praag.co.za

Tag: hittegolf

  • Hittegolf oor grootste deel van die land

    Hittegolf oor grootste deel van die land

    Suid-Afrikaners kan hulself gereed maak vir ‘n hittegolf.

    Die stygende temerature sal die grootste deel van die land vandag raak.

    In die noordelike dele van die land sal na verwagting by 40 grade gaan draai.

    Die Suid-Afrikaanse Weerburo voorspel die hittegolf sal na verwagting tot Maandag duur.

    Sover loop Gauteng, plekke in die Noordwes- en Limpopo-provinsies, asook Ermelo en die Mpumalanga-platorand deur.

  • Kwik styg na 40 in Gauteng

    Kwik styg na 40 in Gauteng

    Alhoewel koeler toestande vir die suid-westelike dele van die Wes-Kaap voorspel word, sal Gautengers nog ‘n bloedige warm dag moet trotseer.

    Die Kaapstadse weerkantoor sê daar is ook ‘n kans op reën, maar dit sal die naweek weer warmer in die provinsie wees.

    Gautengers kan vandag rekord hoë temperature verwag. In sommige dele van die provinsie kan die kwik tot bó 40 grade Celsius klim.

    Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê Johannesburg sal minstens 39 grade Celsius bereik, en in Pretoria kan dit tot 41 kan styg.

    Indien die voorspellings korrek is sal dit die warmste dag op rekord vir die provinsie wees.

    Woensdag het Bloemfontein en Kimberley hul warmste temperature ooit aangeteken met onderskeidelik 41- en 42 grade Celsius. ‘

    Volgens die Weerdiens beteken die sterk El-Niño weerverskynsel dat normale weerstoestande eers teen April of Mei verwag word.

    Boere, wat reeds gebuk gaan onder die ergste droogte in dekades, se hoop op uitkoms mag verydel word.

  • Hittegolftoestande duur voort

    Hittegolftoestande sal na verwagting van môre af in die grootste deel van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes voorkom.

    Droë toestande duur rampspoedig voort in die sentrale deel van die binneland, met uitermatige hoë temperature.

    Maksimum temperature van tot 44 grade Celsuis word vir Upington voorspel, terwyl Bloemfontein en Kimberley ook van môre af behoorlik gaan sweet met temperature van 40 grade Celsius en hoër.

    Dieselfde toestande word ook in die grootste deel van Noordwes verwag. Volgens Rossouw sluit dit dele soos Vryburg, Rustenburg, Klerksdorp en Potchefstroom in.

    Rekordtemperature gaan dié week voorkom en tot Donderdag voortduur, waarna laer temperature in die lae dertigs verligting kan bring in die Noord-Kaap en Vrystaat, sê hy. Teen Vrydag behoort hoë temperature in Noordwes ook te daal.

    Rossouw waarsku mense om waar moontlik uit die son te bly, gereeld water te drink en hulself koel te hou in die bloedige hitte. Dit geld veral vir bejaardes en kinders.

  • Hittegolf oor groot dele duur voort

    Die heersende hittegolf gaan na alle waarskynlikheid tot môre oor groot dele van Suid-Afrika voortduur.

    Die Bloemfonteinse weerkantoor se Phemelo Zonke het aan OFM gesê in die westelike dele van die land word geen reën voorspel nie.

    Sy sê sekere dele van sentraal-Suid-Afrika kan wel verspreide donderbuie te wagte wees.

    In Bloemfontein gaan die kwik waarskynlik môre tot 34 grade styg, terwyl Vryburg gaan braai met ‘n temperatuur van 38 grade. Upingtonners kan 42 grade verwag.

    Mense word weereens gemaan om uiters versigtig met vuur om te gaan, aangesien die toestand vir wegholveldbrande baie gunstig is.

  • Hittetoestande duur voort

    Hittetoestande duur voort

    Baie warm en droë weerstoestande duur ongelukkig voort in groot dele van die Vrystaat en Noordwes die volgende week met ‘n geringe kans op reën teen volgende week.

    ‘n Weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Sihle Kunene, sê ‘n hittegolf sal na verwagting tot môre in die suidelike deel van die Vrystaat woed, wat Wepener en Fauresmith insluit.

    Die kwik gaan in dié gebied tot 37°C en hoër styg. Teen die naweek word koeler toestande in die suidelike deel van die Vrystaat en die Noord-Kaap verwag.

    Kunene sê die kwik kan aansienlik met tussen 4°C en 5°C in die Noord-Kaap daal weens ‘n kouefront wat op pad is. Hy sê temperature kan in die res van die Vrystaat en Noordwes ietwat afneem, maar dit gaan steeds bloedig warm wees met bewolkte toestande die naweek.

    Kunene sê geen reën word vir die sentrale deel van die Vrystaat dié naweek voorspel nie. Teen Woensdag is daar ‘n 30%-kans op reën vir die hele Vrystaat. Droogtetoestande duur voort.

  • Bloedige hitte terwyl WB aardverwarming en armoede bespreek

    Suid-Afrikaners in die binneland moet hulle staal teen bloedige hitte in die droë week wat voorlê, het RSG berig.

    Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik van volgehoue hoë temperature in die noordelike dele van die land, waaronder Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes.

    Die kwik sal in sommige gebiede hoër as 40 grade Celcius styg. Weervoorspellers verwag dat die oostelike dele van die land, insluitend Gauteng en die suidelike deel van Mpumalanga, teen die komende naweek reën kan kry.

    Die Wêreldbank het intussen gewaarsku dat 100 miljoen mense teen 2030 armoede in die gesig sal staar indien daar nie nou stappe gedoen word teen aardverwarming nie.

    Die bank sê die verskynsel sal gewasse verwoes en die verspreiding van malaria en ander siektes aanwakker.

    Die Wêreldbank sê klimaatsverandering het reeds ‘n impak op arm mense wat sukkel om gewasse te groei ten spyte van uiterste weersomstandighede en lae reënval.

    Die wêreld se armstes kry minder hulpbronne en is nie voorbereid op toekomstige klimaat-skoktoestande soos erge droogte en stygende seevlakke nie.

    Die bank het ‘n beroep gedoen op die wêreldleiers om nou stappe te doen om koolstof-vrystelling te beperk en meer hulpbronne vir armes beskikbaar te stel.

    Die VN se beraad oor klimaatsverandering vind oor ‘n paar weke in Parys plaas.

  • Hittegolf duur voort

    Die Suid-Afrikaanse weerdiens het gewaarsku dat die hittegolf oor Gauteng en Noordwes tot more kan voortduur.

    Die westelike dele van Noordwes, soos Vryburg, Bloemhof en Klerksdorp sal veral geraak word en in sekere gebiede sal die kwik nie tot onder 35 grade celsius daal nie.

    Die warm weer word veroorsaak deur hoogdrukstelsels in die hoër vlakke.

    “Ons neem die gemiddelde van die warmste maand en voeg vyf grade daarby. As jy daardie toestand vir drie dae aanhoudend het, is dit wanneer jy ‘n hittegolf het.”

    Temperature in Noordwes sal na verwagting so hoog as 36°C styg teen Woensdag.

    ‘n Waarskuwing is voor die naweek uitgereik van hittegolf-toestande in die noordelike en sentrale dele van die land.

    Mense, en veral bejaardes en jong kinders, word aangeraai om genoeg vloeistof te drink en nie proteïnryke voedsel te eet nie omdat dit metaboliese hitte kan verhoog.

  • Bloedige hitte vir dié week voorspel

    Die Suid Afrikanse Weerdiens het gewaarsku dat toestande bevorderlik vir die onstaan van wegholveldbrande verwag kan word in dele van die land.

    Die verre westelike dele van Noordwes, die sentrale dele van die Noord-Kaap, en die wes en suidelike dele van die Vrystaat kan bloedige hittetoestande te wagte wees.

    Dit sal na verwagting vir die volgende sewe dae bloedig warm wees, met die moontlikheid dat ‘n hittegolf aangekondig sal word.