Dit is Steve Hofmeyr se reg om vanuit ’n bepaalde perspektief na die ontwikkeling van Suid-Afrika se geskiedenis te kyk. Dit wil voorkom asof Hofmeyr se perspektief inpas by die siening dat Suid-Afrika se geskiedenis handel oor die koms van die wit man na Suid- Afrika. Wat met sy Westerse kultuur, die christendom, eiendomsreg, ensovoorts gesien kan word as die wit beskawer van Suid Afrika.
Vir sommiges handel die ontwikkeling van Suid-Afrika se geskiedenis egter oor die stryd tussen wit en swart nasionalisme, of ’n bevrydingstryd, of die stryd tussen ryk en arm, of die stryd tussen kapitaliste en arbeiders, of oor kolonialisme en imperialisme, om net ’n paar te noem. Gebeure uit die geskiedenis word dikwels aangehaal om ’n bepaalde perspektief te regverdig.
Hofmeyr se siening moet miskien net weer ’n bewustheid wek dat daar meer as een perspektief oor Suid-Afrika se geskiedenis bestaan. Hopenlik open dit weer die debat en gesprekke hieroor.
Die vraag is egter watter perspektief of ideologie gaan Suid-Afrika se toekoms bepaal? Watter perspektief of ideologie sal daartoe lei dat Suid-Afrika tot sy volle potensiaal kan ontwikkel? Gaan daar ’n beweging na regs (vrye mark) of links (sosialisme) in die ekonomie wees? Gaan daar beweging na verdere demokrasie of miskien outokrasie wees?
– Dr. N. Keyser, Bloemfontein
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.