VSA bewillig miljarde vir nuwe sonkragaanleg in Noord-Kaap

Die Amerikaanse Oorsese Privaat Beleggingskorporasie (OPIC) het vyf miljard rand vir ‘n nuwe sonkragaanleg in Suid-Afrika bewillig.

Twee maatskappye sal saamspan om die projek die lig te laat sien. Dit sal na verwagting sowat honderd megawatt krag tot die netwerk lewer.

Die inisiatief is deel van President Barack Obama se Power Africa-plan, waarvolgens 90 miljard rand op die vasteland bestee sal word.

SolarReserve van Kalifornië en Saoedi-Arabië se ACWA Power sal saamwerk om die 100 megawatt sonkrag-aanleg in die Noord-Kaap te bou en te bedryf.

Die maatskappy het gesê die plan het ten doel om toegang tot elektrisiteit in Suider-Afrika te bevorder.

Die inisiatief beoog om kapasiteit van die vasteland se elektrisiteit te verhoog, met ‘n bykomende fokus op kleinskaal beleggings in hernubare energie.

OPIC het ook gesê Standard Bank het ‘n waarborg van $250m ontvang om kragopwekkings- en infrastruktuurprojekte te finansier in Suider-Afrika.

OPIC is in 1969 opgerig onder Richard Nixon as ‘n Amerikaanse “sagtemag-instrument” in die ontwikkelende wêreld om privaatfondse in infrastruktuurontwikkeling te kanaliseer, het Reuters berig.

Samesprekinge oor onwettige grondbesetting in Kathu

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in die Noord-Kaap voer samespreking met die Gamagara-munisipaliteit se bestuur oor onwettige grondbesetters naby Kathu.

Dit kom nadat meer as 1000 huishoudings in Mapoteng naby Kathu uitgesit is. Sowat 1200 plakkershutte is in Julie afgebreek.

LUR Alvin Botes sê die regering wil verseker dat die meerderheid van hul grond nie onwettig beset word nie.

Daar is ‘n hangende appèl-aansoek by die Bloemfonteinse appèlhof nadat ‘n regter in Kimberley vroeër beslis het dat die onwettige besetters verwyder moet word van die grond.

Die grondbesetters beweer hulle is onregmatig van die grond afgesit.

Motorfietsdiefstalsindikaat in Noord-Kaap bedrywig

Die polisie in die Noord-Kaap ondersoek die moontlikheid dat twee verdagtes wat Woensdagaand in Cassandra in Kimberley in hegtenis geneem is, deel is van ‘n sindikaat wat motorfietse steel.

Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê die gemeenskapspolisiërings (GPF)-eenheid in dié buurt het gister omstreeks 22:00 ‘n verdagte Toyota-bussie in die gebied gewaar en tot in die stad agtervolg.

Buurtwaglede het die bussie daarna afgetrek.

Kock sê die bromponie is vroeër in Belgravia as gesteel aangemeld.

Volgens hom sal die verdagtes binnekort in die plaaslike landdroshof op ‘n aanklag van die besit van ‘n gesteelde motorfiets verskyn.

Die polisie soek nog na die twee mans wat van die toneel gevlug het.

ANC geskok dat Noord-Kaapse speaker aan die brand gesteek is

Die speaker van die ZF Mgcawu-munisipaliteitsdistrik in die Noord-Kaap, Nomakhaya Mjila, is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal nadat sy na bewering aan die brand gesteek deur haar man.

Die ANC se mediawoordvoerder Naledi Gaosekwe sê hulle is geskok en hartseer oor die voorval.

Noord-Kaapse polisie sê Mjila se man het die huis van ‘n familielid waar sy gebly het in Olifantshoek in die vroeë oggendure van Saterdagoggend binnegedring.
 
Hy het haar na bewering met petrol gegooi en haar aan die brand gesteek. Sy het ernstige beserings opgedoen, terwyl haar dogter en ‘n familielid gesterf het in die brand.
 
Haar man het ook brandwonde opgedoen en is in hegtenis geneem kort ná die voorval. Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal en sal van moord, poging tot moord en brandstigting aangekla word.

Plaasaanvallers van Kuruman nog op vrye voet

Die polisie in die Noord-Kaap het nog niemand in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n 64-jarige boer van Kuruman nie.

OFM-nuus het verlede week berig dat Christo Kruger Donderdag omstreeks 20:00 deur ‘n gesluite traliehek van ‘n buitedeur in sy plaashuis in die bors geskiet is.

Volgens polisiewoordvoerder Sergio Kock was Kruger en sy 55-jarige vrou, Vera, alleen tuis. Sy is fisies ongedeerd.

Kock sê dit is nog onbekend hoeveel aanvallers betrokke was by die aanval.

Kock kon nie bevestig of die aanvallers iets op die plaas gesteel het nie.

Uitspraak voorbehou teen premier wat ‘hotnot’ gebruik

Uitspraak is voorbehou in die saak teen die Noord-Kaapse premier Sylvia Lucas wat vandag in die gelykheidshof op Upington aangehoor is.

‘n Nasionale lid van die Nasionale Khoisanraad, Stanley Peterson, het die saak teen haar aanhangig gemaak nadat sy tydens ‘n amptelike begrotingstoespraak in 2010 op Upington die woord “hotnot” gebruik het.

Lucas het gesê: “Hotnots is net goed vir kos en klere.”

Peterson het in ‘n onderhoud met OFM-nuus gesê dat hy besluit het om haar hof toe te sleep nadat sy nie sanksies van die Menseregtekommissie nagekom het nie.

Peterson sê net die feit dat die saak vandag voor die hof gedien het, was al klaar ‘n oorwinning in die kleine vir die Khoi-San-gemeenskap nadat die regsverteenwoordigers van Lucas betoog het dat die saak van die rol geskrap word.

Uitspraak word op 30 Junie gelewer.

Swarte met koper ter waarde van R50 000 gevang

‘n Swarte is Maandag in die Noord-Kaap in hegtenis geneem vir die besit van wat klaarblyklik gesteelde koper is.

Die vermeende koperdief is in Lerato Park, Roodepan, gevang.

Die koper word gewaardeer op sowat R50 000, het Noord-Kaapse polisie gesê.

Polisie het ‘n wenk ontvang oor twee swartes wat ‘n kruiwa gelaai met koper gestoot het, maar toe hulle daar aankom was daar glo net een man, het luitenant Donald Mdhluli gesê.
 
Die swarte sal in die Galeshewe-landdroshof verskyn.

Polisieman, nog drie vas wat glo skape steel

Terwyl president Jacob Zuma die SANW dié naweek geloof het vir hul aandeel in landelike misdaadbekamping, is nog ‘n polisiebeampte en drie ander swartes in hegtenis geneem vir veediefstal, het die polisie in die Noord-Kaap gesê.

Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die konstabel en drie ander verdagtes het Vrydag in die Kenhardt-landdroshof verskyn. Die saak is tot 25 Februarie uitgestel wanneer die verdagtes om borg sal aansoek doen.

Die polisie het verlede week ‘n wenk ontvang oor moontlike veediefstal in die Kenhardt- en Keimoes-areas. Twee verdagtes, insluitend die polisiebeampte, is in hegtenis geneem nadat ‘n bakkie met ses skape agterop deur die polisie van die pad af getrek is.

Volgens Naidu het die twee ander verdagtes in ‘n VW Polo gery en van die toneel gevlug toe hulle die polisie gesien het.

Hulle is in Kakamas voorgekeer en in hegtenis geneem. “Hulle het glo die twee skape wat in die VW Polo was langs die pad afgelaai.”

Kanselier van nuwe universiteit binnekort aangekondig

Die Sol Plaatje-Universiteit in Kimberley kondig na verwagting môre aan wie die instelling se eerste heeltydse vise-kanselier is.

Die universiteitsraad vergader môre om dié besluit te neem. Aansoeke het in Desember verlede jaar gesluit, onderhoude is gevoer en ‘n kortlys is intussen saamgestel.

Die tussentydse hoof, Yunis Ballim, is volgens ‘n betroubare bron die gunsteling om in die pos aangestel te word.

Ballim, wat in Johannesburg woon, het laat verlede jaar besluit om vir die pos aansoek te doen.

Die engelstalige Sol Plaatje-Universiteit is die eerste om sy deure in Suid-Afrika te open nadat die ANC aan bewind gekom het.

Die Noord-Kaap, waar die instelling opgerig is, is oorwegend Afrikaanssprekend.

Polisie by nóg plundery betrek

Aanvalle op buitelanders het na die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal versprei waarby polisiebeamptes in sekere gevalle ook betrek word.

Die polisie het glo aan die plundering van buitelanders se winkels in die Noord-Kaap meegewerk.

Twee polisiebeamptes en ‘n polisiereservis is in verband met die gewapende roof van ‘n Somaliese winkel in Kimberley in hegtenis geneem.

Minstens een polisieman is verfilm waar hy verlede week aan die plundery in Soweto deelgeneem het, terwyl die Metropolisie ook verfilm is terwyl hulle in die hitte van aanvalle op spazawinkels nie ‘n vinger lig nie en verveeld toekyk.

Plundery is nou in die Oos-en Wes-Rand, sowel as Alexandra in Sandton, Langlaagte, suid van Johannesburg en op Inanda buite Durban aangemeld.

‘n Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, Marriam Mochologi-Maleme, sê hulle beskou die polisie se optrede as ‘n misdaad. Sy het gesê hulle is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

EFF-bloedbad na aanvalle met bakstene, messe en pangas

Chaos het Sondagmiddag uitgebreek tydens die EFF se Noord-Kaap-konferensie, toe lede, gewapen met messe, pangas en bakstene vir ‘n bloedbad gesorg het.

Die konferensie by die Savoy Hotel in Kimberley om die provinsiale leierskap te verkies, het buite beheer geraak toe aangewese partyleier Aubrey Baartman, en ‘n afgevaardigde by die konferensie, Ronald Februarie op mekaar toegesak het.

Saterdag is ‘n klag van aanranding by die polisie gelê na ‘n voorval tussen Baartman en Februarie. Sondag het die polisie bevestig dat ‘n saak geopen is, maar alle navrae na die party self verwys.

Chaos het egter losgebars toe een persoon, geklee in ‘n kamoefleeruniform en gewapen met ‘n skokgeweer, probeer het om soveel mense as moontlik te “skiet” terwyl hulle in alle rigtings gevlug het.

Die vlugtende lede was self gewapen met pangas, messe, bakstene en selfs bierbottels en het teruggekeer na die hotelperseel.

Die voorste deure van die hotel is oopgedwing en bakstene het gevlieg tussen die twee faksies van die EFF, met lede wat probeer het om weg te kruip agter voertuie geparkeer in die pad.

Die voorruit van ‘n bus, wat gebruik is om lede te vervoer na die konferensie, is ook in skerwe gelaat.

Op ‘n stadium, het Februarie uit die gebou gevlug met bloed wat by sy mond uit en oor sy arm stroom. Hy het ook gekoes vir dekking agter motors in die pad.

Binne-in die lokaal was daar nog meer chaos, met afgevaardigdes wat op en af met die trappe en deur die gange hol.

Tafels en stoele is vernietig, sowel as talle binnedeure.

Die bloedbad wat gevolg het, het die matte en die teëls in die gange besmeer. Beide deure na die konferensie sentrum is gebreek en die een ingang is versper met sowat 10 tot 15 stoele wat opmekaar gestapel is.

EFF-lede het beledigings rondgeslinger, afgevaardigdes as verraaiers uitgeskel en mekaar as bedrieërs uitgevloek.

Sowat 10 minute ná die chaos uitgebreek het, ‘n paar polisievoertuie asook veiligheidswagte opgedaag om orde te herstel.

‘n Joernalis is gedwing om dekking te neem en moes die polisie vir hulp ontbied nadat afgevaardigdes probeer het om sy kamera met geweld te neem om hom te verhoed om foto’s van die geweld te neem. Die polisie het uiteindelik het sy kamera geneem om die situasie te ontlont.

Intussen het ‘n EFF-koördineerder, Mabatho Mokause, wat self oor die kop geslaan is met ‘n stoel, Baartman beskuldig van korrupsie en omkopery van afgevaardigdes met R10 000 om vir hom te stem.

 

Lyk langs elektriese substasie gevind

cableDie lyk van ‘n man is by ʼn elektriese substasie naby ‘n treinspoor tussen Roodepan en Barkly-Wes in die Noord-Kaap gevind.

Die man is vermoedelik deur ‘n transformator doodgeskok, het die polisie gesê.

‘n Polisiewoordvoerder Sergio Kock sê ʼn treindrywer het Sondag die lyk ontdek.

ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Volgens Kock het die man ʼn wit-en-blou T-hemp, ʼn swart sweetpakbroek en bruin pantoffels aangehad.

Die voorval word tans ondersoek.

Zuma sê skaliegas is geleentheid vir Karoo

brekingDie ontdekking van skaliegas in die Karoo skep moontlikhede vir groei en ekonomiese ontwikkeling in die Noord-Kaap, het President Jacob Zuma Vrydag gesê.

“Ons is baie opgewonde oor die vooruitsig, want die regering beskou hidrouliese breking vir skaliegas as ‘n ‘spelbreker’ en ‘n geleentheid vir die Karoo-streek en vir ons ekonomie in die algemeen, ” het hy gesê in ‘n toespraak wat voorberei is vir aflewering by die bekendstelling van die Kalagadi Manganese maatskappy se Stanley Nkosi-myn.

“Ons moet hierdie potensiaal te verken,” het Zuma gesê.

Hy het gesê die regering is bewus van die kommer uitgespreek oor hidrouliese breking, insluitende die kwessies wat die provinsie se water en die omgewing kan benadeel.

“Die minister van minerale hulpbronne, Susan Shabangu sal dus vroeg volgende jaar na hierdie gebied terugkeer om met gemeenskappe oorleg te pleeg, en om te hoor wat die mense te sê het, voordat enige verdere besluite geneem word deur die regering oor hierdie saak.”

Breking is die proses waardeur rotsformasies gekraak word deur vloeistof diep in die grond in te pomp om natuurlike gas was vasgevang in skalielae is te onttrek.

‘n Jaar gelede het die Kabinet ingestem om ‘n moratorium op aansoeke ter ontginning van skaliegas in die Karoo op te hef .

Die besluit is gebaseer op die aanbevelings vervat in ‘n verslag oor skaliegaseksplorasie wat voorberei is deur ‘n tegniese taakspan, wat die minister in die Presidensie Collins Chabane verlede September aangekondig het.

In Augustus, het Rob Davies, die minister van Handel en Nywerheid gesê die regering kan skaliegaseksplorasie magtig voor volgende jaar se verkiesing .

Verskeie drukgroepe wat daarteen gekant is, glo dat die land se wette “onvoldoende is om ‘n bedryf te beheer met ‘n erg besmette reputasie oor die proses van hidrouliese breking”.

Die regering het grootliks staatgemaak op navorsing in opdrag van die departement van minerale bronne om die potensiële gevolge van hidrouliese breking te ondersoek wat nie die multi- dissiplinêre aard van mynbou- aktiwiteite in ag geneem het nie.

Zuma het gesê R6.5 miljard se kapitaal is in die provinsie ingespuit oor die afgelope vier jaar, met ten minste 3000 regstreekse werkgeleenthede wat sodoende geskep is.

Renosterstropery neem kritieke afmetings aan

renoster2Die Noord-Kaap blyk ‘n veilige toevlugsoord vir renosters te wees.

Die omgewingskenner, Werner Boeing van Bloemfontein Natuurbewaring sê geen renosters is die afgelope jaar in die Noord-Kaap gestroop nie.

Hy waarsku egter dat boere op hul hoede moet wees. Daar is meer as 20 boere wat met renosters in die provinsie boer.

Die oënskynlike veiligheid van renosters word toegeskryf aan die grootte van die provinsie en die feit dat die bevolking wyd versprei is.

Die renosterboer, Wian van der Linde sê ook mense ken mekaar in die gemeenskappe en dus word vreemde elemente vinnig uitgeken.

Syfers wat gister bekendgemaak is toon dat meer as honderd renosters die afgelope vier weke in Suid-Afrika vir hul horings doodgemaak is.

Die ministerie van omgewingsbewaring sê die situasie neem kritieke afmetings aan omdat meer renosters doodgemaak word as wat gebore word. – RSG