Nie net die Amerikaners nie, maar ook die Russe het aangedui dat die atmosfeer streng vriendskaplik moet bly en die Russe het selfs van "huislik" gepraat. Sondagaand was daar dus kreef op die tafel, asook swaardvis en vir nagereg bloubosbessietert. Aan tafel saam met die twee leiers was Bush se ouers, diplomatieke afgevaardigdes en nasionale veiligheidsraadgewers.
Die woordvoerder van die Withuis het benadruk dat daar geen opspraakwekkende diplomatieke deurbraak in Kennebunkport sal gebeur nie. "Ek verwag niks nie […] ons het dit duidelik gestel dat ons geen belangrike aankondiging verwag nie." Dat daar wel sake is wat dringend aandag sal moet geniet, is seker, maar nie een van die twee lande wil enige toegewings maak oor enige knelpunt nie.
Wat die oprigting van missielafweerstelsels in Europa betref, het president Poetin egter laat blyk dat hy ‘n direkte antwoord op sy teenvoorstel van 8 Junie 2007 verwag. Die VSA het nog nie gereageer op die Russiese aanbod om die afweerstelsel nader aan Iran, wat Amerika as die aggressor beskou, te skuif nie. Ander onderwerpe sou in alle waarskynlikheid die uitbreiding van NAVO en die status van menseregte in Rusland insluit.
Laasgenoemde kwessie is blykbaar Sondag al geopper en afgehandel. Dan is daar ook sanksies teen Iran wat die Amerikaners graag strenger toegepas wil sien om die land se uraanverryking in te perk en die jonger Bush sal op Russiese samewerking in dié verband aandring om internasionale eenstemmigheid daaroor te bewerkstellig.
Dit is nie seker of Poetin oor Bush se moontlike opvolger in 2008 sal gesels nie. Bush is in ‘n onbenydenswaardige posisie sover dit sy gebrek aan gewildheid in talle meningsopnames betref. Rusland se energierykdom en kiesersvertroue in hul president het die kuiergas egter van die nodige selfvertroue voorsien.
