EU-leiers, onder aanvoering van kanselier Angela Merkel, het ’n konsessie aan Pole gemaak deur te besluit om die huidige EU-verkiesingstelsel onveranderd te behou tot 2017. President Lech Kaczynski en sy tweelingbroer, die eerste minister Jaroslaw Kaczynski, het die besluit as ’n oorwinning vir Pole bestempel. Die Poolse eerste minister het ander EU-lande by die pas afgelope beraad geskok toe hy gesê het Pole is op groter stemregvoordele geregtig aangesien die land se bevolking nou veel meer as die huidige 38 miljoen sou beloop indien die Nazi’s nie miljoene Pole tydens die Tweede Wêreldoorlog vermoor het nie.
Die Italiaanse eerste minister, Romano Prodi, het in sy reaksie op die beraad gesê Europa het die gemeenskaplike wil om te vorder, verloor. Hy het Engeland veroordeel weens die land se “hardkoppige aandrang” om ’n Europese vlag en volkslied uitgesluit te kry van die EU-verdrag en het ook die houding van Pole gekritiseer. Die Duitse dagblad Bild, wat Angela Merkel ondersteun, meen dat dit beter sou gewees het as die samesprekings misluk het en glo nie dat die Kaczynski-broers met die konsessie van Brussel tevrede gaan wees nie.
