DA veroordeel bewaringsgesinde en wetsgehoorsame Afrikaners

In ‘n mediaverklaring wat slegs in Engels uitgereik is, het die DA die protes veroordeel wat op Kerkplein gehou is teen die onwettige skendings van standbeelde.

Die party het Steve Hofmeyr, Sunette Bridges en ander Afrikaners se oproep om wetsgehoorsaam te wees en kultuurgoedere te bewaar, veroordeel. Hulle het ‘n bewaringsgesindheid as “racially divisive” beskryf.

Klaarblyklik is die party van mening dat alles in Suid-Afrika maar afgebreek mag word om swart rasse-eenheid te bewaar.

Die DA bestempel ‘n bewaringsgesindheid as in dieselfde kategorie van onaanvaarbare optrede as dié van die EFF met die skending van ‘n kultuurerfenis.

Hulle het die teenwoordigheid van die vierkleur en sing van Die Stem ook veroordeel.

In die DA se mediaverklaring word Afrikaners as ‘n “minderheid van randfigure” afgemaak wat oral “verdeling, haat en vrees saai”.

Hulle verklaar voorts dat die land ons nie nodig het nie.

“The reactionary and racially divisive defence of these aspects of our collective national history makes today’s protest from the far-right no better than the actions of those defacing and destroying monuments and statues across the country,” aldus die DA.

In weerwil van die DA se kwaadwillige uitlatings oor Afrikaners wat soortgelyk is aan die EFF, is ‘n dringende interdik bekom téén die EFF en sy leierskap vir hul voortgesette vandalisme.

In ‘n uitspraak in die Pretoria Hooggeregshof dié week, het regter Eben Jordaan gesê dat dit steeds onwettig is om standbeelde te beskadig.

Jordaan het hofbevel toegestaan wat die EFF-leier Julius Malema, die party se nasionale woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi en die adjunk-voorsitter van Tshwane Moafrika Mabongwana verbied om enige van die party se lede en ondersteuners aan te hits om enige nasionale monument of standbeeld in SA te ontsier, beskadig of te verwyder.

Dit sluit spesifiek monumente en standbeelde in wat die Afrikanergeskiedenis en -kultuur verteenwoordig.

‘Ek het geleer om byvoeglike naamwoorde te vermy’

Ton Vosloo het uitgetree as nie-uitvoerende voorsitter van Naspers, het Nuus24 berig.

Vosloo, wat al sedert 1956 by die maatskappy betrokke is, sal deur Koos Bekker vervang word. Vosloo het 23 jaar as voorsitter gewerk.

“Naspers en sy vennote is in baie goeie vorm. As ouskool-joernalis het ek geleer om byvoeglike naamwoorde te vermy. So, dit is voldoende om te sê – wat ‘n wonderlike groep maatskappye, gelei deur ‘n wyse raad plus topklas bestuur, en wat versterk word deur duisende van die heel beste kollegas wat mense kan hoop om mee verbind te word,” het Vosloo gesê.

Naspers se aandeleprys het onlangs deur die R2 000-vlak op die aandelebeurs gebreek.

Eiendomsgroep verwyder Voortrekkerstandbeelde eiehandig

‘n Privaatmaatskappy het vier standbeelde in die sentrale sakekern van Pietersburg (Polokwane) in Limpopo verwyder. Hulle het klaarblyklik eensydig tot die onregmatige stap oorgegaan.

Dié onwettige stap is geneem nadat een beeld glo beskadig is. Die standbeeld wat met wit verf bemors is, is van ‘n voormalige president van die Zuid Afrikaanse Republiek, Stephanus Schoeman.

Die Moolman-groep, wat verskeie eiendomme in die middestad besit, sê hulle “is genoop” om die standbeelde te verwyder, maar die Polokwane munisipaliteit het verklaar dat geen toestemming verleen is om die standbeelde te verwyder nie.

Die standbeelde van Voortrekkerleiers staan sedert 1986 in die stad se biblioteek-tuin.

‘n Wit woordvoerder van die Moolman-groep, Peter Pratt sê hulle sal met die “nodige belanghebbendes” beraadslaag oor hoe hulle van die standbeelde gaan ontslae raak.

Dié Voortrekkerbeelde is deel van die Afrikanerkultuurskat.

‘n Woordvoerder van die munisipaliteit, Tidimalo Chuene sê hulle was nie daarvan bewus dat een van die beelde beskadig is nie.

Chuene sê die Moolman-groep het vroeër versoek dat die standbeelde verwyder word, maar die proses is nog aan die gang.

Die eiendomsgroep soek glo na ‘n gerieflike verskoning om ‘n eiendomsontwikkeling te loods op grond waar die standbeelde gestaan het, sê bronne, en het vermoedelik self die beelde beskadig.

Skendings van kultuur-historiese gedenkwaardighede vier hoogty nadat die Universiteit van Kaapstad skendings van dié aard tot regmatige rasvergeldingsaanvalle verklaar het met die verwydering van die “wit” Rhodes-beeld.

Die UK se onwettige raadsbesluit dat swartes eensydig mag beslis oor ander groepe se kultuurhistoriese geskiedkundige geestesgoedere soos monumente, standbeelde en gedenkplate, het tot ‘n onlangse vlaag van sulke anti-wit aanvalle gelei.

Beelde van Dick King, Louis Botha, Jan Smuts, Jan en Maria van Riebeeck, Paul Kruger, Andrew Murray en selfs ‘n beeld ter ere van perde in die Anglo-Boereoorlog, is intussen elders gevandaliseer.

Die ANC het onlangs met Solidariteit en Afriforum beraadslaag as alleenverteenwoordiger van Afrikaners om standbeelde te skuif. Verteenwoordigers van die vakbond het reeds aangedui dat hulle ten gunste daarvan is om standbeelde namens die regime te verwyder na ‘n soort “Jurassic Park” van verdwene Afrikaners.

Graadeentjie dood na hy val by skool

‘n Graadeentjie is Maandag by Laerskool Standerton oorlede.

“Die leerling, sowat agt jaar oud, het by die skool geval, opgestaan en weer geval en gesukkel om asem te kry,” het ’n bron gesê.

“Hy is na die dokter se huis toe gejaag waar die dokter hom dood verklaar het.”

“Ons het alles in ons vermoëe gedoen om hom te help,” het me. Ronel Boer van Laerskool Standerton gesê.

Die skool het dadelik ‘n verklaring uitgereik om ouers en gemeenskap in te lig dat Divan Joubert Maandag oorlede is.

Divan het vroeg vanoggend op die skoolterrein gestruikel.

Een van ons gr. 7-leerlinge het Divan opgehelp, maar hy het onmiddellik daarna inmekaargesak.

Daar is dadelik noodhulp toegepas in die vorm van mond-tot-mond asemhaling sowel as hartmassering, maar ongelukkig was dit nie suksesvol nie.

Die polisie sowel as die Departement van Onderwys onmiddellik in kennis gestel.

’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Laerskool Standerton se hoof en personeel het hul medelye teenoor Divan se ouers, Leon en Marlene Joubert, sowel as Divan se sussie Zoë uitspreek.

Wit onderwyseres afgedank na sy swarte oor hare betig

‘n Afgetrede onderwyseres, wat afgedank is nadat sy glo ‘n swart leerling van ‘n spog-meisieskool in Bloemfontein by die skool se naskoolsentrum “aangerand” het, gaan haar afdanking by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) beveg.

Dit kom nadat die onderwyseres wat meer as vier jaar verbonde is aan die sentrum, waar kinders hoofsaaklik hulp ontvang met hul huiswerk, verlede week in ‘n interne verhoor skuldig bevind en summier uit haar pos ontslaan is.

Adv. Pieter Venter, wat namens haar optree, sê voorvalle waarby kinders of ‘n spesifieke rassegroep betrokke is, is sensitief, maar die skool het onbillik opgetree.

Hy meen die voorsitter van die interne verhoor het nie ‘n vorige vals aantyging wat deur dieselfde leerling teen dié onderwyser gemaak is in ag geneem nie.

Venter hou vol sy kliënt het nie die leerling aangerand nie, maar slegs probeer om die leerling se hand uit haar hare te haal nadat sy die leerling gevra het om haar skoolboeke uit te haal en met haar huiswerk voort te gaan.

Die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie hoor die saak op 29 April aan.

Niemand van die skool kon tot dusver reageer op OFM-nuus se telefoniese navrae nie.

PRAAG vra dat UNESCO hele Kerkplein in Pretoria as wêrelderfenis verklaar

PRAAG het ‘n tweede skrywe aan UNESCO gerig waarin die organisasie se dringende ingryping om die standbeeld van Paul Kruger te beskerm, gevra word.

Terselfdertyd het dr. Dan Roodt van PRAAG gevra dat die Kruger-standbeeld, asook Kerkplein met sy historiese geboue daar rondom, as ‘n wêrelderfenisperseel geklassifiseer word.

In reaksie op ‘n verklaring van die Partij voor de Vrijheid van Nederland, wat ‘n soortgelyke versoek aan die Nederlandse regering gerig het, het Roodt gesê: “Ons verwelkom die PVV se pogings om ook die Nederlandse regering se ingryping te bekom om die barbaarse beskadiging van ‘n grootse monument en kunswerk te stuit.”

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep wil egter verder gaan en nie net die standbeeld nie, maar ook die geboue rondom die plein as wêrelderfenis geklassifiseer hê. “Die hele Kerkplein, tesame met die standbeeld, moet aan Afrikaners oorgedra word. Die ANC-munisipaliteit moet die Ou Raadzaal ontruim sodat Afrikaanse organisasies dit permanent vir vergaderings en administrasie, asook die verwelkoming van toeriste, kan gebruik. Die Afrikanerbeweging het ‘n sentrum nodig van waar ons die handhawing en bevordering van ons kultuur kan bedryf.”
As nie-regeringsorganisasie doen PRAAG aansoek om die hele Kerkpleinkompleks as wêrelderfenis deur UNESCO te laat klassifiseer. Lede van die publiek wat die aansoek ondersteun, word versoek om ‘n petisie op die PRAAG-webblad met hul name en eposadresse te onderteken. Die petisie sal by die amptelike aansoek om die standbeeld, plein en geboue as wêrelderfenis te verklaar, aangeheg word.
 

Meer as 50 000 nuwe grondeise

Daar is reeds 54 351 nuwe restitusie grondeise, in terme van die wysiging van die Wet op Restitusie van Grondregte (Wet 15 van 2014), ingedien. Hierdie syfer is bekend gemaak deur die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, in opvolg op ‘n vraag in die parlement gesê.

“Nuwe restitusie grondeise is vir vyf jaar heropen tot 2019. Die 54 351 eise in minder as een jaar van heropening, is reeds 68% van die 79 600 eise wat ingedien was van 1994 tot 1998. Na 16 jaar is daar steeds ongeveer 5 000 aanvanklike eise wat nog nie afgehandel is nie. Indien die huidige syfer oor vyf jaar geprojekteer word kan meer as 200 000 eise verwag word. Die departement self verwag meer as 300 000 eise. Indien dit 16 jaar neem om 75 000 eise te hanteer sal dit meer as ʼn halwe eeu neem om 200 00 af te handel,” sê Pieter Groenewald van die VF+.

“Ons het reeds gewaarsku dat die heropening van grondeise groot onsekerheid in die landbousektor gaan skep. Nuwe eise sal veroorsaak dat dit nog baie jare mag neem om al die nuwe eise af te handel.

“Vanweë die moontlikheid van ’n grondeis, brei meeste boere op die oomblik nie hulle landboubedrywighede uit nie. Op hierdie tydstip het die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor sekerheid oor die toekoms nodig om met nuwe beleggings en uitbreidings te verseker dat daar genoeg kos vir almal in die toekoms is.

“Wat Suid-Afrika tans nodig het, is dat die landbougrond wat reeds aan nuwe swart boere oorgedra is, suksesvol kos moet produseer. Suid-Afrika kort meer suksesvolle swart kommersiële boere. Nege uit tien van die oordragte van grond het misluk volgens syfers wat minister Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, verskaf het. Ons kan nie bekostig dat nog vrugbare grond onproduktief raak nie terwyl die bevolking groei en daar daagliks meer voedsel nodig is nie,” het Groenewald gesê.

PVV: standbeeld Paul Kruger in Pretoria op Werelderfgoedlijst van Unesco

De Partij voor de Vrijheid wil dat Nederland zich gaat inzetten voor het standbeeld van president Kruger in Pretoria. De PVV hoopt dat het kabinet gaat bevorderen dat ‘Oom Paul’ op de Werelderfgoederenlijst van de Unesco geplaatst wordt.

Gisteren was het standbeeld het onderwerp van agressieve acties van het anti-westerse EFF van Julius Malema.

President Kruger leidde de Afrikaners tijdens de Boerenoorlog, de anti-koloniale strijd tegen het Britse wereldrijk. Nederlands was toen de officiële taal van de Zuid-Afrikaanse Republiek. Veel Afrikaners hebben Nederlandse voorouders.

Op veel plekken in Zuid-Afrika woedt een strijd tegen westerse standbeelden, waarbij racistische taal wordt gebruikt. In de universiteitsraad van de Kaapstad klonk “one settler, one bullet’.

Velen vrezen dat de beeldenstorm de opmaat is voor geweld.

Nuwe Afrikaanse film tref

Dit blyk die span agter die nuwe Afrikaanse film Ballade vir ‘n Enkeling het ‘n lokettreffer op hande, het OFM berig.

Ballade het in sy openingsnaweek R 1 358 075 landswyd by filmteaters ingesamel, met nagenoeg 27 500 fliekgangers wat dié drama onder oë gehad het.

Wat die Suid-Afrikaanse filmbedryf en Afrikaanse films betref, is die film se sukses egter alles behalwe die norm. Dit is volgens die nuutste studie deur Karin Botha en Pierre-André Viviers van die Noordwes-Universiteit, oor die tydperk 2008 en 2013.

Luidens Viviers studie sukkel die Suid-Afrikaanse filmbedryf om fliekgangers te laat belangstel in Afrikaanse films, want filmmakers verstaan nie die behoeftes van hul teikenmark nie

Volgens filmkritikus en bedryfkenner, Leon van Nierop, kan ‘n Suid-Afrikaanse film wat meer as R 3 miljoen by die loket verdien as ‘n sukses beskou word.

Die mees populêre films wat oor die tydperk 2008 en 2013 vrygestel was, met verwysing na loketinkomste gegenereer, was:

– Liefling (2010, R 13.3 miljoen)
– Semi-soet (2012, R 9.6 miljoen)
– Platteland (2011, R 8.2 miljoen)
– Die Wonderwerker (2012, R 5.3 miljoen)
– Klein Karoo (2013, R 5 miljoen).
Die vyf films wat die swakste vertoon het:
– ‘n Saak van Geloof (2011, R 285 000)
– Jimmy in Pink (2013, R 268 000)
– Ballade van Robbie de Wee (2013, R 130 000)
– Agter die ligte (2012, R 136 000)
– Skoonheid (2011, R 74 000).

Erfenissimbole is beskawing sê Steve

Steve Hofmeyr het Woensdag in ‘n onderhoud met die SABC gesê die Afrikanererfenis moet bewaar word omdat dit die beskawing in Afrika verteenwoordig.

Hofmeyr was deel van ‘n groep kunstenaars en ondersteuners by Kerkplein wat teen die aanvalle op erfenissimbole opgeruk het.

Die EFF hard besig om die beskawing af te breek
Die EFF hard besig om die beskawing af te breek

Die Raad van die Universiteit van Kaapstad het egter besluit dat hulle nie die erfenis van hul eie instelling hoog genoeg ag om te verdedig nie.

UK-raad breek saam af aan die beskawing
UK-raad breek saam af aan die beskawing

Steve Hofmeyr sing Die Stem by Kruger-standbeeld (video)

Die groep betogers wat gister saam met Steve Hofmeyr beswaar gemaak het teen die vandalisering van Oom Paul se standbeeld op Kerkplein, het spontaan ingeval en Die Stem begin sing. Sommige was in uniform en het gesalueer terwyl die Afrikaanse volkslied gesing is.

Die land verkeer in rep en roer oor standbeelde terwyl die onbekookte multikulturele kommunisme wat sedert 1994 in Suid-Afrika geld, feitlik deur alle bevolkingsgroepe verwerp word. Selfs die aarts-“nasiebouer” en pro-Britse, pro-kommunistiese meningsvormer, Max du Preez, het in ‘n onlangse rubriek toegegee dat die ingevoerde, sogenaamde “reënboognasie”-begrip finaal misluk het.

Terwyl die Naspersgroep en verskeie kunstefeeste angsvallig poog om Steve Hofmeyr te marginaliseer deur hom by hul byeenkomste te verbied of te “ontnooi”, boemerang dit deur sowel Die Stem as Hofmeyr se gewildheid te laat styg.

PRAAG het gister ‘n omvattende plan aangekondig om Afrikaner-erfenis deur internasionale bemiddeling onder eie beheer te bring.

PRAAG kontak UNESCO oor skending van standbeelde, erfenis

PRAAG het vandag die Verenigde Nasies se kulturele liggaam in Parys, UNESCO, gekontak met die oog daarop om ‘n klag teen die Suid-Afrikaanse regering wat die skending van die Afrikaner-erfenis toelaat, in te dien. “Ons versoek UNESCO om tussen ons en die ANC-regering te bemiddel, wat hom blykbaar as ‘n militêre besetter van Afrikaner-erfenisstrukture en -monumente beskou,” sê dr. Dan Roodt, direkteur van PRAAG. “Ek is besig om ‘n brief in Frans aan UNESCO te rig waarin ons ook die dringende ingryping van dié liggaam, soos vir die konflikgebiede in die Midde-Ooste, versoek ten einde verdere beskadiging van ons erfenis te verhoed.”

Hoewel dit daaroor gaan om die krisis rondom Afrikanerstandbeelde te hanteer, wil PRAAG ‘n meer omvattende oplossing hê waarmee die sorg van museums, biblioteke en argiewe aan Afrikaners oorgedra kan word.

“Die ANC en SAKP, wat ons in 1994 verower het, het geen erg aan ons erfenis nie en staan vyandig daarteenoor. Vele historiese Afrikanergeboue word deur die ANC beset, beskadig of misbruik, wat strydig met internasionale konvensies is. Ook word standbeelde geskend weens die heersende ideologie dat ons weens ons ras nie ‘inheems aan Afrika’ is nie, asook die algemene vyandigheid teenoor Afrikaners en Afrikaans,” sê Roodt. “Dit gaan om meer as die standbeelde. Alle museums, biblioteke en selfs nie-tasbare elemente van ons erfenis is ter sprake. Ons het die reg dat ons erfenis vir die nageslag bewaar sal bly en dit nie verwaarloos of beskadig sal word nie.”

PRAAG is insgelyks bekommerd oor Afrikaanse skrywers en kunstenaars wat van die kulturele lewe van die land en veral van kampusse en kunstefeeste uitgesluit word, om etniese en ideologiese redes. “Daar word beslis teen ons gediskrimineer,” sê dr. Dan Roodt. “As die ergste krisis rondom die standbeelde afgeweer is, bestaan daar internasionale meganismes om diskriminasie teen Afrikaanse kunstenaars te hanteer, of geskille daaroor te besleg.”

Die organisasie is tans ook besig met ‘n hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat verseg om met hom in Afrikaans te kommunikeer. “Ons sal seker vroeg aanstande week die dagvaarding om die MRK beteken,” sê Roodt. “Ons sal seker in ‘n Engelse hof moet gaan staan, maar al moet ons uiteindelik ‘n internasionale tribunaal of organisasie betrek, sal ons dit nie aanvaar dat ons taal tweederangs is of dat ons tweederangse burgers is nie.”

Steve Hofmeyr op Kerkplein om oom Paul te beskerm

Steve Hofmeyr sal vandag by Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein in Pretoria ter beskerming van die anti-koloniale vegter se bronsbeeld opdaag saam met ander bekende sangers.

Hofmeyr sê hy wil verdere vandalisme by erfenisgebiede verhoed. Die sanger het op Twitter bevestig dat hy die protes sal bywoon.

Protesoptrede word na wat berig word ook beplan by die Jan van Riebeeck-standbeeld in Kaapstad en die Paul Kruger-standbeeld in Rustenburg.

Die Mangaung Metro in Bloemfontein het intussen ‘n week-lange gesprek oor die kwessie van koloniale- en apartheidsimbole en standbeelde aangekondig.

Die metro-woordvoerder, Qondile Khedama sê hulle is ook van plan om gemeenskappe in te lig oor die simboliese betekenis van simbole en standbeelde.

Daar sal byvoorbeeld inligtingsessies oor Bram Fischer gehou word om die huidige generasie te vertel van die “opheffingswerk” wat hy gedoen het.

Fischer was ‘n kommunis wat ‘n gewapende opstand en stedelike terreur aangemoedig het en wat homself soos ‘n vrou vermom het om die veiligheidspolisie te ontsnap. Hy het die sogenaamde “stryd” namens neo-kolonialistiese rewolusionêres gevoer.

Die standbeeld van die soldaat wat sy perd water gee in sy helm, is intussen na ‘n veilige plek vir bewaring geskuif.

Die beeld is vroeër deur EFF-lede van ‘n oorlogsmonument in Port Elizabeth afgebreek.

Die kommunikasiehoof van die Nelson Mandela-baai metro, Roland Williams sê hulle het met die polisie gereël om hul patrollies te verskerp in gebiede waar gedenktekens voorkom.

Williams sê dis die munisipaliteit se verantwoordelikheid om erfenisbates te beskerm.

Die Universiteit van Kaapstad sal na verwagting sy besluit bekend maak om die standbeeld van Cecil John Rhodes op sy kampus te verwyder, nadat die senaat verlede week ‘n voorstel goedgekeur dat die standbeeld moet weg.

Swart studente het verlede maand menslike ontlasting op die beeld uitgegooi en ‘n aantal betogings en sitstakings gehou om die aandag op ‘n gebrek aan transformasie by die universiteit te vestig.

Die universiteit se personeel is bykans deur die bank wit, terwyl die instelling groot gewag maak van rasvermenging in Suid-Afrika.

Indien die standbeeld verwyder word, sal dit aan die regering se erfenisowerhede oorhandig word.