Sterk bergwinde en moeilik begaanbare terrein in die Khomas Hochland asook die vernuf van twee voortvlugtende moordenaars in teen-opsporingstegnieke het gister die polisie se verwagte deurbraak in die moord op ‘n Duitse toeris gekelder.
Ondanks polisie-versterkings en ‘n kordon rondom die plase waar die 57-jarige mnr. Johannes Fellinger Sondag wreedaardig vermoor en sy vrou ontvoer is, het die moordbende waarskynlik daarin geslaag om te ontglip.
Die jongste inligting oor die moord- en kapingsdrama naby die geskiedkundige Francois Feste, is dat gesoek word na twee mans wat vermoedelik van Zimbabwiese herkoms kan wees. Hulle was ten tyde van die rooftog in kamoefleerdrag geklee, maar het dit later met burgerlike klere uit die vermoorde se bagasie vervang en hul eie klere uitgebrand.
Die Duitse ambassade in Windhoek het intussen sy volle steun aan die Namibiese polisie toegesê om die moordenaars aan te keer en die moord op een van sy landsburgers as “skokkend” bestempel.
Mnr. Fellinger is Sondagmiddag op die plaas Heusis net buite Windhoek doodgeskiet en sy vrou, Elke (52), ontvoer skaars 24 uur nadat hulle in die land aangekom het op ‘n vakansie wat ‘n maand lank sou duur.
By Francois Feste, ‘n bouvallige woning uit die Duitse koloniale era, het twee gewapende mans uit die bosse te voorskyn gekom waar me. Fellinger op haar man, ‘n internasionale kunsfotograaf uit Niederahr in Duitsland se Westerwald, gewag het terwyl hy ‘n trop bobbejane afgeneem het.
[…]
Daarna het die rowers vir bykans vyf ure op plaaspaaie in die omgewing rondgery voordat hulle mnr. Fellinger se lyk in ‘n droë rivierloop op die plaas Okariro, sowat 13 kilometer vanaf die moordtoneel, gelaat het. Hier het die rowers van hul bebloede uniforms ontslae geraak, dit verbrand en mnr. Fellinger se kop met klippe bedek.
Met me. Fellinger as hul gyselaar, het die rowers hulle op die plaaspad na Otjimbingwe bevind waar plaaseienaars onraad gemerk het oor die luukse bakkie wat doelloos in die berge rondjaag. Een van die plaaseienaars het die bakkie agtervolg en ‘n woeste jaagtog het ontstaan. Bykans 22 kilometer verder het die bakkie begin rol en een van die rowers is erg beseer.
Die twee het egter hul vuurwapens en ‘n tweerigtingradio op die toneel gelaat en die bestuurder het sy beseerde makker die bosse in geabba. Me. Fellinger is daarna na ‘n nabygeleë plaasopstal geneem waarvandaan sy later per ambulans na Windhoek vervoer is.
Polisieversterkings uit die Erongo-streek is ontbied en soekspanne wat uit die polisie, plaaseienaars en hul werkers bestaan het, het die twee voortvlugtendes agterna gesit. Maandagaand is die soektog egter met sonsonder tydelik opgeskort nadat bykans 50 kilometer in die berge afgelê is.
Gisteroggend sou die soekspanne en spoorsnyers hulle toespits op die plase Heusis en Neu-Heusis waar die laaste tekens van die twee moordenaars gevind is. “Ons dink hulle skuil hier iewers in die berge. Miskien bly hulle in ‘n grot, want hulle het eenvoudig net verdwyn,” het een van die spoorsnyers gister aan Republikein vertel.
Volgens die man, wat verkies dat sy identiteit nie gepubliseer word nie, is die twee voortvlugtendes nie “dom” nie en weet hulle hoe om teen-spoorsnytegnieke toe te pas. “Hulle vermy sagte grond, beweeg op graspolle en klippe en mislei die soekspanne. Albei van hulle is nog te voet en die een se bloeding het nou opgehou,” het die spoorsnyer verduidelik.
In reaksie op die moord en kapingsdrama het die Duitse ambassade in Windhoek gister aangedui dat hy die versekering van die Namibiese polisie gekry het dat alles moontlik gedoen word om die moordenaars op te spoor.
“Die Inspekteur-generaal was reeds met die ambassadeur in verbinding om hom te verseker van sy volle samewerking en ons vertrou dat die polisie hul uiterste bes doen,” het die adjunk-ambassadeur, me. Ute Konig, aan Republikein gesê.
Oor die moontlike gevare wat voorvalle soos die moord op mnr. Fellinger vir toerisme na Namibië kan inhou, het sy gesê: “Dit is ‘n skokkende voorval, maar slegte insidente gebeur oral. Dit kan gevolge inhou wat sal bepaal word deur die mediadekking wat daaraan verleen word. “In die ambassade het ons meer dikwels met gevalle van ongelukke as met moorde van toeriste te make.”
новые серии монстер хайАлександр Фильчаков Васильевич