
Die minister van Minerale Hulpbronne, Ngoako Ramathlodi sê hy sien mislukking om arbeidsprobleme in die platinumgordel op te los nie as ‘n opsie nie.
Lede van die mynwerkersvakbond, Amcu staak sedert 23 Januarie by die mynmaatskappye, Lonmin, Impala Platinum en Anglo American Platinum.
Die staking kos die land reeds miljarde en het byna ‘n algehele insinking in Rustenburg se ekonomie veroorsaak.
Ramathlodi het dié week ‘n amptelike taakspan saamgestel om die staking in die bedryf te probeer beëindig.
Die span sal reeds Donderdag vergader en na afloop van hul eerste vergadering aan Ramathlodi verslag doen oor moontlike oplossings.
Volgens Ramathlodi sal die taakspan poog om die benadering tot die krisis in ‘n breër lig te stel en alle moontlikhede vir ‘n oplossing ondersoek.
Die minister het die mynmaatskappye in kennis gestel dat van die moontlike oplossings sou wees om uitgawes soos salarisse van die bestuur te beperk en sekere programme te beëindig.
