Meksikaanse oproeriges brand vlae by Trump-saamtrek

Oproeriges het berede polisie met klippe bestook en brande gestig buite ’n saamtrek wat Donald Trump in Albequerque in die Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko toegespreek het.

Woensdagaand het Meksikane Amerikaanse vlae aan die brand gesteek en hul eie vlae rondgeswaai saam met anti-Trump-betogers buite die lokaal waar Trump gepraat het.

Die oproeriges het met polisielede slaags geraak nadat hulle versperrings omgegooi en bottels en klippe begin gooi het. ‘n Deur van die lokaal waar die saamtrek gehou is, is ook beskadig.

Volgens die polisie is die deur met ‘n windbuks geskiet, wat onwaarskynlik is aangesien dit van veiligheidglas gemaak is.

Die polisie het die geweld probeer onderspeel en niemand is vir openbare geweld in hegtenis geneem nie. Hulle wou nie beweringe dat skote deur betogers afgevuur is, bevestig nie.

Geen berigte van ernstige beserings is glo ontvang nie. CNN het bevestig dat niemand in hegtenis geneem is nie.

Die polisie het vroeëre berigte ontken dat traanrook gebruik is teen die betogers, wat oënskynlik ontevrede is met Trump se uitsprake oor immigrasie.

Trump het Dinsdagaand die Republikeinse Party se voorverkiesing in die deelstaat Washington gemaklik gewen. Die wenner benodig die steun van 1 237 afgevaardigdes.

Volgens CBC is Trump se steun van 1 193 afgevaardigdes, slegs 44 minder as wat nodig is om as dié party se presidentskandidaat vir die verkiesing in November aangewys te word.

Ander bronne meen dat die syfer nog hoër is, te wete 1 229.

Trump het in Washington sowat 76% van die stemme op hom verenig.

Hillary Clinton het die Demokratiese Party se voorverkiesing in ­Washington gewen.

Clinton loop ver voor in haar stryd teen Sanders. Sy het altesaam 2 305 afgevaardigdes se steun en Sanders 1 539.

Sy moet 2 383 afgevaardigdes se steun kry om die Demokratiese Party in die presidentsverkiesing te verteenwoordig.

One thought on “Meksikaanse oproeriges brand vlae by Trump-saamtrek”

Maak 'n opvolg-bydrae