Die Warskouse koerant, Zycie Warszawy, het Dinsdag berig dat die glanstydskrif Glamour jaarliks ‘n hoëhakresies organiseer. Die resies vereis dat 150m afgelê moet word met ‘n paar hakke wat ten minste sewe cm hoog staan. Slegs vroue, ouer as 18, mag inskryf vir die wedloop.
Die wenner vanjaar was egter geen "Agnieszka" nie maar ‘n "Piotr". Die vinnige kêrel is na afloop van sy sege oor die vroue ontmasker. Die organiseerders het snuf in die neus gekry en ‘n meer "deeglike" ondersoek as gewoonlik van stapel gestuur.
As rede vir sy moeite, het hy gesê dat hy "’n grap wou maak." Die Pool op polvye sou ‘n koopbewys van 10 000 zlotys (R25 000) ryker gewees het waarmee hy vroueklere sou kon aanskaf. Die prys is egter aan die naaswenner oorhandig.
Die naaswenner het maar bra bek-af gelyk want sy het ‘n hele 25 sekondes agter die voorloper oor die wenstreep gestrompel.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.