Een van die sogenaamde Waterkloof Vier kan na ‘n ander tronk verskuif word nadat ‘n selfoon in sy sel gekry is, het RSG berig.
Die Departement van Korrektiewe Dienste het vanoggend bevestig dat die selfoon Saterdagoggend gekry is.
Die woordvoerder, Zac Modise sê Korrektiewe Dienste oorweeg dit om Christoff Becker die week reeds na ‘n ander tronk te skuif.
Van sy voorregte, soos telefoonoproepe en besoeke is ook vir 32 dae opgeskort. Modise sê ‘n tugkomitee sal ook ondersoek doen oor hoe hy die selfoon gekry het.
Hy sê Becker se optrede toon dat hy nie gedissiplineerd en gerehabiliteer is nie.
President Jacob Zuma het uiteindelik sy stilswye oor die Nkandla-verslag verbreek nadat die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela bevind het dat hy onregverdig daardeur bevoordeel is
Die OB het verklaar dat Zuma ‘n billike bedrag uit sy eie sak moet terugbetaal vir die opgraderinge.
Die president het gesê hy het nooit die multi-miljoen randse verbeteringe aan sy Nkandla-woning in KwaZulu-Natal versoek nie.
Zuma het in sy eerste openbare reaksie op die verslag, sy regeringsamptenare vir die besluit verantwoordelik gehou.
Die president het tydens ‘n verkiesingsveldtog in Gugulethu op die Kaapse Vlakte gevra waarom hy moet betaal vir iets waarvoor hy nie gevra het nie.
‘n Plaaslike nuuskanaal het oor die president se reaksie berig.
Hy het ook gesê die rasse-en armoedeverdeling tussen wit en swart in die Kaapse Skiereiland bly steeds ‘n probleem.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het na ‘n vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) in Kaapstad ‘n verklaring uitgereik, in wat beskou word as ‘n beskermingsring om die president.
Mantashe het Zuma verdedig oor die bevinding van die OB, dat Zuma onregverdig voordeel getrek het uit van die veiligheidsopgraderings aan sy privaatwoning.
Hy het gesê diegene wat werklik daaraan skuldig is dat hulle te hoë pryse gevra het, sal deur die Spesiale Ondersoek-eenheid ontbloot word.
Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega moes haarself opnuut verdedig teen beskuldigings dat sy die parlement mislei het oor die opgraderinge.
Sy het die ANC in die verleentheid gestel omdat sy in die regering se Nkandla-verslag aan die Nasionale Uitvoerende Komitee gesê het die swembad by President Jacob Zuma se woning is vir brandblussingsdoeleindes.
Phiyega sê sy is onskuldig.
Die ANC sal intussen vanmiddag ‘n mediakonferensie hou oor die afgelope naweek se nasionale uitvoerende komitee-vergadering in Kaapstad.
Met Duitsland as ‘n belangrike handelsvennoot van China, het samesprekings tans tussen Merkel en die Chinese president Xi rondom ekonomiese kwessies gehandel.
China het tydens die mediakonferensie herhaal dat hulle neutraal staan teenoor die kwessie in die Krim en dat dit hulle nie raak nie.
China oorweeg egter tans ‘n plan om die hele wêreld met ‘n netwerk van toesigsatelliete te dek.
Meer as 50 waarnemingsatelliete kan binne twee jaar in ‘n wentelbaan om die aarde wees, het die South China Morning Post berig. Dit sal die land se satelliettoesigvermoëns op ‘n gelyke voet, of groter as die van VSA plaas.
China sê die VSA se onvermoë om uitsluitsel te gee oor die verdwyning van die Maleisiese vlug MH370, noodsaak dié stap.
Tydens die Sino-Germaanse gesprekke het Duitse motorvervaardiger Daimler verklaar dat hulle onder meer die produksie van sy gesamentlike onderneming met Beijing Automotive Group sal uitbrei.
Dit is die tweede ooreenkoms van sy soort, in navolging van Daimler se mededinger BMW en sy Chinese vennoot.
Vrydag, het die Bundesbank en die Volksbank van China ingestem om ‘n verklaring van voorneme uit te reik om ‘n yuan-betalingsnodus in Frankfurt tot stand te bring.
Dit was Xi se eerste Europese besoek as president en het swaar gefokus op buitelandse beleggings.
In Frankryk, het hy met die Europese lugvaartreus Airbus ‘n kontrak ter waarde van 10 miljard euro gesluit.
Xi se beplande besoek aan Brussel is ook gesien as ‘n skuif om ekonomiese bande met die EU te versterk.
Duitsland se minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, het intussen gesê Duitse militêre steun aan oos-Europese lede van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie of NAVO moet nie tot ‘n eskalasie lei nie.
Duitsland het in reaksie op die Krim-skiereiland se referendum gesê hulle sal AWACS-ondersteuning in Pole en Roemenië verskaf asook opleidingsvlugte in die Baltiese state.
Volgens die koerant, Der Spiegel, wil Berlyn ‘n meer “aktiewe” internasionale rol speel aangesien Duitsland se internasionale politieke invloed nie ooreenstem met hul handelsinvloed nie.
Volgens Der Spiegel is die ministerie van verdediging gereed om die getal vliegtuie te verdubbel vir versterkte lugpatrollies in dele van Oos-Europa. Frankryk en Denemarke sal ook deelneem.
Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, het sy Russiese ampsgenoot, Sergei Lafrof, vir krisissamesprekings oor die Oekraïne in Parys ontmoet.
Lafrof het gesê die Oekraïne behoort ‘n nuwe grondwet op te stel wat minderheidsgroepe wat pro-Russies is, sal beskerm. Rusland wil hê dat die VSA sy imperialistiese militêre opbou in Oos-Europa en die Oekraïne moet staak.
Die vier-ure-lange samesprekings volg op telefoongesprekke tussen president Barack Obama van Amerika en Vladimir Poetin van Rusland.
Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika, of NEASA, sê onder die huidige toestande sal daar geen werklike werkskepping deur die privaatsektor wees nie
Die uitvoerende hoof van NEASA, Gerhard Papenfus, sê sake-ondernemings voel nie meer welkom in Suid-Afrika nie.
Papenfus sê daar bestaan ‘n persepsie dat winste werknemers op een of ander manier benadeel. Hy sê sakelui voel amper skaam omdat hulle suksesvol is.
Papenfus sê Suid-Afrika het ‘n onaanvaarbaar hoë werkloosheidsyfer en ‘n oplossing moet gevind word om werk te skep.
Hy sê Suid-Afrika maak ook geen duik in die werkloosheidskrisis nie, en daar is ‘n netto verlies van meer as 100.000 werkgeleenthede in Februarie.
Papenfus het vroeër gesê kollektiewe bedinging in die mynbedryf is baie nadelig vir klein besigheid.
“Die arbeidswetgewing is opgestel in so ‘n manier dat dit klein besighede benadeel,” het Papenfus in Johannesburg gesê.
“Groot werkgewers en vakbonde kan ooreenkomste aangaan … Ooreenkomste wat heeltemal nadelig in die belang van klein werkgewers is.”
Hy het gesê dit was omdat wetgewing verhoed dat klein besighede onderhandeling oor hul eie loonooreenkomste voer.
Klein besighede word dikwels swaar getref omdat stygings hulle direk en onmiddellik raak, sê Papenfus .
Op grond hiervan het Neasa die departement van arbeid en die minister hof toe geneem.
Tydens ‘n voorlegging in Bryanston , Johannesburg, het Papenfusge sê die bedingingsraad in die mynbedryf “funksioneer ongrondwetlik “, want ‘n ooreenkoms is in ‘n struktuur wat nie bestaan het nie onderteken.
Bloemfonteiner, Rolene Strauss is by die Sun City Superbowl as Mejuffrou Suid-Afrika vir 2014 gekroon.
Dit volg nadat die 12 finaliste aan die “Pad na Mejuffrou Suid-Afrika”-werklikheidsreeks deelgeneem het.
Die naaswenners is twee swartes, een van die Oos-Kaap, en die ander van Limpopo.
Strauss is ‘n mediese student van die Universiteit van die Vrystaat. Sy het ‘n platinumkroon asook ‘n pryspakket van R1,3 miljoen rand.
Een van die hoofborge van die kompetisie is CellC.
In haar aanvaardingstoespraak het Strauss gesê sy sal op gesondheidskwessies fokus en bygevoeg: “Ons is in staat van soveel meer wanneer ons gesond is, fisies, verstandelik en emosioneel.”
ʼn Tweede swart verdagte is in die hooggeregshof in Pietermaritzburg skuldig bevind aan die moord op Micky Hampson (68).
Jabulani Ngobese (28) is ook skuldig bevind aan poging tot moord op Hampson se seun, Murray (34).
Ngobese het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.
Sy medebeskuldigde Siboniso Mtolo (25) is vroeër die maand tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuld erken het.
Hampson, van die plaas Eston naby Illovo in KwaZulu-Natal, en sy seun is op 27 September 2013 deur twee verdagtes aangeval terwyl hulle in Hampson se bakkie gery het. Hampson is geskiet en is op slag dood.
Die swart aanvallers het Hampson glo met sy eie haelgeweer doodgeskiet voordat hulle daarmee gevlug het.
Die voormalige minister van kommunikasie, Dina Pule, het die ANC se benoeming vir die party se parlementêre kandidatelys van die hand gewys.
“Ek het lank nagedink oor wat ek met die res van my lewe moet doen en alhoewel ek ʼn lojale en toegewyde ANC-lid bly, is dit in my beste belang en in die van my kinders en familie dat ek van die ANC-lys onttrek,” het Pule in ʼn verklaring gesê.
Pule is verlede jaar as minister afgedank nadat ʼn verslag deur Thuli Madonsela, openbare beskermer, haar betrek het by aanklagte van korrupsie en ʼn moontlike botsing van belange. Madonsela se ondersoek het gehandel oor Pule se aanstelling van diensverskaffers vir ʼn indaba wat in Kaapstad gehou is. Madonsela het bevind dat Pule haar kêrel, Phosane Mngqibisa, ingestop het.
Pule was nommer 70 op die ANC se lys van parlementêre kandidate, en dus van ‘n plek in die Nasionale Vergadering verseker.
Betoë sal Vrydag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg in die saak tussen Cosatu en sy geskorste hoofsekretaris Zwelinzima Vavi voortgesit word.
Vavi is verlede jaar geskors na hy erken het dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met ‘n kollega gehad het.
Vavi is eers van verkragting van ‘n vroulike werknemer beskuldig. Hy het dit ontken en gesê dit was in ‘n seksuele verhouding met haar instemming.
Die vrou het later haar klagte wat sy by Cosatu gelê het, teruggetrek en sy het nooit ‘n klag by die polisie gelê nie.
Ten spyte daarvan is Vavi sedertdien geskors uit sy posisie by Cosatu .
Samwu het vroeër gesê die skorsing is ‘n heksejag teen die sekretaris-generaal.
Cosatu moet verenig om op te staan teen die Nasionale Ontwikkelingsplan, het Samwu gesê.
Vavi was uitgesproke in sy kritiek teen die plan .
Vavi het die hof intussen genader om die vakbondfederasie te dwing om die skorsing en alle besluite wat geneem is by die vergadering van die sentrale uitvoerende komitee in Augustus, ter syde te stel.
Vavi wil hê ‘n spesiale vergadering van die sentrale uitvoerende komitee moet oor die kwessie besluit.
Cosatu se regsverteenwoordiger, advokaat Karel Tip sal vandag aanvoer dat al die vereiste prosedures gevolg is voor Vavi geskors is en dat die hof nie jurisdiksie het oor Cosatu se interne sake nie.
Hy sal ook aanvoer dat Vavi hom moet onderwerp aan die interne tugprosedures van Cosatu.
Tip is sedert die tagtigerjare direk uit Londen befonds om sake namens die ANC te behartig.
Die Verenigde Nasies se algemene vergadering het ‘n nie-bindende resolusie goedgekeur wat die Russiese-gesteunde referendum in die Krimskiereiland in die Oekraïne onwettig verklaar.
Die Russiese afgevaardigde, Witali Tsjoerkin, het gesê die uitslag wys duidelik dar Rusland nie geïsoleer is nie. Hy het bygevoeg dat die Weste ongekende druk op lande geplaas het voor die stemmery wat die uitslag beïnvloed het.
China het ook buite stemming gebly in ‘n duidelike aanduiding dat die VSA dié twee lande nader aanmekaar dwing.
Eenhonderd lande het ten gunste van die resolusie gestem en elf daarteen.
Agt-en-vyftig lande, insluitende Suid-Afrika, het buite stemming gebly.
Slegs 168 uit 193 VN-lidlande was teenwoordig by die Algemene Vergadering in New York.
Volgens waarnemers is die groot getal “ja’-stemme ‘n bewys van die VSA se gekoopte invloed in die VN.
Die VSA spandeer meer op wapentuig as die volgende toptien lande saam, wat waarskynlik ook heelwat vir hul oorredingsvermoë doen om die uitslag in hul guns te beklink.
Die Lesotho Hooglandwaterprojek ( LHWP ) is ‘n “wen-wen meganisme” vir daardie land en Suid-Afrika, het president Jacob Zuma Donderdag gesê.
Hy het in Maseru amptelik die tweede fase van die R15.4 miljard LHWP geloods, en gesê dat dit aan Suid-Afrika broodnodige water verskaf, en aan Lesotho infrastruktuur en hidro-elektriese krag.
Lesotho is ‘n Sotho-tuisland wat wêreldwyd erkenning as ‘n onafhanklike staat geniet, ‘n monument aan Britse apartheid net soos die onafhanklike koninkryk van Swaziland wat ‘n Swazi-tuisland verteenwoordig.
Brittanje was egter deurentyd fel gekant teen die uitbreiding van apartheid vir Xhosas en Zoeloes.
Deur ‘n swart meerderheidsregering van Xhosas of Zoeloes in die res van Suid-Afrika teweeg te bring kon Brittanje daarin slaag om Afrikanerinvloed heeltemal te neutraliseer.
Brittanje het ook toegesien dat Zimbabwe onder Robert Mugabe ‘n onafhanklike Sjona-tuisland word sodat Ngunisprekers na Suid-Afrika stroom.
Botswana is ‘n onafhanklike Tswana-tuisland onder Britse invloed.
Lesotho, Swaziland, Zimbabwe en Botswana is ekonomies van Suid-Afrika afhanklik. Lesotho sal egter deur die waterskema inkomste uit tantieme verdien.
Fase II van die projek behels die konstruksie van die reuse Polihalidam, ‘n tonnel wat die water dra, ‘n pompopgaarskema en ander verwante infrastruktuur. Die datum van voltooiing is 2020.
Die dam van 2,2 miljard kubieke meter kapasiteit word in Lesotho se Mokhotlongdistrik gebou.
Zuma het gesê die aanvang van die projek se tweede fase is ‘n “onvergeetlike gebeurtenis” in die groeiende bilaterale samewerking tussen Suid-Afrika en Lesotho.
“Ons twee regerings moet nou verseker dat hierdie projek geïmplementeer word sonder enige verdere vertraging,” het Zuma gesê.
By voltooiing sal Fase II ‘n bykomende 15 kubieke meter water per sekonde aan Suid-Afrika se dorstige industriële hartland, Gauteng, lewer.
Waterkenners het gewaarsku dat tot en met die projek se voltooiing in 2020, die streek kwesbaar vir droogte, bly, en die landbou- en industriële produksie in gevaar stel.