SA se kernplanne glo reeds goedgekeur

Die dagblad Business Day het Maandag berig dat die kabinet verlede Woensdag in die geheim die kernkragplanne goedgekeur het.

Suid-Afrika beplan om tussen 6 en 8 kernkragreaktors van 9 600 MW op te rig teen ‘n geraamde koste van tussen R500 miljard en R1 000 miljard wat sowat ‘n kwart van die land se krag teen 2030 sal voorsien.

Die DA het sy kommer uitgespreek dat die Parlement gesystap is in die besluit om voort te gaan met ‘n kernkragprogram.

Die minister van Finansies, Pravin Gordhan het Maandag egter by ‘n mediakonferensie belowe dat die regering met fiskale omsigtigheid te werk sal gaan in die tenderproses.

Hy het gesê dat daar ‘n formele verkrygingsproses sal wees.

Die DA-woordvoerder, Gordon Mackay sê die besluit is kommerwekkend in die lig van die ekonomiese nagevolge van die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van Finansies.

Mackay sê gegewe die omvang van die projek moes die kwessie in die Parlement bespreek word.

Gordhan wou nie nadere besonderhede oor die kerntender gee nie en dit wil voorkom asof besluite steeds in die geheim geneem sal word.

Daar is glo nog geen uitsluitsel oor die ligging van die sentrales nie.

Die DA vrees dat die Russiese Rosatom voorkeur kry sonder dat daar duidelike tenderspesifikasies bekend is.

In September 2014 het Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, ‘n ooreenkoms in Wene met Rosatom onderteken wat Rosatom toestemming gee om te tender.

Die regering het daarna aangekondig dat ‘n onderneming onderteken is om agt kernreaktors op te rig, maar weens kritiek teruggekrabbel en gesê daar sal ‘n tenderproses wees.

“Die tesourie het volgens ons inligting reeds ‘n koste-ontleding gedoen en bevind die program is onbekostigbaar, maar hulle is aangesê dié bevinding is polities onaanvaarbaar en dat hul model herontwerp moet word,” sê Mackay.

Die tesourie wou glo nie die kostebepaling amptelik bekendmaak nie om die kabinet te keer om met die tenderproses te begin.

Dit is klaarblyklik hoekom Nene afgedank is.

Pravin Gorhan weer minister van Finansies

Die eertydse minister van Finansies, Pravin Gordhan sal Maandagoggend om tienuur vir ‘n tweede keer in sy pos ingehuldig word.

Die huidige minister, David van Rooyen word na Gordhan se ou portefeulje, Samewerkende Regering en Tradisionele Sake verskuif.

Gordhan was voorheen minister van Finansies van Mei 2009 tot Mei 2014.

President Jacob Zuma se aankondiging volg na felle kritiek uit alle oorde teen die aanstelling van Van Rooyen.

Zuma het glo talle voorleggings ontvang om sy besluit te heroorweeg.

Die rand het na die aankondiging van Gordhan se terugkeer na Finansies met bykans vyf persent gestyg.

Ekonome sê die aanstelling van Gordhan as Minister van Finansies gaan help om vertroue in die ekonomie te herstel, hoewel die skade reeds gedoen is.

Om terug te keer na waar die ekonomie `n week gelede was, gaan volgens ontleders, nie sommer gebeur nie. Vertroue sal eers herstel word as daar `n verandering in leierskap is, meen hulle.

Die rand het drasties verswak nadat Zuma verlede week aangekondig het dat David van Rooyen in die plek van Nhlanhla Nene aangestel word.

Die Reserwe Bank sal moontlik nog verplig word om rentekoerse aanstaande jaar te verhoog.

Die leier van die DA, Mmusi Maimane sê enige minister van Finansies moet kan standpunt inneem teen President Zuma om te keer dat sekere besteding goedgekeur word.

ANC-lid voor vir moord op sy vrou

‘n Senior beampte van die Tokologo-munisipaliteit op Boshof in die Vrystaat en ANC-lid sal na verwagting vandag in die landdroshof op Bloemfontein verskyn in verband met die moord op sy vrou.

Dit nadat sy saak teen die 33-jarige Maphobole Maphobole van die Winburg-landdroshof na Bloemfontein oorgeplaas is.

Volgens Vrystaat polisiewoordvoerder Ian Gaobepe, het Maphobole na bewering sy 26-jarige vrou by hul huis in Langenhovenpark vermoor. Hy het toe vir ‘n naweek by sy ouers gaan kuier met haar liggaam in sy motor se kattebak.

Maphobole is vasgetrek ná twee hawelose mans hom gesien het waar hy blykbaar twee weke gelede probeer het om sy vrou se liggaam te verbrand.

Maphobole is die direkteur van korporatiewe dienste by die Tokologo plaaslike munisipaliteit.

Vrystaat oorhandig ses luukse sedans aan tradisionele leiers

Premier Ace Magashule van die Vrystaat het ses splinternuwe Mercedes-Benzes aan tradisionele leiers in sy provinsie oorhandig.

Volgens DA-lid van die Nasionale Raad van Provinsies Roy Jankielsohn, kon die R3,2 miljoen wat bestee is aan die motors ​​slagoffers van droogte gehelp het.

“In ‘n tyd waar die Vrystaat ly onder die juk van die ergste droogte in dekades, ‘n steeds stygende waterkrisis en verlammende werkloosheid, het Premier Magashule besluit om luukse Duitse sedans te koop in ‘n poging om landelike stemme te verseker vir die ANC volgende jaar,” het hy in ‘n verklaring gesê.

Jankielsohn het gesê hy is teleurgesteld dat tradisionele leiers in die provinsie hul verantwoordelikhede teenoor die mense wat “voortgaan om te ly in armoede en ontneming” versaak.

“Die DA doen ‘n beroep op die mense van die Vrystaat om die voortgesette misbruik van mag en openbare fondse deur die ANC en hul trawante te verwerp.”

Die premier se kantoor het gesê hulle sal reageer op ‘n later stadium.

Intussen, het die voorsitter van die Huis van Tradisionele Leiers, koning Lelika Moloi, bewerings verwerp dat die voertuie dien as ‘n geskenk om stemme vir die plaaslike verkiesings volgende jaar te werf.

“Dit is nie ‘n geskenk nie, maar ons reg en ons is dankbaar vir die motors,” het hy gesê.

Inisiasieskooleienaar in Welkom van moord aangekla

Die eienaar van ‘n inisiasieskool in Welkom en sy assistent sal na verwagting vandag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat ‘n man by die skool dood is.

Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Stephen Thakeng, sê die twee mans is Woensdag in hegtenis geneem by Riebeeckstad nadat die polisie inligting ontvang het dat ‘n man by die skool dood is.

Thakeng sê die polisie was vinnig op die toneel.

Thakeng sê die 54-jarige eienaar van die skool en sy 45-jarige assistent word van moord en die oortreding van die wet op inisiasieskole aangekla.

Cosatu waarsku David van Rooyen oor kerntransaksie

Cosatu het Donderdag die nuwe minister van finansies, David van Rooyen, gemaan dat hy nie behoort voort te gaan met die staat se beplande kernkragtransaksie nie.

Die Franse Areva-kerntender vir Eskom is pas deur ‘n appèlhof ter syde gestel.

Volgende maand sal die reuse kernkragtender aan die Russe, onder aanvoering van Tina Joemat-Pettersson, die minister van energie, beslis word.

Joemat-Pettersson sê die tender moet reeds voor die begin van die volgende finansiële jaar in April aan die suksesvolle bieër toegeken word.

Die vorige minister van finansies Nene was gekant teen die beplande tender en het in ‘n onderhoud gesê die regering se plan om 9,600MW van kernkragkapasiteit te bekom, sal eers goedkeur word as dit bekostigbaar is.

Ontleders meen Nene is in die pad gesteek oor sy besware. Die waarde van die kernkragtransaksie sal na verwagting tussen R650 miljard en R1000 miljard wees.

Kommer heers in sekere kringe oor die kernkragplanne wat deur die presidensie ondersteun word, omdat dit reuse geopolitieke implikasies het.

Gordon Mackay, die DA se woordvoerder oor energie, het Donderdag gesê Zuma se besluit om ontslae te raak van Nene hou direk verband met Nene se teenstand teen die kernkragplanne.

Die tesouriedokument waarin die finansieringsmodel vervat is, is steeds geklassifiseer sodat die portefeuljekomitee oor energie nog nie insae daarin gehad het nie.

Die kernkragkontrak wat Suid-Afrika met Rusland wil sluit, sal glo mbv ‘n leningskema gefinansier word.

Alhoewel die SAL-kontrak van R6 miljard voorgehou word as die rede waarom Zuma van Nene ontslae geraak het, meen ontleders dat die kernkontrak die werklike rede is.

In ANC-besprekingsdokumente voor sy nasionale algemene raadsvergadering het die party verklaar dat ‘n deursigtige bekostigbaarheidstudie oor kernkrag gedoen behoort te word.

Wat duidelik is, is egter dat sulke besluite weens politieke oorwegings geneem sal word.

Regbank straf Franse Areva oor Eskom-tender

Die Amerikaanse firma Westinghouse se kanse om ‘n reuse Eskom-tender te bekom het aansienlik verbeter nadat die Appèlhof ‘n tender aan die Franse kernmaatskappy, Areva, ter syde te stel het.

Britse en Amerikaanse invloedsmouse het die beslissing verwelkom wat Eskom se toekenning aan Areva in die wiele ry.

Die DA het gesê dit is ‘n bewys van grootskaalse “tenderkorrupsie” by die maatskappy, alhoewel dit wil voorkom asof die beslissing dui op ‘n politieke keuse van die regbank teen Frankryk en nie geskoei is op gesonde regsbeginsels nie.

‘n Woordvoerder oor Energie, Gordan Mackay, het selfs die besluit van die Appèlhof verwelkom omdat dit die politieke inmenging in die toekenning van tenders aan Hitachi vir die bou van die Medupi kragstasie omkeer.

Hy het vermoedens bevestig dat die afdanking van Nene as Minister van Finansies verband hou met die staat se kerntenders.

Die tender van sowat R5 miljard wat Eskom aan die Franse kernmaatskappy Areva toegeken het, is deur ‘n direkte mededinger, die Toshiba-filiaal Westinghouse uitgedaag.

Eskom wil hê dat Areva die ses stoomkragopwekkers vervang by die Koeberg-kragstasie. Westinghouse was Areva se enigste mededinger, maar het in Maart ‘n hofstryd teen Areva verloor. Hulle het toe teen die beslissing geappelleer.

Woensdag se uitspraak het gehandel oor Eskom se besluit om weens “strategiese” faktore die tender toe te ken.

Areva en Westinghouse was die enigste bieërs wat aan die tegniese kriteria kon voldoen, daarom sal Westinghouse outomaties die tender kon ontvang na die jongste uitspraak.

Eskom het die tender in Augustus verlede jaar aan Areva gegee as gevolg van strategiese oorwegings wat insluit dat Areva die oorspronklike vervaardiger van die toerusting by Koeberg was en oor meer ervaring beskik.

Areva het daarbenewens ‘n gedetailleerde skedule vir die voltooiing van die werk met hulle tenderaansoek ingehandig met slegs ‘n drie-maande-marge wat toelaat vir foute, iets wat Westinghouse nie kon ewenaar nie.

Hittetoestande duur voort

Baie warm en droë weerstoestande duur ongelukkig voort in groot dele van die Vrystaat en Noordwes die volgende week met ‘n geringe kans op reën teen volgende week.

‘n Weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Sihle Kunene, sê ‘n hittegolf sal na verwagting tot môre in die suidelike deel van die Vrystaat woed, wat Wepener en Fauresmith insluit.

Die kwik gaan in dié gebied tot 37°C en hoër styg. Teen die naweek word koeler toestande in die suidelike deel van die Vrystaat en die Noord-Kaap verwag.

Kunene sê die kwik kan aansienlik met tussen 4°C en 5°C in die Noord-Kaap daal weens ‘n kouefront wat op pad is. Hy sê temperature kan in die res van die Vrystaat en Noordwes ietwat afneem, maar dit gaan steeds bloedig warm wees met bewolkte toestande die naweek.

Kunene sê geen reën word vir die sentrale deel van die Vrystaat dié naweek voorspel nie. Teen Woensdag is daar ‘n 30%-kans op reën vir die hele Vrystaat. Droogtetoestande duur voort.

Middel teen VIGS-voorkoming goedgekeur

Die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad het `n middel goedgekeur wat die voorkoming van MIV-Vigs in die land drasties kan verander, het RSG berig.

Die middel, Truvada, wat in die vorm van `n pil is, is in November goedgekeur, maar die aankondiging is gister gedoen.

Die Direkteur-Generaal vir MIV, TB en vroue en kindergesondheid by die Departement van Gesondheid, Dr. Yogan Pillay, sê die middel is al saam met ander middels vir die behandeling van MIV-Vigs gebruik, maar dit is nou as voorkomende middel goedgekeur.

Die middel kan MIV blykbaar honderd persent voorkom as dit daagliks gebruik word. Pillay sê die middel sal gebruik word waar gevaar van die siekte baie hoog is, soos by meisies tussen 15 en 24 jaar.

Die departement van gesondheid kon nie bevestig of die middel al beskikbaar is nie.

Alhoewel die medisyne deur die Amerikaanse owerhede goedgekeur is, het byna geen swartes aan kliniese toetse deelgeneem nie.

Referendum gee dalk aan Kagame derde termyn

Pres. Paul Kagame van Rwanda het die afgelope jare groot lof ingeoes vir die manier waarop hy sy land ná die volksmoord van 1994 weer opgebou het, het Reuters berig.

Amerika het nietemin verklaar dat hy ‘n voorbeeld moet stel in die streek, deur na afloop van sy tweede termyn as president die tuig in 2017 neer te lê.

Die debat oor ’n beperking van ampstermyne in Afrika woed oral op die kontinent voort.

In naburige Burundi het pres. Pierre Nkurunziza se verkiesing vir ’n derde termyn sterk opposisie uitgelok en die nasie in ’n krisis gedompel.

Kagame, wat vir die eerste keer in 2003 verkies is, het nog nie sy voornemens om vir ’n derde termyn verkiesbaar te wees, amptelik bekend gemaak nie, maar het gesê diegene wat wil hê hy moet aanbly, moet hom oortuig.

“Ek luister nog,” het hy senior amptenare van die regerende Rwanda ­Patriotic Front Sondag meegedeel. “Wat ook al julle van my verwag, sal gegrond wees op die uitslag van die referendum en gevolglik sal my antwoord eers ná die referendum kom.”

Na verwagting sal die kabinet eersdaags die datum van die referendum bekend maak. Dit kan moontlik nog dié maand plaasvind.

Ingevolge voorgestelde grondwetlike wysigings, wat deur die parlement goedgekeur is, en nou na die volk gaan vir stemming, sal Kagame toegelaat word om in 2017 vir nog ’n termyn van sewe jaar plus twee daaropvolgende termyne van vyf jaar elk, te staan, wat hom moontlik tot 2034 aan bewind kan hou.

Rwanda se klein hoof opposisieparty, het probeer om die wysigings te verhinder om Kagame se termyn te verleng, maar ’n hof het hul besware van die hand gewys.