Myne sal Amcu-aansoek teenstaan om SMS’se te verbied

Joseph Mathunjwa en Ben Magara
Joseph Mathunjwa en Ben Magara

Die platinumprodusente, Amplats, Lonmin en Implats sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur die vakbond, Amcu teenstaan.

Amcu het aansoek gedoen dat die platinumprodusente nie meer die stakende mynwerkers per SMS mag kontak nie.

Die platinumprodusente het SMS’se gebruik om die werkers regstreeks oor die nuutste loonaanbod in te lig.

Die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara sê tot 67 persent van Amcu-lede het aangedui dat hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle vrees vir hul lewens.

Magara sê die maatskappye oortree geen arbeidswetgewing deur die SMS’se uit te stuur nie.

Hy sê ‘n derde van die jaarlikse platinumproduksie is al verlore.

Die platinumprodusent, Lonmin, het die staking in Rustenburg in Noordwes as moordend beskryf. Dit duur reeds 17 weke.

Die maatskappy sê dit kan tot sy ondergang lei indien dit nie omgekeer word nie.

Magara, ‘n Zimabwiër, sê die staking gaan herstrukturering en afleggings onvermydelik maak.

Intussen het die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, by ‘n inligtingsessie oor die mynbedryf en die bykans vier maande oue-staking in die platinum-sektor, sy eie rykdom verdedig terwyl werkers krepeer.

Mathunjwa het gereageer op ‘n berig in The Star dat hy “in luuksheid baai”.

Die koerant het berig dat hy drie BMW’s in sy naam geregistreer het teen ‘n beraamde totale waarde van R900 000.

The Star beweer dat hy ook drie huise besit wat in sy naam is. Een van die eiendomme is ‘n vier-ster gastehuis.

Mathunjwa het ook by die ontbytinligtingsessie gesê dat die minerale van Suid-Afrika aan sy burgers eerste behoort voordat dit na ander lande gaan.

“Die minerale moet Suid-Afrikaners eerste bevoordeel voordat dit tot voordeel van die mense in Londen of waar hulle ook al is, gaan” Mathunjwa gesê.

Hy het gesê demokrasie beteken niks as mense op die grond ly nie.

Sowat 200 Lonmin-myners, onder wie ook inwoners van Marikana, sal Dinsdag in die Ga-Rankuwa landdroshof, noord van Pretoria, verskyn.

Die groep word aangekla van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens en intimidasie.

Die mense is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem, die dag waarop 34 mense deur die polisie doodgeskiet is.

Nog tien mense, onder wie twee polisielede en twee myn veiligheidsbeamptes, is ook destyds gedood toe die mynstaking in geweld ontaard het.

Aanklagte van moord is voorwaardelik deur die hof teruggetrek.

 

Misdaad op Stellenbosch – die wiel draai

usDeur Leon Lemmer.

Die ontvoering van ‘n student wat op pad was om ‘n toets te skryf, het gesorg vir ‘n voorbladsy-berig in Die Burger (Praag 13 deser). Sedertdien het hierdie koerant afgesien van sy beleid om net gunstige berigte oor Russel Botman se Universiteit Stellenbosch (US) te plaas. Talle briewe oor die onverkwiklike misdaadsituasie op die kampus en in die dorp is gepubliseer. Pas (19 deser) het nog ‘n berig oor hierdie saak op die voorbladsy verskyn. ‘n Matie-student het omstreeks ses-uur in die middag gaan draf en is met ‘n mes aangeval. Sy het ‘n steekwond van 4 cm in haar ribbes gekry en toe sy ontvlug, is sy snymerke op haar rug toegedien.

Dit lyk asof baie mense in die universiteitsgemeenskap en elders nou uiteindelik sat vir Botman se transformasie en sy vryheidslofliedere is. Die wiel het gedraai. As ‘n voorbeeld hiervan, haal ek die uitstekend geformuleerde brief van Karl Kemp van Stellenbosch (Die Burger, 17 deser, p 11) volledig aan.

“Stellenbosch word deur misdaad verlam, en ons, die slagoffers, se hande is afgekap as gevolg van ons vertroue in die universiteit.

Ons studenteleierskap-struktuur is ‘n poespas van administratiewe tydmors en onbenullighede. Ons universiteitsraad is net ingestel op regeringsmandate en ‘n gedans na politieke pype. Ons polisiediens word beskuldig van geweld en haat, en is toegerus vir ondoeltreffendheid. Feitlik elke groot beleidsverandering of raadsbesluit is gerig op transformasie, winsbejag en om politici te paai.

Intussen word studente voor hul koshuise verkrag. Eiendom van etlike duisende rande word gesteel. Straataanvalle is alledaags; nie meer traumaties nie, maar net ‘n deel van die lewe. Ons leef in voortdurende vrees en paranoia.

Misdadigers lag vir ons. Stellenbosch is vir hulle soos ‘n inkopiesentrum met ‘n ewigdurende 100%-uitverkoping. Die grootste, mees drukkende en pertinente kwessie op ons kampus is nie transformasie of politiek nie – dit is misdaad.

Die prioriteit van die studente en die bestuur is heeltemal uiteenlopend – tot ‘n lagwekkende skaal.

Dit is nie ‘n kwessie van swart of wit nie. Dit is ‘n kwessie van lewe of dood. Dit is hier waar ons die streep in die sand trek; dit is hier waar die studente se stem oplaas gehoor moet word.

Dit wil voorkom of die universiteit nie meer uit lewende studente bestaan nie, maar uit klasgelde en demografiese verteenwoordiging. Ons hele beeld word op politieke korrektheid gebou.

Die studente word daarvan beskuldig dat hulle agterlosig, rumoerig en dronk is – kortliks, ons word daarvan beskuldig dat ons studente is, en daar word aan ons gesê dat ons die skuld moet kry vir die tragedie waarin die kampuslewe ontaard het.

Die universiteitsraad hou ons op ‘n afstand, van waar hy eerstejaars indoktrineer met vae konsepte soos ‘kritieke betrokkenheid’ en ‘sosiale interaksie’, wat lei tot ‘n leierskorps wat meer waarde in koffie-afsprake vind as in probleemoplossing.

Die universiteit het geen plig teenoor die armes en wanhopiges se veiligheid nie; diegene wat na bewering gedryf word tot misdaad soos verkragting. Eerder, die universiteit het ‘n plig om na die veiligheid van studente om te sien, en Russel Botman, sy raad, die polisie en die sogenaamde studenteleiers het almal hierin misluk.

Die grafskrif van die laaste sewe jaar onder Botman se bestuur is ‘n lang lys van roof, verkragting en verrotting. Dit is die absolute laaste strooi.”

Nadat u hierdie weergawe van Karl Kemp se brief gelees het, kan u dalk die moeite doen om sy volledige brief op die werbwerf bonfiire stellenbosch te lees ten einde te sien wat Die Burger uitgelaat het. Die koerant se verskoning sal wees dat die brief te lank was om volledig te publiseer. Lees gerus ook die ander briewe oor hierdie onderwerp op daardie webwerf en die kommentaar onder hierdie briewe. Let op hoe baie Engels pleks van Afrikaans gebruik word; ook deur Afrikaanssprekendes. Dit blyk onder meer dat ‘n mens in Engels met die US se sekuriteitsdiens moet kommunikeer as jy reaksie wil hê. Dít aan ‘n universiteit wat eens Afrikaans was. Dít aan ‘n universiteit wie se sekuriteitsdiens geensins die demografie weerspieël nie.

Wanneer daar enigsins sprake van “rassisme” by die US is, in die sin van wittes wat nie-wittes “benadeel”, klim Russel Botman dadelik op die wa. Wanneer wittes die slagoffers is, soos in bogenoemde gevalle, word die saak aan ‘n viserektor en die skakelbeampte oorgelaat. Dié viserektor se reaksie is op die US-webwerf te lees.

Gauteng se Mulder kondig sy uittrede uit VF+ aan

Jaco Mulder
Jaco Mulder

Die leier van die Vryheidsfront Plus in Gauteng, Jaco Mulder het sy skielike uittrede uit die politiek aangekondig.

Mulder sê dit voel na die mees geleë tyd om ná die pasafgelope verkiesing die tuig neer te lê. Hy sê hy het die afgelope 20 jaar met ywer in die party gedien.

Hy is sedert Februarie 2003 die leier van die party in Gauteng en later as lid van die Gautengse Wetgewer.

Daar word bespiegel dat Mulder moes plek maak vir ‘n partylid wat nie deel van die Mulder-familie is nie weens besware van nepotisme teen die VF+.

Pieter Mulder, VF Plus-leier, het in sy reaksie sy dank en waardering teen mnr. Mulder uitgespreek.

“Hy het as voorsitter van die VF Plus se strategiekomitee ’n groot rol gespeel in die herloodsing van die party voor die 2014-verkiesing. Hiervoor is ons hom baie dank verskuldig,” het Pieter Mulder gesê.

Droster-offisier kan Libië in volskaalse burgeroorlog stort

Genl Haftar
Genl Haftar

Bloedige gevegte tussen strydende militante groepe in die Libiese hoofstad, Tripoli, het die lewens van 4 mense geëis en talle gewond.

Dit volg nadat gewapende magte van genl. Khalifa Haftar die gebou van die tussentydse parlement bestorm het en talle parlementslede uit die gebou moes vlug.

Gevegte het ook vroeg Maandagoggend uitgebreek in Benghazi in oos-Libië nadat gewapende aanvallers vuurpyle na die stad se lughawe, weermag en veiligheidmagte gevuur het.

Daar is gerugte dat die ondersteuners van die droster weermagoffisier, Haftar, die aanval uitgevoer het.

Sy magte het Vrydag ook ‘n grootskaalse lug-en grondaanval op Benghazi uitgevoer wat daartoe gelei het dat die regering die gebied tot ‘n vlugspersone verklaar het. Die aanvallers eis dat die regering ontbind word.

Tripoli beskuldig Haftar se magte, gerugsteun deur vegvliegtuie , helikopters en vuurpyllanseerders van die aanvalle wat talle ontleders meen tot ‘n volskaalse burgeroorlog kan lei.

Haftar probeer homself voorhou as ‘n verdediger van die Libiese mense wat die land van Islamitiese “ekstremiste” wil suiwer.

Haftar is ‘n belangrike speler te midde van die politieke chaos wat Libië steeds teister drie jaar ná die onwettige Amerikaanse inval in die land.

Haftar het sy militêre loopbaan onder Libië se voormalige monargie begin. In 1969 was hy een van ‘n klein groepie, gelei deur Gaddafi wat van Idris ontslae geraak het om Gaddafi vir die daaropvolgende 42 jaar aan bewind te kry.

Haftar se ommeswaai van ‘n lojale Gaddafi bondgenoot na leier van die opposisie, byna twee dekades later, was skynbaar as gevolg van Libië se lang en rampspoedige oorlog met Tsjad tussen 1978-1987.

Haftar is gevange geneem in Tsjad, maar is glo dadelik vrygelaat nadat hy die Libiese leier verloën het.

Die bevelvoerder van Libië se spesiale magte het Maandag aangedui dat sy troepe aangesluit het by Khalifa Haftar.

“Ons is met Haftar,” het die bevelvoerder Wanis Bukhamada aan Reuters gesê.

Die spesiale magte is die beste opgeleide troepe van Libië se ontluikende leër. Hulle is sedert verlede jaar in Benghazi ontplooi.

Benghazi is ook in die nuus in die VSA omdat die aanval in 2012 op die Amerikaanse CIA-basis wat deur Hillary Clinton en die Obama-administrasie toegesmeer word, die Demokrate dalk die volgende verkiesing kan kos.

Clinton was glo besig om onwettig wapens uit die Libiese arsenaal te smokkel na die rebelle in Sirië om ‘n burgeroorlog daar aan te stig.

Bande tussen Haftar en die CIA is deur die New York Times bevestig en gaan sover terug soos 1991.

Die Amerikaanse intelligensie-dienste het die opleiding van Haftar en sy 350-sterk troepekontingent befonds en ondersteun in “sabotasie en ander guerrilla-vaardighede” in Tsjad as deel van pogings in die omverwerping van Gaddafi.

Toe die regering van Tsjad self omvergewerp is in 1990, het die VSA probeer om ‘n nuwe tuiste vir Haftar en sy troepe te reël.

Na mislukte pogings om hulle in Kenia en Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) te vestig, moes Washington noodgedwonge uiteindelik asiel toestaan en Haftar na die VSA laat kom.

Die volgende hoofstuk van Haftar se lewe was 20 jaar, oënskynlik heel rustig saam met sy gesin in die voorstedelike Virginia, net ‘n paar kilometer weg van die CIA se hoofkwartier in Langley.

Die VSA se militêre magte het die getal vliegtuie ​​in Italië verdubbel om Libië te ontruim, het CNN Dinsdag berig.

Die besluit om te ontruim as geweld in die Libiese hoofstad toeneem word tans “minuut per minuut, uur na uur” gevolg, het ‘n Amerikaanse verdedigingsamptenaar aan CNN gesê.

Intussen het die Saoedi-ambassadeur in Libië aangekondig dat sy land se ambassade en konsulaat in Tripoli gesluit is van Maandag as gevolg van die geweld, en die personeel het Tripoli verlaat.

Turkye, nog ‘n Amerikaanse bondgenoot, het soortgelyke maatreëls aangekondig en sy konsulaat in Benghazi gesluit, het die Anadolu-nuusagentskap berig.

Twee renosters in Natal gestroop

rhinopoachersTwee renosterkoeie is doodgemaak en van hulle horings gestroop by die Tala-privaatwildreservaat naby Pietermaritzburg, het RSG berig.

Die jongste voorval bring die getal renosters wat tot dusver vanjaar in Kwazulu-Natal gestroop is, op 41 te staan.

In dieselfde tydperk verlede jaar is slegs 27 renosters gestroop. Die bestuurder van die wildreservaat, Phelelani Duma, sê hulle het gisteroggend op die twee onthoringde renosters afgekom.

Duma sê die kwessie is by die Valke aangemeld.

Volgens hom is die stropery ‘n nuwe verskynsel in privaatreservate in en om Pietermaritzburg.

‘Wit Zoeloe’ se agtergrondsanger doodgeskiet

Clegg agter Masuku
Clegg agter Masuku

Johnny Clegg, die “wit Zoeloe” se een agtergrondsanger is tydens ‘n rooftog in Troyeville, Johannesburg doodgeskiet.

Die Gautengse polisie stel ondersoek in nadat Clegg se medesanger Bongani Masuku deur rowers vermoor is.

Die polisie sê Masuku is Sondagaand dood. Hy het in 1992 met Clegg begin saamwerk.

Volgens die polisie het vier swartes op Masuku toegesak terwyl hy besig was om sy motor te parkeer, ‘n vuurwapen op hom gerig en sy selfoon en die motorsteutels geëis.

Die rowers en Masuku het daarna handgemeen geraak waarna een van die mans Masuku verskeie kere geskiet het.

Die aanvallers het daarna in ‘n minibus op die vlug geslaan.

Masuku het toe self na ‘n nabygeleë brandweerstasie gery waar hy inmekaargesak en dood is.

Clegg het op sy amptelike webwerf gesê hy is geskok en hartseer oor Masuku se ontydige en sinlose dood. Hy wou nie met die media praat nie.

Dit is die tweede sanger wat met Clegg saamgewerk het, wat vermoor word. Dudu Zulu, ook ‘n goeie vriend en perkussiespeler in Clegg se eerste groep Savuka, is doodgeskiet in KwaZulu-Natal in 1992.

Zuma wil Afrika Bystandsmag sien

asfPresident Jacob Zuma het die Afrika-Unie versoek om maatreëls wat daarop gemik is om vrede en bestendigheid op die vasteland te verseker, te laat geld.

Deel van die vermoëns wat die AU nodig het, is volgens die president die totstandkoming van die Afrika Bystandsmag.

Die Mag, waaroor daar voorheen ooreengekom is, sal doelgemaak vir snel-ontplooiing in krisisgebiede wees.

In Mei het Reuters berig dat kritiek geopper is oor Afrika se traagheid om sy eie vredesoperasies uit te voer, en dat swart regerings eerder wag op hulp en befondsing van die VN en Westerse skenkers.

Zuma het in ‘n verklaring sy kommer gelug oor die bedrywighede van gewapende rebelle in verskeie dele van Afrika.

Hy het ook die ontvoering van die meer as 270 skoolmeisies van Nigerië deur die terreurgroep Boko Haram, en die onlangse moord op burgerlikes in Kenia skerp veroordeel.

Zuma sê Suid-Afrika sien daarna uit om by die volgende vergadering van die Afrika-Unie se Vredes-en Veiligheidsraad, die veiligheidstoestand op die vasteland onder die loep te neem.

Lonmin vra dat stakers onderhandeling hervat

amcu2Die platinumprodusent, Lonmin het ‘n herude oproep aan die mynwerkers-vakbond, Amcu gerig om salaris-onderhandelings te hervat.

‘n Woordvoerder sê samesprekings kan hervat word terwyl werkers na hul werke terugkeer.

Amcu-lede eis ‘n basiese maandelikse salaris van R12.500 per maand.

Die staking is by die wêreld se drie grootste platinumprodusente Lonmin, Implast en Amplats en duur reeds 16 weke.

Lonmin sê stakende werkers se ellende weens hul verlies aan onkomste sal verlig word as werkers terugkeer werk toe terwyl daar terselfdertyd ‘n oplossing vir die geskil gesoek word.

Die polisie ondersoek nog berigte dat ‘n moordlys opgestel is om Amcu-mynwerkers te teiken wat wil terugkeer werk toe.

Werkers wat op die myne se sms-versoek gereageer het om terug te keer werk toe, is glo gelys.

Volgens die berigte verskyn die name van vier mense wat die afgelope tyd in die platinumgordel vermoor is, op die beweerde moordlys.

Streng veiligheidsmaatreëls is by myne ingestel waar die werkers verlede week vermoor is.

Myners word met pantservoertuie werk toe en terug begelei, maar die polisie sê niemand kan hul veiligheid op die lang duur waarborg nie.

Die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, het vroeër versoek dat enigiemand wat inligting het oor die sogenaamde moordlys, dit by die polisie moet aanmeld.

Hy het diegene wat dit opgestel het, veroordeel. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Kospakkies vir stakende werkers by platinummyne in Noordwes sal van Johannesburg vervoer word. Die Marikana-steungroep en Gift of the Givers asook ander organisasies het geld ingesamel vir die duisende sukkelende werkers.

Die woordvoerder van die Marikana Steungroep, Rehad Desai sê die situasie stuur op ‘n humanitêre ramp af indien die mynwerkers nie gehelp word nie.

Zille gee toe dat Mazibuko ‘n swart figurant is

Zille in haar kombuisbediende-mondering, sweep swart gemoedere op oor grond
Zille in haar kombuisbediende-mondering, sweep swart gemoedere op oor grond

In ‘n buitengewone skerp aanval op Lindiwe Mazibuko, haar party se voormalige parlementêre leier, het Helen Zille gedurende ‘n federale partyvergadering die “waarheid” oor Mazibuko onthul en haar as ‘n onbekwame swart sukkelaar uitgebeeld.

Die DA, wat gewikkel is in ‘n bitter stryd oor sy swart leierskap, is geskud deur Zille se opmerkings dat sy Mazibuko “gemaak” het en deurentyd “beskerm” het teen haar eie wanprestasie.

 

Daarmee het Zille uiteindelik toegegee wat algar lankal vermoed het: Dat Mazibuko bloot as ‘n swart figurant gebruik is vir die DA se vertoon van “nie-rassigheid”.

Die term “nie-rassigheid” is ‘n eufemisme vir verswarting.

Zille se houding teenoor swart leiers in die DA se geledere het intussen tot haar toenemende ongewildheid bygedra en die spanning binne die koukus verder verhoog.

Bronne beweer dat sy nie weer as partyleier verkies sal word indien daar nou ‘n stemmery gehou moet word nie.

Zille word verkwalik vir die party se onlangse swak prestasie by die stembus nadat sy vroeër belowe het dat die DA ten minste 30% van die stemme sal kry. Die party kon slegs 22% inpalm.

Zille het gesê gesprekke binne die party se uitvoerende federale raad mag nie na buite gekommunikeer word nie en die skuldiges sal binnekort aan die pen ry.

 

Olifantbul vir sy tande doodgeskiet in Krugerwildtuin

ivoorDis nie net meer renosters wat vir hul horings bedreig word nie.

‘n Olifant is in die Pafuri-streek van die Nasionale Kruger-wildtuin vir sy tande gestroop.

Die hoof van SanParke se teen stropingseenheid, Johan Jooste, sê die stropers het die olifantbul eers doodgeskiet en daarna sy tande uitgeslag.

Dié stropery is die eerste so ‘n voorval die afgelope dekade.

Spoorsnyers het die spore van vier mense na Mosambiek gevolg.

Volgens SANparke is teen-stropingsveldtogte die afgelope tyd eerder daarop gemik om renosterstropery te bekamp.

Met die volgehoue olifantstropery in die res van Afrika wat dit egter slegs ‘n kwessie van tyd voordat dié bykomende plaag Suid-Afrika weer sou tref.