Boshof-plaasaanval: Verdagtes op vrye voet

Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met ‘n skietvoorval gister waarin ‘n bejaarde boer op sy plaas by Boshof in die Vrystaat gewond is nie.

Die 69-jarige Douglas Pope is gister van agter in die regtersy gewond toe hy by sy plaas se hek by ‘n grondpad vanuit ‘n bewegende motor geskiet is.

Die polisie en plaaslike boere het kort ná die aanval die gebied gefynkam op soek na ‘n wit Toyota Corolla waaruit skote op Pope afgevuur is.

Pope se seun, Douglas, sê sy pa was op pad na ‘n vergadering op Boshof toe hy geskiet is. Sy gewonde pa het ná die skietery teruggejaag na die plaashuis om hulp te kry. Die polisie en boere was vinnig om omliggende paaie af te sper en ‘n soektog is begin.

Douglas sê die motief vir die voorval is onbekend.

Pope is in ‘n bestendige toestand in die Mediclinic Gariep in Kimberley. Die polisie het vroeër aan OFM-nuus gesê daar was vermoedelik drie mans in die motor. Skote is vanuit die motor se agterste sitplek gevuur.

Nuwe Kovsie-SR-voorsitter wil Afrikaans heeltemal afskaf

Die nuutverkose Universiteit van die Vrystaatse studenteraadspresident, Lindokuhle Ntuli, sê studente word deur taal verdeel.

Hy het sy stem gevoeg by diegene wat glo dat Engels die enigste taal aan dié universiteit behoort te wees en nie beide Afrikaans en Engels, soos tans die geval is nie.

Ntuli sê Engelse studente is in een klas, terwyl Afrikaanse studente in ‘n ander klas is. Dit veroorsaak glo “verdeling” op grond van taal.

As al die klasse in een taal aangebied word, sal daar “eenheid” wees, het hy aan OFM gesê.

Afriforum wen net twee setels by Tuks

Studenteraadsverkiesings by tersiêre instellings het interessante uitslae opgelewer, het RSG berig.

Die DA se studentebeweging, DASO het die SR verkiesing by die Universiteit van Pretoria met vyf setels gewen.

SASCO was tweede met drie setels. Tukkies was vir lank ‘n vesting van Afriforum, maar die organisasie kon net twee setels inpalm.

SASCO het die SR-verkiesing by die Tshwane Universiteit van Tegnologie gewen.

Die verkiesing is gekenmerk deur gevegte tussen SASCO en die EFF.

Die EFF en die ANC se Progressiewe Jeugalliansie het elk ses setels in die Studenteraad op die Mahikeng kampus van die Noordwes Universiteit gewen.

Die presidentskap is deur die EFF ingepalm.

Wie het Luister befonds?

Die sogenaamde film wat aantygings van rassisme teen die Universiteit van Stellenbosch “gedokumenteer” het, se vervaardiger is self betrokke by die aktiviste van Open Stellenbosch.

Dus is die vervaardigers van Luister, Dan Corder, Markus Hegewisch, Eric Mulder en Declan Manca wat hulself as “wit mans” beskryf, nie die onpartydige filmmakers wat hulle voorgee om te wees nie.

Corder het vroeër aan Greg Nicholson van die Daily Maverick erken dat hy ‘n plan wou bedink teen die US omdat sy vriend ‘n dissiplinêre verhoor in die gesig staar.

Praag het Corder per epos gevra wie die film befonds het, waarop Corder soos volg gereageer het:

For clarity, there was no funding whatsoever for this film. Not a single rand was spent on it. All of the equipment and transport costs were supplied and covered by us, the four filmmakers.

Hegewisch, bedrywig by die Universiteit van Kaapstad met radio-uitsendings en eertydse werknemer van Prime Media, het kort tevore getwiet:

Luister is a documentary about SA students facing racism & exclusion through language in varsity.

Terwyl geen Afrikaansprekende in Afrikaans by die UK geakkomodeer sal word nie, is Hegewisch klaarblyklik onbesorg dat die werklike diskriminasie en uitsluiting op grond van taal by die Universiteit van Kaapstad asook ander eentalige instellings plaasvind.

Corder is voorheen, in 2012, deur die polisie aangekeer vir openbare geweld in Kaapstad en het 10 ure in aanhouding deurgebring saam met 39 ander bruin oproeriges.

Hy het in 2011 gematrikuleer aan die gegoede Westerford High School in Kaapstad.

Geweld op Stellenbosch na rektor se patetiese optrede

Die bestuur van die Stellenbosch Universiteit wil glo Open Stellenbosch – ‘n paar verdwaalde anti-Afrikaanse belhamels – raadpleeg oor “transformasie” te midde van aanvalle op wit studente.

Die rektor en vise-kansellier, Wim de Villiers het Maandag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys verskyn.

Die komitee het hom “ontbied” nadat ‘n video met die titel “Luister” op sosiale media verskyn het.

Dan Corder, die stigter van die mediamaatskappy Contraband Cape Town, het die video vervaardig. Dit is nie bekend waar hy die fondse vandaan gekry het nie.

Die kwaadwillige prul getiteld “Luister” is 35 minute lank en bevat aantygings deur 32 swart en bruin studente en ’n dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) oor beweerde rassisme op Stellenbosch.

Met die vervaardiging van die video het hoogstens 20 anti-Afrikaanse aktiviste hoorsê en kwaadwillige aantygings in “getuienis” omskep.

De Villiers is glo tans bekommerd oor die polarisasie wat plaasvind, nadat hy gaan bieg het oor die “wit rassiste” op sy kampus.

Die rektor stel klaarblyklik steeds nie belang in die doelwitte van die video nie.

Weens die rektor se swak hantering van die kwessie, het geweld Dinsdag uitgebreek. Gevegte tussen betogende swartes en wit studente wat probeer om klasse bywoon, is op video opgeneem.

Die aanvallers was lede van die EFF en Open Stellenbosch wat wit studente met sambokke geslaan het.

Fotomateriaal van ‘n bebloede wit student is op sosiale media rondgestuur.

Eikestadnuus het’n lid van Open Stellenbosch afgeneem wat met ‘n sambok op ‘n Elsenburgstudent toesak. Die Open Stellenbosch-lid verskyn in die openingsonderhoud in “Luister”.

Ijeoma Opara, woordvoerder van Open Stellenbosch, het bevestig dat die aanvaller inderdaad ‘n lid van die beweging is.

“Ons staan saam in solidariteit met die [swart, anti-Afrikaanse] studente van Elsenburg en hul ervarings,” sê Opara.

Veiligheidsmaatreëls by die Elsenburg-landboukollege in Stellenbosch is verskerp na ontwrigtings deur studente wat betoog dat die kollege se taalbeleid Afrikaans insluit.

Die Wes-Kaapse departement van Landbou sê ook hy het begin met die proses om ‘n interdik te bekom om te verseker dat onderrig by die kollege kan voortgaan.

Die kollege val onder die beheer van die departement. ‘n Woordvoerder van Elsenburg, Petro van Rhyn sê daar is ‘n klein aantal studente wat nie saam met die kollege wil werk om oplossings te vind nie.

Van Rhyn het bevestig dat ‘n student na gister se skermutseling mediese behandeling moes ontvang. Sy sê die kollege se raad het reeds ‘n taakspan aangestel om ‘n nuwe taalbeleid te bespreek.

Intussen het die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys, Pinky Phosa, De Villiers se “eerlikheid” geloof.

Phosa sê dit is goed dat die universiteit nie die studente in die “Luister” video se ervarings ontken nie, en dat hulle daartoe verbind is om rassisme te ondersoek en daarteen op te tree.

Georkestreerde veldtog teen Afrikaans by US kry momentum

‘n Wit student aan die Universiteit Stellenbosch is uit sy koshuis geskors te midde van ‘n fel aanslag teen Afrikaans wat by die instelling woed.

Die groep Open Stellenbosch het die universiteit se gebruik van Afrikaans betreur as ‘n medium van onderrig, en beweer dit is uitgedink om die Afrikanerkultuur te beskerm ten koste van swart studente.

Verlede week het ‘n dokumentêre film getiteld Luister, die lot van swart studente by die universiteit bekla. Die ANC het die geleentheid dadelik uitgebuit om die bestuur voor die Parlement te roep “om hulself te verduidelik”.

Verlede week het Stellenbosch se visekanselier Wim de Villiers gesê hy het die uitnodiging om te verskyn voor die Parlement verwelkom.

Die wit student het na bewering “homofobiese en rassistiese” aanmerkings teenoor ‘n bruin student gemaak het.

Die woordvoerder van die universiteit, Martin Viljoen sê die voorval het na bewering verlede Vrydag in die Helshoogte-manskoshuis plaasgevind.

Hy wou nie oor die aanmerkings uitbrei nie, maar het bevestig dat die klaer bruin en die respondent wit is.

Vermeende skêraanvaller ontwrig hof

Die saak teen ‘n swart derdejaar Pukstudent wat tereg staan op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer is Maandag in die Potchefstroom Landdroshof tot 30 September uitgestel.

Die verrigtinge is uitgestel nadat die student uit sy beurt begin gepraat het in die hof en luidrugtig beswaar aangeteken het teen die wyse waarop sy saak glo hanteer word.

Hy het onder meer geskree dat die Staat die proses onnodig laat sloer en sy familie in die proses seer maak.

Die swarte sal tot dan in aanhouding bly.

Hy is intussen na die Sterkfontein Hospitaal vir sielkundige evaluasie verwys.

Die 24-jarige Lerato Phoofolo, het vroeëer vandeesmaand ‘n wit student van die Over-de-Voor manskoshuis op kampus met ‘n skêr in die arm, skouer en heup gesteek.

Phoofolo het Hendri Van Dyk na bewering Vrydagoggend omstreeks 07:00 in die koshuis aangeval nadat Van Dyk hom gevra het om sy musiek sagter te sit.

Die polisie en die PUK se beskermingsdienste is na die koshuis ontbied na die aanval waarna Phoofolo in hegtenis geneem is.

Phoofolo is dieselfde dag op borgtog van R1 000 vrygelaat. Deel van sy borgvoorwaardes was dat hy nie die NWU Potchefstroomkampus mag betree nie.

Volgens mnr. Rooies Andrianatos, koshuisvader van Over-de-Voor, het Phoofolo hom twee keer op die 14de gekontak om te sê dat hy sy besittings wil kom haal. Andrianatos het vir hom gesê dat hy met sy prokureur moet reël om dit te doen.

Saterdag 15 Augustus het Phoofolo se broer, Sipho, hom gekontak en gesê dat Phoofolo op pad is koshuis toe, “hy is baie aggressief en onder die invloed van een of ander middel. Ons is baie bekommerd”.

Andrianatos het beskermingsdienste laat weet en Phoofolo is by ‘n ingangshek voorgekeer.

Daar is met Phoofolo gepraat oor die borgvoorwaardes waarna Phoofolo glo gelag het en weer weg is.

Hy het na bewering toe oor ‘n muur gespring en na die koshuis gegaan waar veiligheidspersoneel hom gevang het. Hulle het die polisie laat kom.

Volgens die polisielid wat hom in hegtenis geneem het, het Phoofolo die polisie gedreig en gevloek. Twee bykomende klagtes van intimidasie en onwettige betreding is teen Phoofolo aangebring.

Phoofolo se prokureur, mnr. Lucas Makoro, het geargumenteer dat die staat nie die regte prosedure gevolg het met hul aansoek om Phoofolo se borgtog te kanselleer nie.

Landdros Tebogo Mokgatle het egter in sy uitspraak gesê dat hy in die belang van geregtigheid die staat se aansoek toestaan om die borg te kanselleer.

Volgens Mokgatle het Phoofolo se prokureur op baie tegniese punte beswaar aangeteken, maar nooit die inhoud van die verklarings betwis nie.

Brand by Potch-koshuis rig groot skade aan

Die volle omvang van brandskade aan die Jack Pauw-seunskoshuis in Potchefstroom sal eers later bepaal kan word.

Dit is volgens die Hoër Volkskool in Potchefstroom se Beheerliggaamvoorsitter Kobus Fourie, en volg na die C-blok van die koshuis ernstige skade in ‘n brand laat Maandagaand opgedoen het.

Geen beserings is aangemeld nie, en die seuns is tydelik in die plaaslike Elgro-hotel gehuisves, waar hulle gisteraand reeds berading begin ontvang het.

Volgens Fourie word daar vermoed dat ‘n kortsluiting vir die brand verantwoordelik was, maar dit sal ook eers later na ‘n amptelike ondersoek bepaal kan word.

Intussen het Potch-Tlokwe-sakekamervoorsitter Rudo van Heerden aan OFM Nuus gesê dit is vir hom verblydend om te sien hoe Potchefstromers dadelik deur sosiale media soos Facebook aangebied het om die seuns te help met blyplek, kos en klere.

Beesboer se moordenaars nog op vrye voet

Die polisie in Noordwes soek steeds na vier rowers in verband met die moord op ‘n beesboer van Potchefstroom.

Die 68-jarige Koos van der Leeuw is op 18 Augustus in die Mediclinic Sandton dood nadat hy vroeër die oggend in ‘n rooftog by die Potchefstroom Abbatoir geskiet is.

Polisiewoordvoerder, Pelonomi Makau, sê die polisie volg alle leidrade op.

‘n Herinneringsdiens vir Van der Leeuw is Dinsdag, presies ‘n week na sy skietdood, in die plaaslike NG kerk Suiderkruis gehou. Die kerk was stampvol.

Van der Leeuw is voor sy vrou Marietjie en ‘n sakeman van Krugersdorp geskiet nadat hy en die man glo vir ‘n kontanttransaksie ontmoet het. Marietjie was in hul bakkie toe die skote geklap het. Makau het vroeër gesê vier skote is op Van der Leeuw gevuur. Een daarvan was in die kop.

Sy sê die skietery het gevolg nadat een van die rowers geld geëis en ‘n onbekende bedrag geld en ‘n selfoon by die sakeman afgeneem het. Van der Leeuw het uit sy bakkie geklim om te help.

Rubberkoeëls, skokgranate om swart opmars by PUK te stuit

‘n Protesoptog deur beswaarde swart studente op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, het Donderdag hande uitgeruk.

Prof. Dan Kgwadi, die visekanselier, het glo toestemming verleen dat die optog gehou kon word.

Sowat 180 swart studente van al drie NWU-kampusse het Donderdag opgeruk na die administrasiekantoor, maar optoggangers is glo nie deur die staalhekke op die kampus toegelaat nie.

Die polisie moes rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die skare onder bedwang te bring.

Kgwadi het glo toestemming gegee vir die opmars om die swart studente se beswaarskrif in ontvangs te kan neem.

Intussen is bewerings dat swart personeel van die Noordwes-Universiteit glo verhinder is om gebruik te maak van ‘n hysbak in die Over-de-Voor-manskoshuis op die Potchefstroomkampus, as versinsels veroordeel.

Kampuswoordvoerder, Johan van Zyl sê die koshuis het nie eens ‘n hysbak nie.

Van Zyl het gereageer op bewerings deur swart ondersteuners van ‘n derdejaarstudent Lerato Phoofolo, ‘n inwoner van Over-de-Voor, wat na bewering medestudent Hendri van Dyk met ‘n skêr aangeval het en steeds in aanhouding is.

Phoofolo beweer nou dat hy baie “rassistiese dade” by die universiteit opgemerk het.

Van Zyl sê iemand wat kennis dra oor sulke rassisme moet dit rapporteer.

Intussen sal Phoofolo, wat veronderstel was om Donderdag in die Potchefstroom-landdroshof te verskyn, eers Maandag verskyn.

‘n Administratiewe fout het daartoe gelei dat hy nie vervoer kon word na die hof nie.