Naspers-kroonprinses se blink loopbaan

Image

Khanyi Dhlomo

Media24 het verlede week bekendgemaak dat die firma ’n mediamaatskappy genaamd Ndalo Media gestig het saam met Khanyi Dhlomo. Media24 en Dhlomo het elkeen ’n 50% aandeel in Ndalo. Die eerste projek wat die nuwe firma gaan aanpak, is ’n tydskrif genaamd Destiny.

Dit is veronderstel om Suid-Afrika se eerste luukse tydskrif te wees wat sakenuus met mode, skoonheid en leefstyltemas sal kombineer en gerig is op professionele, stylvolle Suid-Afrikaanse vroue. Die ouderdomsgroep wat spesifiek geteiken word, is die 25-55 kategorie en vroue van alle rassegroepe word ingesluit. Die eerste uitgawe behoort aan die einde van Oktober 2007 te verskyn.

Dhlomo het onlangs uit die VSA teruggekeer. Sy sal aan die hoof staan van die nuwe publikasie. Sy was voorheen tien jaar lank redakteur van die tydskrif True Love. In 2003 is sy aangewys as een van die invloedrykste vroue in die plaaslike media. In 2003 het Dhlomo na Parys vertrek, waar sy ’n ruk lank aan die hoof gestaan het van die Suid-Afrikaanse Toerismekantoor. Daarna is sy na die VSA, waar sy haar MBA aan die Universiteit van Harvard voltooi het.

Daar is ’n paar jaar gelede gespekuleer dat Dhlomo vir Koos Bekker by Naspers kon opvolg en dat die groep besig was om haar met verdere opleiding vir ’n belangrike posisie in die groep voor te berei. Bekker het haar as “buitengewoon slim” bestempel.

Sowat agt jaar gelede het Naspers 51% van City Press aan Oscar Dhlomo (voormalige sekretaris-generaal van Inkatha en vader van Khanyi) se beleggingsmaatskappye verkoop. Nie lank daarna nie het hy die aandele egter terugverkoop aan Naspers. Sedert September verlede jaar is ’n nuwe swartekonomiesebemagtigingskema in werking, ingevolge waarvan Naspers aandele aan swart Suid-Afrikaners verkoop. Die skema word saam met Welkom Yizani-beleggings bedryf.

дизайн веранды вданильченко юрій Харків