Nigerië teken kernooreenkoms met Rusland

Nigerië het `n kernkragooreenkoms met Rusland onderteken. Die koste van die projek is nie bekend gemaak nie.

Die projek sal ook as `n veelvuldige toets vir navorsing met `n reaktor-kompleks dien.

Nigerië sê die projek sal help met die gebruik van kerntegnologie op die gebiede van wetenskap, medisyne en landbou.

Die direkteur-generaal van Nigerië se kernkrag-kommissie, Franklin Osaisai sê Rusland sal die kompleks ontwerp, bou en bedryf. Die reaktor by die stad Sheba-Abuja sal slegs tien megawatt krag opwek.

Hy het opgemerk dat Nigerië, met sy groot bevolking, dit nie kan bekostig om die huidige geleentheid te laat verbygaan nie.

Hy het ook erken dat die projek teen ‘n groot koste van $80 miljard sal opgerig word, maar het bygevoeg dat die koste nie met skoon energie en voldoende elektrisiteit kan vergelyk nie.

Hoewel Nigerië ander bronne van energie het, sê Osaisai dat “gebalanseerde en gediversifiseerde energievoorsiening” noodsaaklik is “want dit is omgewingsvriendelik en lei tot ‘n beter bewaring van ander bronne”.

Nigerië was eerste in Afrika om ‘n ondersoekreaktor te bou in 2004, een van Chinese-oorsprong by Ahmadu Bello Universiteit.

‘n Militante-groep het intussen vir die derde keer in ‘n week ‘n olie- en gasaanleg in Nigerië se toenenemd geweldgesteisterde en olieproduserende suide van die land aangeval.

Nigerië se olie-infrastruktuur word met bomme gesaboteer wat veroorsaak het dat produksie van 2,2 miljoene vate per dag tot 1,4 miljoen vate per dag – die laagste in 20 jaar – gedaal het.

Trump het genoeg afgevaardigdes vir ‘n nominasie

Donald Trump het 1237 afgevaardigdes nodig gehad om die Republikeinse nominasie wen. Hy staan tans op 1238.

Met 303 afgevaardigdes op die spel in vyf state se voorverkiesing op 7 Junie, sal Trump maklik sy doelwit haal en ‘n betwiste konvensie in Cleveland systap.

Sekere belangegroepe binne sy party het gehoop om hom uit die resies vir die Amerikaanse presidentskap te hou met ‘n betwiste konvensie waar hulle ‘n ander kandidaat wou stel in sy plek.

Trump, ‘n politieke dier, een wat jare lank bytende kommentaar oor die stand van die VSA van die kantlyn af gelewer het, maar nog nooit aktief deelgeneem het nie, het 16 ander Republikeinse aanspraakmakers lag-lag verslaan.

Miljoene voetsoolvlak-aktiviste, baie van hulle buitestaanders van die politieke proses, het hom omhels as ‘n wenner wat nie doekies omdraai as dit by die kaalkopwaarheid kom nie.

Die voorsitter van die Colorado Republikeinse Party en ‘n ongebonde afgevaardigde wat sy ondersteuning aan Trump bevestig het, het gesê hy hou van die miljardêr se geskiedenis as ‘n sakeman.

“Leierskap is leierskap. As hy homself met politieke talent kan omring, ek dink hy sal goed wees.”

Trump se veldtogonkoste van $57 miljoen was besonder laag. Hy het die grootste deel daarvan gedek met sy eie geld wat hy geleen het aan die veldtog, ongeveer $43 miljoen.

Trump het ‘n nuwe fase van sy veldtog Dinsdagaand geloods met sy eerste groot veldtogfondsinsameling: ‘n Dinee in Los Angeles.

Trump, 69, die seun van ‘n New York eiendomsmagnaat, het voorheen finansiële teëspoed gehad, maar dit oorkom.

Twitter herontwerp 140 karakter-ruimte

Twitter se 140-karakterperk in hul twiets sal aangepas word om effens langer boodskappe toe te laat.

Die maatskappy spreek egter net “een simptoom” van hul grootste uitdaging aan: Die groei van sy gehoor, wat in die afgelope jaar afgeplat het.

Twitter se probleme om nuwe gebruikers lok en te behou sal nie opgelos word met hierdie nuwe veranderinge nie, meen markontleders.

“Die kernprobleem is die verkryging van nuwe gebruikers en om hulle in lojale gebruikers met verloop van tyd te omskep,” het ‘n ontleder van Gartner, Brain Blau gesê.

“En ons het niks van Twitter nog gesien wat my laat glo dat hulle die fundamentele probleem aanspreek nie.”

Skakels na webwerwe en foto’s gaan voortaan nie meer as karakters tel nie.

Twitter dreig al geruime tyde om die aantal karakters te heroorweeg.

Webskakels word outomaties deur Twitter verkort, maar die stelsel het nogtans gesorg dat gebruikers aan ruimte inboet.

Jack Dorsey, ­medestigter en uitvoerende hoof, het vroeër gesê hulle sal beter maniere ondersoek sodat skermgrepe van teks of sogenaamde “twietstorms” – opeenvolgende twiets oor dieselfde onderwerp – nie geplaas hoef te word nie.

Dorsey het in Maart gesê die karakterperk sal bly.

Die perk is aanvanklik ingestel omdat 160 karakters voorheen die perk was op mobiele teksboodskappe toe Twitter in 2006 bekend gestel is.

Tans onderskei die karakterperk Twitter van ander sosiale media, soos Facebook, wat al vroeg-vroeg die hoeveelheid karakters opgehef het.

Twitter is ideaal vir nuus en regstreekse gebeure.

Meksikaanse oproeriges brand vlae by Trump-saamtrek

Oproeriges het berede polisie met klippe bestook en brande gestig buite ’n saamtrek wat Donald Trump in Albequerque in die Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko toegespreek het.

Woensdagaand het Meksikane Amerikaanse vlae aan die brand gesteek en hul eie vlae rondgeswaai saam met anti-Trump-betogers buite die lokaal waar Trump gepraat het.

Die oproeriges het met polisielede slaags geraak nadat hulle versperrings omgegooi en bottels en klippe begin gooi het. ‘n Deur van die lokaal waar die saamtrek gehou is, is ook beskadig.

Volgens die polisie is die deur met ‘n windbuks geskiet, wat onwaarskynlik is aangesien dit van veiligheidglas gemaak is.

Die polisie het die geweld probeer onderspeel en niemand is vir openbare geweld in hegtenis geneem nie. Hulle wou nie beweringe dat skote deur betogers afgevuur is, bevestig nie.

Geen berigte van ernstige beserings is glo ontvang nie. CNN het bevestig dat niemand in hegtenis geneem is nie.

Die polisie het vroeëre berigte ontken dat traanrook gebruik is teen die betogers, wat oënskynlik ontevrede is met Trump se uitsprake oor immigrasie.

Trump het Dinsdagaand die Republikeinse Party se voorverkiesing in die deelstaat Washington gemaklik gewen. Die wenner benodig die steun van 1 237 afgevaardigdes.

Volgens CBC is Trump se steun van 1 193 afgevaardigdes, slegs 44 minder as wat nodig is om as dié party se presidentskandidaat vir die verkiesing in November aangewys te word.

Ander bronne meen dat die syfer nog hoër is, te wete 1 229.

Trump het in Washington sowat 76% van die stemme op hom verenig.

Hillary Clinton het die Demokratiese Party se voorverkiesing in ­Washington gewen.

Clinton loop ver voor in haar stryd teen Sanders. Sy het altesaam 2 305 afgevaardigdes se steun en Sanders 1 539.

Sy moet 2 383 afgevaardigdes se steun kry om die Demokratiese Party in die presidentsverkiesing te verteenwoordig.

Taliban kies nuwe leier ná VSA-aanval

Die Taliban in Afganistan het gister sy nuwe leier aangewys nadat die vorige leier, Moellah Akhtar Mansoer, Saterdag in ’n Amerikaanse lugaanval dood is.

Haibatoellah Akhoenzada, wat adjunkleier was, is as die nuwe leier aangewys, het Reuters berig.

Hy is ook die voormalige hoof van die Talibanse regbank. Pres. Barack Obama het Maandag bevestig Mansour is in ’n Amerikaanse lugaanval dood.

Obama het toestemming gegee vir die aanval met onbemande vliegtuie Saterdag in ’n afgeleë gebied van Pakistan, net binne die grens met Afganistan.

Pres. Barack Obama het tydens sy reis na Viëtnam gesê die aanval is geoorloof, maar ontleders sê die stap sal niks doen om die insurgensie te laat ophou nie.

Die Taliban het binne drie dae ‘n nuwe leier aangewys.

Die VSA het klaarblyklik die vir Mansoer in Pakistan om die lewe gebring en nie in Afghanistan waar hulle ontplooi is nie.

Sy besoek aan ­Viëtnam het origens in ’n gees van welwillendheid tussen die twee voormalige vyande verloop.

Dit het aan die lig gekom dat sommige leiers verbied is om ’n ­vergadering by te woon wat Obama met gemeenskapsleiers gehad het.

EgyptAir het glo skerp geswenk sê Griekse lugbeheer

Die hoof van Egipte se forensiese owerheid het ’n gevolgtrekking verwerp dat slegs klein stukkies liggaamsdele ná die EgyptAir-ramp gevind is omdat ’n ontploffing aan boord plaasgevind het.

’n Intensiewe ondersoek is aan die gang waarom die Airbus 320 van EgyptAir Donderdagoggend vroeg met 66 passasiers aan boord in die Middellandse See neergestort het.

Die grootste deel van die wrak, sowel as die vlugopnemers, is nog nie gevind nie.

’n Egiptiese forensiese amptenaar het gesê 23 sakke liggaamsdele is sedert Sondag gevind, het Reuters berig.Die opnemers se batterye hou net 30 dae.

Inligting wat verskaf is deur die lugvaartowerheid in Griekeland, wat die vliegtuig gemonitor het voordat dit Egiptiese lugruim bereik het, verskil van die Egiptiese inligting oor die vliegtuig se laaste oomblikke.

Panos Kammenos, Griekeland se minister van verdediging, het Donderdag gesê die Griekse radarnetwerk het skerp bewegings raakgesien voordat die vliegtuig hoogte verloor en toe verdwyn het.

Ehab Mohieldin Azmi, hoof van Egipte se lugnavigasiediens­, het gesê Egiptiese amptenare het nie opgemerk dat die vliegtuig swenk of hoogte verloor nie.

“Natuurlik het ons meer as een keer probeer om die vliegtuig te roep, maar daar was geen reaksie nie. Ons het vliegtuie in die omgewing gevra om ook te probeer, maar dit was onsuksesvol,” het hy gesê.

Egipte se openbare vervolger het Griekeland gevra om transkripsies van gesprekke tussen die vlieënier en die Griekse lugverkeerbeheer te oorhandig, asook dat amptenare ondervra word of die vlieënier ’n sein gestuur het dat die vliegtuig in die moeilikheid is.

Tot dusver is geen aanduidings van plofstof gevind nie. Hisjam Abdelhamid, hoof van Egipte se forensiese owerheid, het gesê dit is te vroeg om tot enige gevolgtrekking te kom.

Minstens twee ander bronne met regstreekse kennis van die ondersoek het gesê dit is te vroeg om te sê wat die oorsaak van die ongeluk was. Franse ondersoekers het gesê die vliegtuig het ’n reeks waarskuwingseine oor rook aan boord, asook ’n moontlike rekenaarprobleem, gestuur net voordat die vliegtuig van die radarskerms verdwyn het.

Lugvaartkenners het gesê sabotasie of ’n tegniese probleem kan nie uitgeskakel word nie. Ondersoekers maak staat op die wrakstukke, sakke en klere, sowel as chemiese ontledings om die spore van ’n ontploffing te probeer vind.

’n Span wat deur Egipte se burgerlugvaartowerheid saamgestel is, doen die tegniese ondersoek.

Drie amptenare van Frank­ryk se burgerlugvaart-­ondersoekeenheid en ’n kenner van Airbus is ook sedert Vrydag in Kaïro om te help. Egipte het ’n robotduikboot gestuur en Frankryk ’n skip om na die vlugopnemers te soek.

Teen druktyd was daar nog nie sprake dat die opnemers gevind is nie. Hulle lê in ’n gebied waar die see tot 3 000 m diep is.

Familielede van slagoffers gaan tuis in ’n hotel naby die Kaïro-lughawe. Hulle gee nou DNS-monsters om te help om die liggaamsdele te identifiseer.

Amjad Haqi, ’n Irakiër wie se ma, Najla, omgekom het, het ­gesê die families is nie amptelik ingelig dat liggaamsdele gevind is nie.

“Al waaraan hulle kan dink, is om die vlugopnemers en die wrakstukke te kry. Dis hul probleem, nie myne nie.”

Obama wil wapens aan kommunistiese Viëtnam verskaf

Die Amerikaanse president, Barack Obama, het die week die verbod op wapenverkope aan Viëtnam opgehef.

Betrekkinge tussen die voormalige Koue Oorlog-vyande versterk toenemend danksy handelsbande en wedersydse vrees oor Chinese uitbreidings in die Suid-China see.

Die aankondiging is gedoen met die aanvang van Obama se driedaagse besoek aan Viëtnam. Die beëindiging van die dekades-lange embargo sou na verwagting ‘n steen des aanstoots vir Beijing wees.

“Amerika hef ten volle die verbod op die verkoop van militêre toerusting aan Viëtnam op, wat vir byna vyftig jaar in plek was,” het Obama tydens ‘n gesamentlike mediakonferensie met sy Viëtnamese eweknie, pres. Tran Dai Kwang, gesê.

Dit is Obama se eerste besoek aan Vietnam en die derde besoek van ‘n dienende Amerikaanse president sedert die einde van die Viëtnamoorlog in 1975.

Regstreekse Amerikaanse betrokkenheid by die oorlog het in 1973 geëindig.

China was onthuts deur die aankondiging en het in ‘n verklaring gesê die VSA moet nie vure in Asië aansteek nie.

China en Viëtnam se betrekkinge is op ‘n laagtepunt nadat ‘n dispuut uitgereek het tussen die twee oor eilande in die Suid-Chinese See.

China sê die VSA se besorgdheid oor menseregte elders is skynheilig omdat Viëtnam nie daaroor besorg is nie.

Geen plofstof op menslike oorskot van EgyptAir-ramp nie

Egipte het Sondag ’n duikboot gestuur om te help met die soektog na die vlugopnemers van die straler van Egypt­Air wat in die Middellandse See neergestort het. Al 66 mense aan boord het gesterf.

Honderde mense het Sondag in die Koptiese Christelike kerkgebou in Kaïro vergader om vir naasbestaandes onder die slagoffers te bid.

Daar is nog geen aanduiding wat tot die neerstorting van vlug 804 van Parys na Kaïro gelei het nie, ten spyte van spekulasie oor plofstof.

Egipte se pres. Abdel-Fattah el-Sissi sê dit sal tyd neem om vas te stel wat presies aan boord van die Airbus A320 gebeur het.

Menslike oorskot dui daarop dat daarop dat geen plofstof gebruik is nie, het ‘n Egiptiese forensiese beampte en ondersoekbronne gesê.

Egipte se lugvaartnywerheid is onder die interna­sionale vergrootglas sedert 31 Oktober verlede jaar. Toe het ’n Russiese Airbus A321 onderweg van die Rooi See oord Sharm el-Sheikh onderweg na St. Petersburg, in die Sinai-skiereiland neergestort.

Altesame 224 mense het in daardie ongeluk die lewe gelaat.

Dodelike vlaag aanvalle deur ISIS in Sirië

Minstens 101 mense is die week in twee regeringsbastions in Sirië dood in ‘n vlaag aanvalle waarvoor die Islamitiese Staat (ISIS) aanspreeklikheid aanvaar het.

Altesaam 53 mense is dood in die stad, Jableh en ‘n verdere 48 is in Tartus, verder suid dood, het AFP berig.

Volgens ‘n woordvoerder van die organisasie Rami Abdel Rahman, is dit “sonder twyfel die dodelikste aanvalle” op die twee stede sedert die konflik in Sirië in Maart 2011 begin het.

Sewe bomme, waarvan die meeste selfmoordbomaanvalle was, het Jableh en Tartus Maandagoggend byna gelyktydig getref.

Die Siriese staatsmedia het ook oor die aanvalle verslag gedoen en die staatstelevisie het beeldmateriaal van ‘n bushalte in Tartus, vertoon waar een van die aanvalle plaasgevind het.

Die uitgebrande wrakke van minibusse was op die toneel sigbaar, terwyl ander voertuie nog in ligte laaie was.
Ander teikens was nog ‘n bushalte en ‘n regeringshospitaal.

Albei stede is vestings van die bewind van pres. Basjar al-Assad, wie se familie oorspronklik van die Qardaha-nedersetting, net 25 kilometer oos van Jableh afkomstig is.

Die stede was tot nou toe redelik afgesonder van die oorlog wat in Sirië woed en waarin minstens 270 000 mense sedert 2011 omgekom het.

Washington sal voortgaan om ‘n rebellegroep wat na bewering met ‘n bloedbad in Sirië verbind word, te steun.

Die groep is glo “gekeur” deur die Saoedi’s en het ‘n rol in die Siriese politieke proses gespeel, die Department van buitelandse sake se woordvoerder gesê.

Ahrar Al-Sham (Harakat Ahrar ash-Sham al-Islamiyya) is een van die grootste rebellegroepe in Sirië, en behoort aan die Saoedi-gesteunde onderhandelingskomitee.

Dit word beskou as ‘n party tot die Siriese skietstilstand, wat tans onderhandel wprd met Rusland en die VSA.

Oostenryk se regses verloor na skietery verlinkses red

Oostenryk het byna die eerste Europese Unie-lidland geword wat ‘n ver-regse staatshoof verkies het, maar ‘n skietery het dit verhoed.

Voorlopige uitslae láát Sondag het Norbert Hofer van die Vryheidsparty (FPO) ‘n voorsprong van 3,8 persentasiepunte gegee.

Maar drie mense is dood by ‘n konsert in die dorp Nenzing in die weste van Oostenryk terwyl inwoners by die stembusse was.

‘n Sewe-en-twintigjarige man het op konsertgangers geskiet en twee mense is dood. Elf mense is in die voorval gewond. Die man het homself daarna doodgeskiet.

Volgens die polisie het die aanvaller ‘n rusie met sy vriendin gehad waarna hy ‘n vuurwapen in sy motor gaan haal het. Hy het voor die voet op die sowat 150 mense losgebrand wat die konsert bygewoon het.

Die skietery het die regse kandidaat Hofer se kanse bederf aangesien hy ‘n voorstander van vuurwapens is. Die haarbreedte voorsprong van net 144 006 stemme is uitgewis met die tel van ongeveer 700 000 posstemme na die skietery.

Hofer, die 45-jarige vuurwapenentoesias, het groot steun onder Oostenrykers wat ongemaklik is met die rekordaantal asielsoekers wat Europa verlede jaar tydens die vlugtelingkrisis binnegestroom het en kriminaliteit laat verhoog het.

Die verlinkse Alexander van der Bellen van die Groenparty het die anti-immigrasie kandidaat van die Vryheidsparty, kon Hofer net-net verslaan het.

Die uitslae van die verkiesing vir die grotendeels seremoniële amp is senuagtig in Europa afgewag. Die Vryheidsparty het sy teleurstelling met die nederlaag uitgespreek, maar rekordgetalle in steun verwelkom.

Die 72-jarige Van der Bellen sou sonder die skietinsident nooit die pyp gerook het nie, aangesien Hofer voorgeloop het.

Indien Hofner verkies is, sou Oostenryk die eerste lidland van die EU wees met ‘n verregse staatshoof.

Hofer se voorganger, Jörg Haider is onder vreemde omstandighede in ‘n motorongeluk oorlede.