Die jongste opname van Maatskaplike Gesindhede (SASAS) dui daarop dat Suid-Afrikaners die 6de hoogste vlak van nasionale trots in die wêreld het.
Met die eerste instink sal so ‘n stelling erg gegogga word, onder meer oor die blote vlakke van frustrasie wat aan die ontvang- en uitdeelkant van die nasionale stakings ervaar is.
‘n Paar maande gelede, met die wêreldbeker-sokkertoernooi in volle swang, sou so ‘n bevinding dalk minder vreemd voorgekom het. Selfs net die huidige vertoningslys van die Springbokke sal minstens ‘n deel van die gemeenskap in sak en as laat.
Wat ‘n mate van geloofwaardigheid aan die verslag verleen, is dat die land se mense oor die afgelope dekade ongelukkigheid oor aspekte soos werkloosheid, MIV, armoede en veiligheid ervaar het, en in die verslag uitgelig is.
Die interessantheid is die groeiende gewaarwording en ongelukkigheid met korrupsie, en teen hierdie agtergrond is die beplande media-muilband nie vreemd nie. In baie lande sou enige van hierdie aspekte immers hul regerings laat tuimel het.
Vanoggend word ook berig dat die SABC-raad voor druk van die ANC geswig, en die aanstelling van Phil Molefe as nuushoof bekragtig het. Opposisiepartye het dadelik kommer uitgespreek oor die onafhanklikheid van die SABC aangesien Molefe as ‘n kader met baie nou verbintenisse met die ANC beskou word.
Wanneer inligting beheer word, is dit in beginsel moontlik om die vorming van persepsies by ‘n gemeenskap minstens te vertraag, en terselfdertyd deur die voer van gelaaide inligting ‘n gemeenskap se gesindhede in sekere rigtings te stuur.
Juis weens die hoë vlakke van polarisasie is dit makliker om een gemeenskap teen ‘n ander af te speel en so die groter – die stemvee – in ‘n illusie van gelukkigheid gekoester te hou.
Intussen sal politieke wetenskaplikes en veral politieke sosioloë diep moet delf om te verklaar hoe dit moontlik is dat ‘n land met sy heterogeniteit, hoë vlakke van geweldsmisdade, veral die grootste meetbare inkomstegapingvlak ter wêreld, taalvertrapping, voortgesette rasbevoordeling wat ander benadeel, ‘n weermag met wiele wat met kougom vasgehou word, ‘n lamlendige buitelandse beleid jeens diktators en ‘n groeiende bewuswording van korrupsie die sesde hoogste vlak van nasionale trots ter wêreld kan geniet.
Die land bied baie, soos van die mooiste natuurskoon in die wêreld.
Daar is egter ook baie vlieë in die salf, en as hierdie vlieë nog soustrein ry, is daar ‘n skroef los.
