Die eertydse rebelle, vandag aan bewind, was besonder gesteld op artistieke opleiding en het elke aspek van hul daaglikse bestaan aan die gevegsfront noukeurig gedokumenteer. Soldate was die akteurs wat "vir die volk en die stryders" opgetree het, verduidelik Esaias Tsegay.
As oud-rebel, digter en gerekende regisseur is hy een van die leidende figure in die Kulturele Buro vir Stryders. Hy is tydens die oorlog gewond wat hom genoop het om die Buro as werkgewer te oorweeg. Sulke dokumentêre propagandafilms is gebruik om mense aan te spoor om "te veg vir die vryheid van Eritrea", verklaar Tsegay.
Nadat onafhanklikheid verkry is, "wou ons deelneem aan die heropbou van die land," onthou Franco Sardella. "Rekonstruksie is nie net bouwerk nie, maar dit behels ook kultuur, kuns en flieks."
Die bloedige grensoorlog (1998 – 2000) tussen Eritrea en Ethiopië het ‘n nuwe wending gebring. "Ons was almal op die front en dit was onmoontlik om ander flieks te maak," sê Efriem Kahsay, outeur van nie minder nie as 10 vollengte films. Geld vir filmmaak is alles behalwe vollop in ‘n oorloggeteisterde land, dus is die meeste wat ‘n produksie kan kos nooit meer as R140 000 nie.
Ten spyte die kompetisie wat internasionale films skep, dek die loket die meeste uitgawes vir plaaslike produksies. Daarby kan die DVD van die film se inkomste gereken word wat tot 1000 kopieë kan verkoop, ook aan Eritrieërs in die diaspora.
"In teenstelling met baie films in Afrika word ons produkte heeltemal sonder internasionale ondersteuning geskep," kom dit trots van Franco Sardella. Dit is algemeen om Eritrieërs só te hoor praat oor hul regering. Selfvoorsienendheid word deur algar hoog aangeskryf.
Tegniese kwaliteit is dikwels nie wat dit moet wees nie, maar dit is ‘n uitvloeisel van karige begrotings. "Ons is maar aan die begin […] maar ons sal nog leer en verbeter, tegnies, met die spelgehalte en die inkleding." meen Esaias Tsegay.
Alhoewel die tonele aanbeweeg het, bly oorlog ‘n sentrale tema. "My hele lewe het ek aan die oorlog gewy. Ek was tussen 14 en 15 jaar op die front. Nou-ja, die tema kan nie anders nie," sê hy voorts.
Talle tonele sneuwel egter onder die baie streng sensuur wat heers. Dit lei daartoe dat die onderwerpe aangepas word. "Nou verfilm hulle liefdesverhale… Dis normaal. In tye van vrede, verwag ‘n mens nie om ‘n oorlogsfliek te sien nie," beduie die regisseur.
