‘n Groep mense is na die huis van ‘n toordokter van 61. Hulle het hom en sy huis aan die brand gesteek waarna splintergroepe toe na bendelede in die gebied gaan soek het en nog twee mans aan die brand gesteek het.

Ander twee vermeende bendelede is met klippe bestook.

EFF groei na ‘vuil stemme’ en Dali Mpofu oorloop

Dali Mpofu
Dali Mpofu

Ontstoke inwoners van Bekkersdal aan die Verre Wes-Rand dreig met anargie nadat die ANC gesê het hulle het nie inwoners se “vuil stemme” nodig nie.

Samesprekings met die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Lechesa Tsenoli het in duie gestort.

Verteenwoordigers het Sondag uit die samesprekings gestap nadat hulle sowat agt ure lank geredekawel het.

Die samesprekings het gevolg na dae van gewelddadige betogings in die gebied waarin een persoon dood is.

Inwoners eis onder meer die skorsing van die burgemeester en raadslede van die gebied en vra dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word.

Tsenoli sê die munisipaliteit kan nie sonder konkrete redes onder administrasie geplaas word nie, maar dat daar onmiddellik opgetree sal word indien bewys kan word dat die burgemeester en raadslede korrup en onbevoeg is.

Maar Bekkersdal was nie in die bui vir die ANC se pogings om hulle te paai nie.

Die gemeenskap het opstandig geraak ná ‘n ernstige teregwysing van die Gautengse provinsiale leier Nomvula Mokonyane oor hul oproerigheid. “Mense ons kan dreig en sê dat hulle nie sal stem nie, maar die ANC het nie hulle vuil stemme nodig nie,” het sy glo aan hulle gesê.

Die Bekkersdalgemeenskap dreig nou om die ANC uit die kussings te lig deur hul stemme aan die EFF te gee.

Mokonyane is deur Westonaria se burgemeester, Nonkoliso Tundz, ondersteun wat haarself na bewering nog meer ongewild as die premier gemaak het deur inwoners te beledig toe sy na hulle as “inkwenkwe” verwys het, ‘n term vir diegene wat nog nie by die inisiasieskool was nie en gesien word as seuns.

Inwoners sê die ANC nie hulle “vuil stemme” nodig het nie, is daar ander politieke partye wat dit beter sal aanwend om effektief na die kiesers om te sien in teenstelling met hoe die ANC hulle behandel.

Baie inwoners van Bekkersdal sal vir die EFF [ Ekonomiese Freedom Fighters ] stem, het ‘n swart student in mediastudies gesê.

Advokaat Dali Mpofu het intussen vir nog ‘n opskudding in die ANC gesorg nadat hy bedank uit die party om by die EFF aan te sluit.

“Interne verlamming [ in die ANC ] is sodanig dat dit ‘n kwessie van tyd is voordat dit irrelevant tot die breër revolusie raak,” het Mpofu aan City Press gesê .

Mpofu was vir 33 jaar ‘n lid van die ANC.

Hy is tans by die Farlam Kommissie van Ondersoek om gesinne van die mynwerkers wat dood is by Marikana verlede jaar, te verteenwoordig.

Die advokaat het aan City Press gesê dat hy glo dat “radikale beleid ” nodig is om die armes te help. Hy het gesê die rykes moet aan die armes gee om “stabiliteit” te bewerkstellig.

“My enigste voorspelling is dat kiesers met die verloop van tyd sal sien dat hulle net weens die sentiment en die naam [van die ANC] ondersteun.”

Inflasie, looneise hoër

Daniel Mminele
Daniel Mminele

Die adjunk-president van die Reserwebank, Daniel Mminele, sê inflasieverwagtings in Suid-Afrika is ongemaklik naby aan die boonste vlak van die bank se teikenband.

Hy het by die Phalaborwase Kamer van koophandel in Limpopo gesê salarisse en die wisselkoers hou moontlike gevare vir inflasie in.

Die bank se inflasieteiken is tussen drie en ses persent. Syfers verlede maand het getoon dat hooflyn-verbruikersinflasie in September op ‘n jaargrondslag tot ses persent verlangsaam het.

Dit was 4,6% in Augustus. Die swakker Rand, wat vanjaar met sowat 20 persent teen die dollar gedaal het, het aansienlike druk op pryse geplaas, terwyl ‘n groot aantal salarisverhogings bo die inflasiekoers, veral in die mynbedryf, die druk laat toeneem het.

By die Zondereinde Platinummyn op Northam in Limpopo, is verskeie bedrywighede opgeskort nadat sowat seweduisend lede van die mynwerkersvakbond NUM gisteraand begin staak het. Sekuriteit is ook verskerp.

Die staking volg nadat onderhandelings oor salarisverhogings en werksomstandighede op ‘n dooiepunt uitgeloop het.

Die vakbond weier om te sê wat die persentasie verhoging is wat hy eis, maar dit word op tussen 22% en 43% beraam.

Die myn bied volgens die vakbond ‘n verhoging van 6,5% aan. ‘n Woordvoerder van die NUM sê werkers het by die perseel opgedaag, maar het nie vir die nagskof ondergronds gegaan nie.

Intussen is Anglo American Platinum en Lonmin ook besig met salarisonderhandelings met vakbonde.

Werknemers van Amplats, wat lede is van die AMCU-vakbond is, het vroeër ten gunste van ‘n staking gestem nadat samesprekings ‘n dooiepunt bereik het.

Die vakbond het egter ingestem tot mediasie op regeringsvlak. – RSG