Aan die einde van Mei is nog ‘n kind met ‘n oppasser en bestuurder ontvoer. Die nasionaliteit van die kind is nie bekend gemaak nie. Die vrylating het blykbaar vier dae later geskied. Dit is nie bekend of ‘n losprys geëis is nie.
"Die situasie in die state Bayelsa, Delta en Rivers is onveilig," lui die verklaring. Praktiese raad is om "nie snags en met dagbreek te bestuur nie, vermy openbare plekke in Port Harcourt waar buitelanders saamkom. Dit sluit kroeë en restaurante in." Sedert 2006 is daar reeds 180 buitelanders ontvoer in die Nigerdelta.
Sedert 2006 is altesaam 31 Britte ontvoer en een is gedood nadat die Nigeriese owerhede probeer het om die ontvoerde met geweld te bevry. Die meeste word egter na ‘n paar dae of hoogstens ‘n paar weke ongeskonde vrygelaat. Terwyl die Nigeriese regering en die multinasionale oliemaatskappye heftig ontken dat hulle ‘n losprys betaal, is dit alombekend dat dit ‘n manier is vir die ontvoerders om ‘n inkomste te genereer.
‘n Dag tevore is vyf buitelanders ontvoer, almal in die oliebedryf werksaam. Die onderneming by wie hulle in diens is, Lone Star Drilling, was besig om vir die Shell-oliemaatskappy te boor. Die aanhoudende ontvoerings het Shell en Total genoop om die gesinne van hul werknemers te ontruim en hul aktiwiteite af te skaal. Nigerië se olieproduksie het met 25% as gevolg daarvan gedaal.
