DRK: Noorweegse gevangene aangekla van moord op selmaat

Moland en French
Moland en French tydens hul verhoor

‘n Noorweër wat sedert 2009 in die tronk in die Demokratiese Republiek van die Kongo aangehou word, is aangekla van die moord op sy selmaat en landgenoot ten spyte van ‘n gesamentlike ondersoek wat geen bewyse van vuilspel kon oplewer nie, het Noorweegse amptenare Dinsdag gesê.

Tjostolv Moland is in Augustus dood aangetref in die tronksel wat hy met sy voormalige sakevennoot, Joshua French gedeel het.

Die twee mans is vier jaar gelede skuldig bevind aan moord en spioenasie en tronk toe gestuur ná hul bestuurder in die oerwoud dood aangetref is.

Die twee, albei voormalige dienspligtiges, het gesê hulle wou ‘n plaaslike veiligheidsonderneming oprig, en het die aantygings ontken.

“Ons verstaan ​​nie die beskuldigings nie, gegewe dat die Noorweegse polisie ‘n gesamentlike nadoodse ondersoek na Moland se dood gelei het,” het die Noorweegse ministerie van buitelandse sake se woordvoerder gesê.

“Kongolese en die Noorweegse polisie het tot ‘n gesamentlike gevolgtrekking gekom dat daar was geen aanduiding van vuilspel of kriminele aktiwiteit was nie.”

Hanne Dokolo, Noorweë se ere-konsul-generaal in die Kongo, het bevestig dat French, wat ook ‘n Britse paspoort hou, aangekla word van Moland se moord.

Kongo se regering het voorheen gesê dat Moland se dood selfmoord was .

Moland se prokureur het gesê hy was siek en is behandel vir malaria en psigose voor sy dood.

DRK kondig ’totale oorwinning’ oor M23 aan

M23 se doppie geklink
M23 se doppie glo geklink

Die regering van die Demokratiese Republiek van die Kongo het Dinsdag aangekondig dat hy ‘n “totale oorwinning” oor die M23-rebellebeweging behaal het.

“Die laaste elemente van die M23 het onder druk van die Kongolese weermag (FARDC) hul posisies in Runyonyi en Chanzu verlaat,” het die land se minister van kommunikasie in ‘n SMS-boodskap aan die nuusagentskap AFP gesê.

Die minister het verwys na twee posisies sowat 80 km noord van die stad Goma. – Sapa/AFP

SAOG wil M23 finaal uitroei

sadcAfrika-leiers oorweeg ‘n groot vredesending na die Demokratiese Republiek van die Kongo om rebelle op die agtervoet te dwing.

Afrikaleiers het die moontlikheid om die VN-mag in die DRK te versterk bespreek te midde van rebelle wat terugveg om beheer oor hul vestings te behou.

President Jacob Zuma het tydens die opening van die SAOG-beraad in Pretoria ‘n beroep op Afrikaleiers gedoen om alles moontlik te doen om vrede en stabiliteit in die DRK te herstel.

‘n VN-mag van 3.000 soldate van Malawi, Suid-Afrika en Tanzanië het vroeër aangesluit by 17.000 vredesmagsoldate wat reeds in die land ontplooi is.

Die brigade was Maandag vir die eerste keer in ‘n kontak met die M23 in ‘n poging om die rebelle uit hul vestings te verdryf.

President Zuma het tydens sy openingstoespraak beklemtoon dat hoewel die DRK en Grootmere-gebied ryk is aan minerale, kan die mense van die streek nie voordeel trek uit die minerale hulpbronne nie.

Ander streekleiers wat die beraad bywoon sluit in president Robert Mugabe van Zimbabwe, Yoweri Museveni van Oeganda en die Malawiese president, Joyce Banda wat ook tans voorsitter van die SAOG is.

President Jacob Zuma tree as gasheer vir die leiers van die 15 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in Pretoria op.

Verskeie lande, insluitend Suid-Afrika, het bygedra tot die troepe vir ‘n spesiale VN-ingrypingsbrigade wat ‘n offensiewe mandaat het om saam met die Kongolese weermag die M23 -rebelle na die gesprekstafel te dwing.

“Die vergadering is ‘n finale koördineringsvergadering tussen die SAOG en die Groot Mere-lande,” sê Martin Rupiya, uitvoerende direkteur van die Afrika se Openbare Beleids- en Navorsingsinstituut .

“Hulle dink M23 is op die rotse,” sê Rupiya. “Die belangrikste agenda is om die ondersteuning vir M23 uit te roei.”

Maar, sê Trevor Maisiri, ‘n senior ontleder by die International Crisis Group, die M23-rebelle is net een van vele gewapende rebellegroepe in die streek.

“Ons gaan ander uitbarstings sien ‘n paar weke van nou af,” het Maisiri gesê.

Zuma vra ‘patriotiese nuus’

ingadamDie Presidensie sê hy wil nie balans en regverdigheid ondermyn in sy versoek om meer patriotiese nuusberiggewing nie.

President Jacob Zuma het in antwoord op ‘n Parlementêre vraag gesê sy versoek vir meer patriotiese nuusdekking behoort nie vertolk te word as ‘n poging om met redaksionele onafhanklikheid in te meng nie.

Zuma sê die ontbloting van korrupsie op ‘n regverdige en gebalanseerde wyse tel ook as patriotisme.

Zuma het in antwoord op ‘n vraag van COPE – oor of die regering beplan om die SAUK as die voorste uitsaaier met sogenaamde patriotiese verslaggewing te vestig – gesê die versoek was aan die media in die algemeen en nie spesifiek aan die openbare uitsaaier gerig nie.

President Zuma en sy eweknie in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Joseph Kabila, sal vandag ‘n verdrag om die Groot Inga-dam-projek te hernieu, onderteken.

Dié projek het die potensiaal om krag aan die helfte van Afrika te voorsien.

Die Minister van Internasionale betrekkinge, Maite Nkoana-Mashabana sê beleggers is gereed om dit te befonds, omdat dit ‘n belowende projek is wat goeie opbrengste beloof.

Wanneer dit voltooi is sal dit die tweede grootste hidro-elektrisiteitsprojek in die wêreld wees. – RSG

Denel kry multimiljardrandkontrak vir Badger-pantser

Badger 8x8
Badger 8×8

‘n Multimiljardrandse kontrak is deur Krygkor aan die wapenvervaardiger Denel toegeken vir die bou van 200 gepantserde militêre voertuie.

Dit sal die Ratel vervang wat nou al 30 jaar oud is. Die weermag het nie soos die vloot en lugmag gebaat by die omstrede wapentransaksie nie.

Die Hoefysterprogram is daarop gemik om 8-wiel voertuie in die 25 ton-klas te vervaardig. Die voertuig, is soos sy voorganger, uiters rats en taai en kan 12 man dra.

Die twee partye sê die 8×8 Badger is die beste voertuig in sy soort en sal bydra tot die modernisasie van die Nasionale Weermag.

BAE Systems Land Systems SA het voorgestel dat die Badger laat vaar word ten gunste van die nuwe generasie RG4. Die RG41 voldoen aan mobiliteits-, beskermings- en vuurkragbehoeftes, en die nodige gevegskrag, sê kritici.

Die maatskappy in Benoni het honderde RG31 voertuie vir die Amerikaanse gewapende magte gebou en honderde miljoene dollars daaruit verdien.

Terwyl die RG31 voertuig gewild is by die Amerikaanse departement van verdediging, voldoen die BAE RG41 voertuig nie aan die Suid-Afrikaanse Weermag se spesifikasies nie. Die Suid-Afrikaanse voertuig gebruik ‘n Finse ontwerp wat aangepas is vir plaaslike toestande.

Krygkor en Denel sê Suid-Afrikaanse se troepe-ontplooiing in die Demokratiese Republiek van die Kongo het opnuut die klem geplaas op weerbare slagveldmobiliteit, wat die Badger sal kan verskaf.

Die uitvoerende hoof van Denel, Riaz Saloojee, sê dit is die grootste kontrak met ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy die afgelope tien jaar.