Britse kleuter in Nigeri? ontvoer

‘n Britse dogtertjie van drie jaar is Donderdagoggend in Port Harcourt, oliehoofstad, in die suide van Nigerië ontvoer. Die ontvoering het onthutsing en emosie veroorsaak onder buitelanders wat hulself in Nigerië bevind. Die ontvoerders van die klein Margaret Hill het reeds met haar vader Michael Hill in verbinding getree. Dit is nie duidelik of daar ‘n losprys gevra is nie.

Hulle het ‘n paar uur ná haar ontvoering laat weet dat die dogtertjie "gesond en veilig" is. ‘n Werknemer by ‘n oliemaatskappy wat die ontvoering voor die Educare International School gadegeslaan het, het aan die pers vertel wat gebeur het. "Die bende was in ‘n Toyota wat die Jeep Isuzu op ‘n afstand gevolg het. Skielik het hulle die voertuig afgesper en probeer om die deure oop te ruk, maar dit was gesluit."

 
"Toe breek hulle een van die vensters met die outomatiese wapens waarmee hulle gewapen was en gryp letterlik die kleuter deur die opening. Daarna het hulle vinnig spore gemaak sonder om ‘n skoot te skiet," vertel hy. ‘n Westerse diplomaat het Donderdag gemeen dat dit "baie ernstig is as hulle nou begin om kinders te teiken." Die kleuterskool bedien hoofsaaklik buitelandse kinders tussen die ouderdomme van 1 en 6.

Aan die einde van Mei is nog ‘n kind met ‘n oppasser en bestuurder ontvoer. Die nasionaliteit van die kind is nie bekend gemaak nie. Die vrylating het blykbaar vier dae later geskied. Dit is nie bekend of ‘n losprys geëis is nie.

Londen het die "onmiddellike vrylating" van die Hill-dogtertjie geëis asook dat haar "veiligheid verseker word". Die Foreign Office het ook op 8 Junie ‘n versoek gerig aan alle burgers om die gebied te verlaat. "Ons weet nie wie haar ontvoer het nie. Ons is in verbinding met die ouers en ons help hulle waar ons kan," het ‘n woorvoerder gesê.

"Die situasie in die state Bayelsa, Delta en Rivers is onveilig," lui die verklaring. Praktiese raad is om "nie snags en met dagbreek te bestuur nie, vermy openbare plekke in Port Harcourt waar buitelanders saamkom. Dit sluit kroeë en restaurante in." Sedert 2006 is daar reeds 180 buitelanders ontvoer in die Nigerdelta.

Sedert 2006 is altesaam 31 Britte ontvoer en een is gedood nadat die Nigeriese owerhede probeer het om die ontvoerde met geweld te bevry. Die meeste word egter na ‘n paar dae of hoogstens ‘n paar weke ongeskonde vrygelaat. Terwyl die Nigeriese regering en die multinasionale oliemaatskappye heftig ontken dat hulle ‘n losprys betaal, is dit alombekend dat dit ‘n manier is vir die ontvoerders om ‘n inkomste te genereer.

‘n Dag tevore is vyf buitelanders ontvoer, almal in die oliebedryf werksaam. Die onderneming by wie hulle in diens is, Lone Star Drilling, was besig om vir die Shell-oliemaatskappy te boor. Die aanhoudende ontvoerings het Shell en Total genoop om die gesinne van hul werknemers te ontruim en hul aktiwiteite af te skaal. Nigerië se olieproduksie het met 25% as gevolg daarvan gedaal.
 

магазин игрушкалобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae