Geseënde Kersfees aan al ons lesers en ondersteuners

Namens almal by PRAAG wens ons u ‘n geseënde Kersfees toe en hoop dat u ‘n aangename dag saam met u familie sal deurbring. In vandag se polities korrekte wêreld is dit al amper omstrede om so ‘n wens uit te spreek, want is Kersfees dan nie ‘n christelike fees en daarom aanstootlik vir nie-christene soos Moslems, Jode en aggressiewe ateïste nie? En wat van die gesin met ‘n heteroseksuele vader, moeder en kinders wat ook daagliks in die hoofstroommedia afgekraak word en liefs voor ander vorme van samesyn moet wyk, wat strek vanaf poligamie tot huwelike van dieselfde geslag?

geseende_kersfees_by_charmedwolfgirl-d4k5ungTroos u egter daaraan dat sommige tradisies nie deur die tyd agterhaal word nie. Kersfees, hoe seer dit ook deur Mammon en die eenwêreldgeloof vergiftig word, is een daarvan. Ons Afrikaners het egter ‘n unieke manier om Kersfees te vier, hier in ons warm somerklimaat wat so anders as die sneeubedekte “wit Kersfees” is in die koue waar ons voorouers vandaan kom.

En as u op 25 Desember vir u Kersete aansit, dink gerus ook aan al ons mede-Afrikaners wat weer die armoede van die 1930’s ervaar en vandag in plakkerskampe of in houthuisies in agterplase hul Kersfees deurbring, danksy die eiewaan van Afrikanerpolitici wat in die verlede die wêreld terwille wou wees, maar nie hul eie mense nie.

Uit hierdie ietwat ironiese gedig van D.J. Opperman spreek iets van ons soort “Kersfees in Afrika” en die nederigheid wat daarmee gepaard behoort te gaan.

Kersliedjie

Drie outas het in die haai Karoo
die ster gesien en die engel geglo,

hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met ‘n jakkalspad

al agter die ding wat skuiwend skyn
op ‘n plakkie, ‘n klip, ‘n syferfontein,

oor die sink en die sak van Distrik Ses
waar ‘n kersie brand in ‘n stukkende fles,

en daar tussen esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.

Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gelê voor God se klong

en die Here gedank in gesang en gebed
vir ‘n kindjie wat ook dié volk sou red …

Oor die hele affêre het uit ‘n hoek
‘n broeis bantam agterdogtig gekloek.

Dooieboommedia skep rasherrie vir sensuur-doeleindes

Die media kan nie bekostig dat ‘n goeie krisis verlore moet gaan nie, skryf Jan Viljoen.

“It’s long been understood, hundreds of years, that unless people are controlled, they are going to challenge power. They will not simply willingly accept subordination, domination, hunger and so on. Nobody is going to accept that – if they have choices. So it is therefore necessary for them who are in a position to control decision making and monopolize wealth…it is necessary for them to somehow keep the population from their throats as they put it. And it can either be done by force and if that capacity declines, by control of opinion. There is no other method” ……Professor Naom Chomsky. Massachusetts Institute of Technology.

Professor Chomsky lig twee konsepte hierbo uit. Die beheer wat die media oor ons het en die mag agter die media, naamlik die geldmag.
Dit is ontstellend dat daar nog mense is wat nie besef wat die omvang van die mag wat die media oor hulle het, is nie. Soos nuwe en ge-ykte gonswoorde, elke besluit wat hulle neem soos oor wie om vir watter onreg te blameer, oor wat hulle vanaand gaan eet, waarin hulle moet glo, waarin hulle kinders moet glo, wie reg is en wie verkeerd is en bykans elke liewe aspek van hulle private lewe, vir hulle deur die media voorgeskryf word.

Tim du Plessis, wat voor sy bedanking hoof van Media24-koerante se Afrikaanse titels was, het met trots aangekondig dat hy en sy mede joernaliste en rubriekskrywers, “meningsvormers” is. Laat ons vir ‘n oomblik by hierdie term stilstaan. Wat is dit wat du Plessis eintlik wil sê?

Wat dit beteken is dat hy en sy kollegas jou persepsie van die waarheid gaan verander sodat dit in lyn kan kom met wat hulle wil hê wat dit moet wees. Dit gaan beteken dat die waarheid dit is wat hulle vir jou vertel om te wees. Hulle sal dus namens jou die dinkwerk doen en jou die vermoë om jou eie opinies oor kwessie wat jou inherent en onherroeplik raak, ontneem. Jy sal nie meer kan besluit wat die beste vir jou of jou familie, of selfs vir jou groep is nie, maar sal slegs dit wat hulle vir jou vertel wat goed en reg is, glo.

Die persoon wat nie vermoë het om vir homself te dink nie, sal enige-iets glo wat vir hom wat as die waarheid voorgehou word en ongelukkig is dit so dat die groter groep Afrikaners nog te veel waarde heg aan wat in die koerante geskryf staan.

Ons vergeet dat enige berig of rubriek slegs die opinie van ‘n gewone mediaslaaf is. Dit is slegs die hoogs bevoordeelde propaganda van een persoon wat as die mondstuk van sy eienaar optree.

Die term “meningsvorming” is slegs die versagting van die stokou manier om oorlog te voer wat as breinspoeling bekend staan.

Tim en sy trawante wil niks anders bereik as om hulle slagoffers te breinspoel nie en so groot is hulle ego’s dat hulle dit prontuit erken. Hulle voel onaantasbaar want hulle beskik oor die vermoë om hulle vyand se wil af te breek, om hulle te reduseer na redelose slawe wat slegs kan glo wat daar aan hulle gesê word om te glo en daardie vyand, daardie slawe is die Afrikanervolk.

Dit is nie eers meer ‘n geheim nie en hulle sê dit reguit. Die absolute verregaande verwaandheid wat die media bereik het word ge-illustreer deur hierdie tipe Tim-uitlatings en sulke uitsprake bewys hulle minagting wat hulle teenoor die publiek, die gewone man-op-die-straat, handhaaf.

En Tim en sy mede-trawante is nie die enigste nie. Hulle is slegs deel van Naspers, terwyl daar nog ‘n swetterjoel ander mediasoorte is wat presies dieselfde ding doen.

Dag na dag en week na week, 365 dae van die jaar. Is dit dan enige wonder dat dit so maklik is om ‘n volk te beheer en te regeer? As ‘n volk nie weet waarvoor om baklei nie en waarteen om te baklei nie, sal ‘n volk teen homself baklei. En geen volk wat teen homself gedraai is, kan voortbestaan nie.

Daar word vals vyande geskep en voorgehou sodat ons tyd, energie en logistiek daardeur uitgeput kan word. Daar word vals vriende en vals leiers geskep en voorgehou sodat ons onwetend agter die rottevangers kan aanloop na ons ondergang toe. Daar word vals krisisse geskep sodat ons ons gewig agter die vals oplossers van die krisis kan ingooi en daar word vals afleidings verskaf om die mense met oppervlakkige genietinge besig te hou sodat ons nie agterkom hoedat ons regte en vryhede een vir een gestroop word nie en hoedat ons omstandighede stadig in die van ‘n gebonde en besitte slaaf verander nie. Daar sal selfs mense wees wat hierdie woorde lees en dit nog steeds ontken. Die ou gesegde lui dat niemand so gebonde is soos die wat valslik glo dat hulle vry is nie.

‘n Nuwe krisis is byvoorbeeld die storm wat rondom Steve Hofmeyr en Dr. Roodt se koppe losgebars het. Die waarde van ‘n krisis moet nie verlore gaan of onderskat word nie en as daar nie ‘n krisis is nie moet ‘n eenvoudige ding tot krisis-afmetings verhef word of daar moet ‘n krisis geskep word.

Hoekom sal Praag gereeld uitgesonder word as hierdie ϋber-rassistiese webblad terwyl slegs ‘n vinnige besoek op enige van IOL se berigte wat kommentaar bevat, bewys dat die rassisme daar tienvoudig keer erger is. Waar Praag redelike beskaafde en redelike intelligente gesprekke het, is IOL se kommentaar gewoonlik bloot kru en rassisties. Dieselfde geld vir Naspers se kommentare.

Dit is sodat Afrikaanse andersdenkende webblaaie mettertyd onder sensuur geplaas kan word en sodat beheermeganismes in werking gestel kan word, en by implikasie dus ook die kommentators en deelnemers aan gesprekke, gemonitor en gesensor kan word en erger nog, vervolg kan word.

Afrikaners kan verwag dat enige spontane aksie wat uit eie geledere ontstaan, onafhanklik van media-inmenging, wat daartoe poog om Afrikanerleiers of Afrikanerafvalliges te kweek, met die totale mag tot beskikking van die media se propagandamasjien, aangeval sal word.

Die pop insident is nie ‘n vinnige besluit wat een oggend soos ‘n nuwe gedagte by Koch opgekom het nie. Dit is ‘n goed deurdagte en beplande aksie wat daarop gemik is om Afrikanerafvalliges te knou en ook om Afrikaners in pro- en anti-kampe te verdeel. Afrikaners sal nie nou die luukse gegun word om leiers te kweek nie, want Naspers moet ten alle koste die de facto Afrikanerleierrol speel. ‘n Sterk patriotiese Afrikanerfront is iets wat ten alle koste vermy moet word, want dit vorm nie deel van die groter Eliteplan nie.

“The mainstream media really represent the elite interest and they serve those interest in a way that can be described as carrying out a propaganda function”. …..Professor Edward S Herman, professor emeritus of finance at the Wharton School of Business of the University of Pennsylvania and a media analyst.

Maar hierdie media-instellings werk nie vir hulleself nie. Hulle het bepaalde eienaars waarvoor hulle werk en hierdie eienaars het ‘n bepaalde doel voor oë. Dit is nie moontlik om die rotnes van media-eienaars in hierdie skrywe te probeer uitlê nie en die wat belangstel kan gerus hulle eie navorsing doen of die uitstekende uitleg wat Albert Brenner hier op Praag gelewer het, probeer opsoek.

Vir die doel van hierdie skrywe is dit genoeg om te sê dat omtrent al die media op die ou end deur die banke besit word. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank, soos al die reserwebanke van enige ander land is nie ‘n staats- of selfs semi-staatsinstelling nie. Alle lande se Reserwebanke is privaatmaatskappye soos wat die kafee op die hoek of jou plaaslike tuindienste in privaathande is. Hierdie banke besit die maatskappye wat as regerings voorgehou word wat by hulle geld leen en soos wat die mag afwentel word bykans elke burger deur die onderskeie banke waar hulle geld leen, besit en beheer.

Hierdie banke, en nie die maatskappy-regerings soos wat soms geglo word nie, besit die mag om geld te skep en te vernietig en om sodoende die welvaart van ‘n land te bepaal.

“Let me issue and control a nation’s money and I care not who writes the laws.” …..Mayer Amschel Rothschild, 1790

Die media se bestaan is nie om die nuus uit te saai of te verkondig nie, alhoewel baie van ons dink dat dit die media se hooftaak is. Die media se hooftaak is om mense se denke te beïnvloed. Om mense beheerbaar en onder die duim te hou deur hulle oningelig te hou en hulle te oorweldig met niksseggende propodandistiese vermaak, onbelangrike balsporte en sportster- en akteuraanbidding.

Om die nuus weer te gee op hulle eiesoortige en selektiewe manier, om selektief briewe te plaas wat hulle denklyne ondersteun, om randeier kwasi-intellektuele se drogbeelde tot nasionale menings te verhef, om volksvyande en volksvreemdes se aanslag teen die volk op ‘n manier te regverdig, om onmin en verdeeldheid te saai, om die regte nuus te sensor en uit die publieke oog te hou en om Afrikanerafvalliges en andersdenkendes en die wat nie die amptelike leuens wil sluk nie, te kruisig.

Naspers, in die afwesigheid van ‘n sterk Afrikanerleier, het gemaklik in die skoene geklim om “leiding” te verskaf, om denke te beinvloed en om die rol as die skynleier van die Afrikanervolk te vervul. En dit is soos wat dit beplan is en dit is die status quo wat ten alle koste gehandhaaf moet word.

Die media sal nie duld dat daar ‘n uitbraak van Afrikanerpatriotisme plaasvind nie, want dit sal hulle rol as meningsvormer ondermyn en daarmee saam die mag wat die geldmag oor ons het, afwater. Maar die media is slegs een van die tentakels wat deur die elite gebruik word om die burgery te beheer. Die staatsmasjinerie van ons bankrotte skynregerings, howe, nuttige idiote by intellektuele instellings, skole, die illusie van demokrasie, politiekery en onafhanklike privaatorganisasies soos, maar nie beperk tot, B’nai B’rith, die Round Table en ‘n swetterjoel ander, is van die ander tentakels.

Maar by uitstek is dit die Reserwebanke en gewone plaaslike banke, wat krediet en lenings kan verskaf, wat die handigste en mees gewetenlose stuk gereedskap is.

Met hulle sisteem van “fractional reserve banking”, en die ongelooflike regeringsgesteunde foefie om fiat geld uit niks te skep wat hulle aan niksvermoedende burgers uitleen en om dan boonop rente op ‘n nie-bestaande lening te hef, het hulle dit reggekry om ons kinders se kinders tot slawe in hulle eie land te reduseer.

“I am a most unhappy man. I have unwittingly ruined my country. A great industrial nation is now controlled by its system of credit.We are no longer a government by free opinion, no longer a government by conviction and the vote of the majority, but a government by the opinion and duress of a small group of dominant men.”….. Woodrow Wilson 1919.

Die media sal ten alle koste ingespan word om enige vorm van andersdenkenheid in die kiem te smoor. Die elite kan nie bekostig dat intelligente individuee die mense tot ander insigte oorreed nie en enige vorm van afvalligheid moet ten alle koste beveg word. Die pop-insident is byvoorbeeld een van daardie kunsmatige krisisse wat as sneller moet dien om krisisbeheer toe te pas.

Sogenaamde menseregte en vryheid van spraak is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie en ons moet nie dink dat dit iets is waarop ons ons sal kan verlaat nie. Meganismes moet gevind word om vrye spraak en andersdenkenheid te snoer en aan bande te lê, want dit mag dalk net lei dat mense vir hulleself begin dink en soos ons almal weet is dit baie gevaarlik as mense vir hulleself kan dink.

“….unless people are controlled, they are going to challenge power….”

Dit lei gewoonlik tot die omverwerping van die sogenaamde orde wat tradisioneel slegs die tot die uitsluitelike voordeel van die elite is. Magsvergrype beteken dat die sosiale orde met geweld deur die staatsmasjinerie afgedwing moet word of met breinspoeling deur die media in plek gehou moet word. Magsvergrype beteken dat die sosiale orde met geweld deur die staatsmasjinerie afgedwing moet word of met breinspoeling deur die media in plek gehou moet word.

“Gesprekke is oor menseregte en vryheid van spraak tussen Sanef en ander organisasies, waaronder die Adviessentrum vir Oop Demokrasie (Odac) gehou by die Naspers-gebou in Kaapstad. Volgens die uitvoerende direkteur van Sanef, Mathatha Tsedu, is die sosiale media se platforms en die web ‘n groot en oop wêreld wat nie gereguleer word nie.”….Vryburger, Desember 11, 2014.

Die aanslag teen Steve Hofmeyr en Dr. Roodt is iets wat die gevaarligte moet laat begin flikker. Dit word deur die media gedryf en dit sal in die howe beslis word en albei van hierdie instellings word deur die elite beheer. En wanneer dit deurgevoer word gaan, in watter vorm ook al, sal ons onsself moet staal want wat daarop gaan volg is nog meer beheer en nog meer sogenaamde vryhede wat aan bande gelê gaan word of wat totaal weggeneem gaan word.

Stadig maar seker word die aanslag teen ons verskerp en deur ‘n reeks van sulke tipe krisisse word vryhede stadig maar seker weggeneem. Die bande word al stewiger vasgwikkel en ons sal moet begin beplan om onsself los te wikkel. Ysland het dit gedoen. Hulle het bloot die banke se mag en houvas oor hulle burgery weggeneem en daarmee saam ‘n hele rits Godgegewe regte teruggekry.

Die media is by uitstek meesters by die uitdink en gebruik van gonswoorde. Die rassisme-kaart is slegs ‘n simptoom van mediabeheer, dit is slegs ‘n meganisme wat gemaklik gebruik kan word om ‘n hele volk mee te kasty en dit is slegs die stok wat gebruik word om die wat uit gelid uit trap mee by te kom.

Daar word selfs deesdae van “apartheidsontkenning” gepraat asof dit onwettig is en dit is ‘n nuwe gonswoord wat ons al meer en meer gaan begin teëkom. Dit was ‘n gemaklike meganisme wat die jode al vir die afgelope sestig plus jaar gebruik om enige kritiek teen hulle van die tafel af te vee; dat jy nie die amptelike weergawe, die opgemaakte weergawe van die werklikheid, mag bevraagteken nie.

“Apartheidsontkenning” gaan dieselfde status as die sogenaamde “holocaust”-ontkenning begin verkry en webbladsye soos Praag gaan onder internetsensuur geplaas word, sodat, in die naam van sekerheid, menseregte en regverdigheid, sekere afvallige denke wat anders is as wat voorgeskryf word, gesensor kan word en die skrywers daarvan aan ‘n onwettige proses wat deur die howe gedryf sal word, onderwerp kan word.

Koch is niks. Hy is niemand. Om die waarheid te sê het ek nog nie van Koch voor hierdie insident gehoor nie. Koch is slegs die krisisakteur in hierdie hele insident. Hy is die persoon wat gekies is om dit te inisieer, die media is die liggaam wat dit dryf, groot besigheid soos Landrover en Pick ’n Pay is die liggame wat dit ondersteun, die howe is die liggaam wat dit gaan afdwing en die banke is die entiteit wat daaragter sit, soos wat FNB se “Steve” advertensies duidelik toon.

Maar alles is nie verlore nie. Enige blootstelling is goeie blootstelling en die insident kan ook gebruik word om ‘n bewusmaking van die werklikheid te bewerkstellig, want hoe onwerklik dit ook al mag klink is daar nog mense wat glo dat alles in die land wel en goed is. Ek gaan nie my asem ophou in afwagting van ‘n positiewe mediaberig nie, want dit sal nie gebeur nie. Ons sal onsself moet skool en inlig.

 

Zuma se geopolitieke sukses is reusagtig

President Zuma het die afgelope dekade onverpoos en doelbewus groeiende bande met Rooi China gesmee.

Onder Jacob Zuma het ‘n sterk China die grootste vennoot en politieke vriend met handelsbande, van Suid-Afrika geword.

Jacob Zuma en Nkosazana Dlamini-Zuma se aksies in Afrika en die Afrika-Unie word ook sterk deur China ondersteun, insluitend die Zuma’s se aandrang op ‘n Afrika-reaksiemag.

Geen man het ooit meer gedoen om Amerikaanse mag so suksesvol met Chinese mag in Suid-Afrika te balanseer as Jacob Zuma nie.

Gesien vanuit ‘n geopolitieke oogpunt, is Jacob Zuma nog meer betekenisvol as Sjaka Zoeloe.

Vandaar dat die top-instituut van China, Tsinghua Universiteit waar ook President Xi Jingping as chemise ingenieur gegradueer het, nou ‘n ere-professorskap aan Zuma toegeken het. Soos Paul Kruger, is Jacob Zuma akademies laag gekwalifiseer, maar polities gesien ‘n onderskatte reus.

Tsinghua Universiteit is verantwoordelik vir die ontwerp van ‘n kommersiele kernkrag-korrelbedreaktor wat tans in aanbou is. Hierdie Duitse-tipe reaktor wat deels moontlik gemaak is deur Afrikaners in die ou Verwoerdburg, plaas China vir die eerste keer in die geskiedenis van die Weste tegnologies voor die VSA.

Eskom wou in 2008 tydens sy kragkrisis nie 50 van sy eie korrelbedreaktors koop nie.

Meeste Afrikaners toon geen respek vir president Zuma van die tanende ANC nie, en beskou sy belangrike Chinese suksesse as persoonlik-politieke uitverkoping en ekonomies-korrupte opportunisme.

Hierdie “rassistiese” kortsigtigheid kyk egter die betekenis van Jacob Zuma as tradisionele Zoeloe in die globale en plaaslike politiek mis.

Op 1 Desember 1975 in Beijing, China, het die Amerikaners Henry Kinssinger, Brent Scowcroft, George Bush en President Ford met Mao en China saamgestem dat Afrikanerbesetting van Luanda ‘n soewereine supermoonheid in Afrika tot gevolg sou hê.

Die VSA het vir China gerus gestel, en genotuleer dat hulle uit Kuba ‘n “balans” in Afrika sal orkestreer. Dit was die begin van die Afrikanerstaat se einde.

Veertig jaar later is Jacob Zuma se Chinese suksesse deel van die begin van Amerikaanse-Westerse wereldoorheersing se einde.

Jacob Mouw

Ope brief van Oom Paul aan Afrikaners

Geagte volksgenote,

Jare lank al lê ek hier in my graf in die Heldeakker te Pretoria en hou u doen en late met liefde, belangstelling en sorg dop. Deesdae met toenemende sorg, moet ek sê. Daarom het ek dit goedgedink om hierdie brief vanuit die graf, outre-tombe, om nou saam met Chateaubriand te praat, aan u te stuur.

Ten eerste, dankie aan die vrywilligers wat verlede jaar in Oktober my grafsteen kom skoonmaak het. Ek waardeer dit opreg, veral noudat daar geen meer dienste van dié aard vanuit die amptelike kanale verrig word nie.

Nou ja, waar sal ek begin? Toe ek staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek was, was daar twee politieke beginsels wat my gerig het: Die eerste was om vryheid bo alles te stel. Die tweede was om lig te loop vir Engelse. U weet, oorle Hendrik Potgieter wou destyds nie in Natal agterbly nie, want seg hy, Natal is te naby aan die see en waar die see is, is die Engelse.

My eerste werklike ervaring van Engelse lis was toe Theophilus Shepstone ons Republiek in 1877 kom annekseer het. Eers het hy gemaak asof hy sommer net bietjie handel wou kom dryf; die volgende oomblik word ons geannekseer en was ons amper ons duur gekogte vryheid kwyt! Gelukkig kon ons dit by Majuba herower en het Gladstone agterna ingestem om weereens die Sandrivierkonvensie te erken.

U weet, as ek dink aan die aantal veldslae wat ons volk onder my leiding moes veg, eers toe ek kommandant was en later president, sterf ek ‘n tweede dood as ek vandag sien hoe u deur u minderes oorheers word! Dis verskriklik hoeveel van ons mense, u en my vlees en bloed, vandag vermoor word, man, vrou en kind. Dan praat ek nie eens van ons vroue en meisies wat deur die barbare onteer word nie… Hoe op aarde kan u dit toelaat? In my dae as kommandant sou ek lankal deur die president en die Volksraad vanaf my plaas Boekenhoutfontein ontbied gewees het om op te saal en ‘n strafekspedisie uit te stuur.

Die slag van Blauwkrantz, soos geskilder deur Thomas Baines
Die slag van Blauwkrantz, soos geskilder deur Thomas Baines

In my prille jeug het ek aanskou wat die Zoeloes die vroue en kinders by Blauwkrantz en Weenen aangedoen het. Daar is een ding wat erger is as om onder Engelse te moet leef en dit is om in die mag van swartes te verkeer. U moet sterk staan; moenie voor die vyand buig nie. ‘n Mens mag maar diplomaties wees, maar nooit mag u buig nie. ‘n Vyand wat geen ontsag meer vir u het nie, sal u eenvoudig uitwis.

Veral die swartmense het ‘n ontwikkelde sin vir mag. En vrees. Die dag as die swartes u nie meer vrees nie, gaan dit nag wees. Dit kan nóg erger word as vandag; in daardie donker dae tussen Februarie en Desember 1838 toe Piet Uys en sy seun Dirkie by Italeni omgekom het, het ons almal gedink dis nou die einde: die Zoeloes is eenvoudig sterker as ons. Dit het gereën; ons kruit was nat en voortdurend het ons verdere aanvalle gevrees. Maar met die hulp van God en die Gelofte het ons op 16 Desember oorwin!

Op ‘n stadium het elke skoolkind in Suid-Afrika geleer wat ek op ‘n keer kwytgeraak het: “Haal uit die verlede wat goed is en bou jou toekoms daarop.” Hoe het dit gebeur dat soveel Afrikaners dié spreuk vergeet het? Leef u dan deesdae net vir die oomblik, vir die volgende rugbywedstryd of die volgende drankie?

So van drank gepraat, soos u weet was ek ‘n geheelonthouer. Altyd het ek ‘n glas melk verkies as die ander Franse sjampanje of Kaapse brandewyn drink. Drank en dronkenskap het al menige volk vernietig. Is dit nie waar die probleem begin het, dat almal beneweld was toe hulle in die vroeë negentigerjare ‘n nuwe toekoms vir ons volk moes onderhandel nie? Veral nou in hierdie feesseisoen met al sy jolyt, druk ek u op die hart om u nie aan Bacchus oor te gee nie. Wees sterk, rein van hart en helder van gees!

Ek hoor mense praat van ‘n gebrek aan leierskap onder ons Afrikaners. In die ZAR was dit net ek en Piet Joubert wat met mekaar meegeding het, maar tog het ons oor al die belangrike sake saamgestem. Al was ek reeds bejaard, het mense steeds vir my gestem omdat hulle op my kon vertrou om nooit ons vryheid prys te gee nie. Kyk vandag rondom u: Waarskynlik is daar twee soorte leiers, dié wat bereid is om onvryheid te aanvaar en al hoe dieper in die moeras van kompromie in te gly en dié in wie se harte steeds die vryheidsvuur brand wat ons oor die Drakensberg, deur al die veldslae en die taalstryd van die twintigste eeu voortgestu het. Maar moet ook nie die Transvaal verafgod nie: Ek is self in die Kaapprovinsie gebore en S.J. du Toit wat saam met my deur Europa getoer het en soveel vir onderwys in ons republiek gedoen het, was insgelyks ‘n Kapenaar!

Waak teen verdeeldheid en verwerp diegene wat verdeeldheid aanstig. Die verraaier val altyd sy broer langs hom eerste aan, alvorens hy die vyand te lyf gaan. Nooit sal ek vergeet hoe ons volk op 5 Januarie 1864 weens ‘n magstryd en onderlinge geskille by die Krokodilrivier op mekaar geskiet het nie. Op daardie dag het nege van my eie staatsleërmanne en vyf-en-veertig van die opstandelinge gesneuwel. Jare daarna is verwyte my nog daaroor toegeslinger. Maar wat moes ek doen toe hulle op ons begin skiet?

Paul_Kruger____n_4ace43b92b359Erger nog, vir diegene wat my lewensverhaal deur D.W. Krüger gelees het, was die uitwerking van die Transvaalse burgeroorlog op die naturelle besonder nadelig. Soos J. de Beer van Lydenburg aan M.W. Pretorius kort ná ons onderlinge stryd geskryf het: “die naam van die Afrikaanse nasie is verlore en daarmee ook die vrees daarvoor by die naturelle”.

Hier vanuit my graf in Pretoria, ons mooi stad wat tans met ‘n vreemde naam onteer word, kan ek sien hoe u meer onlangs óók naam weggegooi het met al die kleinlike rusies tussen politieke partye en ambisieuse dog kortsigtige leiers, totdat u vandag die knie moet buig voor ‘n Zoeloehoofman. Eers wanneer almal weer saamstaan as één, onverdeelbare volk, sal dinge beter gaan. Eers dan sal u u vryheid kan herwin waarvoor soveel van ons in die verlede ons lewens op die slagveld teen die Engelse of in die byna onophoudelike Afrika-oorloë van die negentiende eeu gewaag het.

Verenig onderling, maar sorg ook dat u slim diplomate wat Europese tale praat na Europa stuur waar hulle ons saak in die raadsale van die wêreld en teenoor politieke leiers kan stel. Ek was geen geleerde man nie, hoewel ek my Bybel beter as selfs die teoloë van Nederland geken het. Sonder Leyds wat die politiek van Europa geken en verstaan het, sou ek egter nooit geweet het wat ons volgende te doen staan nie.

Moet nooit vergeet waar ons vandaan kom nie: uit Nederland, Duitsland en Frankryk. Ons is Afrikaners, maar ons behoort ook tot daardie groter blanke, Europese beskawing. Tydens ons tweede vryheidsoorlog wat so tragies geëindig het en my doer ver na Clarens in Switserland gestuur het, het vrywilligers van oor die hele Europa by ons Boeremagte aangesluit: uit Frankryk, Duitsland, Nederland, Vlaandere, Ierland, Skandinawië en Rusland het hulle gekom om sy aan sy met ons te veg. Daardie gesneuweldes vanuit Europa se beendere rus steeds in dié aarde saam met my en ons. Soos Opperman in “Gebed om die gebeente” skryf:

Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn . . .
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd –
ek ken as moeder na ‘n halwe eeu van pyn:
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai

Cornelis 'Cor' van Gogh
Cornelis ‘Cor’ van Gogh

Die beroemde skilder Vincent van Gogh se broer Cornelis het insgelyks die hoogste prys vir ons volk se vryheid hier betaal… besef u dit? In Parys het ek die Franse president en al die groot skrywers van daardie intellektuele volk ontmoet wat my een en almal verseker het dat ons vryheid en onafhanklikheid hulle na aan die hart lê. Laat ‘n nuwe Leyds of selfs my staatsprokureur Jan Smuts opstaan en ons volk weer geliefd by die Vasteland van Europa maak sodat ons sáám vir vryheid en vir reg in Afrika kan opstaan!

In my tyd het al ons probleme van Engeland af gekom. Vandag het dit nie veel verander nie, behalwe dat die Verenigde State lyk my die rol van Engeland oorgeneem het, of dat al twee saam die wêreld wil destabiliseer. Daardie patriotiese Russe wat teen Engeland in die Krimoorlog geveg het en by die honderde duisende gesneuwel het, verkeer vandag weer in die spervuur. Ek sien hulle boikot nou vir Rusland nes Engeland ons altyd geboikot het as sy die naturellestamme teen ons opgesteek en hulle bewapen het terwyl sy weier dat ons ammunisie deur die Natalse of Kaapse hawens invoer!

In dié verband het dr. Leyds my ‘n Franse spreekwoord geleer: Plus ça change, plus ça reste la même chose, oftewel: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Hier vanuit my laaste rusplek sien ek dat die Uitlanderprobleem nog nooit opgehou het nie. Onthou u nog wat ek gesê het? “Dis nie die stemreg wat u wil hê nie, dis my land!” Ook in meer onlangse tye was daar ‘n gedoe oor stemreg vir die swartes en wat gebeur toe? Ons – ek en u – is die land kwyt! Het dit oor stemreg gegaan of om die land in te palm sodat die Uitlanders dit na hartelus kan plunder?

U sal die Uitlanderprobleem moet pak. Een voordeel wat u het, is die ywer van ons Afrikanerhistorici wat ná my dood ons hele geskiedenis haarfyn opgeteken het. Gaan lees gerus oor die Uitlanders op: wie hulle was, uit watter lande hulle gekom het en hoe hulle vanuit Johannesburg voortdurend besig was om ons republieke te ondermyn, ook die republiek van 1961 wat onder daardie slim Hollandse Afrikaner, ‘n moderne Leydsman, Hendrik Verwoerd, tot stand gekom het! Die swartman is nie u vyand nie. In my tyd was ek goed bevriend met Magato, die Tswana-hoofman; ek het selfs sy kinders oorsee gestuur om op universiteit te gaan leer. God het die swartman ook geskep; so gemaak en so laat staan. Hy is maar soos hy is.

In my tyd het ek die roem gesmaak wat ons dapper volk toekom. Ek het met Europese staatshoofde, konings en met Bismarck op die kruin van sy mag vergader. Ek en Bismarck het mekaar se spreektale met mekaar gepraat: ek Afrikaans en hy Platduits, en ons kon mekaar verstaan. Desondanks is ek ‘n eenvoudige man en sien die wêreld op ‘n eenvoudige manier.

Daarom sê ek nou vir u: Sedert 1886 en die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het niks verander nie! Die Uitlander misbruik die stemreg om ons rykdom in te palm. Hy is te lafhartig om regtig te baklei; sy vernaamste wapen is die leuen. Met leuens, propaganda, die pers wat hy beheer, in boeke en briewe aan vername mense, verguis hy ons en stel ons magteloos. Ek stem saam dat daardie klein FW-prokureurtjie van julle ‘n misoes is. Hy is die naam “Afrikaner” nie waardig nie. ‘n Hensopper en ‘n hanskakie soos min. Maar sonder die Uitlander se leuens en propaganda sou selfs die verraaier FW de Klerk nie so maklik ons hele volk uitverkoop het nie.

Nog ‘n woord wat Leyds en Smuts my geleer het, heet op Duits Realpolitik. As ‘n mens se middele beperk is, kan jy nie ‘n groot oorlog gaan voer nie. Destyds toe ek kommandant was en daar daag net twintig man vir die kommando op terwyl ‘n honderd opgeroep is, het ek telkens maar gedoen wat ek kon en nie wat ek graag wou nie. Maar selfs met twintig man kan ‘n mens ‘n paar honderd swartes of Engelse aandurf. In die haglike situasie waarin ons volk vandag verkeer, sal u die belangrikste kwessies eerste moet pak. Hulle is:

  • neutraliseer die propaganda-aanslag; die pers was nog altyd vyandig teenoor ons, maar met die koms van die internet kan ons hulle opkeil;
  • doen iets aan die geweld en onveiligheid; kry almal om in enklawes agter mure en ander versperrings te woon, patrolleer die strate, stig weer kommando’s soos ons in die 1800’s gemaak het;
  • boikot alle volksvyandige ondernemings, ongeag wie hulle is, selfs dié wat aan Afrikaners behoort as hulle Verraaierkaners is;
  • suiwer die Afrikanerleierskorps van almal wat dislojaal teenoor ons vryheidstrewe is.

Die stryd met die pen is belangriker as dié met die geweer. In my tyd het Sir Percy Fitzpatrick met sy Transvaal from within die oorlog teen ons ontketen. In die 1960’s en die 1970’s het ek gesien hoe die haat teen Suid-Afrika aangeblaas is totdat daar terreur ontketen is, met bomme op straat en in restaurante. Net so stig vele joernaliste in Suid-Afrika en in Brittanje vandag steeds oorlog en volksmoord teen die Afrikaner aan. Sorg dat hulle negatiewe idees en propaganda met hand en tand beveg word.

President Jan Brand van die Vrystaat, hoewel hy nooit daardie Engelse Orde van Sint-Michaël en Sint-George moes aanvaar het nie, het in my tyd ‘n gesegde gehad: “Alles sal regkom, mits elkeen sy plig doen.”

Moenie moed verloor nie. Deur ons lang en heldhaftige geskiedenis het ons volk al vele en erger beproewinge beleef en weerstaan.

Soos ons ou volkslied lui:

Kent gij dat volk vol heldenmoed
En toch zo lang geknecht?
Het heeft geofferd goed en bloed
Voor vrijheid en voor recht
Komt burgers! laat de vlaggen wapp’ren
Ons lijden is voorbij
Roemt in de zege onzer dapp’ren
Dat vrije volk zijn wij!
Dat vrije volk, dat vrije volk
Dat vrije, vrije volk zijn wij!

Gelofte- en Kersgroete,

Stephanus Johannes Paulus Kruger
President van die Z.A.R. (9 Mei 1883 – 10 September 1900)
Onder u bekend as “Oom Paul”

Uit die dagboek van Konrad Kots

Liewe dagboek,

Ek is immer dankbaar dat ek tans kortstondige roem beleef. Dis nie dikwels dat onbeduidende verloorders soos ek in die kalklig verkeer agv ‘n hofsaak nie. My aanslag op sagte teikens soos Afrikaners was hoogs suksesvol, en ek is seker oorlede antie Nadine keur my optrede goed, daar waar sy vanuit die hiernamaals fantaseer oor gladde, gespierde swart aanvallers wat darem die ordentlikheid het om haar te verkrag, as hulle haar beroof. Ek en my pop is in ekstase.

So van my pop gepraat: Anders as wat mense mag dink, voel my ma en my terapeut dat dit baie gesond is vir my om nog op my ouderdom met poppe te speel. Volgens my terapeut het ek diepgesetelde, onopgeloste probleme met my pa, asook mans oor die algemeen, en voel my terapeut dat my pop ‘n goeie manier is om my onvolwassenheid te hanteer. My terapeut hou vol ek is deurmekaar en verward, omdat manlike rolmodelle totaal in my lewe ontbreek. Hy vertel my ek het ‘n obsessie met regte pa’s as ‘n regstreekse gevolg hiervan. Ek is glo jaloers op alfamannetjies, omdat ek glo ‘n betawyfie is. (Liewe dagboek: Hoe weet my terapeut van my nagtelike aktiwiteite in Gugulethu, dat hy my ‘n wyfie noem?)

Goed, ek gee toe: Ek hou eerstens nie van vrouens nie, hulle bedreig my ontoereikende en afwesige manlikheid, en tweedens: My ma weet nie wie my regte pa is nie. Daar is ‘n horde kandidate vir laasgenoemde titel, wat ‘n hele aantal vullisverwyderaars, bergies, boemelaars, verskeie tuiniers, ons rabbi, ‘n loodgieter, ‘n motorwerktuigkundige of twee en die posman insluit. My ma se bene was immers soos grondboontjiebotter – hulle is maklik gesprei vir enige iemand wat die geringste aandag getoon het, en wat sy braking in toom kon hou. G’n mens weet dus wie se standaarde so laag was om my ma te wou swanger te maak nie, want, die vet weet, selfs ek sou erken: Sy praat vlot Doberman.

Hoe dit ook al sy, ek wens die Afrikaanse sangers het ook net so in my belanggestel as wat hulle belangstel in daardie pragtige Boerinne by hul rassistiese kunstefeeste, waartydens hulle Die Stem sing. Daar is niks wat my so van my kop af maak met jaloesie as die vroulike bewonderaars van Afrikaanse sangers by ‘n kunstefees nie. Weet hulle nie hoe ek, synde ‘n maagd waar dit seks met vrouens aanbetref, asook ‘n verloorder wat nog op ‘n gevorderde ouderdom steeds met poppe speel, na hul aandag smag nie? Weet die aanvallige Boerinne in die gehoor dan nie hoe ek hulle die aandag van manlike sangers beny nie?

Die afwesigheid van ‘n vaderfiguur en seks met vrouens in my lewe het wel blywende skade berokken aan my besonder beperkte psige, as ek vertroulik mag praat. Ek is dus ‘n bleeksiel, asook iemand wat MIV+ is, agv te veel besoeke aan die townships, in ‘n desperate soeke na manlike aandag. My tik-rokery op die Kaapse Vlakte het my eweneens sonder ‘n hele paar van my tande gelaat, soos ons in die pers kan sien, nav die hofsaak. Ek is dus totaal afhanklik van interaksie met ‘n pop, want selfs die bergies wat ek snags probeer optel, het hulle standaarde, en bleekgesigbetawyfies staan min mense aan. Vriende het ek nie.

Gelukkig het ek darem my pop. By monde van my pop praat ek met die res; ek vloek, ek belaster en beswadder. Ek kruip agter my pop weg. Was dit nie vir my pop nie, het almal die regte Konrad Kots gesien; ‘n betawyfie en ‘n verloorder.

Konrad Kots

Conrad Koch se paternalisme is in wese rassisties

Ek was bietjie uitstedig en met die terugkom merk ek toe daar is ‘n herrie oor Dan en ‘n kabaal oor Steve; die twee here sou hulle glo onderskei as rassiste.

Wat my opgeval het toe ek nou bietjie begin navors, is dat almal wat Dan en Steve oor hierdie “onthulling” gerepudieer het, aangeval het eintlik, het nie een van hulle die gewraakte stellings probeer weerlê nie nee, hulle het, by wyse van spreke, die man in plaas van die bal gespeel. Terloops, en interessant, op hierdie manier het hulle dan instemming impliseer maar hulle voel dis nie mooi dat Dan en Steve sê wat hulle gesê het nie.

Dis nou paternalisme by uitstek. Veral die Conrad Koch ou (is hy ooit Engels? Ek sien op sy blad sy Engels is amper so swak soos myne) het oorboord gegaan; hy is ook die absurde idee toegedaan dat die Afrikaner Afrikaans by ander mense gesteel het. Kan jy glo? Methinks the fellow doth protest too much …

Selfs Afriforum het op die bandwagon gespring, wat ‘n verleentheid; ‘n Afrikaanse organisasie verguis ‘n Afrikaner wat gedurig persoonlike veiligheid en gerief op die spel plaas terwille van die Afrikanersaak.

Hierdie storie bevestig weer eens hoe die definisie van ‘rassisme’ verander het: ‘Rassisme’ is die noem deur wittes van enigiets wat vermoedelik swartes ongemaklik kan laat voel.

Mense /instansies wat so vinnig en ongevraagd in die bresse tree dui onteenseglik daarop dat hulle diegene, vir wie hulle in die bresse tree, as weerloos en/of onbevoeg beskou. Hierdie soort paternalisme is in wese rassisties (ou definisie).

– Jan Rap

Afriforum het totaal oorboord gegaan teen Dan Roodt

Geagte mnre. Roets en Kriel, julle aanvalle op Dan Roodt die afgelope twee dae, bring ‘n bitter smaak in baie van ons monde. Julle wat julself beskou as professionele mense en leiers van ‘n organisasie wat veronderstel is om vir die burgerregte van die Afrikaner te veg, het totaal oorboord gegaan. Die feit dat julle dr. Roodt ‘n rassis noem en dit op nasionale radio (RSG Spektrum) is n skande.

Waar is die etiese kode om nie jou eie mense in die openbaar sleg te maak nie? Het enige van julle twee menere, vir Dan gekontak om hierdie onsmaaklikheid agter die skerms te kon uitklaar? Dit blyk dat Afriforum probeer om politieke munt uit die hele fiasko te slaan, al is julle veronderstel om julle slegs toe te spits op burgerregte.

Nou wonder ek net, julle het Dan Roodt in die openbaar ‘n rassis genoem, waarom verklaar julle dit nie ook in die openbaar en verduidelik aan julle ondersteuners waarom julle geen optog gesteun het vir die vrylating van Clive Derby-Lewis of enige ander Boeregevangene nie? Of steun julle nie tronkvoëls nie? (Behalwe miskien Mandela of Bram Fischer?) Julle wil mos nou politiek speel en links en regs klappe uitdeel. Kom vertel vir al julle ondersteuners en lede waarom julle nie ons optogte gesteun het nie?

Ek wil verder van julle here weet: Wie is julle om te praat op nasionale radio asof julle almal van ons verteenwoordig? Sover ek weet, verteenwoordig julle beslis nie 4,5 miljoen blankes nie.

Dit is baie maklik om enige witman ‘n rassis te noem, en vergeet vir eers van Dan Roodt. Wat klassifiseer julle as ‘n “rassis” en “rassisme”?

Is dit rassisme as ek as Boere-Afrikaner opstaan teen plaasmoorde, volksuitwissing, die mishandeling van ons mense, diefstal van ons gronde, die weerhouding van blankes in die werksplek, teen regstellende aksie en SEB (BEE), of dat blankes in die algemeen as tweedeklasburgers beskou word? Is dit nie ‘n feit dat die meerderheid mense wat misdaad pleeg, swart is nie?Om ‘n feit om te skakel na rassisme is lagwekkend.

Dit is duidelik dat julle ‘n tipiese, FW de Klerk-sindroom op die werklikheid probeer toepas. Suid-Afrika verkeer in sy huidige toestand as gevolg van witmense wat ‘n liberale politieke korrektheid wou toepas en nou duidelik ontplof dit in hulle eie gesigte. Kyk maar hoe lyk dit in die sogenaamde parlement!

Julle roem julle doen baie vir die Afrikaners. Ek sal graag wou weet hoeveel anderskleuriges en nie-Afrikaners julle huisves? Namens wie praat julle? En definieer asb. of julle selfbeskikking voorstaan. En indien julle selfbeskikking voorstaan, in watter vorm sal julle dit steun?

Verder wil ek weet of die FW de Klerk-stiging enige donasies aan julle maak?

Miskien is baie van ons maar soos Dan, net ‘n klomp “rassiste” (met ander woorde mense wat die onbekwaamheid en geweld raaksien). Wat ons ook al doen in die land, sal ek as witman altyd as ‘n “rassis” geëtiketteer word.

So, noem ons soort maar wat julle wil, om polities korrek te wees. Self sal ek seker vir ewig die swaard van “rassisme” bokant my kop moet verduur.

– Wessel Basson

Liberalisme in sy laaste stuiptrekkings?

Net gister ontvang ek ‘n vonkpos rakende ‘n artikel wat geskryf is deur Prof. Herman Gillomee gedateer 3 November 2014 waarin hy die Marxistiese ANC regering van “raad” voorsien hoe om die ekonomie weer in die regte rigting te trek.

Hy bepleit ‘n meer inklusiewe vorm van regering maar maak sekere aannames rakende regimeverandering en die redes daaragter. Volgens Gillomee was die finansiële krisis van die 1980’s in Suid-Afrika uiteindelik verantwoordelik daarvoor dat die ANC sonder veel moeite die nuwe regering geword het.

Enigiemand met basiese kennis sal weet dat dit ver van die waarheid is. Alhoewel dit dalk ‘n bydraende faktor kon gewees het, was dit nie die primêre beweegrede agter die ANC se klinklare sukses om die NP te ontsetel nie.

Nou ek verstaan dat Prof Gillomee ‘n geskiedkundige is en nie ‘n ekononoom nie en nog minder ‘n ekonomiese geskiedkundige. Dit is te bespeur in van die wilde aannames wat hy maak.

Of miskien is dit nie aannames nie maar ‘n verontskuldiging van die wit liberales se rol en verantwoordelikheid in die fiasko wat vandag as Suid-Afrika bekend staan? Prof Gillomee is juis een van die Dakargangers wat willens en wetens met ‘n ongenaakbare marxistiese vyand gaan heul het.

Hierby bedoel ek nie verraad teenoor die NP regering nie maar verraad teenoor burgers van die land, beide wit en swart. Burgers wat nou uitgelewer is aan patologiese korrupsie, misdaad, die geite van sjampanje sosialiste, populistiese demagoë wat slegs in mag belangstel en onbevoegdheid wat aansienlike afmetings begin aanneem.

Op hierdie gegewe dag publiseer Volksblad, nog een van Naspers se kreupel dagblaaie wat ‘n stryd teen Afrikaners voer, ‘n artikel wat as (nog) ‘n dwarsklap teen Steve Hofmyer moet dien. Hierin word daar aangevoer dat Afrikaners na “leiers” moet soek en nie “dwase” nie.

Waar is al die liberale Dakargangers wat hulself al vir meer as 20 jaar onderling op die skouer klop? Hulle wat sommer namens ons lewensbelangrike besluite geneem het en die las van leierskap geannekseer het? Hoekom is hulle nie meer die “leiers” waarna Naspers so naarstiglik soek nie?

Miskien omdat hulle eenkant in verwarring sit en kyk hoe ‘n eens vooruitstrewende land verander in alles wat Afrika noord van ons grense altyd belowe het dit sal word. Heel moontlik omdat hulle ideologiese turksvye net so onaptytlik is soos dié van die marxisme en hulle dit besef, terwyl die gewone man op straat die een is wat daagliks die spit moet afbyt.

Heel logies dus, het liberalisme regdeur die wereld sy rakleeftyd oorskry en word nou grootliks oral verwerp.

Met die onlangse Amerikaanse middeltermynverkiesing het die Republikeine – gelei deur die konserwatiewe Tea Party – nie gewoon net die Demokrate met hulle “progressiewe” liberale agenda verslaan nie, maar heeltemal verpletter.

In Duitsland het duisende werkersklasmense die strate ingevaar en aangedring daarop dat die liberale multikulti-idee van massa-immigrasie gestaak moet word. Der Spiegel berig dat etniese Duitse kinders begin terugkeer na Nazi-idees in hoe hulle mekaar groet. Moskees word sommer in die proses afgebrand.

Marie Le Pen se Front Nasionaal het met rasse skrede vooruitbeweeg terwyl die party die Europese Unie se greep op Frankryk en ander lidlande immer harder bevraagteken. Die EU is in wese ‘n Sosialistiese Demokrasie, dus liberaal.

Dieselfde geld vir UKIP in Brittanje. Oral in die wêreld is die skuif na regs te bespeur en stadig maar seker draai die man op straat se uitkyk terug na die tradisionele, die konserwatiewe en kom kiesers in opstand teen die liberaal se magtigste wapen: Politiese korrektheid.

Ook in Suid Afrika gebeur dit. Soos Dr. Dan Roodt voorheen genoem het, is die linkses besig om beheer oor Suid-Afrika te verloor. Die skuimbek-walgwors-kaskenades van ‘n Conrad Koch, Johan Pienaar, Rebecca Davis, Daily Maverick, Mail & Guardian en natuurlik Naspers se agterryers getuig hiervan. Dit is soos die laaste stuiptrekkings van ‘n vark by die abattoir: Besonder skril en sonder doel.

En intussen, terwyl liberale ten alle koste voorgee dat alles nog piekfyn is, behalwe nou vir daardie paar rassistiese wit Afrikaners wat weier om polities korrek te wees, is die land wat voorheen bekend was die Republiek van Suid-Afrika stadig maar seker besig om die abnormale as die normale te omhels.

Soos Crunchie graag sê: “Alles IS honkiedorie in hierdie sirkus…hoe KA-AKKER hoe BETER. Om te steel is self empowerment, om te moor is culture preservation en onthutsing oor verkragting is ‘n white colonialist thing that has no place in Africa.”

Götterdämmerung

Gaan die Republikeine verder oorlog maak?

President Barack Obama se administrasie sal in sy laaste twee jaar ‘n opdraende stryd moet voer, nadat die opposisie – die Republikeine – beheer oor die Senaat in die middeltermynverkiesing gewen het.

Elke Senaatskomitee sal nou onder voorsitterskap van ‘n Republikein staan, alles van buitelandse beleid tot Hooggeregshofaanstellings.

Die Republikeine beheer die Huis van Verteenwoordigers sowel as die Senaat.

Die party het ses bykomende setels in die senaat benodig om ‘n meerderheid te behaal, en het daarin geslaag om sewe setels te verower.

Die toekoms wat die VSA se buitelandse beleid betref, is egter duister, aangesien gewone Amerikaners toenemend gekant is teen oorlog, maar weens drakoniese binnelandse wetgewing nie in opstand kom teen hulle heersers se konflikgedrewe uitbreidingsug nie.

Onder aanvoering van NAVO is Bulgarye, Estland, Letland, Litoue, Romenië, Slovakye, and Slovenië reeds onder die VSA se hak en is die Nuwe Koue Oorlog in die Oekraïne aangekondig.

Republikeine het sedert 1970 binnelandse veiligheid beklemtoon.

Vir byna al die afgelope 40 jaar, het stembusse getoon dat die Amerikaners die Republikeine met veiligheid, buitelandse sake en die weermag vertrou, maar met George Bush het dié ingesteldheid dalk verander.

Sedert 1972, was dit vir die Republikeinse Party maklik om kiesers te vertel dat hulle militêre uitgawes beheer.

Dit was verreweg hul topbestedingsprioriteit, terwyl Demokrate oënskynlik altyd veg teen armoede.

Gewapen met meerderheid in beide huise, kan ‘n Republikeinse Kongres President Obama egter in die verleentheid stel met veranderinge aan sy gesondheidsorgplan.

Die GOP kan ‘n 1996-Wet gebruik om feitlik enige regulasie te stop, ten minste totdat Obama sy veto uitoefen, wat die politieke gang in Washington kan vertraag.

Die president se immigrasieplanne is natuurlik ook van die baan met felle Republikeinse teenkanting en ‘n onmiddellike befondsingsmeganisme vir die Keystone-oliepyplyn kan so gou as Januarie gebeur.

Vir die militêr-industriële kompleks in Washington is dit die Pentagon wat hul winsgrense waarborg. Oorlogskoors uit daardie oorde sal dus nie gou taan nie. Dit het ook nie onder die Demokrate en ‘n swart president gewapen met ‘n Nobelvredesprys nie.

Washington se werklike teiken is Rusland wat oorloop van natuurlike energiehulpbronne. Dit sal interessant wees om te sien hoe die Republikeine dit gaan benader.

 

Steve Hofmeyr het reg op sy perspektief

Dit is Steve Hofmeyr se reg om vanuit ’n bepaalde perspektief na die ontwikkeling van Suid-Afrika se geskiedenis te kyk. Dit wil voorkom asof Hofmeyr se perspektief inpas by die siening dat Suid-Afrika se geskiedenis handel oor die koms van die wit man na Suid- Afrika. Wat met sy Westerse kultuur, die christendom, eiendomsreg, ensovoorts gesien kan word as die wit beskawer van Suid Afrika.

Vir sommiges handel die ontwikkeling van Suid-Afrika se geskiedenis egter oor die stryd tussen wit en swart nasionalisme, of ’n bevrydingstryd, of die stryd tussen ryk en arm, of die stryd tussen kapitaliste en arbeiders, of oor kolonialisme en imperialisme, om net ’n paar te noem. Gebeure uit die geskiedenis word dikwels aangehaal om ’n bepaalde perspektief te regverdig.

Hofmeyr se siening moet miskien net weer ’n bewustheid wek dat daar meer as een perspektief oor Suid-Afrika se geskiedenis bestaan. Hopenlik open dit weer die debat en gesprekke hieroor.

Die vraag is egter watter perspektief of ideologie gaan Suid-Afrika se toekoms bepaal? Watter perspektief of ideologie sal daartoe lei dat Suid-Afrika tot sy volle potensiaal kan ontwikkel? Gaan daar ’n beweging na regs (vrye mark) of links (sosialisme) in die ekonomie wees? Gaan daar beweging na verdere demokrasie of miskien outokrasie wees?

– Dr. N. Keyser, Bloemfontein