Spie?lsaal, Versailles
Die 357 spieëls in die beroemde Spieëlsaal van Versailles skitter weer nadat ‘n restourasie-projek deur die firma Vinci onderneem is. Die pragtige Saal sal komende Woensdag vir die publiek oopgestel word. Die projek het drie jaar se harde werk gekos, net so lank as wat dit die skilder Le Brun geneem het om die indrukwekkende dak te voltooi. Die daktoneel beeld ‘n reeks oorlogsoorwinnings van Lodewyk XIV uit.
Werk aan die bou van die Saal is in 1678 begin. Die sewentien boogvensters wat ‘n uitsig bied op een van die mooiste tuine in Europa, is deur argitek Jules Hardouin-Mansart beplan om die Sonkoning en sy eggenote se appartemente aan mekaar te verbind.
‘n Monopolie op die vervaardiging van spieëls, een van die duurste en mees gesogte items in die sewentiende eeu, is deur die republiek van Venisië afgedwing. Om dus te hou by die onderneming om net Franse vakkennis aan te wend vir die bou van die Saal, moes vakmanne uit Venisië omgekoop word om in Gobelins met die vervaardiging van spieëls te begin.
Alhoewel die silika van Normandië verkry is, soos laboratoriumtoetse bewys, dink die navorsers betrokke dat die spieëls dalk nooit in Frankryk vervaardig is nie en dat die ongemaklike feit weggesteek is. Hulle kon nie een bestelling vir die sogenaamde glasfabriek wat spieëls maak in Gobelins opspoor nie!
Aan die noordekant van die Spieëlsaal is die Oorlogsaal en aan die suidekant die Vredesaal. Lodewyk XIV het die vertrek daagliks as ‘n deurgang na sy Kapel geneem. Die swanesang van sy absolutistiese heerskappy is in die lang vertrek, toe vol ornate silwer meubels, voltrek.
Die mees rojale ontvangs ooit is daar in 1715 vir die ambassadeur van die Sjah van Persië, Mohamed Reza Beg, gehou, maar dit het later geblyk dat die rol van die gesant deur ‘n swendelaar gespeel is wat deur die koning se eie raadgewers gehuur is.
In die negentiende eeu is die vredesluiting om Pruise se oorwinning oor Frankryk te vier op 18 Januarie 1871 in die Spieëlsaal afgehandel en Willem I is tot die Keiserryk se koning gekroon. Die swaar oorlogskuld wat Frankryk opgelê is, sou bydra tot Pruise se opbloei.
Dit was maar een van vele geskiedkundige oomblikke wat deur die mure teruggekaats is. Op 28 Junie 1919 teken Clemenceau die Verdrag van Versailles wat die Eerste Wêreldoorlog sou beëindig en die grondslag vir die Tweede Wêreldoorlog sou lê.
Vir die eerste maal in die Spieëlsaal se geskiedenis is ‘n volle restourasieprojek, van vloer tot dak, deurgevoer. Elke stukkie brons, hout en glas is skoongemaak en waar nodig herstel, teen ‘n prys van 12 miljoen euro.
Net die dokumentasie van die Saal se binne-argitektuur alleen het ‘n jaar geduur. Van die dakskildery se oppervlak van 1 000m2 was daar byvoorbeeld 80% in die verlede tydens klein restourasiewerkies oorgeskilder, is daar vasgestel.
Die oorspronklike werk van Le Brun is dus hierdie keer heeltemal noukeurig blootgelê en die 40 personeellede betrokke was oorstelp met die vonds. "’n Baie fyn oog vir kleur en ‘n baie groot skilder," sê Meneer Didier wat die projek gelei het. Die herstelwerk het die span in staat gestel om te sien hoe die skilder sy tonele beplan het en waar hy gehuiwer het. Sodoende kon hulle ‘n unieke insig in sy werkmetode verkry.
Die ontdekking wat kunshistorici die meeste getref het, was dat die blou wat Le Brun gebruik het simbolies van donker na lig geskakeer word hoe nader die kyker aan die Oorlogsaal beweeg. Die oorspronklike groen-brons verguldings van die lyste en om die vensters is ook teruggebring. Elke detail is deur en deur geverifieer om met argiefbeskrywings te klop. "Ons het niks bygevoeg nie," het die direkteur bevestig.
play free slots casinoтопкарго кидалы