Nuwe kredietwet kan mediumgrootte ondernemings skaad

Ek wil net graag ‘n paar punte aanraak rakende die nuwe kredietwet wat in werking getree het op 1 Junie 2007. Vrydag 29 Junie het ek ‘n kursus bygewoon van ‘n advokaat wat spesialiseer in die nuwe wet. Dis ‘n baie omvattende wet en raak alle besighede. Ek het nie die omvang daarvan besef tot na die kursus nie.

Een van die noemenswaardige veranderinge in die wet is dat individue wat hulle vergryp aan krediet kwytskelding van skuld kan verkry op gronde van oorfinansiering. Volgens hierdie wet kan die persoon hom dan beroep op gronde van  te veel krediet.  In so ‘n geval kan die hof dan beslis dat die individu se skuld afgeskryf moet word omdat hy hom vergryp het aan krediet wat heeltemal roekeloos aan hom toevertrou is.  Dit plaas ondernemings in ‘n situasie waar hulle goedere verkoop en moontlik nie ‘n sent betaling gaan kry nie.  

Die advokaat het egter uitgewys dat die wet slegs van toepassing is op krediettransaksies. ‘n Krediettransaksie word omskryf as enige transaksie waar die persoon duurder vir die produk of diens betaal as in 'n kontant-, oor-die-toonbanktransaksie.  Dit sluit in enige addisionele kostes wat jy hef, byvoorbeeld rente, administrasiekoste ens.  Dit is ook gestel dat elke besigheid dus sy beleid sal moet bepaal of hy binne, of buite die kredietwet wil val.  Besighede waarvan rente en ander kosteheffings ‘n nominale deel uitmaak van sy inkomste sal outomaties moet voldoen aan die nuwe kredietwet.  Besighede waarvan die hoofdoel is om produkte te verkoop en rente nie ‘n noemenswaardige bron van inkomste is nie, kan egter hul transaksies so formuleer dat die kredietwet nie van toepassing is nie.  ‘n Manier om buite die kredietwet te handel word soos volg aangedui:

  • As besigheid, kan jy kan nog steeds rekeninge aan kliënte toestaan, bv. 30 dae-na-staatrekeninge, ensovoorts, maar moet net nie as die persoon agterstallig raak met sy rekening rente, administrasiekostes of enige ander heffing maak nie, want dan word die transaksie as ‘n krediet transaksie beskou. (Dit wil sê, dit werk die kliënt  duurder uit as wat hy slegs oor die toonbank die produk so koop.)
  • As kredietgewer moet jou kredietaansoekvorm, wat jy kliënte laat invul,  glad nie melding maak van rente of kostes wat gehef sal word  op laat betaling nie.
  • Indien ‘n kliënt nie kan betaal nie, kan jy as skuldeiser ‘n nuwe betaling skedule her beding  maar weereens mag daar nie rente of enige ander koste by gehef word nie.
  • As ‘n kliënt nie kan betaal nie, oorhandig dan die rekening aan ‘n prokureur.  Die prokureur mag dan kostes en rente hef.  Prokureurskostes word as apart beskou en verander nie die transaksie na ‘n krediettransaksie nie. Indien jy as besigheid wel krediettransaksies beklink, is daar ‘n magdom moets en moenies soos volg uiteengesit:
  • Sou jy as besigheid ‘n rekening aan ‘n kliënt wou toestaan, moet jy oor ‘n bepaalde metode of formule beskik, waarmee jy kan bereken of die persoon sy skuld sal kan betaal al dan nie.
  • Jy as besigheid mag nie meer net na willekeur ‘n kliënt se  kredietperk verhoog nie (tensy jy in sy aansoekvorm vir hom die keuse gegee het of hyself wil aansoek doen vir ‘n hoër limiet en of jy dit een maal ‘n jaar mag doen).  As die kliënt toestemming verleen dat jy sy limiet een maal ‘n jaar mag verhoog, moet die kliënt daarby teken as bewys dat hy jou toestemming verleen het.  Dan moet jy nog steeds  eers met ‘n metode of formule bepaal of hy die addisionele verhoogde limiet sal kan hanteer met inagneming van al sy ander skuld en maandelikse uitgawes.
  • Indien jy as besigheid ‘n kliënt ‘n rekening weier, mag die potensiële kliënt jou versoek om ‘n rede te verskaf.  Jy moet hom dan skriftelik jou redes meedeel waarom jy as besigheid voel die kliënt voldoen nie aan die vereistes om ‘n rekening te kry nie.  In geen omstandighede mag jy diskrimineer teen ‘n persoon om welke rede ook al nie.  Indien hy sou voel dat jy diskrimineer teen hom op grond van sy ras , voorkoms ens. mag hy jou gaan aangee by die verbruikersraad.  Indien die hof sou beslis dat jy wel gediskrimineer het, is daar ‘n moontlikheid dat jy jou kredietlisensie kan verloor.  Dit maak dan al jou voorafgaande transaksies ongeldig.
  • Volgens die nuwe wet is ‘n afkoelperiode van 5 dae van toepassing op enige krediettransaksie wat nie by die normale geregistreerde kantoor geteken word nie. M.a.w. as 'n kliënt jou bel en vra jy moet gou uitry na sy perseel en vir hom ‘n produk bring, dan word die transaksie nie by jou sakeperseel beklink nie. In so ‘n geval kan hy die produk terugbring na 5 werksdae. (sou hy nie tevrede wees nie).

My opinie van hierdie nuwe wet is dat dit daarop gemik is om die massas te bevoordeel ten koste van mediumgrootte ondernemings wat die ruggraat van die ekonomie vorm. Die skuldmaker se basiese persoonlike verantwoordelikhede word nou bloot verskuif na die potensiële goedere- en diensverskaffer en hul word verder belas deur nuwe kostes aan te gaan om hierdie verpligte fasiliteit te bied.

Dan laastens, net so vir die interessantheid, die volgende twee wette wat hersien gaan word, is die volgende:

•       Wet rakende kosprys van huise;

•       Wet rakende kommissie op die verkoop van eiendom.

in liveФильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae