Duisende Amcu-lede stroom na Rustenburg

Duisende mynwerkers het by die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg begin aankom.

Hulle sal na verwagting deur die president van Amcu, Joseph Matunjwa toegespreek word oor nuwe looneise.

Matunjwa sal die stakende mynwerkers waarskynlik inlig oor toekomstige optrede na ‘n ooreenkoms in beginsel bereik is tussen die platinumprodusente en Amcu.

Die mynwerkers het op 23 Januarie met die langste staking in die geskiedenis begin.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het gesê die ANC sal nie regstreeks inmeng in die onderhandelings tussen die vakbond en platinummaatskappye nie.

Ramaphosa sê vakbonde het die grondwetlike reg om werkers se eise te verdedig.

Die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramatlhodi het hom vroeër aan die bemiddeling tussen die twee twistende partye onttrek toe hy nie daarin kon slaag om ‘n beloofde ooreenkoms af te dwing nie.

Intussen sal die Farlam-kommissie verdere getuienis van “mnr X” aanhoor.

Mnr X het voorheen voor die Marikana Kommissie van Ondersoek getuig dat Amcu NUM-lede wou gaan vermoor.

Hy getuig vanuit ‘n onbekende plek by wyse van ‘n video-verbinding.

Die Kommissie het Vrydag vroeg verdaag nadat Mnr X gevra het om sy tradisionele geneser te raadpleeg.

Tien mense, onder wie twee polisielede en twee veiligheidswagte van Lonmin is dood voor die polisie 34 stakende mynwerkers doodgeskiet het 16 Augustus 2012.

Mnr X het getuig oor kannibalistiese rituele waaraan hulle gedurende dié tyd deelgeneem het.

Hulle het onder meer mensvleis van die twee vermoorde Lonmin veiligheidswagte geëet in opdrag van ‘n tradisionele geneser.

Hy het het hulle verseker dat Amcu sal onoorwinlik wees as hulle sy moetie gebruik.

Ooreenkoms in platinumbedryf kom

jseDie rand het effens verstewig teen die meeste geldeenhede nadat sprake van ‘n moontlike ooreenkoms tussen platinum-maatskappye en stakende mynwerkers bekend geraak het.

Die twee twistende partye sal waarskynlik ‘n ooreenkoms bereik om ‘n einde te bring aan die uitgerekte staking in die platinumbedryf.

Die ooreenkoms sal waarskynlik nog dié week onderteken word. Dit sal die einde beteken van die langste mynwerkingstaking in die land se geskiedenis.

Die rand het tot R10,65 teen die Amerikaanse dollar verhandel nadat Amcu in beginsel ingestem het tot Amplats, Implats en Lonmin se nuwe loonaanbod.

Die aandeelpryse van die drie groot platinumprodusente het Donderdag skerp gestyg.

Die vakbond sê die staking in Noordwes se platinum-gordel sal voortgaan totdat ‘n ooreenkoms onderteken is.

Besware is geopper oor 235 werkers wat gedurende die staking afgedank is omdat hulle nie vir noodsaaklike dienste opgedaag het nie. Vakbondlede van Amcu eis dat die werkers heraangestel word voordat hulle die skikking aanvaar.

Lonmin se werkers het die aanbod in beginsel aanvaar, maar het dië voorwaardes gestel.

Stakende mynwerkers het hul vakbondleier, Joseph Mathunjwa, ‘n mandaat gegee om die maandelikse verhoging van ‘n duisend rand vir die laags-besoldigde werkers oor ‘n tydperk van drie jaar te aanvaar.

Volgens kenners in die mynbedryf, sal die produksie binne ‘n week hervat kan word.

Noudat hulle geslaag het, sal Amcu na verwagting alles insit steun om die land se goudmyne ook by die NUM af te rokkel.

Die vakbond kan binne ’n paar weke ook by goudmyne begin staak, mits ’n aansoek in die arbeidshof in sy guns beslis word, sê arbeidskenners. Die saak is verlede week aangehoor.

Die druk by goudmyne na die Marikana-slagting vir R12 500 per maand, laai op.

Amcu verteenwoordig amptelik slegs 17% van die goudmynwerkers, maar is die grootste vakbond by die land se drie grootste en winsgewendste goudmyne, Driefontein van Sibanye Gold, Mponeng van AngloGold Ashanti en Khusasalethu van Harmony.

Nadat die nuus van die deurbraak in die platinumbedryf rugbaar geraak het, het Numsa verklaar dat die voortslepende staking by Transnet se Ngqura-vragterminaal in Port Elizabeth sal voortduur.

Numsa is amptelik steeds deel van Cosatu, maar dreig sedert die begin van die jaar om uit te stap en het nie deelgeneem aan die ANC se verkiesingsveldtog nie.

Agter die skerms beywer die Numsa-bestuur hulself om van Zuma se netwerk van bondgenote in die vakbondbedryf ontslae te raak.

Die vakbond se nasionale tesourier, Mphumzi Maqungo, het die media meegedeel dat Transnet se bestuurshoof, Brian Molefe se meelopers politieke oogmerke koester.

Molefe verkeer glo onder politieke druk om nie in te stem tot Numsa se eise nie, sê Manqungo.

Molefe het egter die vakbond daarvan beskuldig dat hulle Transnet vir eie politieke gewin wil aanwend.

Simpatie-staking in suikerbedryf beplan

suikerDie voedselvakbond, FAWU het vroeër gesê ‘n simpatie-staking sal gereël word by alle maatskappye waar suiker as ‘n bestanddeel gebruik word, het RSG berig.

‘n Woordvoerder sê hy hoop dat vakbondlede in die voedselverwerking- en drank-vervaardigingsektore die staking sal ondersteun.

FAWU sal Maandag se vergadering tussen werkers en werkgewers bywoon om die salarisdispuut in die suikerbedryf te probeer oplos.

Sowat 5.000 werkers wat lede van Fawu is, staak sedert verlede Maandag nadat salarisonderhandelings skipbreuk gelei het.

Die vergadering is deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie belê.

Werkers eis ‘n elf-komma-vyf persent verhoging, terwyl werkgewers hulle aanbod van sewe-komma-vyf na agt-komma-vyf persent aangepas het.

 

Minister waarsku platinumbestuur oor salarisinkortings

Ngoako Ramathlodi
Ngoako Ramathlodi

Die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramathlodi sê hy sien mislukking om arbeidsprobleme in die platinumgordel op te los nie as ‘n opsie nie.

Lede van die mynwerkersvakbond, Amcu staak sedert 23 Januarie by die mynmaatskappye, Lonmin, Impala Platinum en Anglo American Platinum.

Die staking kos die land reeds miljarde en het byna ‘n algehele insinking in Rustenburg se ekonomie veroorsaak.

Ramathlodi het dié week ‘n amptelike taakspan saamgestel om die staking in die bedryf te probeer beëindig.

Die span sal reeds Donderdag vergader en na afloop van hul eerste vergadering aan Ramathlodi verslag doen oor moontlike oplossings.

Volgens Ramathlodi sal die taakspan poog om die benadering tot die krisis in ‘n breër lig te stel en alle moontlikhede vir ‘n oplossing ondersoek.

Die minister het die mynmaatskappye in kennis gestel dat van die moontlike oplossings sou wees om uitgawes soos salarisse van die bestuur te beperk en sekere programme te beëindig.

 

Platinastakings laat ekonomie in eerste kwartaal krimp

Stakende platinamynwerkers van Amcu
Stakende platinamynwerkers van Amcu

Die stakings by platinamyne het nie net die grootste daling in mynbou-aktiwiteit in vyftig jaar veroorsaak nie, maar ook die hele Suid-Afrikaanse ekonomie met 0,6 persent in die eerste kwartaal laat daal. Die inkrimping in mynbou- en steengroef-aktiwiteit is 24,7 persent.

Sommige ekonome voorspel reeds ‘n resessie aangesien die dispuut oor lone in die platinumgordel nog glad nie verby is nie. Ná 18 weke, sal dit ook die land se ekonomiese uitset in die tweede kwartaal raak, terwyl somminge myne in Rustenburg reeds in April en Mei feitlik heeltemal tot stilstand gedwing is. Dit beteken dat die statistiek vir die tweede kwartaal ook teleurstellend gaan wees.

Volgens gangbare ekonomiese definisies, staan twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei as ‘n resessie bekend. Die kanse is dus nou goed dat Suid-Afrika aan die einde van dié kwartaal amptelik in ‘n resessie sal verkeer. Die vorige keer toe die land hom in dié situasie bevind het, was tydens die globale finansiële krisis in 2009.

In die vierdie kwartaal van verlede jaar het die ekonomie nog met 3,8% gegroei.

Met die huidige trae en negatiewe groeikoers, is daar geen moontlikheid dat die werkloosheidsyfer sal verbeter nie. Minder ekonomiese aktiwiteit beteken ook dat die invordering van belastings getref sal word, wat weer die begrotingstekort gaan verhoog.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vereis ‘n groeikoers van 5% per jaar ten einde werkloosheid teen die jaar 2030 tot minder as 10% te verlaag.

Die hoofekonoom van Econometrix, Azar Jammine meen egter dat ‘n resessie slegs moontlik is indien die plantinastaking vir die res van die jaar duur. Indien dit gou beëindig word, kan die land nog ‘n resessie vermy.

Volgens Johan Theron, ‘n woordvoerder van Impala Platinum, sal dit ongeveer drie maande neem om die produksievlakke van vóór die staking te bereik indien die staking sou ophou.

Die swak groeisyfers vir die eerste kwartaal het die reeds die Reserwebank genoop om sy vooruitskatting vir ekonomiese groei van 2,6% tot 2,1% vir vanjaar aan te pas.

Hierdie syfers ondersteun ook die Reserwebank se besluit om rentekoerse voorlopig onveranderd te laat.

Myne sal Amcu-aansoek teenstaan om SMS’se te verbied

Joseph Mathunjwa en Ben Magara
Joseph Mathunjwa en Ben Magara

Die platinumprodusente, Amplats, Lonmin en Implats sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur die vakbond, Amcu teenstaan.

Amcu het aansoek gedoen dat die platinumprodusente nie meer die stakende mynwerkers per SMS mag kontak nie.

Die platinumprodusente het SMS’se gebruik om die werkers regstreeks oor die nuutste loonaanbod in te lig.

Die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara sê tot 67 persent van Amcu-lede het aangedui dat hulle wil terugkeer werk toe, maar hulle vrees vir hul lewens.

Magara sê die maatskappye oortree geen arbeidswetgewing deur die SMS’se uit te stuur nie.

Hy sê ‘n derde van die jaarlikse platinumproduksie is al verlore.

Die platinumprodusent, Lonmin, het die staking in Rustenburg in Noordwes as moordend beskryf. Dit duur reeds 17 weke.

Die maatskappy sê dit kan tot sy ondergang lei indien dit nie omgekeer word nie.

Magara, ‘n Zimabwiër, sê die staking gaan herstrukturering en afleggings onvermydelik maak.

Intussen het die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, by ‘n inligtingsessie oor die mynbedryf en die bykans vier maande oue-staking in die platinum-sektor, sy eie rykdom verdedig terwyl werkers krepeer.

Mathunjwa het gereageer op ‘n berig in The Star dat hy “in luuksheid baai”.

Die koerant het berig dat hy drie BMW’s in sy naam geregistreer het teen ‘n beraamde totale waarde van R900 000.

The Star beweer dat hy ook drie huise besit wat in sy naam is. Een van die eiendomme is ‘n vier-ster gastehuis.

Mathunjwa het ook by die ontbytinligtingsessie gesê dat die minerale van Suid-Afrika aan sy burgers eerste behoort voordat dit na ander lande gaan.

“Die minerale moet Suid-Afrikaners eerste bevoordeel voordat dit tot voordeel van die mense in Londen of waar hulle ook al is, gaan” Mathunjwa gesê.

Hy het gesê demokrasie beteken niks as mense op die grond ly nie.

Sowat 200 Lonmin-myners, onder wie ook inwoners van Marikana, sal Dinsdag in die Ga-Rankuwa landdroshof, noord van Pretoria, verskyn.

Die groep word aangekla van openbare geweld, die besit van gevaarlike wapens en intimidasie.

Die mense is op 16 Augustus 2012 in hegtenis geneem, die dag waarop 34 mense deur die polisie doodgeskiet is.

Nog tien mense, onder wie twee polisielede en twee myn veiligheidsbeamptes, is ook destyds gedood toe die mynstaking in geweld ontaard het.

Aanklagte van moord is voorwaardelik deur die hof teruggetrek.

 

Lonmin vra dat stakers onderhandeling hervat

amcu2Die platinumprodusent, Lonmin het ‘n herude oproep aan die mynwerkers-vakbond, Amcu gerig om salaris-onderhandelings te hervat.

‘n Woordvoerder sê samesprekings kan hervat word terwyl werkers na hul werke terugkeer.

Amcu-lede eis ‘n basiese maandelikse salaris van R12.500 per maand.

Die staking is by die wêreld se drie grootste platinumprodusente Lonmin, Implast en Amplats en duur reeds 16 weke.

Lonmin sê stakende werkers se ellende weens hul verlies aan onkomste sal verlig word as werkers terugkeer werk toe terwyl daar terselfdertyd ‘n oplossing vir die geskil gesoek word.

Die polisie ondersoek nog berigte dat ‘n moordlys opgestel is om Amcu-mynwerkers te teiken wat wil terugkeer werk toe.

Werkers wat op die myne se sms-versoek gereageer het om terug te keer werk toe, is glo gelys.

Volgens die berigte verskyn die name van vier mense wat die afgelope tyd in die platinumgordel vermoor is, op die beweerde moordlys.

Streng veiligheidsmaatreëls is by myne ingestel waar die werkers verlede week vermoor is.

Myners word met pantservoertuie werk toe en terug begelei, maar die polisie sê niemand kan hul veiligheid op die lang duur waarborg nie.

Die president van Amcu, Joseph Mathunjwa, het vroeër versoek dat enigiemand wat inligting het oor die sogenaamde moordlys, dit by die polisie moet aanmeld.

Hy het diegene wat dit opgestel het, veroordeel. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Kospakkies vir stakende werkers by platinummyne in Noordwes sal van Johannesburg vervoer word. Die Marikana-steungroep en Gift of the Givers asook ander organisasies het geld ingesamel vir die duisende sukkelende werkers.

Die woordvoerder van die Marikana Steungroep, Rehad Desai sê die situasie stuur op ‘n humanitêre ramp af indien die mynwerkers nie gehelp word nie.

Stakers reageer nie op teksboodskappe om te gaan werk nie

amcuptaStakende mynwerkers by Impala Platinum het glo soos by die Lonmin-myn, nie gereageer op steksboodskappe van hul werkgewers om terug te keer werk toe nie.

Vakbondleiers by Implats sê die teksboodskappe van platinumprodusente wil spanning onder werkers aanhits.

Daar is ook steeds ‘n groot polisie-teenwoordigheid by platinummyne op Rustenburg in Noordwes, te midde van die toenemende geweld van stakende myners teen nie-stakende werkers in die gebied.

Die mynmaatskappye wou nie langer deur Amcu onderhandel om die staking tot ‘n einde te bring nie en het selfoonboodskappe aan vakbondlede te stuur waarin hulle gevra word terug te keer werk toe.

Meer as 80.000 werkers wat by Amcu geaffilieer is, staak sedert Januarie by die paltinummyne.

Die gemiddelde mynwerker verdien sowat R4.500 per maand. Die stakers eis dadelik ‘n basiese salaris van R12.500 per maand.

Amcu het die hersiene salarisaanbod van Lonmin, Amplats en Implats namens die stakers verwerp.

Volgens dié aanbod sou werkers teen Julie 2017 R12.500 verdien het.

Die vakbond NUM het sy lede vroeër aangeraai om nie te gaan werk nie omdat dit onveilig is.

Hulle beweer dat 15 van NUM-lede die naweek aangerand is.

By Marikana het niemand glo nog vir werk opgedaag het nie.

Die Nasionale Polisiekommisssaris, Riah Piyega sê die polisie sal bestendigheid verseker terwyl die 16 weke lange staking voortduur.

Die Minister van Polisie, Nathi Mthethwa, het vroeër gesê ‘n Amcu-lid is in hegtenis geneem in verband met geweld teen nie-stakende mynwerkers.

Hy sê vyf oortreders wat bande met Amcu het, is in die geweld geïdentifiseer.

Daar was reeds talle voorvalle van intimidasie. Mthethwa het onderneem om die geweld en intimidasie aan te spreek. Hy sê die organiseerders van die staking behoort verantwoordelikheid te aanvaar.

Die leier van Amcu, Joseph Mthunjwa, het egter gesê hulle sal aanhou staak. Mathunjwa het vroeër gesê hulle sal slegs terugkeer werk toe wanneer daar aan hulle eise toegegee is.

Numsa-staking deur petrolbom-aanvalle geken

numsaTransnet het ‘n verklaring deur die metaalwerkersvakbond Numsa ontken dat sy stakings by die besige Ngqura Vrag-terminaal in Port Elizabeth bedrywighede lamlê.

Numsa is nie ‘n erkende vakbond by Transnet nie.

Die staking duur reeds die afgelope drie weke vir beter werksomstandighede en Numsa eis dat daar met arbeidsmakelaars weggedoen word.

Sestien huise van nie-stakende werkers is gedurende die eerste paar dae van die staking met petrolbomme aangeval.

Numsa het intussen ‘n beroep gedoen op sy ander lede om met ‘n sekondêre staking te begin in simpatie met die Transnet-staking.

Numsa is gekant teen die beginsel van een ​​sektor, een unie, en sê dit is verouderd.

Numsa is tans besig met ‘n aggressiewe uitbreidingstrategie, met die formele werwing van lede in sektore van ander Cosatu-unies, naamlik die sukkelende Nasionale Mynwerkersunie (NUM ) en die SA Transport and Allied Workers Union ( Satawu ).

Albei vakbonde het Numsa van “stropery” beskuldig. Numsa het die aantygings heftig ontken en gesê lede van hierdie unies kom klop ongevraag aan sy deur weens die slordige diens wat hulle ontvang.

Dit wil egter voorkom asof Numsa ook van ander metodes gebruik maak om lede te werf.

Hierdie oënskynlike voorneme om ‘n multisektorale unie op die been te bring, sal Numsa se vervreemding binne Cosatu, die ANC en die SA Kommunistiese Party verhaas.

Die afvallige vakbondleiers is uit die openbare oog gehou op 1 Mei, kort voor die verkiesing en het nie werkers toegespreek nie.

Dit dra ook by tot spekulasie dat ‘n nuwe werkersparty met ‘n verlinkse ideologiese oogmerk die lig mag sien.

Numsa argumenteer dat die veranderende gesig van kapitalistiese werkplekke nuwe strategieë verg omdat die een sektor, een unie omgewing die nuwe uitdagings aanspreek nie. Hulle word deur linkse akademici by die Universiteit van Kaapstad daarin aangemoedig.

Die opkoms van uitkontraktering, subkontraktering en komplekse interafhanklike waardekettings noodsaak nuwe strategieë, sê die vakbondbestuur.

Numsa se ​​voorstelle het ‘n streng waarskuwing van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal ANC by Cosatu se kollektiewe bedingingskonferensie in Maart verlede jaar ontlok.

Hy te velde getrek teen die verswakking kollektiewe bedinging.

Satawu het Numsa vroeër daarvan beskuldig dat hulle ‘n “superunie” op die been wil bring.

Vrese dat geweld weer in platinumgordel kan opvlam

amcu3Nog ‘n mynwerker is dood en ses ander aangerand Maandag toe geweld weer opgevlam het in die platinumgordel.

Een van die ses is in ‘n kritieke toestand.

NUM het gesê twee van sy lede is reeds vermoor.

‘n Woordvoerder van die Lonminmyn naby Rustenburg in Noordwes het die moorde op lede van die NUM veroordeel. Die intimidasie van werkers is onaanvaarbaar, het hy gesê.

Die NUM-lede wou nie aan die AMCU-staking deelneem nie. Die twee mynwerkers is die naweek vermoor. Die twee is vermoor toe hulle wou gaan werk by Lonmin.

Die NUM sê werkers en vakbondlede moet beskerm word ongeag of hulle werk en/of staak.

Lonmin wil hul bedrywighede hervat na die verwagting dat werknemers sal terugkeer hierdie week om weer te begin werk.

Vrese bestaan dat die myne se pogings ondermyn sal word om stakende werkers te oortuig om ‘n aanbod te aanvaar en terug te keer werk toe.

Die staking by Lonmin, Amplats en Implats is nou in sy 16de week.

Verlede week het Amcu die platinumprodusente se jongste aanbod verwerp.

Sondag het ‘n man en ‘n vrou doodgebrand in hul huis, terwyl ‘n ander in sy huis in Marikana verbrand is.

Sedert die naweek het moorde, geweld en mense wat verbrand word in hul gehuggies toegeneem, het die polisie gesê. Daar word vermoed dat dit verband hou met die stakings.

Daar was 20 aanrandings en ‘n aantal ernstige voorvalle van intimidasie teen werknemers en busoperateurs wat vervoer aan die mynmaatskappye se werknemers verskaf sedert Sondag, het Amplats, Implats en Lonmin in ‘n gesamentlike verklaring gesê.

Daar is werklike vrese dat daar ‘n oplewing van geweld kan wees soortgelyk aan dié van 2012 toe Amcu die NUM as die dominante unie vervang het.

 

Druk laai op teen stakende Amcu-lede

amcu2Druk is besig om op te laai teen die stakende Amcu-lede in die platinumbedryf.

Die mynwerkersvakbond, die NUM het die regering se versoek ondersteun om die stakende werkers in die platinumbedryf te vra om na hul werk terug te keer.

President Jacob Zuma en die minister van arbeid, Mildred Oliphant het vroeër ‘n beroep op Amcu gedoen om die staking te beëindig.

Amcu-lede staak al die afgelope drie maande. Die adjunk-president van die NUM, Thamsanqa Matosa sê die stakers wil die ekonomie vernietig.

Matosa sê die NUM het mynmaatskappye versoek om werkers te beskerm wat wil teruggaan werk toe. Hy sê NUM-lede wat werk, word ook geïntimideer.

Intussen het die hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi ‘n vraagteken oor eenheid in die drie-party alliansie in die aanloop tot die verkiesing geplaas.

Vavi en adjunk-president Kgalema Mothlanthe was hoofsprekers by die Werkersdagvieringe in Port Elizabeth.

Vavi het gesê die alliansie lyk goed op papier maar ‘n ware alliansie is een waarin mense saamwerk en met mekaar oorleg pleeg.

Hy het gesê niemand behoort in ‘n alliansie gemarginaliseerd te voel nie.

ANC-kantoor in Marikana afgebrand

fireBrandstigters het Donderdag ‘n klein kantoor van die regerende ANC in Marikana aan die brand gesteek, waar waar 34 stakende mynwerkers in 2012 doodgeskiet is, het die polisie gesê.

 

“Die polisie ondersoek ‘n saak van brandstigting,” het die polisiewoordvoerder Sabata Mokgwabona aan Sapa gesê.

“Die gebou is na berig word gebruik as ‘n kantoor vir ‘n politieke party,” het hy bygevoeg .

Die ANC het bevestig dat sy kantoor in die Nkaneng-lokasie afgebrand is.

Geen beserings is aangemeld nie en geen arrestasies is nog gemaak nie.

In minder as twee weke sal Suid-Afrikaners hulself na die stembusse wend waar president Jacob Zuma in alle waarskynlikheid vir ‘n tweede termyn herkies sal word.

Marikana is die tuiste vir sommige van die meer as 80.000 platinummynwerkers wat reeds drie maande ‘n staking volhou in hul eis vir hoër lone.

Die werkers is honger en desperaat en die ekonomie van Rustenburg word lamgelê deur die staking, maar die samesprekinge tussen die stakers en die mynbestuur het Donderdag op niks uitgeloop nie.

Die meeste werkers behoort aan die radikale Amcu wat die ANC-gesinde vakbond NUM uitgedruk het as die dominante unie.

Die nuwe linkse EFF-party van die populistiese Julius Malema geniet aansienlike steun in Marikana.

Geen ooreenkoms tussen Amcu en platinumbedryf

platinumAnglo Platinum, Impala Platinum en Lonmin en verteenwoordigers van die vakbond Amcu kon nie ‘n hul verskille oor salarisverhogins oplos nie.

Na die derde vergadering tussen die mynmaatskappye en Amcu is geen ooreenkoms bereik nie.

Amcu het die werkgewers se aanbod verwerp om salarisse oor ‘n tydperk van 5 jaar tot R12.500 te verhoog deur byvoordele en toelaes met verdrag aan te pas.

Die staking die platinumbedryf duur al sedert Januarie.

Die staking het die drie maatskappye en die mynwerkers na beraming sowat R21 miljard aan verlore inkomste en salarisse gekos.

Die maatskappye het Donderdagaand ‘n einde aan die samesprekings gemaak nadat geen ooreekoms bereik kon word nie.

Die platinumbedryf se onderhandelaars het Amcu-leiers aangeraai om hul lede te oorreed om die aanbod te aanvaar.

Hulle het aangedui dat hulle self die werkers sal probeer oorreed om die aanbod te aanvaar.

Anglo American se tussentydse bestuursverklaring vir die Maart-kwartaal toon verhoogde produksie in al sy mynbedrywighede, behalwe vir platinum, waar die produksie is erg geraak deur word die staking.

In die verklaring wat Donderdag uitgereik is, sê Anglo American platinumproduksie het gedaal met 39% tot 357,000 onse.

Gautrein-busbestuurders staak

gautrain+busDie busbestuurders wat die toevoerbusse vir die Gautrein beheer, het so pas ‘n onbeskermde staking in Johannesburg geloods, volgens Bombela, die Gautrein se bestuursmaatskappy wat vanoggend ‘n verklaring uitgereik het.

“Ek het nog nie enige besonderhede oor waarom die staking plaasvind nie, wat enkele ure gelede begin het,” sê die woordvoerder vir Bombela, Errol Braithwaite.

“Dis geheel en al ‘n wilde staking, aangesien die maatskappy geen stakingskennisgewing van die werkers ontvang het nie.”

Busse in Pretoria funksioneer steeds normaal op Vrydag.

Volgens Braithwaite word daar reeds onderhandelings met die bestuurders gevoer.