Brand by Potch-koshuis rig groot skade aan

Die volle omvang van brandskade aan die Jack Pauw-seunskoshuis in Potchefstroom sal eers later bepaal kan word.

Dit is volgens die Hoër Volkskool in Potchefstroom se Beheerliggaamvoorsitter Kobus Fourie, en volg na die C-blok van die koshuis ernstige skade in ‘n brand laat Maandagaand opgedoen het.

Geen beserings is aangemeld nie, en die seuns is tydelik in die plaaslike Elgro-hotel gehuisves, waar hulle gisteraand reeds berading begin ontvang het.

Volgens Fourie word daar vermoed dat ‘n kortsluiting vir die brand verantwoordelik was, maar dit sal ook eers later na ‘n amptelike ondersoek bepaal kan word.

Intussen het Potch-Tlokwe-sakekamervoorsitter Rudo van Heerden aan OFM Nuus gesê dit is vir hom verblydend om te sien hoe Potchefstromers dadelik deur sosiale media soos Facebook aangebied het om die seuns te help met blyplek, kos en klere.