Geweld op Stellenbosch na rektor se patetiese optrede

Die bestuur van die Stellenbosch Universiteit wil glo Open Stellenbosch – ‘n paar verdwaalde anti-Afrikaanse belhamels – raadpleeg oor “transformasie” te midde van aanvalle op wit studente.

Die rektor en vise-kansellier, Wim de Villiers het Maandag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys verskyn.

Die komitee het hom “ontbied” nadat ‘n video met die titel “Luister” op sosiale media verskyn het.

Dan Corder, die stigter van die mediamaatskappy Contraband Cape Town, het die video vervaardig. Dit is nie bekend waar hy die fondse vandaan gekry het nie.

Die kwaadwillige prul getiteld “Luister” is 35 minute lank en bevat aantygings deur 32 swart en bruin studente en ’n dosent van die Universiteit Stellenbosch (US) oor beweerde rassisme op Stellenbosch.

Met die vervaardiging van die video het hoogstens 20 anti-Afrikaanse aktiviste hoorsê en kwaadwillige aantygings in “getuienis” omskep.

De Villiers is glo tans bekommerd oor die polarisasie wat plaasvind, nadat hy gaan bieg het oor die “wit rassiste” op sy kampus.

Die rektor stel klaarblyklik steeds nie belang in die doelwitte van die video nie.

Weens die rektor se swak hantering van die kwessie, het geweld Dinsdag uitgebreek. Gevegte tussen betogende swartes en wit studente wat probeer om klasse bywoon, is op video opgeneem.

Die aanvallers was lede van die EFF en Open Stellenbosch wat wit studente met sambokke geslaan het.

Fotomateriaal van ‘n bebloede wit student is op sosiale media rondgestuur.

Eikestadnuus het’n lid van Open Stellenbosch afgeneem wat met ‘n sambok op ‘n Elsenburgstudent toesak. Die Open Stellenbosch-lid verskyn in die openingsonderhoud in “Luister”.

Ijeoma Opara, woordvoerder van Open Stellenbosch, het bevestig dat die aanvaller inderdaad ‘n lid van die beweging is.

“Ons staan saam in solidariteit met die [swart, anti-Afrikaanse] studente van Elsenburg en hul ervarings,” sê Opara.

Veiligheidsmaatreëls by die Elsenburg-landboukollege in Stellenbosch is verskerp na ontwrigtings deur studente wat betoog dat die kollege se taalbeleid Afrikaans insluit.

Die Wes-Kaapse departement van Landbou sê ook hy het begin met die proses om ‘n interdik te bekom om te verseker dat onderrig by die kollege kan voortgaan.

Die kollege val onder die beheer van die departement. ‘n Woordvoerder van Elsenburg, Petro van Rhyn sê daar is ‘n klein aantal studente wat nie saam met die kollege wil werk om oplossings te vind nie.

Van Rhyn het bevestig dat ‘n student na gister se skermutseling mediese behandeling moes ontvang. Sy sê die kollege se raad het reeds ‘n taakspan aangestel om ‘n nuwe taalbeleid te bespreek.

Intussen het die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys, Pinky Phosa, De Villiers se “eerlikheid” geloof.

Phosa sê dit is goed dat die universiteit nie die studente in die “Luister” video se ervarings ontken nie, en dat hulle daartoe verbind is om rassisme te ondersoek en daarteen op te tree.