Douglas Gibson, voormalige DA-politikus en ambassadeur na Thailand het ‘n kwalik bedekte aanval op Afrikaners geloods deur lesers van The Citizen te vertel hoe “verregses” se versugting om Steve Hofmeyr as die nuwe Moses te sien, niks sal oplewer nie.
Volgens Gibson sal geen nuwe charismatiese leier Afrikaners kan lei na die nuwe beloofde land nie, aangesien selfbeskikking binne ‘n Konfederasie nie haalbaar is nie.
In sy pleidooi om Steve Hofmeyr af te kraak en die Vryheidsfront Plus se beeld as ‘n sterwende party wat bestaan uit ‘n paar professionele politici, te red, sê Gibson Hofmeyr se Rooi Oktober-beweging sal niks oplewer nie, ten spyte van baie wye mediadekking.
Hofmeyr, sê Gibson, het ‘n interessante geskiedenis. Hy was op skool saam met sy pa, ook Steve, en saam met sy oom, Danny de Waal. Generaal Louis Botha, die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, was hul grootoupa, en Helen de Waal, Louis Botha se dogter, was hul ouma .
Sy was ‘n merkwaardige matriarg en die Verenigde Party se staatmaker. Die Suid-Afrikaanse Party van destyds onder Botha wou Afrikaners en Engelssprekende wit Suid- Afrikaners saamsnoer teen die Nasionale Party.
Gibson ken nie sy geskiedenis nie. Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat Hofmeyr se gelyknamige voorsaat ook die Ossewabrandwag se Stormjaers onder Britse invloed uitgelei het. Wat as ‘n “uitlaatklep” moes dien vir anti-Britse sentiment, het vinnig onder Hofmeyr se leierskap tot ‘n gedugte nasionalistiese voorhoede gelei.
Die Vaderland se eerste sportredakteur was sekerlik een van die merkwaardigste.
Nie net het hy die Universiteit van Oxford in 1930 in die Intervarsity teen Cambridge op die rugbyveld aangevoer nie, hy was ook die owerste van die Ossewa-Brandwag se paramilitêre elitekorps, die Stormjaers, wat sabotasie tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgevoer het.
Met sy Oxfordse agtergrond sou niemand dit kon dink nie. Hy het die perfekte dubbele lewe gelei deur vryelik in hoëre Engels-sprekende kringe te beweeg, terwyl hy terselfdertyd die bedrywighede van die Stormjaers gekoördineer het
Volgens Gibson slaag Hofmeyr nie soos Louis Botha daarin om dit te vermag nie, omdat hy “verhuis het na ‘n posisie aan die regterkant van ons politiek, tot so ‘n mate dat hy deur baie, regverdig of onregverdig, as ‘n rassis afgemaak word”.
Nietemin glo Gibson dat alhoewel jonger Afrikaners politiek verwerp as irrelevant, en belowe om weg te bly van die stembus, hulle waarskynlik vir die “rassis” Steve Hofmeyr sal stem, as hy staan.
Sal die VF + probeer om hom op hul verkiesingslys te sit en hom gebruik om hulself te red? Gibson dink nie Hofmeyr sal dit oorweeg nie aangesien Pieter Mulder se omhelsing van President Zuma noodlottig was.
Volgens Gibson is daar geen politieke voertuig meer vir die ondersteuners van Rooi Oktober nie.
‘n Konfederale staat is nie haalbaar nie, weens die tweederdemeerderheid wat ‘n wysiging van die Grondwet vereis in die parlement, en is wat Gibson betref onoorkombaar. Dit is des te meer onhaalbaar as regse kiesers die politieke proses boikot en wegbly van die stembus, sê hy.
Gibson troos homself dat die ondersteuning vir só ‘n siening klein is en die oorweldigende meerderheid van Afrikaanse kiesers sal voortgaan om vir die Demokratiese Alliansie te stem in plaas daarvan om “onbereikbare nonsens” na te jaag.
‘n President Steve Hofmeyr sal daar nie wees nie, belowe Gibson.
