By die beoordeling van statistiek word verskeie modelle gebruik om akkuraatheid te beoordeel. Die eerste alarmklokkie wat afgaan is as ‘n syfer op ‘n uitskieter dui – maw as die syfer soos ‘n seer duim uitstaan.
Met misdaadstatistiek is daar verskeie ander hulpmiddels. Uit ervaring is daar ‘n verwantskap tussen sosio-ekonomiese omstandighede en sekere tipes misdaad, beperk sigbare polisiëring sekere tipes, veral kontakmisdaad, en het die politieke boodskap wat beklemtoon word, ook ‘n impak. Laasgenoemde is deeglik ervaar met die feitlike opdroog van plaasaanvalle tydens die wêreldsokkertoernooi – ‘n era waar die regeringspolitici hulle seldsaam teen dié euwel uitgespreek het. Sedertdien het dié uitsprake weer grootliks omgesit in verbale aanvalle op boere, en was dar die afgelope naweek minstens twee plaasmoorde, terwyl ‘n bejaarde vrou nou nie net as weduwee agtergelaat is nie, maar self ernstig aangerand is en onder meer skedelbreuk opgedoen het.
Woorde is egter nie genoeg nie, veral as die persepsie dat die regering holle woorde spreek nesgeskop het. Terwyl geweldsmisdaad soos moord en seksuele misdrywe ‘n welkome afname toon, neem handelsmisdaad nou al vir vyf jaar jaarliks skerp toe. Handelmisdaad word selde na verswakkende sosio-ekonomiese omstandighede herlei, en dui eerder op ‘n morele verrotting wat te midde van onvoldoende wetstoepassing gedy. Hier word dikwels ‘n swak voorbeeld gestel.
Ongelukkig is die alewige uitskieters steeds met ons.
Die polisie en die Mediese Navorsingsraad verskil reeds ‘n geruime tyd oor die land se moordsyfers, en ‘n finale oordeel sal eers gevel word wanneer die MNR se navorsing ook op ‘n afname dui, al klop die getalle nie.
Die gereelde landbousensusse bring egter ook ontstellende verskille in misdaadsyfers, soos veediefstal. Terwyl die landbousensus se gegewens vir veediefstal ooreenkomste toon met die veegetalle in die provinsies, bv die Noord-Kaap, lyk die polisie se syfers basies met die uitsondering van die Vrystaat baie anders. ‘n Groot vraagteken kan ook geplaas word as die totale waarde van veediefstalle in die landbousensus deur die polisie getalle gedeel word, en die gemiddelde verlies per vee-eenheid wat skape en hoenders insluit, op R30 000 bereken word.
Uit ‘n vergelyking tussen die aantal dronkbestuur-arrestasies in provinsies wil dit steeds voorkom asof die relatiewe lae, per capita-voorkoms in provinsies soos Limpopo (42 per 100 000), Mpumalanga (59 per 100 000) en die Vrystaat (57 per 100 000) meer met lae intensiteit wetstoepassing as soberder bestuurders verband hou. Nie net is die per capita-arrestasies baie minder as veral dié in die Wes-Kaap (292 per 100 00) nie, maar die aantal padsterftes in die provinsies met minder dronkbestuur-arrestasies dui ook nie op minder dronkbestuurders nie. Ook die per capita-padsterfteyfers per provinsie strook nie met die groot verskille in aangekeerde dronkbestuurders nie.
Statistiek is onontbeerlik vir beplanning, en die waarde van die syfers kan net beoordeel word aan die hand van die regering en die polisie se reaksie hierop.
