
Johnny Clegg, die “wit Zoeloe” se een agtergrondsanger is tydens ‘n rooftog in Troyeville, Johannesburg doodgeskiet.
Die Gautengse polisie stel ondersoek in nadat Clegg se medesanger Bongani Masuku deur rowers vermoor is.
Die polisie sê Masuku is Sondagaand dood. Hy het in 1992 met Clegg begin saamwerk.
Volgens die polisie het vier swartes op Masuku toegesak terwyl hy besig was om sy motor te parkeer, ‘n vuurwapen op hom gerig en sy selfoon en die motorsteutels geëis.
Die rowers en Masuku het daarna handgemeen geraak waarna een van die mans Masuku verskeie kere geskiet het.
Die aanvallers het daarna in ‘n minibus op die vlug geslaan.
Masuku het toe self na ‘n nabygeleë brandweerstasie gery waar hy inmekaargesak en dood is.
Clegg het op sy amptelike webwerf gesê hy is geskok en hartseer oor Masuku se ontydige en sinlose dood. Hy wou nie met die media praat nie.
Dit is die tweede sanger wat met Clegg saamgewerk het, wat vermoor word. Dudu Zulu, ook ‘n goeie vriend en perkussiespeler in Clegg se eerste groep Savuka, is doodgeskiet in KwaZulu-Natal in 1992.
