Hakkejag lei daartoe dat stropers sit

Die mede-eienaar van ‘n wildplaas naby Bray by die Botswana-grens in Noordwes, het boere en hul werknemers, aook die polisie bedank wat vier vermeende renosterstropers vasgetrek het.

Tommie van Vuuren sê ‘n plaaswerker het twee weke gelede vier vreemde mans onder ‘n boom op sy plaas sien lê. Hulle het ‘n jaggeweer met ‘n knaldemper gehad.

Hy sê natuurbewaring en die polisie is ontbied en boere was binne ‘n japtrap daar. Die vier het die hasepad gekies.

In ‘n stadium is tot 30 bakkies in ‘n hakkejag ingespan.

Volgens Van Vuuren het spoorsnyers om die beurt voor ‘n Unimog, wat gebruik is in die digte bos, gehardloop, terwyl boere met hul bakkies die gebied afgesper het. Die vier verdagtes is voor 21:00 dieselfde aand nog vasgetrek.

Die eerste verdagte is omstreeks 17:00 op ‘n buurplaas vasgetrek. Lede van die polisie se honde-eenheid en boere het daarna op ‘n tweede verdagte wat in ‘n erdvarkgat weggekruip het, afgekom, waarna twee spoorsnyers omstreeks 20:00 ‘n derde verdagte vasgetrek het.

‘n Vierde verdagte is later die aand deur die polisie naby Vryburg in ‘n wegkomvoertuig in hegtenis geneem.

As die boere en hul plaaswerkers nie daar was nie, sou die booswigte nie nou agter tralies gewees het nie, sê Van Vuuren.

Die verdagtes Michael Hlongwane, Simon Sithole, Aurolle Mathabela, en Giyane Maringa het reeds in die hof verskyn en sal na verwagting op 6 November om borgtog aansoek doen.

Hulle staan tereg op aanklagte van oortreding, die rig van ‘n vuurwapen en poging tot die stroop van renosters.

Tuks heropen ná gister se ontwrigting deur swart studente

Die Universiteit van Pretoria heropen vandag nadat dié instelling gister weereens tot stilstand gekom het toe lede van die EFF, Sasco en opgeruide swart studente aktiwiteite ontwrig het. Blanke studente in die biblioteek is aangesê om die kampus te verlaat of daar sal geweld teen hulle gebruik word. Hierna het die universiteit ‘n Engelse boodskap aan alle studente per sms uitgestuur waarin verrigtinge vir die dag opgeskort is:

Students, academic activities are suspended for today, due to disruptions by students. Further info will follow on the web later today.

Blykbaar het die universiteit sedertdien met die radikale swart studente gesprek gevoer, want intussen het die rektor en visekanselier, prof. Cheryl de la Rey, die volgende boodskap op die UP-webblad in Engels en Afrikaans gepubliseer:

Die Visekanselier en Rektor van die Universiteit van Pretoria het vandag (26 Oktober 2015) indringende gesprekke met die verteenwoordigers van al die studenteliggame gevoer.

‘n Formele ooreenkoms tussen al die partye is onderteken, waarin daar ooreengekom is dat akademiese aktiwiteite op 27 Oktober 2015 sal hervat.

Die aangepaste skedule vir eksamens sal sou gou as moontlik gekommunikeer word.

Dekane sal verdere kommunikasie spesifiek tot hul fakulteite hanteer rakende reëlings vir die herskedulering van toetse, indiening van werksopdragte en ander akademiese aktiwiteite.

Alle amptelike inligting rakende toetse, werkopdragte en eksamens sal beskikbaar gestel word op die UP-webtuiste en ClickUP.

Soos ons terugkeer na normale akademiese aktiwiteite, vertrou ek dat studente en UP-personeellede sal fokus op die opkomende jaareindeksamens en die afsluiting van die akademiese jaar.

Prof CM de la Rey
Visekanselier en Rektor

Twee swart aanvallers soek na Memel-moorde

Die polisie op Memel in die Vrystaat soek steeds na twee swart aanvallers in verband met die moord op Charlotte Viviers en ‘n familievriend, Eric Oosthuizen, in hul huis op die dorp Woensdagaand.

Polisiewoordvoerder, Tshegofatso Maliehe, sê Viviers se man, Viv, wat omstreeks 18:00 van sy plaas buite die dorp tuis gekom het, is deur twee mans in die huis oorval. Die Viviers-egpaar en Oosthuizen het in dieselfde huis gewoon.

Viviers is aangerand en met ‘n mes gesteek. Hy het ook brandwonde opgedoen. Die booswigte het sy hande en voete met toue vasgebind. Sy vrou en Oosthuizen was reeds in die huis.

Volgens Maliehe het ‘n huiswerker vanoggend omstreeks 08:00 op die beseerde Viviers afgekom. Charlotte en Oosthuizen se lyke is toe ook gevind.

Hulle hande en voete is ook vasgebind en hulle is vermoedelik verwurg. Maliehe het vroeër gesê volgens ‘n erg getraumatiseerde Viviers het die aanvallers die kluis se sleutels geëis, terwyl hy gemartel is.

Volgens haar word twee vuurwapens uit die huis vermis.

Oosthuizen se vermiste wit bakkie is ook nog nie gevind nie.

Maliehe vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel, maar wou nie die ras van die aanvallers bevestig nie.

Deur nie die ras van die aanvallers te gee nie, is dit onmoontlik om die moordenaars op te spoor.

Blanke studente kla omdat Tukkies vandag gesluit is

Die Universiteit van Pretoria, wat tot dusver die kampusonrus gespaar gebly het, het insgelyks aangekondig dat hy vandag alle klasse opskort en gesluit sal wees as deel van die landwye staking van hoofsaaklik swart studente. Blanke studente wat vir toetse en eksamens moet voorberei, asook in praktiese kursusse veeleisende take moet voltooi, was gister ontstoke hieroor.

“Ons is nie deel van hulle politiek nie!” het ‘n damestudent by Tukkies wat nie haar naam genoem wil hê nie, gister uitgeroep. “Dis die einde van die jaar; ek is toegegooi onder die werk en moet Maandag ‘n baie moeilike projek inhandig. Ek het nie die toerusting tuis om daaraan te werk nie; daarom móét ek kampus toe kom.”

Sy wou in elk geval vandag kampus toe kom, maar haar ouers het ‘n stokkie daarvoor gesteek, uit vrees vir haar veiligheid. “Hulle sê dat ek dalk aangeval gaan word. En dis waar, ek sal van die Gautreinstasie af kampus toe moet loop en op pad word ons altyd deur die swart leeglêers en motorwagte seksueel geteister. Dus sal ek nie gemaklik voel om alleen te moet loop nie,” sê sy.

‘n Ander student sou vandag lesings bygewoon het en voel dis onregverdig weens die veeleisendheid van sy kursus. “Daar is so min tyd in elke lesing vir dosente om die werk te verduidelik,” sê hy. “Nou is ons agter met die sillabus en sal hulle dit iewers aanstaande week moet inprop, op die vooraand van die eksamens. Ons is betalende studente wat nou benadeel word, alles omdat swart studente op ander kampusse besig is om amok te maak. Ek is ‘n beurs by Wits aangebied, maar wou nie soontoe gaan nie weens die linkse politiek daar, nou raak dit my selfs hier by Tukkies.”

Volgens hom sal dit niks help om fooie te verlaag nie. “Selfs al kan almal gratis studeer, moet jy nog aan die toelatingsvereistes voldoen. Benewens maklike kursusse soos onderwys, is daar baie min swart studente wat toelating verkry. Hulle wiskunde en wetenskap is eenvoudig nie goed genoeg nie. Al brand hulle die kampus af, gaan dit nog niks daaraan verander nie.”

Sy vriend langs hom, wat ekonomie studeer, meen “hulle soek net ‘n stuk papier sodat hulle agterna ‘n regeringspos kan kry, waar hulle hul sakke kan vul. Hulle hoef nooit te presteer nie. ‘As ek nie my sin kry nie, verniel ek geboue of brand iets af,’ is die houding. Bou nou ‘n land met sulke mense.”

Intussen probeer die HSM (hoofstroommedia) om die indruk te skep dat alle studente ontevrede is. Die Naspersorgaan, News24, berig soos volg:

“Studente van die Universiteit van Pretoria sê  dat hulle voortgaan met hul betoging oor voorgestelde fooiverhogings vir 2016 en hulle sweer dat hulle nie sal tou opgooi nie.”

Puk-studente beskerm Totius-beeld

Lede van die drukgroep Reform PUK eis nou om direk met die Noordwes-Universiteit se raad te skakel rakende hul klagtes.

Dit volg na ’n massavergadering deur lede van die Reform PUK-groep waar hul visekanselier, Dan Kgwadi, Dinsdag uitgejou het en gesê het dat hy nie antwoorde op hul vrae gebied het nie.

Kgwadi het terugvoer gelewer oor die memorandum van griewe wat verlede week aan hom oorhandig is, waar Reform PUK onder meer kla oor die universiteit se taalbeleid, tolkdienste en hoë klasgelde.

Hy het gesê dat die universiteit kennis neem van hul ongelukkigheid, en dat die universiteit se bestuur dit sal aanspreek.

Kgwadi het egter bygevoeg dat dit onmoontlik en onprakties is om binne enkele dae hierdie probleme te probeer oplos.

Spanning het hoog geloop toe swart studente ‘n beeld van die Afrikaanse digter Totius wou vandaliseer.

Ná die vergadering met Kgwadi, waar die kwessie van die standbeeld bespreek is, het ‘n groep wit studente die beeld omring in ‘n poging om dit te beskerm.

Swart studente het hulle deurentyd gekoggel.

NWU se woordvoerder Professor Johannes Froneman het bevestig dat daar wit studente die standbeeld beskerm en dat swartes daarna die aftog geblaas het.

Verlede week het die opstokers ‘n memorandum aan die bestuur van die universiteit oorhandig en hulle gevra om te reageer teen 20 Oktober.

Eise in die memorandum sluit in die verwydering van die Totius-beeld, die verandering van die toelatingsbeleid, die hervorming van die SR en dat alle lesings in Engels aangebied moet word by die instansie.

‘Pukke moeg vir politiekery’

Die huidige onrustigheid in die tersiêre onderwyssektor is wat gelei het tot die totstandkoming van “NWU-Pukke Breek die Stilte”, ‘n groep studente wat die belange van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus op die hart dra.

Dit is volgens SR-voorsitter, Paul Maritz, wat vanoggend ‘n nuusverklaring uitgereik het waarin hy onder meer sê dat studente op die Potchefstroomkampus “moeg is vir politiekery” en “vals beskuldigings van rassisme” asook “onderdrukking onder die vaandel van transformasie”.

Dit volg nadat ‘n ander groep, Reform PUK, verlede week ‘n memorandum van griewe aan visekanselier Dan Kgwadi oorhandig het waar hulle onder meer die behoefte aan transformasie op die kampus beklemtoon.

Maritz sê studente sal Vrydag in die Sanlam-ouditorium op kampus geleentheid kry om hul menings rondom hierdie en ander sake te lug.

Die Kapoenskoenprys: PRAAG kondig nuwe maandelikse prys aan

Jare gelede was daar in Suid-Afrika ‘n mode vir grys skoene. Dit het by joernaliste vasgehaak en vandag nog beskuldig hulle hul teenstanders links en regs van onaanskoulike skoeisel. Maar intussen het die koms van die sogenaamde reënboognasie daarvoor gesorg dat Suid-Afrika nou met afskuwelike skoene in al die kleure van die spreekwoordelike reënboog kan spog. Trouens, daar is min lande op aarde waar ‘n mens daagliks soveel afskuwelike skoene kan gadeslaan. Onder heerskappy van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en sy handperd, die ANC, oortref Suid-Afrika die legendariese gebrek aan skoenesmaak van hul heimat, die voormalige Sowjetunie!

Vandaar die nuwe maandelikse prys wat deur PRAAG uitgeloof word: die Kapoenskoenprys. Indien u nie weet watter kleur “kapoen” is nie, vra ‘n bietjie rond. Enigeen in u omgewing met ‘n kuns- of ontwerpopleiding – gebiede waar kwotas blykbaar nog nie geld nie – sal u kan sê. Die kleur is ‘n versnit, so in die spektrum van bruin en oranje, die ou Broederbond se gunstelingskakerings.

Daar is net een beoordelaar vir die prys: ons satiriese rubriekskrywer Skoppensboer. Hy ontvang graag inskrywings by die volgende e-pos: skoppensboer[by]praag.org. Alle foto’s van openbare persoonlikhede of selfs lede van die publiek wat die Kapoenskoenprys verdien, is welkom.

Om mee af te skop, loof ons vandeesmaand se Kapoenskoenprys aan die anglofiele sanger, Arno Carstens, van ‘n sanggroep genaamd Springbok Nude Girls, uit. Arme Springbok. Arme kaal meisies. Maar die man beskik oor ‘n paar kapoenskoene wat sy hele musikale œuvre oortref (foto hier bo).

Skoppensboer se commendatio

Ja, die genre van die skoen is duister. Is dit ‘n tekkie? Is dit ‘n hardloop- of bergklimskoen? Kleurgewys sluit dit volmaak by die kapoentema aan. Enigeen kan seker so ‘n lelike paar skoene gaan koop, maar dit verg ‘n ware kapoenkunstenaar om so ‘n paar trappers by ‘n modieuse broek en baadjie aan te trek. Hy wil vir ons sê: Hierdie skoene is my semiformele drag en as dít julle nie genoeg laat skrik nie, wag totdat ek regtig loslit raak, dan skiet julle almal katte by julle motorvensters uit! Interessant is ook dat sy hele uitrusting so in die rigting van ‘n kapoenkleur neig, so half seun-van-die-Broederbond-ontmoet-Joe-Slovo, wat dalk insgelyks iets oor sy politieke korrektheid en anglofilie wil sê.

Daarom ken ek sonder huiwering vandeesmaand, Oktober 2015, die historiese eerste Kapoenskoenprys aan die heer Carstens toe. Indien mnr. Carstens sy adres aan my wil stuur, sal hy ‘n gratis blikkie Nugget wat van suiwer petroliumprodukte gemaak is, in die kleur van sy keuse ontvang wat hy elke dag vir inspirasie kan snuif.

Veels geluk aan Arno Carstens, ons kapoenhaan van die maand!

PUK se vise-kanselier moedig belhamels aan om te veg teen Afrikaans

‘n Klag van aanhitsing tot geweld is by die polisie ingedien teen die swart vise-kanselier van die Noordwes Universiteit

Dan Kgwadi het glo aan studente tydens ‘n openbare vergadering gesê om te veg.

Die universiteit sê sy woorde “Ek moedig julle aan om te veg” [I’m encouraging you to fight] is verkeerd geïnterpreteer.

Kgwadi het Dinsdag met studente van die Reform PUK vergader.

Die woordvoerder vir Afriforum Jeug, Ian Cameron beweer Kgwadi het studente aangemoedig om te veg, nadat hulle blykbaar geëis het dat daar weggedoen word met Afrikaans en ‘n standbeeld op die Potchefstroom-kampus.

Cameron sê Kgwadi se politieke agenda veroorsaak rassespanning op die kampus.

Kgwadi se woordvoerder, Johannes Froneman sê dit is onverantwoordelik om Kgwadi se woorde te interpreteer as aanmoediging om geweld te pleeg.

Die universiteit sê Kgwadi het studente aangemoedig om standpunt in te neem, met mekaar te praat en te probeer verstaan, en hul vir geregtigheid te beywer.

Volgens Froneman is Kgwadi hoegenaamd nie onpartydig nie want hy is teen die reste van “ou en nuwe apartheid” omdat hy “inklusiwiteit en maatskaplike geregtigheid” wil bevorder.

NG Kerk Otjiwarongo staak finansiële bydraes aan SA NGK oor gays

Die Nederduits Gereformeerde kerk Otjiwarongo het Woensdagaand ná ʼn buitengewone kerkraadvergadering besluit om alle bande met die Algemene Sinode in Suid-Afrika te verbreek.

Die gemeente het alle finansiële bydraes aan die NG Kerk in Suid-Afrika gestaak, maar sal voortgaan om bydraes te lewer aan die Namibiese sinode, op voorwaarde dat dié bydraes nie aan die algemene sinode oorbetaal mag word nie.

Dié besluit kom ná die Algemene Sinode die naweek besluit het homoseksuele ampsdraers hoef nié meer ʼn eed van selibaatskap af te lê om te kan praktiseer nie.

Ds. Hector Jooste, leraar, het per brief die moderatuur van die algemene sinode en die Namibiese sinode ingelig en die brief ook op die gemeente se Facebook-blad geplaas.

‘n Kerkskeuring dreig nadat ‘n paar linkse voorbokke besluit het gays moet in die NG Kerk verwelkom word.

Die Otjiwarongo-gemeente sal voorlopig bande met die Namibiese sinode hou en eers na die volgende sinodesitting ‘n besluit maak oor deelname.

Ds. Pine Pienaar, moderator van die Namibiese sinode, het die besluit as “verregaande” beskryf en gesê dis ‘n “oorhaastige, emo­sionele besluit”.

Pienaar sê die moderatuur van Namibië vergader Vrydag oor die Otjiwarongo-gemeente se besluit.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, wou nie kommentaar lewer nie.

Thinus Pretorius, voorsitter van die kerkraad se dagbestuur, het luidens die Republikein gesê die verklaring deur Jooste is gegrond op ’n konsepdokument deur die kerkraad en die gesprek daaroor vorm deel van ’n proses.

Jooste het by navraag beaam dat die gemeente voorlopig sy verbintenis met die sinode in Namibië behou en dat die kerkraad eers ná die volgende Namibiese sinodale sitting vroeg aanstaande jaar oor dié verbintenis sal besluit.

Luidens die Algemene Sinode se besluit verlede week in Suid-Afrika kan kerkrade hul eie posisie oor die saak inneem en self besluit of hulle van hul homoseksuele ampsdraers verwag om selibaat te lewe of nie.

Maar volgens Jooste is dié besluit “onhoudbaar”. “Ons hoef mos nie besluite by die Algemene Sinode te neem as hulle omdraai en sê elke gemeente kan maak soos hulle wil nie. Dit is ’n baie gevaarlike manier van doen.

“Die uitlewing van homoseksuele gedrag is verkeerd; die Bybel maak dít baie duidelik. Dit gaan oor die beginsel van die saak. As ons alles in die Bybel wil relativeer, waarvoor het ons dan nog ’n Bybel? Waar trek jy die streep? Gooi die boek dan liewer weg,” het Jooste gister aan Republikein gesê.

“Ek dink homoseksualiteit is ’n komplekse kwessie, maar dit beteken nie ons kan homoseksuele gedrag goedkeur nie. Jy sal tog nie toelaat dat ’n alkoholis aanhou drink en in sy sonde volhard nie.”

“Die Algemene Sinode se besluit laat toe dat mense met hul sondige leefstyl kan voortgaan; ons kan nie hiermee saamstem nie.”

Volgens ds. Clem Marais, sekretaris van die Namibiese Sinode, is dit egter nie só maklik om net van die Algemene Sinode weg te breek nie. Hy sê ook dat so ’n besluit nie net oorhaastig en onnodig is nie, maar ook nie uitvoerbaar is nie.

“’n Gemeente kan nie uit verband tree met die ­Algemene Sinode en steeds in verband bly met ’n streeksinode nie. Die Algemene Sinode is nie ’n vergadering van gemeentes nie, maar ’n vergadering van sinodes,” sê Marais.

Marais sê verder dat predikante wat bande met die Algemene Sinode wil verbreek, hul “bevoegdheid in gedrang kan bring” aangesien dit die Algemene Sinode is wat leraars legitimeer en tot die bediening toelaat.

Marais verduidelik dat ’n gemeente se potensiële wegbreking van die NG kerkverband ook geweldige spanning plaas op gemeentelede wat nie wil wegbreek nie. “Sou net een gesin in die gemeente aandui dat hulle nie wil deelneem aan die afskeiding van die NG verband nie, bly hulle agter as die NG gemeente Otjiwarongo en neem hulle alle bates en laste oor.

“Die Algemene Sinode se besluit laat volledig ruimte vir kerkrade om ’n eie standpunt oor die saak in te neem. Op dié manier kan die gesprek hieroor voortgaan en kan ons almal mekaar help om die Skrif beter te hoor. Seksualiteit is myns insiens hoegenaamd nie so ’n kernsaak in die geloof dat dit afskeiding regverdig nie,” sê Marais.

Reform PUK betoog teen Afrikaans

Nagenoeg 150 studente het op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit het Dinsdag betoog om ‘n memorandum van griewe aan die universiteitsbestuur te oorhandig.

Reform PUK, wat die belange van swart studente wil bevorder, het egter gesê dat indien hul klagtes nie aandag kry nie, hulle die kampus onregeerbaar sal maak.

Hul klagtes sluit onder meer die gebruik van tolkdienste in, wat hulle meen ondoeltreffend is en swart studente uitsonder as buitestaanders.

Volgens verteenwoordiger Ignatius Mokhatle skep die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal ‘n versperring wat verhoed dat swart studente aan die kampus kan of wil studeer.

Visekanselier Dan Kgwadi het ingestem om binne die volgende sewe dae terugvoer te gee.