Noord-Kaap se gesondheidsdepartement stort in duie

Die provinsiale gesondheidsdepartement van die Noord-Kaap word tans deur die plaaslike tesourie en die kantoor van die eerste minister geadministreer. Dit volg op jare van nepotisme en korrupsie.

Volgens die waarnemende LUR vir gesondheid in die Noord-Kaap, Gomolemo Lucas, gaan “verstandige finansiële stelsels“ vir die department geskep word. Hy het toegegee dat daar verskeie wanpraktyke in die tenderproses die afgelope paar jaar plaasgevind het. Lucas se uitsprake bevestig die ouditeur-generaal se bevindinge van laas jaar. Die OG het naamlik op ’n hele klomp onreëlmatighede in die departement se finansiële bestuur afgekom. Probleme is toegeskryf aan onbekwaamheid en ook aan korrupsie.

Gedurende die 2005/2006 finansiële jaar is ’n ongespesifiseerde aantal gesondheidsdiensamptenare in die Noord-Kaap afgedank weens pogings om die departement van R1,7 miljoen te beroof deur bankbesonderhede van ’n verskaffer te verander en die geld in hul eie privaat rekeninge te laat inbetaal.
 
Die ouditeur-generaal het egter die aankoopprosedure van die department die meeste gekritiseer. So het die departement byvoorbeeld kospakkies ter waarde van R1,8 miljoen aangekoop sonder om enige tenders uit te reik. Alle aankope van meer as R200 000 is volgens regulasies veronderstel om deur middel van tenders besleg word.
 
Sommige maatskappye wat vir tenders aansoek gedoen het, bestaan nie. In party gevalle is tenders van ”kompeterende maatskappye” vanaf die maatskappy wat die tender suksesvol behaal het, se faksmasjien af gestuur.
 
Die bestuur van medisyne in die departement se besit is nog ’n probleemarea. Geen maatreëls word getref om medisyne waarvan die vervaldatum verstryk, te vervang nie. Klinieke se voorraad word ook nie altyd aangevul nie.
 
Volgens Gareth Morgan, die Demokratiese Party se segsman oor gesondheidsaangeleenthede, behoort ander provinsiale gesondheidsdepartemente ook ondersoek te word. In die Limpopo-provinsie vind onreëlmatighede ten opsigte van tenders ook plaas, nuutgeboude geboue val uitmekaar en hospitale hou nie rekord van hul voorraad nie. In die Vrystaat weer is daar verskeie onvoltooide bouprojekte en uitstaande pasiëntskuld ter waarde van R147 miljoen.

машины на пульте управленииФильчаков прокурор харьков

Maak 'n opvolg-bydrae